POSTED BY John Wait on 16:39 under

Daniël 10

Godsdiens kan veeleisend en uitputtend wees. Lees mens Daniël 10, dan kom mens onder die indruk van die geweldige impak wat hierdie visioen op Daniël gehad het. So anders as wat ons gewoonlik van Sondag tot Sondag beleef. Vir ons is die erediens nou nie juis veeleisend of dalk uitputtend nie.

Die erediens waarvan in Daniël 10 sprake is, is vooraf gegaan deur lang en ernstige  voorbereidings. Daniel het vir drie weke gevas, hy het niks lekkers geëet nie, hy het nie vleis geëet of wyn gedrink nie. Hy het hom ook weerhou van die daaglikse gebruik van reukolie. Hy sonder homself  af en rig hom volledig op die Here. Word dit nie hier vertel om ons te wys dat ons ook miskien heelwat meer tyd behoort te spandeer aan ons voorbereidings vir ons ontmoetings met die Here nie? Storm ons nie maar Sondag na Sondag die kerk in en hardloop uit sonder dat ons ooit eers behoorlik afgeskakel het nie?

Daniel sien dan’n man met ‘n fyn linnekleed aan en met ‘n gordel van die allerbeste goud om sy lyf. ‘n Netjiese en selfs spoggerig geklede persooon van hoë aansien, maar meer, sy liggaam het geskitter soos ‘n edelsteen, sy gesig het gestraal soos weerlig, sy oë het geskyn soos brandende fakkels, sy arms en bobene het geblink soos gepoleerde brons, en sy woorde het geklink soos ‘n harde dreuning.

Aan die begin mag dit gelyk het soos ‘n vername persoon, maar dis gou duidelik dat die persoon nie sommer ‘n mens is nie. Al verwys Daniel na die persoon as ‘n man, blyk dit tog nie ‘n man te wees nie. Waarom nie na hom as ‘n engel verwys word nie, is nie seker nie. Dit blyk tog dat hy waarskynlik ‘n engel moes wees. Hy sê self dat hy alleen teen die engel van Persië moes veg; dat die ander engel hom kom help het en dat hy weer teen die engel van Persië en daarna teen die engel van Griekeland moet gaan veg.

Dit is so dat ons in die Ou-Testament van verskeie hemelse wesens lees, so lees ons van die Serafs en Gerubs; die seuns van God (hemelwesens in die nuwe Afrikaanse vertalin) en engele. Dit is verder so dat ons eintlik net van engele lees in dele van die Ou-Testament wat uit die tyd na die ballingskap dateer. In daardie tyd het die klem in die aanbidding van die Here geval op die Verhewendheid van die Here. Hy is hoog bo die mens verhewe. Hy woon in die hemel, ver bo die mens. Die mens kan hom nie sien nie. Dit het ruimte geskep vir engele wat dan as booodskappers van God dien. Hulle kom na die aarde en na die mens toe om die boodskap van die Here oor te dra.

Voor die ballingskap praat die Here direk met die mens en veral die profete. Na die ballingskap praat die Here nie meer so direk met die mens nie maar lees ons telkens van drome en visioene waardeur die Here Homself openbaar. Ons vind dan ook dat die Here nou engele stuur om Sy boodskap aan die mens oor te dra.

Nog later het van die engele name gekry, soos Gabriël en Migael. Daar is selfs sprake dat elke volk ‘n engel het. Hierdie engele spook sake uit en die uitslag daarvan bepaal wat onder en met die volke gebeur. Hier word byvoorbeeld  verwys na die feit dat die engel van Persië hierdie engel vir een en twintig dae besig gehou het, en dat hierdie engel weer die engel van Persië moet terughou en daarna teen die engel van Griekeland te staan sal kom.

Die klem val egter nie hier op die engel nie, maar op Daniël en veral sy reaksie op die visioen. Dit is trouens die geval dwardeur die Bybel. Ons het nie genoegsaam inligting om ‘n hele leer of baie teorieë oor die engele daar te stel nie. Al wat ons eintlik kan sê, is dat daar verwysings na engele is en dat hulle in diens van God staan.

Net Daniel sien die visioen. Die ander wat saam met hom was, is verskriklik bang, vlug weg en kruip weg. Hulle moes geweet het dat iets gebeur het, maar self nie getuies daarvan nie. Daniel het magteloos en doodsbang geword en het geen krag meer gehad nie. Toe hy die man hoor praat, het hy bewusteloos vooroor op die grond geval. Die visioen was so ingrypend dat hy eenvoudig flou neerval. Dit was te veel vir hom, sy gestel kon dit net eenvoudig nie vat nie.

Soms wonder ek of ons nie ons eredienste te ligtelik opneem nie. Berei ons soos Daniel voor vir die erediens? Het ‘n erediens of openbaring van die Here al op ons so ‘n ingrypende effek gehad? Hiermee wil ek nie sê dat elkeen wat nog nie bewusteloos geval het nie ‘n openbaring gehad het of dat elkeen wat wel flou geword het so ‘n openbaring gehad het nie. Net maar of ons genoeg erns maak met die erns van ons godsdiens.

Die man vat Daniel aan die hand en laat hom op sy knieë en hande staan. Daniel bewe, maar as die man sy hand vat, kom hy bewend orent en staan hy bewend regop om die boodskap te hoor. In daardie tyd het die liggaamshouding nogal ‘n belangrike rol gespeel. As hulle op hulle gesigte gelê het, was dit ‘n teken van onderworpenheid en skuldbelydenis. So smeek hulle om genade. As hulle regop gestaan het,  dan was dit ‘n teken van ‘n opdrag wat sou kom; hulle moes gereed wees om die opdrag te gaan uitvoer. As die man Daniel dan ophelp, dui dit daarop dat dit nie gaan om ‘n oordeelsboodskap nie. Nee, hy moet gaan om iets te doen. Staan regop en wees gereed.

Die man spreek Daniel op ‘n besonderse wyse aan: “Daniel, jy vir wie God liefhet.” Hy stel Daniel op sy gemak deur te sê dat hy nie bang hoef te wees nie want van die eerste oomblik dat jy jou ingespan het om insig te kry en jou voor God te verootmoedig het, is jou gebede verhoor(Dan. 10:12). Luister mooi. Daniel het hom ingespan. Hy het moeite gedoen. Hy het opofferings gemaak. Hy het erns gemaak met sy aanbidding. Aanbidding is nie sommer nie. Dit vra opofferings. Dis belangrik dat ons dit sal verstaan, maar meer belangriker is dat ons Daniel se voorbeeld sal volg.

Die man sê dan dat hy in antwoord op Daniel se gebede gekom het. Hy gee dan ‘n beeldryke oorsig in enkele sinne oor ‘n lang geskiedenis. Die engel van Persië het hom een en twintig dae besig gehou. Volgens die opvattings van destyds, is die stryd tussen die volke voorafgegaan deur ‘n stryd tussen die engele van die volke. Hier is dit duidelik dat daar nie ‘n oorwinnaar was nie, maar wel dat die Israeliete lank onder die beheer van Persië was.

Weer is die openbaring vir Daniel te veel. Hy kan nie praat nie en laat sak sy kop sprakeloos grond toe, so asof hy verslaan of minstens onderworpe is. Die man raak hom dadelik aan en gee hom krag. Hy het die krag nodig vir wat kom. Weer herhaal die man: “Moenie bang wees nie, jy wat vir God liefhet! Dit sal met jou goed gaan. Wees sterk! Wees sterk!” (Dan. 10:19).

Vrees vir die toekoms maak mens lam. Veral as die punt vanwaar jy na die toekoms kyk nie rooskleurig is nie. Dit was ook die geval met Daniel, en dis vandag nogsteeds die geval. Daarom moet ons weet, ons kan nie uit eie krag staande bly nie. Maar aan die ander kant kom die woorde ook na elke gelowige, na elkeen wat vir God liefhet: Dit sal met jou goed gaan. Wees sterk! Wees sterk!

Die man sê dat hy teruggaan om teen die engel van Persië te veg en daarna moet hy nog teen die engel van Griekeland veg. Hy sal nie deur een van hulle oorwin en vernietig word nie. Daar wag stryd en dit sal swaar wees. Maar dit sal nie die finale einde wees nie. As daar een ding is waarvan ons maar seker kan wees, dan is dit dat die toekoms ook vir ons stryd en swarigheid sal inhou. Maar hou moed. Glo. Want God laat ons nie alleen nie. Sy engele stry met ons. Wees sterk, God is met ons...
POSTED BY John Wait on 07:19 under

Eksodus 20:7

Wie van ons wil nie dat ons naam hoog gehou word nie? Dis eintlik ‘n dom vraag, want dis so voor die handliggend en logies dat almal wil dat ons name hoog gehou sal word. Dit geld nie net ons eie name nie, maar ook ons familienaam, die naam van ons skool of werk of instansie. Dit is dan ook so dat ons kinders dit inskerp: hou die naam hoog!

Dit is eintlik waaroor dit ook in die derde gebod gaan: hou die naam van die Here hoog.

In Hebreeus word iets dikwels in die negatiewe vorm uitgedruk om die positiewe te beklemtoon. Gebruik die naam van die Here reg! Ons moet ook onthou dat ons ook hierdie gebod moet lees in die lig van die opskrif. Omdat die Here ons God is wat ons verlos het, daarom sal ons nie Sy Naam misbruik nie. As ons Sy Naam misbruik, gee ons te kenne dat die Here nie ons God is wat ons verlos het nie. Die wyse waarop ons Sy Naam gebruik, is dus ‘n weerspieëling van ons verhouding met die Here.

Ten einde te kan vra wat dit beteken om die Naam van die Here nie te misbruik nie, is dit nodig dat ons sal let op die belangrikheid van ‘n “naam” en die betekenis van die woord “misbruik”.

‘n Naam is baie belangrik. Iemand het al gesê dat jou naam jou kosbaarste besitting is. Ons ken iemand aan sy naam. As ons die naam van ‘n persoon hoor, dan roep dit bepaalde assosiasies by ons op. Ons het ‘n prentjie van iemand wat soos ‘n foto ons te binne skiet as ons net sy naam hoor. Ons reageer dan dadelik of positief of negatief as ons iemand se naam hoor. Dink maar net aan hoe mooi die naam van ‘n geliefde klink of hoe vreesaanjaend dit klink om die naam van ‘n skuldeiser of vyand te hoor. Aan jou naam word jy geken!

In die Ou-Testament was ‘n naam net so, indien nie belangriker nie. Dit geld nie net vir mense nie, maar ook vir die Here. In die Ou-Testament het ons heelwat name vir die Here. So word na Hom verwys as God, Here(Meester, in Hebreeus Adonai), die God van die Vaders, die Here van die Leërskare, en talle meer. Hierdie name is eintlik benaminge want dit dui die verhouding tot die Here aan.

Die naam van die Here is in Hebreeus Jahweh. Nou is dit so dat ons nie hierdie naam met presiesheid kan ontleed nie. Wat wel seker is, is dat dit verband hou met die woordstam HJH wat beteken om te wees. Die Here is dus die Lewende. Dit is dan juis opvallend dat elke keer as daar oor die Here en van die Here gepraat word, hierdie aspek na vore kom: die Here leef! Hy is.

Hoe weet ons dat Hy leef? Ons weet dat iemand leef as ‘n persoon praat en dinge doen. Die Here is die sprekende en die Handelende. Hy praat en doen. Blaai maar deur die bladsye van die Bybel en jy sal dit op elke bladsy aantref: Mense getuig dat die Here met hulle gepraat en dat Hy dinge gedoen het. Hy is die Lewende.

As die gelowiges in die Ou-Testamentiese tyd dan die naam van die Here gehoor het, het hulle geweet dat daar van die Lewende Here gepraat word. Die Here wat wonders gedoen het, die Here wat telkens van hulle gepraat het.

Die naam van ‘n person roep nie net bepaalde assosiasies op nie, maar as ons iemand se naam ken, staan ons in ‘n bepaalde verhouding tot daardie persoon. Ons staan nie in ‘n direkte verhouding  met mense van wie ons die name nie ken nie. Ons ken die gesig, maar weet dan nie eintlik veel meer van daardie persoon nie. Ken ons egter sy naam, dan is daar ‘n bepaalde verhouding. Om met die Here in verhouding te staan, is dit dan nodig dat ons Sy Naam ken.

Daarom het Hy Hom by Sy Naam bekend gestel. Moses het dan ook gevra na die Naam van die Here voordat hy na Egipte toe gegaan het. Jesus het Hom by Sy Naam aan Sy dissipels bekend gestel. Ons ken die naam van die Here. As Sy kinders staan ons in ‘n kind-Vader verhouding tot Hom omdat ons Sy Naam ken.

Daar is egter ook ‘n gevaar daaraan verbonde as iemand jou naam ken, want hulle gebruik jou naam. Ons kinders ken dit mos goed. Omdat julle ouers julle naam ken, kan hulle julle by die naam roep. Nou dit kan positief wees, of negatief, want soms gaan daar so ‘n rilling teen jou ruggraat af as jou pa dalk met ‘n kwaai stem jou op jou naam roep – veral as jy weet dat jy kwaad gedoen het. As ‘n geliefde jou naam sag en teer gebruik, word mens sommer warm....

Daar is min dinge wat mens so kwaad maak as wanneer iemand jou naam gebruik sonder jou medewete en goedkeuring. Nog meer as dit so gebruik word om voordeel vir die ander persoon te kry ten koste van jouself. Miskien maak dit mens nog meer ongelukkiger as iemand jou naam deur die modder sleep....

Dit is dan ook waaroor dit in hierdie gebod gaan. Dit gaan oor die manier waarop ons die Naam van die Here gebruik. Die Jode het hierdie gebod gelees asof dit beteken het dat mens glad nie die Naam van die Here mag gebruik nie. Tot vandag toe nog spreek hulle dan nie die Naam van Jahweh uit nie. Hulle gebruik liewers die woord Adonai.

Ons moet hierdie gebod nie lees asof dit net maar beteken dat die naam van die Here nie as vloekwoord gebruik mag word nie. Natuurlik is dit totaal verkeerd. Dit mag nie, dis ondekbaar, maar dit gaan om veel meer.

In die Hebreeus staan daar letterlik dat jy nie die Naam van die Here  vir ‘n nietige doel mag gebruik nie. Dit beteken dat mens nie sommer die Naam van die Here mag gebruik vir eie persoonlike doeleindes nie, onder die dekmantel van godsdiens en die Naam van die Here is afskuwelike dinge al gedoen. Moenie onder die dekmantel van geloof en die naam van die Here dinge doen wat nie in ooreenstemming is met die Woord van God nie. Dan misbruik jy die Naam van die Here. Hoe vol is die geskiedenis nie van sulke voorbeelde nie. Ook die geskiedenis van die Christendom is vol hiervan. Mens wil vra of die tragiese  verdeeldheid van die Christendom nie ook ‘n vorm van die misbruik van die Naam van die Here is nie.

So baie mense beroem hulle daarop dat hulle Chrsitene is, maar as mens kyk na hulle besighede, dan sidder ‘n mens. As ons onsself Christene noem, dan moet ons immers leef soos Christene. Wie dit nie doen nie, doen die naam van die Here oneer aan. Lees mens die koerante en kyk jy na wat in ons samelewing aangaan, dan sidder ‘n mens by die misbruik van die Naam van die Here.

Ons sou dit ook anders kon stel: alles wat ons doen of sê wat die naam van die Here oneer aandoen, is ‘n oortreding van hierdie gebod. Kom ons stel dit so: alles wat ek doen of sê waarvan daar nie gesê kan word dat dit is soos wat Christus dit sou doen nie, is misbruik van Sy Naam. Noem ons onsself Christene, dan moet ons immers leef soos wat Hy geleef het of vandag sou leef.

Hierdie gebod wil beklemtoon dat ons wat deur die Here verlos is, wat in ‘n nou verhouding met Hom leef, Sy beeld- en naamdraers is. Wat ons doen, moet ons namens Hom doen. Doen ons in Sy Naam. As Sy Naam en Sy eer nie oor alles wat ons doen, geskryf staan nie, doen ons Sy Naam oneer aan.

POSTED BY John Wait on 08:00 under

Johannes 20:11-21:25

Die opstanding van Jesus bring ‘n totale ommekeer. Dit het ‘n nuwe era in die lewe van die volgelinge van Jesus ingelei, en dit gebeur vandag nogsteeds. Die opstanding van Jesus verdryf trane, vrees en twyfel. Dit bring die mens in beweging en lei tot ‘n blye en vol lewe.

Kom ons kyk na die verandering wat die opgestane Jesus gebring het in die lewe van sommiges wat Hom gevolg het.

Maria Magdalena

In Johannes 20:11 lees ons dat Maria buite die graf gestaan en huil het. So vind ons haar, ‘n gebroke vrou. Jesus, haar Meester wat soveel vir haar beteken en gedoen het en vir wie sy so vreeslik lief was, is dood.

Sy huil omdat die dood alles verbreek het; omdat sy bang en onseker was oor die toekoms; omdat ‘n geliefde nie meer daar was nie. En omdat die graf oop was en sy gedink het iemand het die liggaam van Jesus weggeneem en haar so beroof van die geleentheid om die laaste eer aan Jesus te bewys.

As die opgestane Jesus aan haar verskyn en sy Hom herken, roep sy uit: Rabboeni! My Meester! ‘n Uitroep van verwondering en liefde kom in die plek van die trane.

En as Jesus aan haar sê dat die ou bedeling verby is; die bedeling van Sy lyding en Hy haar stuur om die blye boodskap te gaan oordra, dan kom sy in beweging. Gaan sy om die boodskap oor te dra: Jesus leef! Jesus het oorwin: Jesus wag op ons! Nou is sy nie verstar in haar smart nie; maar in beweging en getuiende, gedring deur die liefde van Christus.

So verdryf die opgestane Jesus die smarte; bring Hy blydskap in die plek van trane. Ook vandag nog. Daar is so baie wat vandag nog verstar is in smarte. Wie se trane hulle uitsig belemmer sodat hulle nie aan die gang kom nie. Wat die opgestane Jesus wat by hulle staan, nie herken nie.

Is jy ook nog verblind deur trane; verstar deur smarte? Die opgestane Jesus wil Homself ook aan jou vanoggend openbaar. Vir jou vandag sê Hy: dat Hy opgestaan het, dat Hy getriomfeer het oor die dood en die mag van die sonde en die dood verbreek het. Hy het opgestaan om ook jou trane af te droog, en Hy wil jou weer in beweging kry.

Die Apostels:

Hulle was vreesbevange. In Markus16:8 lees ons: “En bewing en ontsetting het hulle aangegryp. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle het gevrees”.

In Johannes 20:19 het ons gelees dat die dissipels in die kamer was en die deur gesluit was uit vrees. Ook hulle staan verstar deur vrees. Die vrees het hulle so verlam, dat hulle ook niks kon doen nie en hulleself maar toegesluit het. Want hulle vrees die toekms sonder hulle Heer en Meester vir wie hulle alles verlaat het en wat hulle gelei het. Hulle is bang vir die dag van more; bang om te dink , te beplan, op te tree.

Hulle was bang vir die Jode en die Romeine, want hulle het die gerugte gehoor wat deur die Jode oor hulle versprei is, naamlik dat hulle die liggaam van Jesus gesteel het.

Dit was ‘n ernstige aanklag, alhoewel dit ‘n valse aanklag was, want dit was ‘n baie ernstige misdaad in die oë van die Jode om ‘n lyk uit ‘n graf te verwyder. Te meer omdat dit die liggaam van Jesus was, wat deur die Romeinse owerheid tereggestel is. So ‘n daad sou deur die owerheid as opstand en rebellie beskryf kon word. Geen wonder dat vrees hulle harte omklem het en hulle so vasgevang het dat hulle niks kon doen nie.

Dan verskyn die opgestane Jesus aan hulle. Hy sê vir hulle: Vrede vir julle. Hy verdryf alle vrees. Hy bevry hulle eintlik van al hulle vrese. Daarna sluit hulle hulself nie meer toe nie, maar gaan hulle uit in die wêreld in om weer te gaan visvang. Om vissers van mense te wees. Om sonder vrees van Jesus te getuig. Ja, selfs in die oomblik van die dood het hulle nie weer uit vrees teruggedeins nie, maar blymoedig, kragtig voortgegaan. Wie kan dan nou vrees – as die bron van vrees: die sonde en die dood uit die weggeruim is?

Ons leef in ‘n wêreld van vrees, in ‘n era gekenmerk deur vrees. Wêreldmoonthede bou groot wapernarsenale op, sodat ander te bang sal wees om hulle aan te val. In ons tyd vrees mense so baie dinge. Ons vrees die toekoms. Wat gaan die toekoms inhou? Wat gaan tog van ons kinders word? Sal daar nog ‘n toekoms wees.

Daar is ander wat vrees wat die mense  sal sê. Mense is bang vir skinderstories wat van alle waarheid ontbloot is. En vrees verlam. Daarom sluit die vreesbevange mens homself toe en sonder hom af. Trek hom terug. So lei die vrees tot passiwiteit en innerlike vertering.

Is jy nie ook een van die vreesbevange skare nie? Bang vir die wêreld, bang vir die toekoms....? Nou wil die opgestane Jesus ook aan jou, ja aan elkeen van ons verskyn en jou vrees verdryf. Want hy het oorwin oor graf en dood. Hy het die mag van Satan en sonde verbreek. Hy is die Lewende wat waak oor Sy kinders.

Wie kan dan nog vrees? Elkeen wat die opgestane Jesus ken as sy Here en sy God is soos die dissipels wat blymoedig en kragtig voortgaan en leef tot verheerlikking van God....

So wil Jesus elkeen inlei deur Sy opstanding in ‘n nuwe lewe; ‘n lewe sonder smart en vrees; wanhoop en twyfel, tot ‘n nuwe lewe van vreugde en krag, van hoop en geloof. ‘n Kragtige, blymoedige, hoopvolle en gelowige lewe waardeur God verheerlik kan word.