POSTED BY Steven Sass on 19:59 under
28 Julie 2013 Patensie
Handelinge 8:26-40
QUO-VADIS?
 Die een man wie se prediking die Here in Samaria gebruik het, was Filippus. Dáár – in Samaria - was dit massa-evangelisasie, met groot seën. Nou skielik, verskuif die fokus na 'n individu wat tot geloof kom: die Etiopiër.

Die manier waarop die Here se koninkryk kom, is een-persoon-op-'n-keer. Juis daarom kan óns almal 'n rol speel in die koms van die koninkryk in die Gamtoos – want die Here werk individu-vir-individu en ons maak daagliks kontak met individue, nie waar nie? Filippus was soos 'n verkleurmannetjie: Hy kon vir die massas preek, maar hy kon ook met die individu werk. En tog bring hy net één evangelieboodskap, want daar ís net een! Dit wat in hierdie Skrifgedeelte uitstaan, en daarop wil ons vanoggend fokus, is die twee middele/instrumente wat die Here gebruik om iemand tot geloof & bekering te bring.

 Natuurlik is die redding van 'n sondaar van begin tot einde die werk van God alleen: Sy inisiatief, Sy krag, Sy werking. Niemand kan na Christus kom tensy die Vader hom/haar trek nie (Joh 6:44). Hý maak die geestelik- dooies lewend. Hý gebruik die vervolging in Jerusalem om vir Filippus na Samaria en uiteindelik op die Gasapad te bring. Hý bring vir Filippus by die Etiopiër. Hý bewerkstellig die perfekte tydsberekening vir die ontmoeting tussen Filippus & die Etiopiër. Hý sorg dat die Etiopiër die Bybel ter hand het. Hy draai die man se hart om! Van begin tot einde doen Hý alles.

En tog werk Hy wonderbaarlik deur Sy mense. Soos die Vader die Seun gestuur het en die Vader & Seun die Gees gestuur het, stuur die drie-enige God die kerk/gemeente uit in die wêreld as sendelinge & evangeliste. Hy gebruik instrumente/middele: veral twee. 1) 'n Gehoorsame gelowige en 2) 'n oop Bybel. In die bekering van die Etiopiër, het die Here hierdie twee middele gebruik: Filippus as gehoorsame dienskneg en 'n Bybel wat by Jesaja 53 oop was, wat gelees is, wat verklaar is, wat geglo is.

Kom ons kyk van naderby na hierdie twee middele: 1) Gehoorsame gelowige: 'n Mens kan jouself die prentjie voorstel: Filippus is tot oor sy ore besig in Samaria waar daar 'n soort herlewing ontstaan het en nou gee 'n engel hom die opdrag om die woestyn in te gaan – op 'n verlate pad, die pad na Gasa. Hoe onverstaanbaar tog! Eerstens weet ons nie hoe die engel met Filippus gekommunikeer het nie. Tog moes dit vir Filippus 'n besonder moeilike opdrag gewees het. “Hoe kan ek die werk in die Samaria-herlewing net so los en op die woestynpad gaan, waar geen mens in sig is nie!” 'n Mens kan jou voorstel dat Filippus nie rasend van opgewondenheid was nie. En tog gehoorsaam hy. Hy gee homself weg aan die Here se werk – al is die opdrag hóé onverstaanbaar! Min het hy geweet dat die Here besig was om 'n Goddelike ontmoeting te reël.

Daar was nóg 'n reisiger op die woestynpad: 'n man uit Afrika, op pad terug huistoe vanaf Jerusalem, waar hy by die tempel aanbid het. Hierdie man was nie 'n hierjy nie. Hy was 'n hoë amptenaar in diens van die koningin van Etiopië – in beheer van haar geldsake. Daardie tyd se Etiopië was waarskynlik die Nyl-Delta suidwaarts tot by – vandag bekend as – die noorde van Soedan. Hierdie man was dus nie 'n Jood nie. Tog het hy die Joodse geloof aangeneem, soos talle nie-Jode in die destydse wêreld gedoen het. Hy was baie ernstig, godsdienstig. Hy het die moeite gedoen om na Jerusalem te reis om by die tempel uit te kom. Hy het vir homself 'n Bybel in die hande gekry en was besig om uit Jesaja te lees terwyl hy op sy terugreis was. En tog – t.s.v. al sy ernstige godsdienstigheid - was hy nie gered nie, alhoewel die Gees met hom besig was en hom voorberei het.

Let op, godsdienstig-wees is nie noodwendig sinoniem met gered-wees nie. Op hierdie punt word 'n mens maklik mislei. Jy dink: ómdat ek ernstig is met die Here se dinge, ómdat ek bid & bybellees, ómdat die Here my gebede verhoor, ómdat Hy my uit 'n verknorsing gehelp het, ómdat ek Christelik opgevoed is – daarom moet ek sekerlik tog 'n geredde kind van die Here wees! Wel, hierdie Etiopiër was ernstig-godsdienstig en tóg steeds al-bybellesende verlore – totdat Filippus sy pad kruis. Dáár is die eerste middel wat die Here gebruik: 'n gehoorsame kind van God – wat daarop ingestel is om mense geestelik te help.

Dit is wonderlik om vir Fillipus dop te hou: hy is só weggegee aan die Here. Toe die Gees dit op sy hart druk om nader te gaan aan die wa wat daar ry, toe gaan hy. En toe dit nodig is dat hy die vername Etiopiër geestelik moet help, toe doen hy dit. Wat 'n onbeskryflike vrede & blydskap moes nie sy siel vervul het nie! Die blydskap van gehoorsaamheid en toewyding aan die Koning van die konings!

Het jy geweet: indien jy 'n kind van die Here is, dan ís jy 'n geroepe instrument in Sy hand om die Goeie Tyding aan mense te bring? Die Here gebruik nie engele nie. Hoe maklik kon die Here die engel gebruik het om met die Etiopiër te praat. Maar nee, die engel se taak is om vir Filippus te mobiliseer sodat hý die werk kan doen. Om die een of ander rede, is dít hoe die Here werk: hy gebruik Sy kinders se gehoorsaamheid, beskikbaarheid en tonge. Is dit nie absoluut opwindend nie? Om te dink dat ek, nietige stofmensie, deur die Here van hemel en aarde gebruik kan word in ander mense se ewige redding?!

 Hoe totaal ánders sal ons daaglikse lewens wees indien ons elke oggend met hierdie intensie uit die bed kan opstaan: “Here ek is beskikbaar om vandag 'n instrument in U hand te wees en om te gehoorsaam wanneer mense oor my pad kom en wanneer U Gees my innerlik dring.” Skielik verander jou lewensprioriteite en jou visie op die daaglikse lewe wanneer jou daaglikse uitgangspunt is: “Here help my vandag om met iemand te praat en gee my die vrymoedigheid!”

2) Oop Bybel: Kyk net hoe pragtig maak ons Skrifgedeelte dit oop, dat die Gees die Wóórd gebruik om iemand tot geloof te bring. Ja, die Bybel. Filippus hoor hoe die Etiopiër hardop uit Jesaja 53 lees. Die pragtige profesie wat praat van die komende Verlosser wat soos 'n skaap ter slagting gelei word en stom is voor Sy skeerders. God se kneg wat moes ly en sterf. “Watse misterieuse figuur is dit?” wonder die Etiopiër (met reg). “Van wie praat die profeet?” “Verstaan u wat u lees?” vra Filippus vir hom. Dit moes baie moed verg, want Filippus is 'n nul-op-'n-kontrak terwyl hierdie man 'n Minister van Finansies is. “Wie is díé idioot?” kon die man vra. Maar Filippus benader hom met wysheid. Hy begin nie preek nie. Hy vra net 'n vraag. “Verstaan u wat u lees?” En, die man het juis nie verstaan nie!! En die Heilige Gees het die ontmoeting gereël. Daarom antwoord hy: “hoe kan ek verstaan tensy iemand dit vir my verduidelik?”

  Met graagte onderwerp hy hom aan Filippus se onderrig. Hy is ontvanklik. Dit is waarom Calvyn gesê het dat 'n mens se persoonlike Bybelstudie eers vrug begin dra wanneer jy jouself vrylik onderwerp aan die lering/onderrig van die Skrif wat jy in die kerk ontvang. En dit was Filippus se goue kans. Hy begin by Jesaja 53 en verduidelik die Blye Boodskap van Jesus Christus. Hoe wonderlik! Hy verkondig nie sy eie idees nie, maar die inhoud van die Skrif. Die Bybel gaan meteens oop. Filippus het waarlik 'n boodskap vir hierdie belangrike man! Maar daar is iemand nodig wat die Skrif kan verduidelik. Ja, mense kom tot geloof & bekering deur slegs die Bybel te lees, maar dit gebeur selde só. Die mees algemene manier wat die Here gebruik is die uitleg van die Woord. Dit is die instrumente wat die Here gebruik. Die Bybel en 'n gehoorsame gelowige wat dit kan verduidelik.

Ek wil vir jou (en vir myself) 'n baie direkte vraag vra: Is jy doodseker dat jy in staat is om vir iemand die essensie van die Evangelieboodskap te verduidelik én iemand te help om tot geloofsekerheid te kom? Indien jy 'n kind van die Here is, dan móét jy dit kan doen – sonder twyfel. Dis ons almal se dure roeping. Gestel iemand sou jou uitvra oor die Christelike Geloof, sou jy aan so iemand 'n verduideliking kan gee? Gaan jy daagliks só met die Woord om dat jy behendig begin raak met die Bybel en dit waarlik liefhet? Of is jou Bybelstudie sommer maar net tjoef-tjaf en oppervlakkig? Is vanoggend/nou nie 'n baie goeie tyd om tot 'n werklike beslissing te kom nie? 'n Besliste besluit om erns te begin maak met die Bybel en om jouself toegerus te kry om die evangelie met iemand te deel. Indien dit moet, sou ek 'n kursus kon aanbied vir almal wat beter toegerus wil word. Vra net daarvoor! Maar laat ons tog ons verskonings & verharding laat vaar en hóór wat die Gees in Hand 8 vir ons sê.

En wat gebeur met die Etiopiër toe Filippus uit die Skrif vir hom die Boodskap van Jesus van Nasaret verduidelik? Hy glo hom. Hy glo die Skrif. Voorheen was hy godsdienstig. Nou breek die lig deur. Hy plaas sy vertroue op Christus se kruisdood – waarvan Jes 53 profeteer. Net so, sonder enige gevoel/ervaring/bewerasie/visioen/droom, kom hy tot geloof slégs o.g.v. wat hy uit die Skrif hoor....


 En die Etiopiër het voortgereis met 'n nuutgevonde blydskap. Hy sou nooit weer na Jerusalem terugkeer nie, want hy het nie meer die tempel nodig gehad nie. Hy het nou 'n Persoon leer ken – wat die nuwe tempel tot in ewigheid is.
POSTED BY Steven Sass on 06:16 under

21Julie 2013 Patensie
Handelinge 9:1-20
Die Here leef in die stories van mense wie se oë oopgaan

Wanneer laas was jy deel van ‘n groep mense wat vertel hoe lewendig hulle kerk is? Wanneer laas het jy gehoor dat iemand sulke ‘lewendige’ stories van ons gemeente vertel? Wat sê nuwe intrekkers oor hul eerste indrukke van ons gemeente? Wat vertel die ou lidmate vir nuwe lidmate wanneer hulle by ons ontvang word? Watter stories vertel ons die graagste vir besoekers … of bly ons maar eerder stil?


As ons antwoorde op hierdie vrae moet gee sal ons dalk ‘n lekker skindersessie begin. Die maklikste stories om te vertel is seker om die eienaardighede van die dominee en wat ek dink van sy prediking en huisbesoek uit te saai.


 Tweede op die lys is stories oor die kerkraad en mense wat voorsit in die kerk, maar ook kan voor-vloek by die werk.

  
Met ‘n ernstiger probeerslag sal ons darem kan vertel van wors-maak vir ‘n basaar  ‘n geslaagde fondsinsameling, ‘n nuwe gemeentestruktuur, ‘n huweliksverykingsseminaar wat aangebied word, ‘n manne-en-hul-seuns kamp en (as ons die jaar gelukkig is) ‘n mooi Pinksterreeks. Iewers in die gemeente is daar ‘n paar bidders, en sendingvriende … maar ons is nie so heeltemal seker wat hulle doen nie. O ja, en in die briewekolomme van die publieke pers word gestry oor die kerk, gays en Jona-in-die vis, die lidmaatgetalle wat afneem en mense wat na ander kerke toe gaan.


As ons Handelinge mooi bekyk is die boek ‘n saambring van ‘n reeks stories oor die kerk. Dit is die stories wat destyds graag vertel is. Die stories is natuurlik Paas en Pinkster stories – want dit gaan deurentyd oor Jesus wat opgestaan het en in die gemeente leef deur sy Gees. Die stories word so vertel dat ons almal kan sien en weet dat die Here leef!


Baie opvallend in die reeks verhale is die bekeringstories … die bekering van 3000 mense uit ‘n kritiese skare, die histories vervreemde Samaritane, die wêreldreisiger uit Afrika, die kultuur-vreemde Kornelius … en (in ons teksgedeelte) die kerk-vyandige Saulus.


Die kerk leef van sulke bekeringstories, Die Here leef in bekeringstories. ‘n Gemeente wat nie meer bekeringstories het om te vertel nie, moet onrustig slaap. Sonder bekerings beteken dit tien teen een dat die kerk so aangepas het by die wêreld dat geen verandering meer nodig is nie.

 Sonder bekeringsstories gee ons die indruk dat dit glad nie meer belangrik is dat mense deur God geroep word nie. Kan daar hoegenaamd ‘n gemeente wees en sal daar ‘n kerk wees wat die toekoms oorleef as daar nie ‘n sensitiwiteit is vir mense wat ‘n behoefte het aan bekering – maar die mense self (en die lidmate) weet nie hoe nie?


Ons sal ‘n fout maak as ons dink alle bekerings lyk soos Paulus s’n. Bekering beteken nie noodwendig dat daar so ‘n gestoei of ‘n geworstel met God hoef te wees nie. Dit hoef nie te beteken dat daar ‘n geweldige bonatuurlike gebeurtenis hoef plaas te vind nie. Mense kom oor die eeue heen op verskillende en uiteenlopende manier tot God.

 Bekeringstories … volgens hierdie gedeelte en in die res van Handelinge  … is elemente van die volgende :

Eestens is dit SIEN-stories.

Paulus sien ‘n lig – met ‘n stem wat dit interpreteer. Sy medereisigers ‘sien’ nie.
Na duister ‘sien’ hy en ‘die skille val van sy oë af’ – met die hulp van Ananias.


Stories oor hoe mense ‘tot die lig kom’ (ek dink byvoorbeeld veral hier aan verskeie van ons lidmate wat byvoorbeeld die afgelope tyd begin insien het dat hulle op die verkeerde pad is, ek dink aan verskeie van ons mense vir wie dit al hoe duideliker geword het dat hulle nie besig is om God te verheerlik in hulle lewens nie) is die stories waarvan gemeentes leef. Dit is die stories wat vertel dat Jesus leef!

ROEPING-stories

Paulus se bekeringstorie word nie vertel omdat ‘n bekeringsverhaal so bekoorlik, aangrypend, sensasioneel of wonderlik is nie. Bekeringstories word vertel omdat dit roepingsverhale is. Iemand sien … iemand draai om … omdat die Here vir die persoon ‘n taak en opdrag het.


 Paulus kom tot bekering omdat die Here hom gekies en geroep het om die “heiden-apostel” te wees.Ons as gemeentelede moet die verhale vertel oor hoe ons bewus geraak het van take wat die Here aan ons toevertrou. Soms mag hierdie take ‘n radikale nuwe opsie wees, soms sal dit net ‘n aanpassing wees binne ons bestaande take en soms mag dit verhale wees waarin ons opnuut bewus geraak het van dieselfde taak waartoe ons lank gelede al geroep is. (Dink aan Paulus wat later in sy lewe weer hierdie bekeringsverhaal vertel!).


Ek dink veral hier aan mense in ons gemeente wat radikale besluit moes geneem het oor hulle loopbaankeuses, ‘n jongmens wat die roeping ontvang het om volgende jaar teologie te gaan studeer. Ek dink veral aan ouers wat aardskuddende besluite moes geneem het oor die toekoms van hulle kinders se opvoeding en toekomstige moontlike loopbane.


GEMEENTE-stories

Die klassieke bekeringsverhaal van Paulus is nie die verhaal van ‘n besondere individu wat uitstyg bo die gemiddelde weens die besondere karaktertrekke en wilskrag van die persoon nie.

 Paulus kan nie tot bekering kom sonder die gemeente – in dié geval verteenwoordig deur Ananias – se hulp en ondersteuning nie. Inteendeel die bekering van Paulus veroorsaak ook ‘n eiesoortige ‘bekering’ by Ananias.


 Bekeringsverhale word gemeente-stories omdat die gemeenskap van die gelowiges betrek word by ‘n bekering. Die gemeente help die bekeerling om te verstaan wat gebeur. Dit is ook reg dat ‘n bekeerling sy/haar roeping toets en help beoordeel deur medegelowiges te raadpleeg!


Daar is min dinge so wonderlik as om lidmate te hoor praat oor hoe daar lewe in hulle gemeente is … hoe mense wat in die duister was tot die lig kom … hoe mense hul lewe aanpas en beleef in terme van ‘n roeping van God en hoe gevestigde lidmate self ‘n soort bekering beleef om in te val met God se lewendmakende Gees.


Daar is egter min dinge so irriterend as mense stories dramatiseer en met ‘n stuk voorspelbaarheid vertel – omdat hulle voel hulle moet dit doen. Of as mense hierdie wonderlike verhale vertel terwyl die hoorder ‘n gevoel kry dat dit aangedik word.

Dit is nie nodig nie.



Wat nodig is, is dat ons oë sal oopgaan vir die lewe en werk van God in ons tyd en in ons mense se lewens. Waar God lewend maak, rigting gee, roep, stuur en ondersteun deur ‘n broer en suster. En as ons sien moet ons met vrymoedigheid vertel. En as ons hoor moet ons ander daarvan vertel. Besef vanoggend dat jou bekering, of nuwe toewyding aan God nie iets is wat jy vir jouself moet of kan hou nie. Vertel daarvan en wees jy tot seën van die Here se Kerk hier in die Gamtoos, tot aan die uithoeke van die aarde.
POSTED BY Steven Sass on 07:03 under
14 Julie 2013 Patensie
Oor vriendskap met uitgeworpenes
Matteus 9:9-13; 11:19
Aan jou vriende sal jy geken word. Hierdie spreekwoord is aan ons goed bekend, en daar is ‘n groot mate van waarheid in hierin. Dit is dan logies en reg dat ouers bekommerd is oor die vriendekring van hulle kinders. ‘n Verkeerde vriendekring kan jou kind se lewe negatief beinvloed en selfs verwoes. Met reg waak ouers oor die vriendekring waarbinne hulle kinders beweeg. Tog moet ons ook erken dat baie mense al hierdeur verontreg is en dat baie onreg gepleeg is onder die dekmantel van “verkeerde vriende”.

Wie was die vriende van Jesus? Met wie het Jesus geassosieer? Wat sê Matteus hieroor in sy evangelie? Dit is belangrik, juis omdat die evangelie van Matteus gerig is tot Christene uit die Jodendom. IN die Jodendom was jou vriendekring baie belangrik. Al was vryheid van assosiasie nie onbekend nie, was dit vir hulle van die grootste belang dat jy in die regte kringe moes beweeg. Jy moes jouself veral assosieer met mense uit jou eie stam en dan met ander wat uit minstens dieselfde sosiale klas as jy was. Daar was dan verdere duidelike bepalings met wie jy nie moes assosieer nie. Die “lys” is nogal opgestel deur veral die kerkleiers van die tyd.

So mag jy jouself nie assosieer met heidene nie; ook nie met melaatses of mense wat onrein is nie, dit wil sê mense wat op een of ander wyse verontreinig was. Dit het onder andere ingesluit vroue wat gemenstrueer het, mense wat in kontak met ‘n lyk of ander siekes was. Sulke mense moes vermy word. Sondaars was ook op die lys van verbode vriende. Sondaars was veral in die Matteus Evangelie, mense wat nie voldoen het aan die reinigingsritusse en ander bepalings van kerkleiers nie.

Jesus, so het Matteus tot hier beklemtoon, kom uit die geslag van Dawid. Hy kom uit die mees aristokratiese stam en geslag van Israel. Dit sou derhalwe verwag kon word dat Hy sou beweeg in die kring van die aristokrasie; die toplaag van die bevolking. In hoë kringe moes Hy beweeg. Dit word verder versterk deur die feit dat Matteus beklemtoon dat Jesus nie net uit die geslag van Dawid was nie, maar ook dat Hy die Seun van God is. Hy ìs die verwagte Messias. Die Koning van die Jode. Die Een wat Sy volk sou verlos.

Uit dit alles blyk dat verwag kon word dat jesus Homself sou assosieer met die invloedrykes en die belangrikes.

Die Evangelie begin dan deur te beklemtoon dat Jesus eer ontvang van die hoogste kringe. Dit was die geleerdes uit die Ooste; die aristokrasie van ander volke wat kom om aan Hom eer te bring. Hy tree op as Rabbi en as radikale Onderwyser onderrig Hy die skare op besondere wyse en toon so aan dat Hy die verwagte Messias kan wees. As Geneser toon Hy eweneens dat Hy die verwagte Messias kan wees. Hy is ‘n Persoon met buitengewone verstand, insig en mag. Die verwagting dat Hy die Messias is, word al sterker.

Reeds van die begin van Sy optrede, met Sy onderrig en met genesings, begin dit al deurskemer dat Jesus nie heeltemal inpas in die prentjie wat hulle vir hulself geteken het nie. Hy leer nie soos, en in ooreenkoms  met wat hulle destyds gehoor het nie. Hy wyk radikaal af van die standaard inhoud van onderrig en gee telkens radikale nuwe interpretasies.

Met Sy genesings, wend Hy  Hom tot diegene wat deur die gemeenskap verag is. Hy reik uit na die melaatse en raak hom aan. Dit was totaal verbode. Die melaatses moes buite die stad in afsondering bly. Met hulle mag geen mens kontak hê nie. Jy mag nie eers iets aanraak waaraan hulle geraak het nie. Jesus reik verder uit na vroue en raak vroue wat onrein was, aan. Ook dit was taboe gewees. Vroue het nie ‘n besondere ereplek beklee nie maar was redelik laag op die sosiale rangorde gewees.

Nou sou ons kon sê dat Jesus met die genesings uitreik na mense wat verag is of op die rand van sosiale lewe gestaan het en dat Hy met Sy optrede hulle teruggebring het in die sosiale kringe waartoe hulle eintlik behoort het. Kan ons hier werklik praat van vriendskap? Is dit nie maar net toevallige of kortstondige uitreike nie? Miskien was dit soms so, maar ons weet darem ook dat sommiges Jesus gevolg het en so deel geword het van Sy vriendekring. So weet ons van Maria Magdalene uit wie, volgens Lukas 8:2, sewe duiwels uitgegaan het, Jesus gevolg het tot die einde toe. Sy was van die weiniges wat met Sy kruisiging daar naby gestaan het en was die heel eerste persoon aan wie Jesus na Sy opstanding verskyn het. Dat daar ‘n noue verband tussen hulle was, kan nie ontken word nie. Sy, en talle van die ander vroue wat Jesus gevolg het, vir Sy dissipelsgesorg het en self ook deel van Sy noue veolgelingsgroep gevorm het, was mense met wie baie van die Jode in daardie tyd nie geassosieer wou gewees het nie.Trouens die kerkleiers van destyds het verwytend gesê dat Jesus met tollenaars en sondaars eet en  dat selfs prostitute in Sy gesleskap gesien is. Met minagting het hulle na die vriendekring van Jesus verwys.

Dit wat met die genesings al na vore kom, word hierna skerp uitgebou met die roeping van Matteus. Jesus gaan staan en roep Matteus om Hom te volg. Jesus neem die inisiatief, Hy is die een wat uitreik na Matteus. Hy knoop ‘n gesprek met hom aan, en rig ‘n versoek of uitnodiging tot Matteus. Jesus is die een wat ‘n vriendskapsband smee.

Wie was hierdie Matteus? Hy was ‘n tollenaar, en tollenaars was nou nie juis die mees gewildste mense nie, inteendeel. Tollenaars was in diens van die Romeinse owerheid gewees, en as sodanig was hulle klaar onpopulêr. Om hulle posisie nog slegter te maak, was dit algemene gebruik onder die tollenaars om buitensporige tolgelde te hef en die mense uit te buit. Daarby was hulle bekend as onderduims, wreed en geldgierig. Die Jode kon hulle eenvoudig nie verdra nie. Hulle is vir alle praktiese doeleindes uit die gemeenskap geban. Dis nou mense met wie jy jou nie ophou nie! Jesus roep Matteus nie net om Hom te volg nie, maar Hy gaan ook na sy huis toe en eet saam met Matteus  en sy vriende. Hiermee reik Hy dus nie net ‘n hand van hulp uit nie, maar ‘n hand van vriendskap. Iets wat nie tydelik van aard was nie, maar vriendskap wat tot met die dood sou bly staan.

Dit het tot spanning gelei en Jesus se beeld skade berokken. Die kerkleiers wil algou weet waarom die leermeester wat soveel aansien geniet het, so ‘n dom ding kan doen. Hoe kan Hy sy eie beeld so skade aandoen deur saam met tollenaars en sondaars te eet en te drink? Die spanning tussen Jesus en die kerkleiers word hierna net meer intens. Hierdie vriendskap, en die ander wat gevolg het, het daartoe gelei dat daar al groter spanning tussen Jesus en die mense in die hoë sosiale klas gekom het. Hy het hiermee die kerkleiers, die bekendes invloedrykes en meningsvormers van Hom vervreem. Van menslike perspektief gesien, moes Jesus ‘n duur prys betaal vir Sy vriendskap met die tollenaars en die sondaars.

Die kerkleiers was so kwaad oor die feit dat hierdie radikale Onderwyser en groot Geneesheer uit die stam van Dawid, die Man wat net dalk die Messias kon wees, Hom met sulke mense bevriend, dat hulle van Hom gesê het: “Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.” (Matt. 11:19). Dis die etiket wat hulle om Sy nek gehang het. Dit was een van die redes waarom daar altyd spanning was en hulle uiteindelik Sy dood gesoek het.

Is dit nie so dat daar nog altyd onderskeid getref is nie? Ons groep en ander groepe. Die geleerdes en die ongeleerdes, die rykes en die armes, die invloedrykes en onaansienlikes. Ons en hulle. Ons wil baie keer maar net in ons eie kringe beweeg. Ons kinders moet tog nie bevriend raak met  mense “laer” as ons nie. “Hoër”, ja maar net nie laer nie.

Soms sal ons darem uitreik na ander. Maar dan met so ‘n meerderwaardige neerbuig en solank dit net vir ‘n kort rukkie of spesifieke doelwit is. Solank werklike assosiasie en betrokkenheid nie ter sprake is nie. Hoe tragies. Dan is ons eintlik ook niks anders as Fariseërs nie. Skynheilige witgepleisterde grafte.


Jesus, die Seun van God was die Vriend van veragtes en uitgestotenes. Hy het nie Sy beginsels prysgegee nie. Hy het nie verval en sleg geword nie. Hy het ook nie in meerderwaardigheid neergedaal tot die vlak van Sy vriende nie. Inteendeel,Hy het hierdie veragte uitgeworpenes nog gedien en soms hulle voete ook nog gewas. Is hierdie gesindheid wat in Jesus was, ook ons s’n?