POSTED BY Steven Sass on 06:11 under
13 April 2014 Patensie
Aan die kruis het Jesus omgegee en oorgegee
Johannes 19:17-27, Lukas 23:44-49
Op Goeie Vrydag, staan ons in die gees aan die voet van die kruis op Golgota. Dan dink ons in die eerste plek aan Jesus, ons Verlosser wat Sy lewe afgelê het om ons van sonde te verlos. In die gedeeltes wat ons gelees het, vind ons ook ‘n ander klem: Jesus as Seun. Terwyl Jesus aan die kruis hang en besig is om te sterf, praat Hy met Sy moeder en met Sy Vader.

Die kruisdood was ‘n verskriklikke dood, ‘n stadige dood wat voorafgegaan word deur baie pyn, en vreeslike lyding. Om aan jou hande en voete te hang totdat jy sterf, kan nie maklik wees nie. As Jesus aan die kruis hang en Sy kragte uit Hom uitvloei en Sy einde nader kom, dink Hy nie aan Homself nie. Hy is nie so vasgevang in Sy eie pyn en lyding dat Hy alles en almal vergeet nie. Hy sien Maria aan die voet van die kruis staan.

Vir Maria moes hierdie ure seker die verskriklikste ure van haar lewe gewees het. Haar lyding moes intens gewees het. Om ‘n kind te sien sterf, is al byna ondraaglik swaar. Om jou Seun só te sien sterf is nog baie erger. Vir Maria moes dit nog swaarder gewees het, want het die engel nie voor Sy geboorte aan haar gesê dat Hy die Seun van God is nie? Het sy nie nog altyd geglo dat Hy die volk sal verlos nie? En nou? Nou hang Hy aan die kruis. Is Hy besig om die dood van ‘n vervloekte te sterf? Buite die stad. Terwyl die mense Hom bespot. Hoe kan dit tog? Nee, dit kan nie moontlik wees nie. En tog gebeur dit. Haar pyn was anders as die fisiese doodspyn van Jesus... Maria was inderdaad ‘n stukkende, gebroke ma.

Jesus sien Sy ma. Hy merk haar smart en lyding op. Hy reik uit na haar, al is Sy krag min en Sy lyding groot. Hy sien om na haar. Selfs Sy sterwensuur het Jesus omgegee. Hy sê vir haar: “Vrou daar is u seun.” As Hy haar as “vrou” aanspreek, is dit ‘n vorm van eerbied en respek. In daardie tyd het vrouens nie hulle mans op die naam aangespreek nie, maar as “my heer” of “my man”. Jesus ag sy ma hoog. Hy spreek haar met eerbied en respek aan.

Jesus dra Maria aan die sorg van Johannes op. Hy sê ook vir Johannes dat hy na Maria moet omsien. Dit is mos die verantwoordelikheid van ‘n seun om sy ouers te sorg. Jesus kom Sy verantwoordelikheid na, selfs in Sy sterwensuur. Hy gee om. Ons weet dat Maria ook ander kinders gehad het, maar hyself dra sorg dat Sy ma versorg sal wees na Sy dood.

Hierdie uitreik van Jesus na Maria, is tekenend van Sy uitreik na ons. Hy het aan die kruis gesterf juis omdat Hy vir ons omgee. Hy sterf, sodat Hy kan sorg vir ons. Jesus stel hier vir ons ‘n besonderse voorbeel: om vir ons ouers te sorg. Oms selfs te midde van eie pyn en lyding uit te reik na ons ouers en sorg te dra dat dit met hulle goed gaan. Hoe tragies is nie dat baie bejaardes moet kla dat hulle kinders nie meer omgee nie. Hulle is te besig, te selfgerig. Hulle eie belange weeg te swaar. Hulle sit te gefokus op hulself. Ons behoort die voorbeeld van Jesus in so ‘n mate te volg en om te gee vir ons ouers, ongeag die omstandighede waaronder ons verkeer. Deur dit te doen, sal ons wys dat die gesindheid van Jesus ook in ons is.

Aan die kruis rig Jesus Hom ook tot Sy Vader. Die intieme en nou verhouding tussen Jesus en Sy Vader, kom veral in die tyd pas voor die kruisiging en aan die kruis na vore. Eers lees ons in Johannes 17 hoe Jesus inig en lank bid. Hy tree in ‘n ernstige gesprek met Sy Vader. In hierdie gebed bid Hy veral vir Sy navolgers. Daarna lees ons in Matteus 26:36-46 van Jesus se ernstige gebede in Getsemane. Daar bid Hy nie vir ander nie, maar dat die beker by Hom verby moet gaan as dit die wil van God is. Hy is doodsbenoud, en Hy pleit by Sy Vader: “Laat hierdie beker by my verbygaan. Aan die kruis roep Hy tweemaal na Sy Vader. Die eerste keer roep Hy: “Eli, Eli, lama sabagtani – My God My God waarom het U my verlaat. Dis ‘n byna desperate en verwytende roep. Aan die kruis is Hy  die volkome verlatene, Hy is van God en mens verlate. Hy hang aan die kruis – tussen hemel en aarde. Volkome alleen. So gaan Hy sterf.

Jesus se laaste woorde is volgens Lukas 23:46 aan Sy Vader gerig. “...en Jesus het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in U hande gee Ek My Gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.” Jesus gee Homself  volkome oor aan Sy Vader. Sy laaste woorde getuig van vertroue, berusting, volkome afhankilkheid en prysgawe. Sy stryd het Hy gestry. Sy werk is afgehandel, en nou gee Hy Homself oor aan Sy Vader. Dan blaas Hy Sy laaste asem uit. Met Sy Gees toevertrou aan Sy Vader, sterf Hy. Jesus wys ook hierin vir ons die pad aan. Staan ons ook in so ‘n noue en intieme verhouding met ons Hemelse vader? Volg ons die voorbeeld van Jesus na om vir ander in te tree in gebed, soos Jesus in Johannes 17 gedoen het?

Ons kan ook, soos Jesus met ons Vader worstel as dinge moeilik raak. Ons mag maar bid dat die beker by ons verbygaan. In benoudheid mag ons ook pleit dat ons Vader dinge moet laat anders verloop. Maar dan moet ons altyd netsoos Jesus byvoeg: As dit U wil is . As dinge werklik erg word, kan ons ook uitroep: “My God, my God waarom het U my verlaat? Waarom Here? Waarom laat U toe dat hierdie dinge met my moet gebeur?” Waarom gryp U nie in nie? Soos Habakuk lank gelede en soos Jeremia kan ons met ons vrae na ons Vader gaan. Soos klein kindertjies soms op die bors van hulle pa’s slaan, kan ons ook maar.

Maar bo-al moet ons ook soos Jesus ons volkome oorgee aan ons Vader. Jesus het juis aan die kruis gesterf sodat ons kan oorgee aan ons Vader. Dit is die kernvraag waarmee ons gekonfronteer word: Het ons al volkome oorgegee aan ons Vader? As dit nie die geval is nie, is ons lewe nog ‘n soeke in die donker, ‘n sinlose bestaan wat op niks uitlloop; ‘n lewe op na nêrens... Dis juis as ons oorgee aan ons Vader dat ons met Hom kan praat en by Hom kan pleit vir ander; met Hom kan worstel en na Hom kan roep in tye van nood en pyn en lyding.


Jesus het aan die kruis omgegee, en Homself oorgegee....
POSTED BY Steven Sass on 06:32 under
6 April 2014 Patensie
As God jou verlaat....
Psalm 22
Van God en mens verlate! Wat ‘n verskriklikke lot is dit nie! Ons voel ietwat verleë as ons die eerste woorde van die Psalm lees: “My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek roep? Dit klink mos na ‘n verwyt aan God. Kan ‘n mens so voel en so praat? Die digter het. Jesus het. So baie het al sedertdien, en vandag is daar ook soveel gelowiges wat nog so roep. Ons mag maar vir God sê hoe ons voel. Ons hoef nie te probeer om voor te gee dat dit goed gaan as dit nie die geval is nie. Juis die gelowige wat in ‘n lewende verhouding met die lewende Here leef, het die vrymoedigheid om vir God te sê wat diep in ons omgaan.

Die Psalmdigter het in nood verkeer. Hy sê dat die nood en krisis naby is, en dat ‘n wreedaardige klomp mense hom omsingel het. Soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op hom af. Soos honde omsingel hulle hom. ‘n Bende misdadigers het op hom toegesak, sy hande en voete vasgebind en hom beroof. Hulle het selfs sy klere uitgetrek en terwyl hy kaal gelê het, het hulle spottend en arrogant sy klere verdeel en lootjies getrek oor sy mantel. Hy was die prooi van ‘n geweldige rooftog. Terwyl dit met hom gebeur, steur niemand hulle aan hom nie. Niemand kom hom tot hulp nie. Niemand wil betrokke raak nie.

Is dit nie wat so baie nog beleef nie? In ons tyd word so baie beroof. Mense word wreed aangeval, vroue word verkrag, boere word vermoor, bejaardes word die prooi van ongekende wreedheid, roof en diefstal word algemeen, ons rig al hoe hoër veiligheidsheinings op en sluit onsself al hoe meer toe; mense wil nie meer uitgaan nie. Die tragiese is dat ons onbetrokke word.

Mense sien nie meer die nood van ander raak nie, ons kies om nie betrokke te wil raak nie. Ons loop gerieflikheidshalwe die ander kant verby of kyk weg as ons dit sien. Ons wil nie betrokke raak nie, en daar word dikwels baie redes hiervoor aangevoer wat met die eerste oogopslag nogal logies klink... maar die vraag is eintlik of ons iemand in nood alleen kan los? Vandag is daar baie van ons wat kan identifiseer met die klag van die psalmdigter omdat ons ook al deur die meul is. Die ergste is nie dat sy mede geloofsgenote en bure en familie nie betrokke wil raak nie. Hulle is tog inderdaad op negatiewe wyse aktief betrokke. Hulle reik nie ‘n helpende hand uit nie, maar bespot hom. Hulle verag hom, en almal wat hom sien spot met hom. Hulle steek vir hom tong uit. Hulle maak allerlei sarkastiese opmerkings. In plaas van om self betrokke te raak sê hulle : “Laat dit aan die Here oor. Laat Hom red, laat Hom bevry as Hy dan so baie van Hom hou.” Mens wonder wat die ergste is: die aanval van die wrede misdadigers of die verwerping deur die mense wat eintlik so na aan hom was. Voel jy ook dalk so? Hoe baie kan nie anders as om met die Psalmdigter saam te stem nie. Dit maak nog seerder as die aanval en rooftog en nood waardeur jy is. Lank na die tyd sien jy nog die gesigte wat jou verwerp en gespot het. Hoor jy nog die skinderstories weerklink. Ervaar jy nog die smart, my eie mense, my mede kerklidmate het in die uur van nood die rug op my gedraai en my lyding verdiep deur hulle woorde en dade.

Geen wonder dat die digter ‘n ernstige selfbeeld probleem gehad het nie. Hy sê hy is ‘n wurm. Iets wat mens met minagting behandel en so maklik doodmaak. Hy is ‘n potskerf. ‘n Nuttelose voorwerp wat net goed is om jouself mee te krap. Potskerwe wat ‘n irritasie is en weggegooi word. Mens kan dit begryp. As jy verneder en verwerp is, is dit bitter moeilik om nie aan jouself te twyfel nie. Dit raak so maklik om te dink dat jy niks werd is nie. Almal wat al die paadjie geloop het, sal dit beaam. Hoe baie voel nie vandag so nie? As gevolg van die krisis en verwerping en in die rug steek is daar vandag talle wat diep seergekry het en worstel met ‘n negatiewe selfbeeld, wat nog verder versleg namate die persone hulleself onttrek.

Die dieptepunt van die lyding vind ons egter in die openingswoorde: “my God, my God waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?” Die dieptepunt van lyding is die ervaring dat God afwesig is. Dat Hy nie hoor as ons roep en dat Hy ons verlaat. Dit is miskien juis so omdat dit indruis teen alles wat ons van God glo. Is Hy dan nie die Alomteenwoordige Here nie? Is Hy nie die Een wat beloof het dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie? Het Hy nie beloof dat Hy by ons sal wees as ons deur die diep waters moet gaan nie? Het Hy nie belowe om te hoor as ons in nood tot Hom roep nie? Is God dan nie ‘n God van liefde nie? Hoe kan Hy ons dan so in die steek laat?

 Die digter vra dit en sê dat hy  dag en na nag na die Here roep, maar die Here hoor niks nie! God is weg. Dit moet sekere die dieptepunt van lyding wees. Mens kan dit nog probeer verwerk dat ander jou ellende aandoen en laat ly. Mens kan dalk nog probeer verstaan hoekom mense wat eintlik na aan jou behoort te wees jou in die steek laat en teen jou draai. Maar kan mens dit verwerk as God jou verlaat?  Het die lewe dan nog hoegenaamd nog enige sin? Nee, dan word alles donker.

So het Jesus ook aan die kruis uitgeroep: “My God my God, waarom het U my verlaat?” Dit kan ons nie net verstaan nie. God van God verlate. Die Vader verlaat die Seun in sy sterwensuur. Ek kan dit nie begryp nie. Tog is dit so. Waar die Psalmdigter en ons dit so ervaar, was dit in Jesus se geval werklik so. Hoe diep was Sy lyding nie. Die vyand het Hom omsingel soos leeus, soos honde het hulle op Hom toegesak. Hulle het Hom mishandel...Hy is deur almal  verlaat, selfs Sy dissipels het gevlog. Hy is bespot, en deur God verlaat. Hy weet dus wat ons deurmaak, want dis ook die pad wat Hy geloop het, net veel dieper en erger as ons. Hy  het die pad uit eie keuse geloop terwille van ons. En dit is dan mos die boodkskap van Paasfees...en die hele Nuwe Testament!

Ten spyte van die lyding en die feit dat die digter meen dat God hom verlaat het, roep hy nogsteeds na God. Pleit hy steeds dat God moet hoor en help. Noem hy nogsteeds vir God: my God en Bron van my krag. Hy sê te midde van alles dat hy in die sorg van die Here is sedert sy geboorte. Hy is nog die gelowige wat aan God wil vashou en smeek dat God hom sal vashou. Hierin stel die digter vir ons die voorbeeld: ons moet ten spyte van alles, ja al lyk dit asof God ons verlaat het, aan Hom bly vashou en bly smeek: Here wees my genadig, bly by my; help my!


Die geloof van die Psamldigter was nie tevergeefs nie. In verse 22 en 23 lees ons mos: “U het my gebed verhoor!” God hoor en doen. Hy is immers die lewende Here. Op Sy tyd verander Hy die lot. Dan sing die Psalmdigter en roep hy ander op om tot eer van die Here te sing. Let op dat hy nie die ander verwyt vir die feit dat hulle hom in die steek gelaat het en bespot het nie. Hy kyk nie meer terug nie. Hy juig en vra dat almal in sy vreugde moet deel. Netso moet ons ook vanoggend juig en bly wees, prys die Here en aanbid Hom omdat Hy getrou bly, die God van liefde is en op Sy tyd vir ons elkeen uitkoms sal gee. Hieraan kan ons vashou. Al voel ons nog dat dit nag is en voel ons verlate, kan ons weet: Jesus was van God verlate sodat ons nooit deur Hom verlaat sal word nie. Deur Sy Heilige Gees is Hy hier. Hy reik Sy Redderhand uit en sal ons beskerm. Daarom kan ons selfs in die donkerste nag sing tot Sy eer.