POSTED BY Steven Sass on 19:47 under
26 Julie 2015 Patensie

“U laat my by ’n feesmaal aansit”, sê Dawid. “U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly ...” Dit is wat Dawid sê. Dan praat hy ook nog van die groen weivelde waarheen die Here hom neem, en van die waters waar daar vrede is, en die nuwe krag en regte paaie waarop die Here hom lei, sodat hy niks kortkom nie. Vir Dawid was die lewe soos ’n feesmaal. Is dit hoe jy die lewe sal beskryf? ’n Fees?

Miskien voel jy om vanoggend te sê: Ek weet dat dit die boodskap van die Bybel is, maar dit is darem nie heeltemal op my van toepassing nie. Dit was seker maar omdat Dawid ’n man na God se hart was, dat hy dit kon sê. Hy was immers die koning van Israel. Vir so iemand is die lewe seker ’n fees. Maar vir ons gewone mense is dit ’n ander storie. Ons het met die harde werklikheid van die lewe te doen.

Maar – en dit is belangrik dat ons dit hier sal raak sien – alles het tog ook nie altyd voor die wind gegaan met Dawid nie. Dink maar aan die jare wat hy voor koning Saul vir sy lewe moes vlug en as ’n balling in die land van die Filistyne moes woon. Dink maar aan die hartseer toe sy en Batseba se seuntjie dood is, of die tragedie in sy huis, toe sy oudste seun Amnon vir Tamar, sy halfsuster, verkrag het en hy daaroor deur haar broer Absalom vermoor is, sodat Dawid vir Absalom uit Jerusalem verban het, en dit uiteindelik uitgeloop het op ’n staatsgreep deur Absalom, en Absalom se dood. Julle ken almal die ontroerende geskiedenis van Dawid se smart oor sy seun Absalom; hoe Dawid dit uitgekerm het: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun” (2 Sam 18:33).

Ja, alles het nie altyd voor die wind gegaan met Dawid nie. Ons lees iets daarvan in hierdie psalm, waar hy praat van die donker dieptes waardeur hy soms moet gaan, en van sy teëstanders (vs 4 en 5). En tog sê hy dat hy niks kortkom nie, dat die lewe vir hom soos ’n feesmaal is. Wat was dan sy geheim?....

Dit lyk my die geheim van Dawid se borrelende vreugde, van die veerkrag in sy godsdiens, het daarin gelê dat hy God se hand, God se beskikking in sy lewe, raakgesien het.

Daar is ’n baie treffende voorbeeld hiervan in 1 Sam 24. Dawid was op die vlug voor Saul se moordbendes, en hy kruip in ’n grot weg. Dan kom Saul en gebruik die einste grot waarin Dawid wegkruip, as ’n toilet. Dawid kon op die plek vir Saul doodgemaak het, maar hy doen dit nie. Hy sny net ’n stukkie van Saul se mantel af, en as Saul uit die grot uitstap, stap Dawid agterna en wys vir Saul die stuk mantel om te sê: Jou lewe was in my hande. En dan sê hy vir Saul (1 Sam 24:13): “Die Here sal regspreek tussen my en u en die Here sal my wreek op u, maar ek sal nie teen u wees nie.”

Dawid het geweet: God is in beheer van sy lewe. Hy sorg vir hom, en daarom hoef hy hom nie te bekommer nie. Kyk net hoe beskryf hy sy lewe, hoe sien hy God se teenwoordigheid in sy hele bestaan:

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.
Hy laat my in groen weivelde rus.
Hy bring my by waters waar daar vrede is.
Hy gee my nuwe krag.
Hy lei my op die regte paaie ...
U is by my. In u hande is ek veilig.
U laat my by ’n fees maal aansit ...
U ontvang my soos ’n eregas ...

Dawid het iets gesien wat ons so dikwels miskyk. Dawid het gesien dat die Here met hom besig is, dat niks wat met hom gebeur, toevallig is nie. Dit beteken nou nie dat, as die Here met jou besig is, alles gaan soos jy dit wil hê nie. As die Here met jou besig is, gaan alles nie soos jý dit wil hê nie, maar gaan dit soos die Hére dit wil hê. Dit moes Dawid ook leer. Dit was immers die Here wat die feesmaal vir hom berei het, wat besluit het wat op die spyskaart moes wees en wat nie; dit was die Here, nie Dawid nie. Daarom bely hy in vers 3: “Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.” Tot God se eer, nie Dawid s’n nie. En God se paaie loop nie altyd reg soos ons dink dit moet loop nie. God se paaie loop soms maar deur die donker dieptes. Maar Dawid het nie omgegee nie, want hy het geweet: Dit is God se paaie, en daarom is dit die regte paaie, want uiteindelik sal dit uitloop op die eer van God se Naam, en daarin het Dawid hom verbly.

Dis ook hoekom Jesus baie later in Getsemane kon bid: Nie soos Ek wil nie!

Dit is die rede waarom Dawid die lewe as ’n feesmaal uit God se hand beleef het: Omdat dit vir hom heerlik was om deel te wees van God se wêreld, omdat dit vir hom heerlik was om te beleef hoe God met hom besig is. Omdat hy elke dag vol opgewondenheid gewag het om te sien hoe God se paaie sou lei, waar God hom sou uitbring. Daarom voel hy soos ’n eregas van God, iemand spesiaal vir die Here, beleef hy hoedat God hom oorlaai met sy seëninge en hartlikheid, hoedat God se goedheid en guns hom agtervolg, hoedat dit maar net altyd daar is, waar hy hom ook al draai.

Daar is twee maniere waarop ’n mens na hierdie wêreld kan kyk: Jy kan daarna kyk en oral die letsels van die sonde en die sleepmerke van die duiwel sien. Of jy kan na die wêreld kyk en God se teenwoordigheid, Sy hand daarin raak sien en die tekens van die oorwinning wat Christus behaal het. Dit is tog God se wêreld (Ps 24:1,2). Hy het dit gemaak, en Hy het dit ook weer losgekoop uit die mag van die Bose deur die bloed van sy eie Seun, Jesus Christus. Hierdie wêreld behoort nie aan die Bose nie, al wil die duiwel so graag hê ons moet dit dink, en al kry hy so nou en dan ’n hou in. Dit is God se wêreld.

Dit is hoe Dawid die wêreld gesien het. As God se wêreld. Daarom is dit vir hom asof hy die hele dag in die tempel is, want die hele dag lank is hy in God se wêreld, in God se teenwoordigheid. Hy sê dit in vers 6: “... ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.”

Daarom is die lewe vir hom ’n fees, want God is daar! Miskien kyk ons maar net verkeerd. Miskien moet ons weer ’n slag kyk: Dit is God se wêreld hierdie! Hy regeer, ook in ons lewens – en daarom, al lyk dit of ons paaie soms skeef en krom loop, God is in beheer! Hy sal ook vir jou en my lei op die regte paaie.

Kom ons glo dit. Kom ons vertrou God met ons lewens. Kom ons geniet die feesmaal wat Hy ook vir ons berei het....    
POSTED BY Steven Sass on 19:50 under
19 Julie 2015 Patensie
Matteus 10:29 en 30
Niks sal met ons gebeur sonder dat die Here nie daarvan weet nie...
“Dit was God se wil, en ons moet ons daarin berus.” Dit is die welmenende trooswoorde wat mense dikwels vir iemand sê wat iets verskrikliks oorgekom het...

 En nou kry ’n mens boonop ’n uitspraak van Jesus wat dit wil laat lyk of dit maar reg is dat ons so sê en troos. Ons teksgedeelte sê dit immers duidelik: 29“Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” (83-vertaling)

Dit was ook hoe die opstellers van die Heidelbergse Kategismus oor die saak gedink het. In vraag 1 vra hulle: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” en dan kom daardie wonderlike antwoord: “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”


Julle sien: weer die wil van ons hemelse Vader – selfs wanneer dit kom by ons hare en of dit gaan uitval of nie.


Kom ek sê dit sommer reguit: ek dink nie ons moet só oor die wil van God dink nie. Natuurlik is God se wil belangrik. Ons bid daarom in die Ons Vader (Matt 6:10): “Laat u wil geskied”; en Jesus het dit gebid in Getsemane (Matt 26:39): “Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil”. Ons gerigtheid as gelowiges behoort ook te wees dat ons God se wil sal doen. Daarom lees ons die Bybel, kom ons kerk toe, en herinner ons mekaar gereeld aan wat in die Tien Gebooie staan. Maar of ’n mens se hare uitval en of ’n mossie op die grond val, is darem sekerlik nie op dieselfde manier terug te voer na God se wil nie. En daarom dink ek nie die vertalers van die 83-Bybel het ons hier ’n guns bewys nie. Want in die 53-vertaling het ons teksvers só gelees:
29 Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.
En in die Nuwe Lewende Vertaling staan: 29Julle weet dat twee mossies vir ’n skamele sent verkoop word. Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarvan weet nie.
Dis al beter, maar nog nie heeltemal wat Jesus gesê het nie.

Ek wonder nogal hoekom die 83-vertaling in vers 29 “die wil van” ingevoeg het, want dit staan nie in die Grieks nie. Daar staan niks van die wil van die Vader nie! Daar staan dat ’n mossie nie sonder die Vader op die grond val nie. Want dis die punt: Daar waar dinge gebeur, daar waar die tekkie die teer slaan, soos hulle sê, daar is die Vader teenwoordig! Hy weet nie maar net daarvan nie, Hy is by wanneer dit gebeur. Maar dis nie asof Hy alles wil nie; asof Hý besluit, goed, nou gaan die mossie val, of nou gaan Ek dié een se hare laat uitval nie, of ja, daardie een gaan nou siek word of ’n ongeluk maak of iemand vermoor of iets nie.

Kom ons sê dit vir mekaar: God se wil en hoe dinge van dag tot dag gebeur, is nie met ’n eenvoudige reguit lyn te verbind nie. Ek dink ons praat te maklik van die wil van God, asof ons nou juis presies weet wat God wil of nie wil nie. Of ons praat van die wil van God om Hom daarmee te blameer vir wat verkeerd is in ons lewe. Soos die man wat vir my gesê het toe sy vrou hom verlaat omdat hy nie vir behandeling wil gaan oor sy drankprobleem nie: “Nouja, as dit dan God se wil is, moet ons maar skei.”

Of – en dis vir my net so erg – die vrou van wie ek ‘n tyd terug gelees het wat sê dat dit die Here se wil was dat die plaasaanvallers haar man vermoor het, en daarom berus sy.

Liewe gemeente, dís nie God se wil nie! Dis die werk van goddelose misdadigers. Dit beteken natuurlik nie dat God onbetrokke en afgetrokke gestaan en toekyk het toe dit gebeur het nie. Nee, Hy was daar! Hy was daar om die arme vrou vas te hou, te vertroos, krag te gee. Dís wat Jesus hier vir ons wil sê: niks gebeur sonder die Vader nie.


Dis onder andere wat God in die doop vanoggend ook kom sê: Dat Hy die klein Wlliam Fredrick se Vader is, dat Hy daar is vir hom, dat Hy hom vir sy rekening neem en na hom kyk. Niks, maar niks, sal in sy lewe gebeur sonder Hom nie. Hy sal hom nie begewe en nie verlaat nie, soos Hy destyds aan Josua belowe het. Daarom word hy in die Naam van die Vader gedoop. Daarom is ek en jy ook in die Naam van die Vader gedoop, want God wil daar wees vir jou.


Dis ook wat Dawid bely in Psalm 23, nie waar nie? Dat God daar is wanneer die donker dieptes dreig om hom in te sluk. Dít, dié wete, dra hom deur die noutes. Of soos Paulus in Rom 8:31 en verder jubel: As God vir ons is, kan niks of niemand dit keer nie en kan niks of niemand ons van sy liefde skei nie.


Dís die troos van Matt 10:29-31:”Word twee mossies nie vir ’n sent verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dan nie bang wees nie, julle is meer werd as baie mossies.”



Ons Vader is daar vir ons! Hy weet alles van ons af, selfs hoeveel hare ek het of nie het nie. Daarom kan ons ontspan en die lewe voluit leef: Die Here is by ons. Hý sorg. Dít is die Goeie Nuus waarmee Jesus ons die lewe instuur.