POSTED BY Steven Sass on 06:13 under
26 Mei 2013 Patensie
Begeertes kan vernietigend wees!
Eksodus 20:17
Hierdie gebod is die tiende en laaste gebod. Dis ‘n besonderse gebod, en nie maar net die laaste gebod wat dalk as’tware as ‘n latere toevoeging of samevattende afsluiting bygevoeg is nie. Hierdie gebod is eintlik en tot ‘n sekere mate alreeds in die ander gebooie teenwoordig. Dit is egter nie daarom onnodig nie. In hierdie gebod word ons verhouding met die Here ons God en ons verhoudings met ander mense tot op die been oopgevlek. In hierdie gebod gaan dit om wat ons begeer en dus graag wil hê.

Ons het reeds telkens by die ander gebooie daarop gewys dat die gewone menslike lewe in diens van die Here moet staan. Ons ganse lewe, met alles waaroor ons beskik, moet in diens van God staan. As die Here ons God is wat ons verlos het en as ons Sy koningskap aanvaar, moet ons denke en begeertes tot Sy eer strek en mag ons nie verkeerde begeertes koester nie. Die mens sondig nie alleen deur dit wat hy doen of nalaat om te doen nie, maar ook en miskien veral deur dit wat hy dink en begeer. Kom ons stel dit positief: ‘n Mens se positiewe geloofslewe begin met dit wat ons dink en begeer. Ten grondslag van ons dade lê wat ons begeer.

Sielkundiges beweer, met goeie reg, dat die denke van die mens sy lewe diepgrypend beïnvloed en tot ‘n groot mate bepaal. Die mens handel selde voordat hy eers gedink het oor wat hy wil doen. Edelheid van karakter begin by edelheid van denke, en juis daarom moet ons verhouding tot God in ons gedagtewêreld ‘n duidelike neerslag vind.

Dit is ongelukkig so dat ons al te geneig is om negatief te dink oor hierdie gebod, soos trouens oor al die gebooie. So asof die Tien Gebooie net ‘n lys is van wat ons nie mag doen nie. Dit is nie die geval nie. Die Tien Gebooie wil ons mos juis oproep om op ‘n wyse te leef ter erkenning van die koningskap van die Here, ons Verlosser.

Kom ons beklemtoon weer ‘n keer twee belangrike aspekte. Die Tien gebooie moet verstaan word teen die agtergrond van die inleidingswoorde: “Ek is die Here jou God wat jou verlos het.” Hierin sê die Here vir ons wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het. Dit sê Hy as ons Koning. As Koning stel Hy dit dan duidelik wat Hy van ons as Sy onderdane verwag. As ons deel in Sy koninkryk en Sy kinders wil wees, dan sal daar nie vir ons ander gode wees nie; sal ons niks en niemand anders aanbid nie; sal ons Sy Naam eer en die rusdag onderhou. As Sy kinders sal ons ons ouers eer, nie moord pleeg nie, nie steel nie, nie owerspel pleeg nie, nie lelik praat nie of nie iemand se goed begeer nie. Netsoos daar familie en gesinswaardes is wat ons nastreef en handhaaf omdat ons aan ‘n bepaalde familie of gesin behoort, is hierdie gebooie die norme waaraan ons lewens as kinders van die Here gekenmerk word. In God se koninkryk leef sy volgelinge só.

Die ander aspek wat ons in gedagte moet hou, is dat dinge in Hebreeus dikwels in negatiewe vorm uitgedruk word om die positiewe te beklemtoon. As ons dan lees dat ons nie ander gode sal hê nie, wil dit juis baie sterk beklemtoon dat ons die Here volkome moet dien en aanbid. As ons lees dat kinders van God nie moord pleeg nie, word dit baie sterk beklemtoon dat kinders van God ander se lewens kosbaar en hoog ag. Dit geld vir elkeen van die Tien Gebooie.

Wat beteken dit dan as ons lees: “Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie, of enigiets wat aan hom behoort nie?” Dit beteken heel eenvoudig dat ons nie jaloers mag wees op wat iemand anders het nie. Dat ons nie ongelukkig mag wees oor wat ons het nie of onvergenoegd mag wees met ons persoonlike situasie nie.

Laat ons dan nie op grond van hierdie gebod argumenteer oor wat ons nie mag begeer nie en wat ons wel mag begeer nie. Dan maak ons mos lysies van wat mag en wat mag nie en dan eindig ons soos die Jode in Jesus se  tyd met ellelange lysies oor wat  onder die gebod ingesluit en uitgesluit is.
Dit lyk my hierdie gebod wil ons oproep om onsself te ondersoek en te vra of ons die koningskap van die Here aanvaar en op grond daarvan bereid is om op ‘n bepaalde wyse te leef as Sy volgelinge en hier dan spesifiek of ons begeertes inpas by die aanvaarding van die koningskap van God.

Die Here is die Soewereine Here, die Skepper van hemel en aarde, Heer van alles. Die Here gee dan aan elke mens uit vrye genade wat Hy wil. Hy gee aan elke mens die lewe; aan elke mens sy lewensruimte; talente; aan elke mens ‘n taak en ‘n roeping om te volvoer. Daarom is geen menslike lewe sinloos of waardeloos nie. Ons almal is soos blokkies in ‘n legkaart, waarvan die totaal die beeld van God uitbeeld.

En nou sê ons teksgedeelte: As die Here ons God is wat ons verlos het, sal ons geen ander lewensruimte begeer as die een waarin God ons geplaas het nie. Die tiende gebod wil nie sê dat ons nie drome mag droom en ideale mag koester nie. Inteendeel. As gelowiges wat God se koningskap aanvaar moet ons vir onsself lewensdoelwitte stel. Gelowiges is juis mense wat doelgerig leef, ons teks sê immers nie dat alle begeertes as sodaing sondig is nie. Nee, ‘n mens wat sonder begeertes is, is ‘n mens wat sonder ambisie is en nie God se wil met sy lewe sal bereik nie. Natuurlik moet ons strewe na beter. Ons moet nie net daarna strewe nie, maar ook daarvoor werk. Ons moet woeker met die talente wat die Here aan ons gee. Hoe dikwels lees ons dit nie in die Bybel nie. Het Jesus dit nie uitdruklik en nadruklik gesê nie?

Om iets te begeer is daarom nie noodwendig verkeerd nie. Ons teks sê: die mens mag nie iets van jou naaste begeer nie. Nie iets wat aan iemand anders behoort nie. Nie sy huis nie, ook nie sy vrou, slaaf of slavin, bees of ‘n donkie of enigiets anders nie.

Die Here het aan elkeen gegee wat hy wou. Daarom mag ons nie jaloers wees op mekaar en op wat God aan ander mense gegee het nie, maar moet die Christen saam met sy naaste God dank vir dit wat Hy aan hom gegee het.

Wie sy naaste se lewensruimte begeer, gee te kenne dat hy ontevrede is met sy eie lewensruimte. En wie te kenne gee dat hy ontevrede is met sy lewensruimte, wil eintlik daardeur sê: “God het ‘n fout gemaak met my lewe. God mishandel my! En daardeur het hy in opstand gekom teen God! Ja wil daardie mense sê: as ek God was, sou ek van beter geweet en dit beter gedoen het!

Daarom is dit so dat diegene wat die lewensruimte van ‘n ander begeer en sy eie God gegewe lewensruimte haat, eintlik vir God wat daardie lewesnruimte aan jou gegee het, haat!

Dit gaan in die laaste gebod dus daarom dat ek nie met afguns en jaloesie aan ander mense moet dink nie. Dit dui daarop dat ek jaloers en afgunstig is, afgunstig en ontvrede met my deel en lot. Dit dui daarop dat ek nie dankbaar is  vir wat God aan my gegee het nie. Gun mekaar ‘n plekkie onder die son. Wees in alles dankbaar. Moenie toelaat dat afguns, jaloesie en ontevredenheid nie net jou lewensvreugde ontneem nie, maar ook leit tot sondige dade.


Hierdie gebod roep ons op om dankbaar en vergenoegd te wees. Om te werk en te woeker met ons talente. Om God voortdurend te dank omdat Hy ons God is wat ons verlos het en wat ons onderhou van dag tot dag...
0 Kommentaar: so far: