POSTED BY Steven Sass on 06:24 under

30 September 2012 Patensie
Openbaring 6:17 , 7:1-17
Die met helder wit klere 


Ons het vandag ‘n gedeelte uit Openbaring gelees wat, indien ons dit op die doop van toepassing maak, van besondere betekenis vir ons verstaan van die doop is.


Ons het begin deur die laaste vers van hoofstuk 6 te lees - omdat die vers die agtergrond verskaf vir hoofstuk 7. In hoofstuk 6 gaan dit om die laaste oordeel wat aanbreek. Johannes sien ‘n visioen van die oordeelsdag waarop alle mense geoordeel sal word. En dan eindig die hoofstuk met ‘n tergende vraag: ‘Die groot dag waarop hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?’ Anders gesê: Sal ek God se oordeel kan deurstaan? Sal ek dit maak?


Openbaring 7 antwoord hierdie vraag. Johannes sien ‘n volgende visioen. Dit is ‘n visioen van die vier engele op die vier uithoeke van die aarde. Die taak van hierdie vier engele is om die woeste storms, wind en verwoesting wat die einde van die tyd inlei, in bedwang te hou. Die beeld is duidelik: Die oordeelsdag word nog vir ‘n tyd teruggehou. Die wederkoms van Christus, die verwoestende einde en die laaste oordeel word nog vir ‘n tyd vertraag.


Hoekom word die eindoordeel vertraag? Die antwoord kry ons in die volgende visioen wat Johannes sien: ‘n visioen van die magtige engel wat mag uitoefen oor die ander vier engele. Hy kom van die ooste, die kant waar die son opkom. Hy is die engel van die lig, hy kom van die Here af. Hierdie engel is die engel van die Here, waarvan ons in die Ou Testament in die boek Esegiël en ook Daniël lees.
Hierdie magtige engel gee die ander engele opdrag om nog nie die verwoesting los te laat nie, want, sê die magtige engel: “Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël.”


Hierdie woorde het baie duidelik betekenis vir die doop: Die wederkoms van Christus, die eindoordeel word vertraag en teruggehou sodat die voltal van God se dienaars eers gedoop kan word. Hulle moet die merk van God op die voorhoof ontvang. Wat by implikasie beteken ook vandag se doop: Daarvoor word die wederkoms vertraag.


Interessant is dat ons op verskeie plekke in die Bybel lees van die merk op die voorkop. ‘n Merk wat sê dat jy of nie aan God behoort nie, of aan God.


·         Seker die bekendste van eersgenoemde is die getal 666 as merk op die voorkop, die teken van die dier, van die Satan. Volgens Openbaring 13:16 dra diegene wat God nie ken nie, hierdie merk. En baie oordeel dat dit verwys na diegene wat in daardie tyd die keiser aanbid het, en nie vir God nie.
·         In die Ou Testament vind ons ook so ‘n merk op die voorkop, naamlik die merk wat Kain op sy voorkop ontvang het nadat hy sy broer Abel vermoor het. Hy het die moordenaarsmerk, die merk van God se oordeel gedra.
Maar dan het ons ook voorbeelde in die Bybel waar die merk op die voorkop ‘n teken is dat iemand wel aan God behoort:
·         In die Ou Testament, byvoorbeeld, het die priesters ‘n plaatjie op die voorkop gedra waarop geskrywe gestaan het: Aan God geheilig. Wat beteken het dat so iemand vir die diens van God afgesonder was.
·         En in Esegiël 9 lees ons van die engel van die Here wat die mense op hulle voorkop merk as teken dat hulle aan God behoort. Dié in Esegiël 9 wat nie die Here gedien het nie, en nie die teken op die voorkop gehad het nie, is doodgemaak.
·         En dan die voorbeeld in ons gedeelte van vanoggend in Openbaring 7:3: al die dienaars van God kry die merk van die lewende God op hulle voorkoppe. Met ander woorde: almal wat gedoop is. Hulle behoort aan God. Want hulle het hierdie teken, merk of seël ontvang.


Wie is hierdie ‘hulle’? Daar is, sê Openbaring 7:4, eerstens 144 000 uit die volk Israel wat die merk op die voorkop gekry het. ‘n Getal, wat nie letterlik verstaan moet word nie. Dit dui eintlik maar net ‘n volmaakte getal, al God se mense wat ook deel was van die volk Israel, al die gelowiges van die Ou Testament.


Maar daar is ook ‘n tweede groep mense wat die merk op die voorkop gekry het, ‘n ontelbare skare mense uit elke stam en volk en taal en nasie (Open 7:9). Hulle is almal God se mense, mense wat die merk op die voorkop gekry het, dit wil sê, almal wat gedoop is.


Wie sal dus staande bly op die dag van oordeel,? Die wat die merk van God op die voorkop dra. Hulle wat gedoop is, wat aan God behoort.


Daarom is ons doop ‘n kragtige stuk troos en versterking aan elkeen wat soms aan God en God se sorg twyfel. Sal ek Here, eendag U oordeel kan deurstaan? Ja, my kind. Jy is gedoop, jy dra my teken op jou voorkop, die teken dat ook jy deur Jesus Christus verlos is. Jy glo in Hom, jy dra die teken van Sy verlossing en versoening, en daarom sal jy lewe!


Wanneer ons dus by die doop die merk van God op die voorkop ontvang, wil die Here ons verseker dat Hyself, deur sy krag, en deur die werking van sy Gees, ons veilig sal bewaar tot aan die einde. Daarom kan ons in tye van beproewing en twyfel rus vind in die wete dat ek gedoop is. Ek dra die merk van God - en niks kan my uit sy hand ruk nie. Dit het God belowe.


In ons gedeelte van vanoggend, het ons egter ook van ‘n ander pragtige beeld gelees wat op die doop van toepassing is. In sy visioen sien Johannes dat daar ‘n ontelbare skare om die troon van God was wat wit klere aan het wat gewas is, gewas is in die bloed van die Lam.


Hierdie is taal,  wat ‘n mens sterk herinner aan die doop. Die doop is immers daardie geleentheid waar ons simbolies deur die bloed van Christus gereinig word van ons sonde. Die water by die doop dui op Christus se bloed waarmee ons skoon gewas word. Met ander woorde, ons as gedooptes is deel van hulle wat daar met wit klere voor God staan.


Deur die geskiedenis, en veral in die vroegste kerk, het hierdie visioene van Openbaringe 7 op ‘n besonderse wyse neerslag gevind in die wyse waarop die kerk die doop bedien het.
·         Die heel vroegste kerk het die gebruik gehad om doopkerke te bou. Gewoonlik het so ‘n doopkerk ‘n deur aan die oostekant en aan die westekant gehad, met net ‘n doopvont in die middel (wat byvoorbeeld bestaan het uit ‘n groot bak water of ‘n stroompie water wat deur die middel van die kerkie gevloei het).
·         Wanneer ‘n persoon gedoop word, het hy of sy met sonsondergang aan die westekant van die kerk ingegaan, geklee in ou vodde en vuil klere. Waarvan die simboliek of betekenis die volgende was: die dopeling kom as sondaar na die doop, vanuit die westekant, vanuit die duisternis. Met vuil vodde aan, ‘n simbool van die sonde.
·         Die betrokke nag het die dopeling in die doopkerkie gebly en die nag deurgebring met gebed en toewyding aan God.
·         Die volgende oggend, met sonsopkoms, het die persoon sy vuil en vodde klere uitgetrek, en is hy of sy gedoop. Die doop is of deur onderdompeling bedien, of deurdat water op die voorhoof geplaas is: die merk van God.
·         Na die doop is ‘n spierwit doopkleed vir die pas gedoopte aangetrek, en het die pasgedoopte aan die oostekant van die kerk uitgegaan. Die simboliek was baie duidelik: Die sondaarmens beweeg van die duister na die lig, van die mag van die bose na die mag van God. Hy werp die ou vuil klere af, en hy dra nou die wit kleed van geregtigheid.
Baie van hierdie simboliek,  het intussen verlore gegaan. Sommige daarvan het egter behoue gebly:
·         Ons het nog die gebruik om byvoorbeeld vir die kind wat gedoop word, doopklere aan te trek. Ons dink dikwels dit is maar net om die babatjie mooi te laat lyk - maar dit is eintlik simbolies van die kleed van geregtigheid wat die gedoopte dra - die wit klere van die skare om die troon van God.
·         Ons het ook die gebruik om die baba in die kerk in te dra - dit is simbolies van die kind wat opgeneem word in die skare wat die merk van God op die voorkop dra. Hy of sy word so deel van die kerk van al die eeue.
Ek sluit af. Terwyl ek met hierdie gedeelte besig was, het ek intens bewus geword van die volgende vraag: verstaan ons werklik wat ons doop beteken? Begryp ons dat ons die merk van God op die voorkop dra, dat ons daarom aan Hom behoort en dat Hy vir ewig ons Vader is? Begryp ons dat ons deel is van die ontelbare skare is wat wit klere dra, doopklere, dat ons deur die bloed van Christus gereinig is? Leer ons regtig ons kinders wat dit beteken dat ook hulle gedoop is? En besef ons dat die doop, as teken van God se verlossing in Christus, vir ons, soos die Nagmaal, ‘n sigbare teken is dat ons regtig aan God behoort? 
POSTED BY Steven Sass on 22:08 under

16 September 2012 Patensie
Wees getrou aan mekaar
Eksodus 20:14
Ons ken almal die sewende gebod: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie” (Eksodus 20:14). Dis ‘n gebod waaroor nogal baie gepraat word, en dis omtrent die enigste gebod waarvan die oortreders soms onder kerklike tug geplaas word, wat die indruk skep dat dit die belangrikste van al die gebooie is.

Dit is die gebod waarvan so baie sê: hieraan is ek nie skuldig nie. Ons dink  soms so enkelvoudig oor hierdie gebod, so asof dit slegs verwys na seksuele verkeer tussen persone waarvan minstens die een getroud is. En dit was ook so die geval in Bybelse tye. Toe is gedink dat dit hier spesifiek gaan om getroude vrouens. Mans kon mos met meer as een vrou trou en kon dus nie eintlik egbreuk pleeg nie, tensy dat hy betrokke was by ‘n ongetroude vrou.

Ander het gedink dit gaan eintlik om die beskerming van die man: as iemand anders ‘n verhouding met sy vrou het, word sy : “eiendom beskadig”. Gelukkig dink ons darem nie vandag meer so nie. Maar dink ons nie nog behoudend  eng en letterlik oor hierdie gebod (en die ander gebooie) nie?

In die sewende gebod gaan dit om verhoudings en dan spesifiek om huweliksverhoudings. As hierdie gebod dit duidelik maak dat die persoon wat deur die Here verlos is, nie egbreuk pleeg nie, dan kom die vraag na vore: waarom nie?

Dit word in die Bybel beklemtoon dat die Here die mens geskep het: man en vrou het Hy hulle geskep. Hy het hulle so geskep dat hulle afhanklik is van, aangewese op en eintlik ten diepste eers volkome is met mekaar. Daarom het die Here man en vrou verskillend, maar terselfdertyd gelyk en op mekaar aangewese gemaak. Dit word dan ook duidelik gestel dat die man aan die begin baie alleen was. Toe die vrou bykom, sing hy! Kom ons erken dit maar vandag: man en vrou het mekaar nodig en vind vreugde en vervulling in mekaar.

 Die verhouding tussen man en vrou is dan ook die omvattendste en intiemste van allle verhoudings en vorm die basis  van alle ander verhoudings. Die verhouding omvat die mens in sy totaliteit: liggaam, siel en gees, ons fisiese, emosionele, intellektuele en geestelike lewe. Daarom stel dit ook meer eise as enige ander verhouding.

Dit is ook verder die mees permanente verhouding. Die huwelik is dan tereg die hoeksteen van alle samelewings. Geen gemeenskap kan daarsonder goed funksioneer nie (interessant is tog dat ouerskap en lewe in die Tien Gebooie voorrang geniet bo die huwelik – maar ons moet nie te veel hieruit aflei nie). Die verhouding tussen man en vrou raak die hele gemeenskap: die gesin, familie, sosiale, politieke en ekonomiese lewe. Die huweliksverhouding bepaal die lewenswyse op alle ander vlakke. Die lewe buite reflekteer die huweliksverhouding. Daarom is hierdie gebod so belangrik.

Hierdie gebod verbied eintlik enige optrede wat die huwelik laat verbrokkel en die verhouding tusssen man en vrou skade berokken. Dit is voor die hand liggend dat egbreuk en owerspel die huwelik tot in sy fondamente skud. Dit skend die vertroue in mekaar.

As dit dan die geval is, dan verwys hierdie gebod nie net na egbreuk nie, maar kan dit ook van toepassing wees op ander wanpraktyke en skadelike dade. Is gesinsgeweld nie ook op dieselfde vlak nie? Die man wat sy vrou aanrand, is immers ook besig om sy huweliksband te verbreek. Die vrou wat haar man verbaal aanrand, met praatjies verkleineer en vernietig, is mos ook besig om die huwelik af te breek. Die man en vrou wat gedurig besig is om te baklei, mekaar af te kraak en sleg te maak, is eintlik ook besig om die huwelik ten gronde te laat gaan.

 Is dit nie ook maar ‘n vorm van egbreuk as die man in dronkenskap of met geweld hom aan sy vrou opdring nie? So gesien, kan hierdie gebod oortree word sonder dat ‘n derde party daarby betrokke is! Hierdie gebod kan selfs ootree word al is die seksuele nie ter sprake nie, want die verbreking van die huweliksverhouding is hier ter sprake op watter wyse dit ook al geskied.

Die gebod kan ook van toepassing wees op alle vorme van onsedelikheid. Verkragting sou ook hieronder kon val. Dit sou miskien selfs onder die gebod oor moord kon val omdat dit die verkragte eintlik dood maak. Al is die verkragter en die slagoffer nie getroud nie, is dit nogsteeds egbreuk, want die verkragter staan tog nie in ‘n intieme huweliksverhouding tot sy slagoffer nie.

 Kindermolestering kan ook hier genoem word. Hierdie gruweldaad vernietig die lewe van die kind en laat permamnente letsels. Dit vernietig die huwelik van die molesteerder en dikwels die toekomstige huwelik en geluk van die kind self. ‘n Losse sedelike lewe lê eweneens ook op hierdie vlak. Al besef baie dit nie, het dit ‘n negatiewe uitwerking op die toekomstige huweliks verhoudings. In kern kom dit daarop neer dat enige seksuele wanpraktyke ‘n oortreding van hierdie gebod is.

Hierdie gebod beskerm die huweliksverhouding omdat die huwelik juis die verhouding met die Here weerspieël. Ons het reeds daarop gewys dat die Here die mens so geskep het dat man en vrou op mekaar afgestem is. Die boek Hooglied is dan ook in die Bybel opgeneem waarin die wonder van die liefde tussen man en vrou besing word. Die liefde, en ook die seksuele liefde, is nie sondig of lelik of verkeerd nie. Inteendeel, dis ‘n gawe van God. Dit mag nie vergoddelik of verdierlik word nie. Dit moet in die huwelik geniet word.

Maar die huwelik omvat veel meer as die seksuele. Man en vrou het mekaar nodig. Ondersteuning is van die grootste belang. Op alle vlakke moet die een die ander bystaan en help. As gelyke helper moet die een die belange van die ander hoër ag as die eie belange.

 Ten grondslag van die huwelik is respek. As respek ontbreek, is die huwelik vinnig op die pad van verbrokkeling. Respek is die wortel van liefde. Sonder respek kan die liefde nie blom nie.

Al te dikwels dink ons net aan die negatiewe en verontskuldig ons ons maklik deur te let op enkele woorde. Ek is nie skuldig aan egbreuk nie. Die Tien Gebooie wil ons egter telkens oproep tot ‘n bepaalde lewenswyse as aanduiding van ‘n lewende verhouding met die lewende Here. Kom ons sê dit weer: In Hebreeus word dinge dikwels in ‘n negatiewe vorm gegiet om die positiewe te beklemtoon. Die sewende gebod wil elke man en vrou dan oproep om te werk aan hulle huweliksverhouding. Juis omdat die huwelik so ‘n omvattende en intieme verhouding is, vra dit dat ons baie aktief daaraan moet werk. Geen huwelik slaag sommer net en is sommer net vir altyd en altyd ‘n gelukkige huwelik nie. Ons moet alles insit om dit te laat werk. Ons moet wegkyk van eie belange, ons moet mekaar ondersteun en dra. Ons moet onsself vir mekaar gee, en met respek teenoor mekaar optree.

Die liefde moet gekoester word: sê en wys dat julle lief is vir mekaar. Hoe meer ingesit word in die huwelik, hoe meer sal daaruit geput word. Hoe meer aan die huwelik gewerk word, hoe meer sal dit geniet word.

Vermy alles wat julle huwelik kan skade aandoen en bou julle huwelike, vra hierdie gebod. Dan sal ons huwelikslewe toon dat die Here ons God is wat ons verlos het.
POSTED BY Steven Sass on 05:29 under

9 September 2012 Patensie
Hoe lank gaan geweld nog hooogty vier?
Eksodus 20:13
Geweld het deel van ons daaglikse lewe geword. Ons hoor elke dag van moord, verkragting, aanrandings, plaasmoorde, pad –en ander geweld en nog so baie ander verskriklike dinge wat rondom ons gebeur. Dit is nie meer dinge waarvan ons net hoor en wat ver van ons af gebeur nie...daar is byna nie meer ‘n gesin wat nie al self hierdeur geraak is nie.

Ons is almal al moeg net om te hoor van al die geweld. Ons hoop so dat dit net sal end kry. Hoe kan dit dan wees dat ons land, waarvan byna 80% Christene is, die hoogste geweldsmisdaadsyfer in die wêreld het? Erens rym iets nie. Is die klein groepie mense wat nie Christene is nie, verantwoordelik vir al die geweld en moord en doodslag? Of sluit diegene wat daaraan skuldig is, ook mense in wat volgens hulle eie aanduidings Christene is? Inderdaad is dit ongelukkig so.

Die tragiese werklikheid is dat dit eintlik van die begin van die mens se geskeidenis die geval was. Blaai ons deur die Bybel, dan lees ons ook so baie kere van geweld, moord en doodslag. Reeds op die eerste bladsye lees ons van Kain wat sy eie broer doodgeslaan het. Wat hierdie moord nog erger maak, is die feit dat dit net na ‘n erediens en sommer net buite die heiligdom, of in ons terme die kerk, gebeur het. Die moordenaar het hom tydens die erediens so bloedig vererg dat hy sy broer net daar en dan doodslaan! En dit is iets wat ons nie as so belangrik sou beskou nie. Hy was woedend omdat sy offer nie aangeneem is nie, terwyl sy broer se offer aangeneem is. Wat dit nog erger maak, is dat die Here al met Hom gepraat het oor sy humeur en sy jaloesie, maar dit het nie gehelp nie.

Iemand het al gesê dat hy nie baie graag die Ou-Testament lees nie, omdat daar soveel geweld daarin vermeld word en dat dit so baie wette bevat, dat dit hom moedeloos en depressief maak. Miskien is daar iets van die waarheid in die stelling.

Hoe tragies dat die volk van God in so baie geweld vasgevang was, dat daar so baie oorlog gemaak is, dat die geliefde en groot koning Dawid se seun sy suster verkrag het en sy broer hom doodgemaak het. Dat so baie konings in staatsgrepe dood is. Dat Jehu onder die dekmantel van geloof so baie mense om die lewe gebring het. Dat dit selfs die gebruik was om op ‘n sekere tyd van die jaar oorlog te maak sodat daar selfs ‘n uitdrukking is wat met die oorlogseisoen weergegee kan word, amper soos ons wat praat van die rugbyseisoen. Dit is tragies dat al die oorloë nie almal net toegeskryf kan word aan ander volke en konings nie, maar selfs aan vroom en godsdienstige konings soos Dawid. Dit is ‘n tragiese werklikheid dat geweld, moord verkragting en ander geweldsmisdade nog altyd voorgekom het. Dit was nog altyd deel van ons geskiedenis.

Ja, dit kom ook dwarsdeur die kerkgeskiedenis voor. Iemand uit die Ooste het eenmaal ‘n Nuwe Testament gekry en gelees. Hy was diep beindruk deur wat hy gelees het en het vir ‘n bekende teoloog geskryf en gevra vir ‘n boek oor die Christendom. Nadat hy die boek wat aanbeveel is en wat een van die beste kerkgeskiedenishandboeke is gelees het, het hy weer geskryf en gesê dat daar êrens ‘n misverstand moes wees, want in die boek het hy niks gelees van dit waarvoor Jesus gestaan het nie, niks van die liefde en uitreik na ander en die dra van ander se laste en die plasing van ander voorop nie, maar net van haat en geweld. Die teoloog moes met skaamte antwoord dat dit helaas ‘n getroue weergawe van die geskiedenis van die Christendom is.

Nou mag ons nie dink dat omdat dit nog altyd die geval was, ons maar so kan aangaan nie. Dink net aan al ie pyn wat dit deur die eeue vir die Here besorg het. Van die begin af het Hy mos in geen onduidleike taal gesê dat dit nie mag gebeur nie, duidelik stel Hy dit dat geen menselewe geneem mag word nie. Mense mag mekaar nie doodmaak, aanrand of met geweld teen mekaar optree nie. Hy gee aan elke mens die lewe en niemand mag dit wegneem nie. Lewe is ‘n gawe van God wat niemand anders mag ontneem nie. Dit het die Here oor en oor gesê. Vir eeue het Hy dit gesê.

In die Tien Gebooie maak Hy dit ook baie duidelik. Die Here sê dat Hy ons God is wat ons verlos het. As Sy verloste kinders mag ons nie doodslaan nie, as ons die hand teen iemand anders oplig, dan gee ons daarmee te kenne dat ons nie Sy kinders is nie. Geweld trek ‘n streep deur Sy verlossingswerk.

Maar die Here het dit nie alleen baie duidelik gesê nie, dit was asof toe mense na baie eeue dit nie hoor nie, Hy Sy Seun gestuur het om vir ons te kom wys dat dit nie mag gebeur nie.

Jesus het vir ons kom wys wat God van ons verwag en hoe ons moet leef. Jesus het nie alleen die woorde van die Here bevestig nie, Hy het ook herhaal niemand iemand anders mag doodslaan nie. Maar Hy gaan verder en wys daarop dat ons ook nie ander met ons woorde mag aanrand of benadeel nie.

Bo-al het Jesus aan ons gesê dat daar ‘n alternatief is : die liefde. Positief het Hy ons kom leer hoe ons moet leef. Met Sy lewe het Hy Sy woorde geilustreer. Nooit lees ons dat Hy met woord of daad iemand anders benadeel het nie. Inteendeel, selfs toe die Jode ‘n vrou wat saam met ‘n ander man in die bed betrap is, na Hom gebring het en haar wou stenig, het Hy deur Sy optrede haar lewe gered.

Hy het nie gekom om te veroordeel en te vernietig nie. In liefde het Hy opgetree. Hy het uitgereik na almal in nood, na siekes en mense in nood het Hy ‘n helpende hand uitgesteek. Tot so ‘n mate was Hy besig om ander te help dat die dissipels by meer as een geleentheid Hom wou beskerm en mense van Hom wou weghou en Hom alleen eenkant toe neem sodat Hy ook bietjie kon rus.

Hy het Homself voluit gewy aan die nood van ander. Hy het dan self gesê dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee vir ander. Selfs toe Hy op so ‘n verradelike wyse gevange geneem is, toe Hy op so ‘n onregverdige wyse verhoor is en toe Hy soos ‘n misdadiger moes sterf, het Hy nie geweld gebruik om sy situasie te verander nie. Hy kon... Hy het mos vir Petrus gesê dat Hy net kon vra en die Vader sou ‘n leërmag van engele stuur om die wat teen Hom was, uit te delg. Maar Hy het nie. Soos ‘n lam ter slagting is Hy gevang, verhoor en gekruisig.

Nou kan niemand dit eers oorweeg om te dink dat Jesus slap was in Sy optrede nie. Hy was geen bangbroek wat nie kon standpunt inneem nie. Geen lafaard wat nie kon of wou optree nie. Inteendeel! Hy het juis kom wys dat krag en geweld nie identies is nie. Geweld word nie met wedergeweld geantwoord nie. ‘n Sagte antwoord keer die grimmigheid af.

Jesus het juis gesê dat alle mag in die hemel en op aarde aan Hom gegee is. Hy is die Almagtige. Hy het vermag wat geen ander ooit kon of sal nie. Hy het ons gewys wat ware mag en krag en sterkte is. En Hy vra van ons om Sy navolgers te wees. As kinders van God moet ons na Sy voorbeeld leef.

Wat betekn dit vir ons in ons geweldadige wêreld? Die Woord van God roep ons op om in liefde te leef. Geweld moet ver van ons af wees, geweld in watter vorm ookal. Niemand kan homself ‘n Christen noem en deel hê aan geweld nie. In die skerpste taal moes geweld veroordeel word. God het een en elke mens sy lewe gegee, en niemand mag daardie lewe wegneem nie. Ons moet weet dat elke lewe heilig is. Dit is ‘n gawe van God. Ons moet ander respekteer en op geen manier ‘n ander se lewe verongeluk nie. Alle vorme van geweld en moord moet ten sterkste afgekeur word, ons moet te alle tye so optree dat ons nie eers die lewe van iemand anders in gevaar stel nie.

Ons moet ‘n ruimte van liefde om ons skep. In ons huise, ons werkplekke ons omgewing en samelewing. Dit sal in die klein dinge moet begin en deursuur. Dit sal nie oornag gebeur nie. Maar hieraan sal ons met alles waaroor ons beksik moet werk. Ons sal so met mekaar moet praat, so teenoor mekaar moet optree dat ons nie iemand se gramskap ontketen nie. Ons sal soos Jesus in liefde moet leef. Ons is nie hier om gedien te word nie, maar om te dien en ons lewe te wy aan ander en bo-al aan God. Dan kan ons sê dat ons gehoorsaam is aan hierdie gebod.