POSTED BY Steven Sass on 23:46 under
23 Maart 2014 Patensie
DIE DOOP VERTEL ‘N WONDERLIKE STORIE/ nie soos ons president se storie nie!
Gal 3:21-29 (:26,27)
Ben Hooper was ‘n buite-egtelike kind. Hy is as gevolg daarvan deur ander gespot en verstoot. Daar is baie geskinder oor wie sy pa was. Niemand by die skool wou met hom maats wees nie en pouses het hy maar eenkant bly staan...
Toe kom daar ‘n nuwe predikant en Ben het ‘n paar van sy dienste gaan bywoon. Die dominee het hom opgemerk en hom die vraag wat hy altyd gevrees het, gevra: “Wie se kind is jy?” Toe die dominee agterkom dat die vraag hom ongemaklik maak, het hy geglimlag en gesê: “Ek weet wie se kind jy is. Die familietrekke is duidelik. Jy is ‘n kind van God! Sorg dat jy daarvolgens leef.” En Ben het. Hy het later die goewerneur van die Amerikaanse staat Tennessee geword
(1911-1915).
1. DIE SUIGELINGDOOP VERTEL VAN GOD SE GENADE
Ons het vanoggend ‘n klein ou babatjie van net ‘n paar maande oud gedoop. Daar is mense wat sê dis onsinnig om babas te doop, want die kind verstaan nie wat aangaan nie. Die kinderdoop vertel egter net so ‘n mooi en nog mooier storie as Ben Hooper s’n. Dit vertel dat toe ek ‘n niemand (nobody) – ‘n baba – was, was daar Iemand wat
gedink het ek is ‘n iemand(somebody). Toe ek ‘n baba was en niks verstaan het en niks verdien het en niks eers kon belowe nie, het God na my gekom en gesê: “Ek wil vir jou ‘n God wees, wees jy vir My ‘n kind.” Ek kon eers heelwat later daarop antwoord, maar VOOR ek dit gedoen het, het God al gedink ek is spesiaal. Voor ek
vir God kon kies, het God al vir my gekies. Dis GENADE – onbeskryflik groot. Soos ons gesing het:
“In genade, groot en ryk,
Bou U, Heer, u konininkryk.
Voordat ek kon kies, kon vra,
Het u Seun my vloek gedra.
Ek kon vind: U’t my gekry
Voor ek nog my skuld bely.” (Lied 190:2)
Dis die storie van die kinderdoop. Sê dan maar dis onsinnig, want genade maak nie sin nie. God se liefde vir sondaars maak nie sin nie. Niemand kan dit verstaan of verklaar nie. Ons kan dit maar net glo, net aanneem!
Het JY dit al gedoen? God se genade en liefde aangeneem?
2. DIT VERTEL WIE GOD Sê DAT ONS IS
Sommige van ons het dalk die fliek The Cider House Rules gesien. Dit speel af in St Cloud, ‘n hospitaal en kinderhuis. Die dokter wat daar in beheer staan, het die kinders
elke aand gegroet met die woorde: “Good night, you princes of Maine, you kings of New England.” Al het hulle nie mooi verstaan wat dit beteken nie, het dit hulle ‘n identiteit, ‘n gevoel van belangrikheid gegee. Hulle is nie weggooikinders nie. Nee, hulle is “princes of Maine” en “kings of New England”. By die doop sê God: “Jy is nie sommer maar net jy nie. Jy is ‘n prins … prinses …die kind van ‘n Koning.” Hoe sing Jan de Wet en die Loflaaities: “My Pa is ‘n Koning en ek is sy kind…!” Wanneer een van die kinders – sê nou maar sy naam was Homer Wells – die kinderhuis verlaat het, het die dokter en sy personeel daardie aand by die kinders ‘n
slaaptydgesegde gehad: “Let us be happy for Homer Wells. Homer has found a family. Good night Homer.” Homer het ‘n tuiste gevind. Laat ons saam met hom bly wees, want dit was die behoefte van al daardie kinders – om deel van ‘n gesin te wees.
Met die doop het ons deel van ‘n ander gesin geword… God s’n. “Let us be happy for (Edith vander Watt). (Edith) has found a new family.”
3. DIT VERTEL VAN GOD SE VERGIFFENIS
Die doop vertel ons ook die storie dat God ons sondes vergewe. Ja, ook babas het vergiffenis nodig! Dit sê vir ons daar is vergiffenis beskikbaar. Soos wat water jou van buite skoon was, net so herinner die doopwater jou aan God wat jou wil en kan skoon was van binne. 1 Joh 1:6,7 “As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons
lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. Maar as ons in in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.” Die water by
die doop is die teken van die bloed.
4. DIT IS ‘N TROOSVOLLE STORIE
Die doop is ook ‘n troos in tye van moeilikheid en twyfel. Ons sing “Dit is my troos dat ek gedoop is …” (Lied 290) Wanneer hy deur ‘n moeilike tyd gegaan het, het Martin Luther die gewoonte gehad om iewers neer te skryf: “Ek is gedoop.” Met ander woorde God het Hom aan my verbind, Hy het my gemerk as SYNE.
Die doop verseker ons: God het ons ook so ‘n liefdesmerk gegee. Hy sal ons nooit in die steek laat nie. Soos in Jes 43 staan: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.” Romeine 8 verseker ons dat niks ons ooit weer
van God se liefde kan skei nie (:35).
5. DIT IS ‘N VERHAAL MET ‘N OPROEP
Die dominee het vir Ben Hooper gesê: “Jy is ‘n kind van God. Sorg dat jy so lewe.” Dit is ook die boodskap van die doop. Dit is waaraan ons gereeld ons kinders moet herinner: Gedoopte mense is baie spesiale mense en leef op ‘n spesiale manier .Daar is ‘n verhaal wat vertel word oor die beginjare van Henry Ford en die Fordmaatskappy. ‘n Sekere werker het oor die jare gereedskap en motoronderdele uit die fabriek uit huis toe geneem en nooit weer teruggebring nie. Dit was teen die reëls, maar almal het dit gedoen.
Toe kom die werker tot bekering en omdat hy nooit as baba gedoop was nie, is hy toe ook gedoop. Die dag daarna het hy alles wat aan die fabriek behoort het, weer teruggeneem en aan die voorman oorhandig. Hy het sy hele storie aan hom vertel en hom om vergiffenis gevra. Die voorman was so getref deur die man se eerlikheid, dat hy aan Henry Ford wat toe iewers met vakansie was, ‘n telegram met die nuus gestuur het. Ford se antwoord was soos volg: “Dam up the Detroit river and baptize the entire plant!”
Hierdie werker het besef: As gedoopte behoort ek anders te lewe. Dis soos wat in vers 27 staan: “… want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, moet lewe soos mense wat aan Christus behoort.”
Dat ons gedoop is, moet as’t ware op ons voorkoppe geskrywe staan! (Open 22:5) ‘n Tyd gelede verskyn daar ‘n artikel in “The Times” met die titel “As an atheist, I truly believe Africa needs God”. Dis geskryf deur Matthew Parris wat Suid Afrikaans gebore is, in die ou Rhodesië grootgeword het, later in die Britse Parlement gedien het en wat deesdae ‘n joernalis is. Hierdie artikel het vroeër vanjaar ook in die BY
verskyn. Matthew Parris vertel daarin hoe hy as ateïs van oortuiging is dat Christenskap die antwoord is op Afrika se nood. Nie sekulêre welsynsorganisasies nie. Nie regeringsprojekte nie. Nie Internasionale opheffingsprojekte nie. Maar Christenskap. Sy rede? Omdat Christenskap mense se harte verander. Hy noem dit ‘n verandering
wat “real” en goed is. Die Christene met wie hy in Afrika te doen gekry het, was eerlik, toegewyd, optimisties en bowenal “real”. Hulle was mense wat die nood rondom hulle raak gesien het. Dink julle nie ook dat as gedoopte mense in Suid-Afrika net soos gedooptes lewe, dit ‘n groot verskil sal maak nie!
SAMEVATTING
Die doop vertel vir ons ‘n wonderlike verhaal van God se genade en ons kindskap, van vergifnis en troos. Dit rig ook ‘n appél tot ons, dit roep ons op tot ‘n gehoorsame lewe.
As die versoeking kom of die geleentheid daar is, as jy wil twyfel, afdwaal, depressief of bang is, sê vir jouself: “Ek is gedoop!”

Amen
POSTED BY Steven Sass on 06:19 under
 16 Maart 2014 Patensie
Psalm 66
Aanskou die dade van God en wees bly in Hom!
Elke dag hou baie bekommernisse in. Elke dag hou baie vreugde in. Jy moet dit egter regkry om deur die seestrome van bekommernisse en vreugdes te kom. Om die rede verkondig God vandag aan die hand van Psalm 66:5 en 6 aan jou:
KOM HOOR WAT GOD GEDOEN HET EN WEES BLY IN HOM !
Die fisiese gebeurtenis van waar Israel deur die Rooi See getrek het, word beskryf in Eksodus 14. In Eks.12:29 lees ons dat die Here om middernag elke eersgeborene (oudste kind) van Egipte met die dood laat sterf het. Slegs Israel se mense wat bloed aan die deurkosyn gesmeer het en so gehoorsaam was aan die opdrag van die Here God, se eersgeborenes was gespaar. Die ramp het Egipte geskud en so het die Here vir Farao die Israeliete sommer laat wegjaag.
Na 430 jaar se ballingskap is die Israeliete bevry en dit deur die uitvoering van die voorskrifte vir die Pasga. Telkens was daar ook in die toekoms herrinnering deur God dat Hy hulle uit Egipte uitgely het op die pad van bevryding, veral ook in die 10 gebooie. Deut. 5:6 “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.”
In Eks 13 word beskryf dat elke eersgeborene van Israel aan die Here gewy moes word, dus vir God in die tempel moes werk. Dit het gegeld vir die eersgeborenes van mens en dier. Terselfdertyd word daar ook in Eks.13 beskryf dat die Here die volk met ‘n ompad laat trek het. Die Here het hiermee ‘n doel gehad. Hy het hulle met die lang pad omgestuur sodat die volk nie koue voete sou kry om terug te gaan na die vleispotte van Egipte nie, maar in besonder omdat Hy hulle deur die Rooisee op ‘n wonderbaarlike wyse wou laat deurtrek. So wou Hy Israel finaal verlos van Egipte.
Intussen het die Farao sy wonde klaar gelek en spyt gekry dat hy Israel weggejaag het. Al daardie hordes werkers is nou weg en wie moet nou die werk doen? Dit was ook onder beskikking van God dat Farao so opgetree het sodat God weer ‘n keer Sy almag kon betoon. Farao het met sy 600 beste strydwaens met bemanning en leermag en al die pad gevat en die Israeliete ingehaal.
Nogtans het die Here God vir Israel onder Sy beskerming verder laat trek. Ja, die Israeliete was doodbang en beangs en het vir Moses en die Here verwyt. Moses se antwoord was eenvoudig : “Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. 14 Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees. ” (Eks.14:13,14)
Hierna het Moses die opdrag van die Here ontvang om met die staf in die hand sy hand oor die see uit te steek sodat die volk Israel op droeë grond daardeur kon trek. Die Here het ook die harte van die Egiptenaars verhard sodat hulle verblindend en bloeddorstig deur die droëe pad van die see wou kom.
Helaas, God se wonderwerk, Sy ingrype, Sy stry vir die volk, Sy geveg namens die volk, het Sy tol geeis. Net toe die volk deur die see getrek het op die droeë grond, het Moses weer in opdrag van die Here sy hand oor die see uitgesteek sodat die pad toegemaak het. Op daardie oomblik het die Egitenaars besef dat die Here vir die Israeliete veg en hulle wou wegvlug. Toe was dit te laat vir mens en dier! Die water het elkeen oordek en hulle het soos ‘n stuk lood gesink en verdrink. Die Here het die geveg gewen vir Sy volk, net soos Hy belowe het.
So het die Here Sy volk Israel ongedeerd en veilig verder geneem tot anderkant van die Rooisee. Daarom is die uitroep al vir eeue en ook vandag: AANSKOU DIE DADE VAN GOD EN WEES BLY IN HOM!
En vir ons,  vir ons is daar nog meer rede om God se dade in aanskouing te neem en in Hom bly te wees. Elkeen van ons, klein en groot, is ook in die groef van die sonde en sal blootgestel wees daaraan vir die res van ons aardse lewe. Die sonde is dus ons ballingskap en die see van versoeking.
Die aanhitser en aanvoerder van die sonde, soos wat die Farao die aanvoerder van Egipte was, is die Satan. Satan is die owerste van die duisternis en sonde.
Hy is die Vader van die leuen en hy is elke sekonde van ons lewe besig om ons gedagtes, woorde en dade weg te prober lei van God en Sy wil. Nou moet jy erken, net soos wat die Israeliete beangs was en met verwyte God wil aankla, en net soos wat hulle nie geweet het wat die roete was om anderkant die Rooisee te kom nie, net so weet jy ook nie hoe jy uit eie krag deur die pad van sonde en versoekings gaan kom nie.
Jy raak ook benoud en beangs as jy die lewe en die toekoms in die oë kyk. Jy raak jaloers as jy kyk na geleendhede wat ander mense kry en nie jy nie. Ons raak lelike mense wat in eiewilligheid en wêreldse genot verval. Ons is nie bereid om voluit gebind te word aan God Self en Sy Woord nie.
Vandag verkondig die Enigste Ware God aan ons dat daar net een manier is om bevry te word van die aanslag van Satan en die val en volharding in sonde:
in en deur Jesus Christus. Jesus Christus het Self die straf, pyn en Godverlatenheid vir ons aan die kruis gedra. Jesus Christus is die enigste Verlosser en ons moet eenvoudig net afhanklik wees en weet dat Jesus die geveg klaar gewen het.
Staan stil, kyk om jou, sien raak wat God doen, wees getuie van Sy groot werke! Dieselfde God wat Israel bevry het deur die Rooisee, is ons God en Hy sal ons deur ons rooisee en bedreigings neem. Moenie self die pad op eie stoom probeer loop nie. Moenie self veg nie. Ons Here God stry en veg vir ons en ons moet stil wees. Bid en wees afhanklik en sien wat God doen. Volg Jesus Christus as jou Enigste Verlosser en Saligmaker.
Wee egter die een wat teen God werk. Help waar jy kan en laat so een tot bekering gelei word voordat dit te laat is. Vir die Egiptenare was dit te laat daar in die Rooisee. Vir die een wat volhard in sonde en die eie pad teen God se pad en Sy wil, vir hom en haar sal die oordeel tref, ‘n lewe sonder God tot in ewigheid. Aanskou jy nog die wonderdade van God?
Net soos wat hier in Ps. 66 die grootheid van God besing word, so moet ons ook die grootheid van God in Christus besing. Staan stil en moenie self deur die lewenssee probeer swem nie, jy kan nie. Laat God vir jou stry en lewe jy net gewillig en gehoorsaam binne Sy wil en volg in Christus se spore.

 AANSKOU DIE DADE VAN GOD EN WEES BLY IN HOM! 
POSTED BY Steven Sass on 06:16 under
9 Maart 2014 Patensie
Die Weg, die Waarheid en die Lewe
Johannes 14:1-14
Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Hoe bekend is hierdie woord nie. Ek is seker ons ken dit almal baie goed, maar nou is dit mos ook so dat as iets so bekend is, kan dit wees dat dit sommer uit ons gedagtes uit glip omdat ons dit dan so goed “ken”. Hiervan is die ‘samevatting’ van die Tien Gebooie seker ook die bekendste voorbeeld. Die Jode het vir Jesus gevra wat die grootste gebod is, en as Jesus dit saamvat in die liefde vir God en die naaste, dan haal Hy twee verse aan  wat hulle baie goed geken het. Trouens, hulle het dit elke dag die keer in hulle daaglikse gebede gebruik. Tog het hulle so gewoond geraak daaraan dat dit hulle net nie meer geraak het nie. So hoor ons dit ook so baie en ken ons die woorde so goed, maar sien ons so min daarvan dat mense dalk kan dink dat ons dit glad nie ken nie.

Dit kan ook die geval wees met hierdie bekende woorde van Jesus. En juis daarom moet ons telkens weer daarna luister.

Jesus gebruik ook hierdie woorde as Hy besig is om Sy dissipels voor te berei vir wat op hulle wag. Hy is saam met hullle, en dis kort voor Sy dood, en Hy weet baie goed wat op Hom wag, maar hulle weet van niks nie of het nog nie regtig verstaan wat Hy al soveel keer gesê het nie, en nou spandeer Hy baie tyd om hulle voor te berei, want Hy wil nie hê dat hulle ‘n onbekende toekoms ingaan nie. Hy wil veral ook nie hê dat hulle ontsteld moet wees oor wat gaan gebeur nie. Wat voorlê is inderdaad ontstellend. Tog moet dit hulle nie ontstel nie, want dis net ‘n onstellende trap na iets heerliks wat wag.

Jesus pleit by die dissipels om in God te glo. Dit wat voor die deur lê, is van so ‘n aard dat die wat nie in God en in Hom glo nie, nie staande sal kan bly nie. Net geloof sal hulle staande kan hou. Hierdie oproep van Jesus kom vandag nog na ons. Dis die vertrekpunt. Sonder geloof is alles vergeefs, en sonder geloof kan ons nie anders as om onsteld te word deur alles wat gebeur nie. Sonder geloof kan ons nie lewe nie. Glo in God; glo ook in My. Dit is die oproep wat elke dag tot elkeen kom.

Jesus sê vir hulle dat Hy na Sy Vader gaan, vir hulle plek sal berei en hulle dan kom haal. Met enkele penstrepe skets Hy wat gaan gebeur. Tipies menslik sê Tomas dat hulle nie weet waarheen Jesus gaan nie en dus ook nie die pad ken nie. Dan antwoord Jesus: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Hiermee sluit Jesus aan by en gebruik die wêreldbeeld wat destyds algemeen bekend was. Toe is daar nie net geglo dat die aarde ‘n plat vierkant is wat op pilare rus, met die hemel bo en die see onder die aarde nie, die algmene opvatting was dat die hemel die plek van  volmaaktheid was. Daar was geen duisternis nie, maar net lig. Daar was geen pyn of lyding nie, net oorvloed en vreugde, daar was nie dood nie, net lewe. Dit is waar God gewoon het.

 Verder is daar geglo dat daar geen direkte verbintenis tussen die hemel en die aarde was nie. Dis net af en toe dat God deur tekens of gesante soos die engele met die mens kontak gemaak het. Van die aarde kon geen mens by of in die hemel kom nie. Die hemel was as’t ware ‘n geslote ruimte vir die mens.

In die Evangelie van Johannes, waar hierdie wêreldbeeld sterker is as by die ander evangelies na vore kom, word iets radikaals nuut bely. Jesus kom van die hemel aarde toe, Hy bring die boodskap van God. Hy is egter meer as net ‘n gesant, Hy is een met die Vader. God stuur Sy Seun na die aarde...God trek die dissipels na Jesus na Hom toe.

Nou voltooi Jesus hierdie prentjie. Hy het nie net van die hemel aarde toe gekom nie, Hy gaan nou binnekort terug hemel toe. Dan maak Hy die pad na die hemel toe oop. Met Sy koms het Hy as’t ware die een baan geopen; van die hemel na die aarde. Nou gaan Hy die ander baan voltooi en oopstel: van die aarde na die hemel. Dan is die hemel en die aarde nie meer twee geskeie ruimtes nie, maar een. Dan sal die hemelse na die aarde vloei en kan die mens na God toe gaan. Die hemelse, die lig, lewe, liefde, oorvloed, genade en al die ander wonderlike dinge kan deel van hierdie lewe word. Die gelowige se lewe eindig dan nie in die graf nie, maar gaan voort in die hemel...

Ek is die weg, die weg na die Vader, sê Jesus. Die pad na God is oop. Ons kan God ken, ons kan na Hom toe gaan, nie net na die dood nie, maar ook in  gebed, in ons gesprekke met Hom. Ons kan Hom loof en prys...ons kan by Hom kla, ons kan met ons versoeke na Hom toe gaan. Die pad is oop. God se deur staan oop vir wie in Hom glo. Jesus is die weg en die deur. Hiermee sê Jesus dan dat die aarde nie ons finale eindbestemming is nie. Ons reis met Hom gaan deur Hom na die hemel toe, na God toe. Dit is belangrik dat dit nie of selfs in die eerste plek wys op ons reis na die dood nie. So asof ons hier op aarde leef en  dan na die dood hemel toe gaan nie. Die pad is nou oop. Nou en moet ons hemel toe, na God toe gaan. Daagliks moet ons dit doen. Van Hom moet ons elke dag dit ontvang wat ons nodig het om Sy werk hier te doen. Nou moet ons die hemel aarde toe bring of die aarde in die hemel omskep. Dit kan gebeur as ons soos Jesus leef. In liefde leef... Sy lig laat skyn, Sy werk doen. Dit kan alleen, maar dit moet, as ons voortdurend heen en weer beweeg op die weg....Jesus Christus.

Jesus sê ook dat Hy die Waarheid is. Ons dink aaan waarheid asof dit ‘n objektiewe en feitelike korrekte stel gegewens is. Jesus sê Hy is die waarheid...en die waarheid is nie iets nie, dis ‘n Persoon. In die Bybel word waarheid en lig telkens saam gebruik, geen wonder dat ons ook lees dat Jesus die lig is nie. Waarheid is daarom iets rasioneel. Dit is om in verhouding te staan. In  verhouding met Jesus. Vra ons dan wat die regte ding is om te doen, dan kom die antwoord: wat ons in opregte verhouding met Jesus doen. Saam met Hom en tot eer van God. Dis reg. Dis die waarheid. Leef ons in verhouding met Jesus, dan leef ons in die waarheid.

Jesus sê verder dat Hy die lewe is. Buite Hom is die dood en is daar geen lewe nie. Hiermee word nie bedoel dat mense nie kan asem haal en bestaan sonder Jesus nie, maar dat mens nie sinvol kan bestaan buite Hom nie. Lewe is om aan God gebonde te wees. Om een met Jesus te wees. Elders het Jesus gesê dat die ewige lewe is om aan  God te behoort. Dis lewe. Nie sinlose bestaan nie. Hy is die skepper, en Hy gee aan alles lewe. Deur die verbreking van die band met God, verloor die mens sy lewe, al haal hy nog asem. Jesus sterf om ons weer aan God te bind en so te laat leef. Sonder Jesus kan ons nie lewe nie.

Ek is die weg en die waarheid en die lewe sê Jesus....Niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie. Dit glo ons. Dit is die boodskap wat ons aan almal oordra in die liefde van Christus. Hy wil vir almal die weg en die waarheid en die lewe wees soos Hy vir ons is en wil  wees
POSTED BY Steven Sass on 06:03 under
2 Maart 2014 Patensie
Matteus 23:1-36 en 25:31-46
Mooi praatjies het nie veel waarde nie
As daar nou een ding is wat godsdienstige mense goed kan doen, dan is dit om mooi woordjies te gebruik. Hoe mooi kan ons dinge nie formuleer nie, hoe mooi word daar nie in die kerk gepraat nie, hoe suiwer en netjies kan ons tog nie dinge stel nie. So anders as wat die geval soms buite die kerk en die godsdiens is.

Dit was eintlik nog altyd die geval gewees. Dit was ook so in Jesus se tyd, maar dan die skokkende...Matteus sê vir ons dat Jesus nie erg het aan mooi praatjies nie. Moet dit nou nie verkeerd verstaan nie, Jesus het niks teen mooi praatjies as sodanig nie, dit gaan hier dan beslis nie daarom dat mense lelik moet praat nie! Maar die mooi praatjies alleen is nie genoeg nie. Jesus, so leer Matteus ons, soek meer as net mooi praatjies.

Na Jesus se intog in Jerusalem is Sy botsing met die kerkleiers op die spits gedryf, die spanning wat al van die begin af daar was en met die verloop van tyd al groter geword het, gaan nou tot ‘n finale punt gedryf word. Nie alleen gaan hulle binnekort direk vir Sy gevangeneming, verhoor en dood verantwoordelik wees nie, maar Jesus waarsku hier Sy volgelinge direk en duidelik teen hulle.

Wat het Jesus teen die Skrifgeleerdes, die Farisieërs en die Sadduseërs gehad?  As Hy die skare wat om Hom vergader het en die dissipels toespreek, begin Hy deur te sê: “Die Skrifgeleerdes en die Farisieërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk”. Dis hulle werk, hulle het die kennis, hulle het die roeping, dis als goed en reg. Meer nog, Jesus sê: “Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê”. Jesus pleit dus nie vir die verwerping van hulle gesag nie, Hy veroordeel nie wat hulle leer en sê nie, Hy vind nie fout met hulle dogmas en kerkleer nie. Dit mag miskien oppervlakkig en onvoldoende gewees het, hulle mag dalk te veel klem gelê het op die uiterlike...ons het miskien meer kritiek op hulle as wat Jesus gehad het.

Nou wat het Jesus dan teen die kerkleiers van Sy tyd gehad? Dit klink mos asof Hy hulle prys en ondersteun. Jesus het dit teen hulle dat hulle net mooi praatjies maak. Hulle woorde is mooi, maar hulle dade rym nie met hulle woorde nie. Tussen hulle woorde en hulle dade is ‘n onoorbrugbare kloof. Hulle eis van hulle volgelinge om dinge te doen wat hulleself nie doen nie. Hulle bak mooi broodjies sodat hulle aansien verhoog kan word en hulle as belangrike mense gesien en geëer kan word. Dit mag nie. Ons val mos ook soms in hierdie slaggat. Ons sê sulke mooi dinge, soms met die onuitgesproke hoop dat mense ons sal respekteer en hoog sal ag.

Hulle het allerlei tradisies en bepalinge voorop gestel en dit vir die mense moeilik gemaak om die Here te aanbid. Soos ons ook soms moeilike eise stel en allerlei reëltjies het waaraan ander moet voldoen om in te wees. Hulle het soos ons, verstrengel geraak in beuselagtighede en onbelangrike dinge tot kernsake verhef. Hulle het ‘n vroom front voorgehou terwyl hulle agteraf hoegenaamd nie so geleef het nie. As die mense hulle nie gesien het nie, het hulle heel anders opgetree as wat hulle die mense geleer en van die mense verwag het. Hulle het so op die uiterlike gekonsentreer dat hulle die mense vergeet het, en so het hulle hard en onmenslik geword. Kortom, hulle het nie geleef in ‘n lewende verhouding met die lewende Here in die konkrete daaglikse lewe nie. Dan word godsdiens ‘n formele spel wat niks met die lewe en die werklikheid te doen het nie. Helaas is dit die tragiese werklikheid wat ons vandag nogsteeds raaksien...ons bely dat ons Christene is, maar in die daaglikse lewe sien ons so min van Christus raak. Ons het wonderlike leerstellings maar in die praktyk sien ons min liefde en genade en vergifnis raak.

Jesus het nie erg aan mooi praatjies nie. Hy het van Sy felste uitsprake juis hierteen gemaak. Skerp veroordeel Hy diegene wat hulle hieraan skuldig maak...Hy is skerper in Sy oordeel oor die wat mooi praatjies maak en anders lees as oor enigiets anders.

Dit vind ons weer en op ‘n ander wyse in Sy laaste onderrig (Matteus 24-25), die sogenaamde profetiese rede. Hier praat Jesus as profeet oor die toekoms en die eindtyd. Hy sê hierin dat moeilike tye vir die gelowiges wag, en Hy wys hulle daarop dat niemand weet wanneer die eindtyd sal aanbreek nie. Hy roep Sy volgelinge op om getrou te wees en gereed te wees vir Sy wederkoms. Dan sluit Hy Sy profetiese rede af met ‘n verwysing na wat op die dag van Sy wederkoms sal gebeur. Dit sal ‘n dag van oordeel en skeiding wees (Matt. 25:31-46). Maar wat sê Jesus nou eintlik hier? Hy vertel op ‘n aangrypende manier dat almal op die oordeelsdag voor Hom sal staan. Dan sal daar skeiding gemaak word. Die skape sal van die bokke geskei word, die een groep sal aan Sy regterkant en die ander aan Sy linkerkant staan. Vir die een groep sal Hy sê: “gaan weg van My.” Vir die ander groep sal Hy sê: “Kom na My toe, kom in die koninkryk wat vir julle berei is.” Nou op grond waarvan sal hierdie skeiding plaaasvind? Op grond waarvan sal ons beoordeel word? Miskien moet ons eers kyk wat hier nie gesê word nie. Jesus vra nie aan watter kerk hulle behoort nie. Hy vra nie wat hulle belydenis is nie. Hy vra hulle nie wat hulle geleer of wat hulle gesê het nie, dis nie eers ter sprake nie, maar wat wel ter sprake kom, is wat hulle en ons gedoen het. Nie mooi praatjies nie, maar ons dade word onder die loep geneem. Maar let op: nie ons betrokkenheid by die kerk nie, nie hoeveel kerke jy al in jou lewe besoek het en wat wat jy al alles daar gendoen of gegee het nie. Ook dit tel skynbaar nie. Nou moet ons mooi verstaan, dis nie dat ons belydenis onbelangrik is en ons kerklike betrokkenheid van geen betekenis is nie, hoegenaamd nie. Waaroor dit wel vir Jesus gaan is of ons belydenis en ons lewe met mekaar rym. Of ons mooi praatjies gestalte vind ins ons optrede in die daaglikse lewe.

Jesus oordeel op grond van wat mense gedoen het aan die wat honger en dors was, aan die vreemdelinge en die armes, aan die siekes en diegene in tronke. Dit was die mense wat destyds, soos vandag ook nog maar, nie aansien gehad het nie. Mense op wie neergesien is. Mense van wie dikwels gesê is dat dit hulle verdiende loon op hulle sonde is. Mense wat darem nie ons klas is nie. Mense met wie ons ons nie wil assosieer nie. Hoe het julle teenoor hulle opgetree, vra Jesus? Hoe tree ons teen hulle op?

Jesus sê hier duidelik...ons optrede teenoor diegene op wie die gemeenskap neersien en wat ons ook maar soms vermy, weerspieël ons optrede teenoor Hom. Dis Hy wat honger of dors is, dis Hy wat ‘n vreemdeling of arm is, dis Hy wat siek of in die tronk is. Die toets van ons geloof lê daarin of ons dade teenoor die minste in die gemeenskap in ooreenstemming met ons belydenis is. Oo ons liefde en geloof, die voorbeeld van Jesus sigbaar is in ons daaglikse omgang met die uitgeworpenes uit ons samelewing....dis die finale toets.


Jesus het nie erg aan mooi praatjies nie...