POSTED BY Steven Sass on 20:53 under
26 Oktober 2014 Patensie
Agteruitgang vra kragtige optrede
Nehemia 13:10-14
As die kat weg is, is die muis baas. Ver van jou goed, naby jou skade. So lui die spreekwoorde. In hierdie spreekwoorde is groot waarde opgesluit. Is dit nie so dat as iemand weg is, ander sy goeie werk soms ongedaan maak nie? Agteruitgang en verval tree so maklik in. Hoe tragies dat daar gedurig toesig gehou moet word. Mense het nou eenmaal die geneigdheid om dinge na te laat of die wet te oortree as hulle nie dopgehou word nie. Dink maar net aan wat ons kinders al aangevang het in ons afwesigheid of wat ons self al aangevang het toe ons kinders was en ons ouers weg was of ons baas dalk weg was.

Nehemia was ook vir ‘n tyd lank afwesig. Hy moes teruggaan na die Persiese koning en was ‘n tyd lank daar voor hy toestemming gekry het om weer na Jerusalem te te gaan (Neh. 13:6-7). By sy aankoms het hy gevind dat dinge nie so goed gegaan het tydens sy afwesigheid nie. Hy vind uit dat die Leviete en sangers nie hulle aandeel aan onderhoud ontvang het nie (Neh. 13:10). Die Leviete en die sangers wat moes diens doen, was daarom gedwing om na hulle eie grond terug te gaan. Hulle het immers nie meer salarisse ontvang nie en moes maar self hulle eie potjies gaan krap om liggaam en siel aanmekaar te hou.

Hoe vinnig kan dinge nie agteruitgaan nie. As mens nie jou hand op dinge hou nie, val dit sommer gou-gou uitmekaar. As mens nie jou hand op jou tuin hou nie, vergaan die blomme en neem die onkruid oor. As mens nie jou huis gereeld onderhou nie, sal jy naderhand agterkom dat groot herstelwerk nodig is. As jy nie jou besigheid oppas en jou hand daaaraan hou nie, kan dit ten gronde gaan. Dit het baie al ervaar. Dit geld ook vir verhoudings....as jy nie aandag aan jou verhoudinge gee nie, vat dit nie lank voor dinge begin skeefloop nie. Huweliksmaats leef bymekaar verby en dan kan dinge lelik skeefloop en verbrokkel ‘n huwelik. Waar ouers nie tyd maak vir hulle kinders nie, raak die generasiegaping al groter en tree vervreemding in. Nou gebeur dit vandag nog, dat waar ‘n projek met sukses voltooi is, mense maklik agteroor sit en dink dat alles nou maar goed sal verloop. Helaas is dit nie die geval nie. Is dit nie wat ons ook in Openbaring lees oor die gemeente van Laodisense nie: dat hulle lou geword het. Hulle het nie meer met ywer en toewyding gewerk nie. Waar is die ywer en toewyding in ons dienswerk aan die Here en ons betrokkenheid by koninkrykswerk in ons gemeenskap?

Wat die agteruitgang in die tyd van Nehemia in ‘n ernstiger lig gestel het, is die feit dat hullle nie lank tevore nie plegtig belowe het om hulle bydraes te gee en om die tempel en die tempeldiens in stand te hou. Hulle het dit plegtig onderneem en met hulle handtekeninge bevestig. Hulle het selfs hulle onderneming afgesluit met die woorde: “Ons sal die huis van ons God nie verwaarloos nie” (Neh. 10:39). Nou doen hulle presies dit wat hulle onderneem het om nie te doen nie! En ons?

Nehemia het juis uitgevind dat die tempel verwaarloos was (Neh. 13:11). Dit was die gevolg van die swak bestuur en die afwesigheid van mense soos die Leviete en sangers wat die tempel in stand moes hou. Bestuur is ten diepste ook ‘n geloofsaksie. Die wyse waarop ons ons sake en huise bestuur, reflekteer ons verhouding met die Here. Is die agteruitgang in ons gemeenskap, die verval van morele standaarde, die gebrek aan respek en dissipline nie tekens van ons swak bestuur van ons huise, skole, kerke en gemeenskap nie? Laat ons nie maar God’s waters oor God’s akkers loop nie?

Nou is dit maklik om hierdie gedeelte letterlik toe te pas op ons situasie. Ons kan daarop wys dat elke gelowige die verantwoordelikheid het om ‘n bydrae te maak sodat die predikant betaal kan word. Dit is waar. Het ons nie almal ook onderneem om ons deel by te dra tot die opbou en instandhouding van ons kerk nie? Dit behels ook finansiële bydraes om die kerk aan die gang te hou. Die rekeninge en salarisse moet betaal word. Die kerk moet sy verpligtinge na buite nakom. Daartoe het elke lidmaat hom of haar mos verbind.

Dit gaan hier om meer as net dit. Hierdie is eintlik ook ‘n voorbeeld van agteruitgang en verval wat ook in ons gemeenskap na vore kom. Dit is egter simptomaties van dieper liggende geestesingesteldheid. Dit gaan mos in die geval van die Leviete daarom dat daar ‘n totale gebrek aan ondersteuning en hupverlening was. Dit was die gevolg van selfgesentreerdheid. Eie belange het het voorp gestaan en die lot van ander het hulle nie veel geskeel nie. Dit is juis presies wat tans daartoe lei dat ons gemeenskap agteruitgaan en verval. Is dit nie waaraan ons ook skuldig is nie? As ons werklik luister na die eis wat Jesus gestel het,naamlik dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself, sal dit nie die geval wees nie. Dra ons mekaar se laste op die hart? Ondersteun ons mekaar? Help ons mekaar?

Nehemia, het onmiddelik opgetree. Hy het die Leviete opgesoek en teruggebring. Dit kon nie ‘n maklike of aangename taak gewees het nie. Baie het seker vir hom gesê dat hulle nie sal terugkom nie omdat hulle nie verseker is van ‘n inkomste nie, of dat hulle verwerp is en nie kans sien om weer te begin nie. ... op die ou ent het woorde gewek maar voorbeelde gestrek. Nehemia se optrede en inisiatief lei daartoe dat almal weer hulle verantwoordelikhede nakom en bydraes maak....

Spoedige optrede is noodsaaklik. Let op dat Nehemia hier stilweg en beslis optree, maar dat hier nie sprake is van groot projekte of radikale optrede nie. So is dit dikwels nie nodig dat ons ook radikale stappe moet neem of dinge aan die groot klok moet hang nie. Ons moet net beslis optree en dit wat verkeerd loop, regtel en maatreëls tref dat dit nie weer sal gebeur nie.


Hierdie gedeelte sluit af met die gebed van Nehemia: “Onthou tog wat ek gedoen het my God! Moet tog nie dat my liefdesdade wat ek vir die huis van my God en vir Sy diens gedoen het, vergeet raak nie”. (Neh. 13:14). Kan ons ook bid dat die Here ons liefdesdade nie sal vergeet nie? Of het ons nie sulke goed nie? 
POSTED BY Steven Sass on 06:04 under
19 Oktober 2014 Patensie
Onderneem plegtig om as kind van God te leef
Nehemia 9:38-10:39
Die heropbou van die gemeenskap kan nie op enkele vlakke geskied nie. Dit is eintlik ‘n allesomvattende taak wat al die fasette van die lewe insluit. Die heropbou van die gemeenskap is ook nie die taak van slegs enkeles nie, maar almal behoort daarby betrokke te wees. Die heropbou van die gemeenskap is ook nie ‘n taak wat ligtelik opgeneem kan word nie. Dit vra dat elkeen sy of haar verantwoordelikheid sal besef en sal onderneem om aktief betrokke te wees.

Die Judeërs wat uit ballingskap teruggekeer het na Juda, moes hulle gemeenskap van die grond af herbou. Dit het ingelsuit dat hulle vir hulle huise moes bou, landerye en wingerde moes aanlê of besighede begin en die stad moes herbou en beveilig. Hulle moes ook die tempel herbou en die kultus, die gesamentlike aanbiddding van die Here herstel. Dit was ‘n moeilike taak wat baie van hulle gevra het. Almal was daarby betrokke, en elkeen moes eenvoudig sy deel bydra.

Die omvattende taak is nie ligtelik opgeneem nie. Ons lees dat hulle ‘n skriftelike onderneming aangegaan het en dat hulle hierdie onderneming persoonlik onderteken het. Hulle het hulself dus verbind tot die heropbou van die gemeenskap. Opvallend is dat hierdie onderneming juis redelik na aan die einde van die boek vermeld word, nadat die tempel en die stadsmuur herbou is en die fisiese heropbouproses afgehandel is, verbind hulle hulself tot die deurlopende instandhouding van die gemeenskap. Die heropbouproses eindig nie as die heropboutake afgehandel is nie. Dan gaan die geestelike heropbouproses voort. Nou is die gevaar dat mens na die fisiese heropbouproses kan terugsit en dink dat alles nou afgehandel is. Dit gebeur al te dikwels.

Waartoe het die gelowiges hulself verbind? Hier word ‘n hele aantal sake genoem. Hulle onderneem om nie hulle kinders met heidene te laat trou nie, om die Sabbat en die Sabbatsjaar te onderhou en om elkeen jaarliks vier gram goud, die eersteling van alles, hulle tiendes en offergawes te gee. Nou wat beteken dit om nie hulle kinders met heidene te laat trou nie? (Neh. 10:30). Ons moet onthou dat die meeste huwelike destyds gesluit is na onderhandelinge tussen die ouers van die bruidegom en die ouers van die bruid. Dit was die taak van die ouers van die bruidegom om toe te sien dat hulle seuns met iemand trou wat na aan die familie was, verkieslik iemand binne dieselfde stam. Dit was noodsaaklik om die familiebesittings in die familie te hou, om die stam se relatiewe sterkte te behou en selfs uit te bou en veral om die godsdiens suiwer te hou. Hierdie onderneming het dan nie soseer te doen met volksuiweriheid nie, maar eerder met godsdienssuiwerheid.

Hulle onderneem verder om die Sabbatdag te onderhou deur selfs niks op die Sabbatdag van heidene te koop nie(Neh.10:31). Tydens die ballingskap was die onderhouding van die Sabbat die belangrikste uitwendige teken van hulle geloof. Toe kon hulle nie meer die Here in die tempel aanbid nie, hulle kon ook nie offers aan die Here bring nie. Die onderhouding van die Sabbat het toe, saam met die besnydenis, die uitstaande kenmerk van die lewe van gelowiges geword. Hieraan kon hulle onderskei word van ander mense. Noudat hulle terug is en weer in die tempel kon feesvier en offers bring, was daar sommige mense wat gedink het die onderhouding van die Sabbat was nie meer so belangrik nie. Terselfdertyd het ander mense ook saam met hulle in die land gewoon wat ander gode aanbid het, en hulle het byvoorbeeld nie die Sabbat onderhou nie. Gevolglik het hulle onder andere op die Sabbat handel gedryf. Hulle kon nie verbied word om dit te doen nie, en nou was die gevaar dat die Jode ook kon begin om op die Sabbat handel te dryf om die nie-Jode se besighede op die Sabbat te ondersteun. Deur dit te doen, sou hulle dan ‘n belangrike kenmerk van hulle godsdiensbeoefening ongedaan maak.

Hulle onderneem verder om die sabbatsjaar te onderhou deur elke sewende jaar die lande braak te laat lê en alle skulde vry te skeld (Neh. 10:31). Sou dit nie fantasties gewees het as ons elke sewende jaar vrygestel kon word van ons werk en boonop ons skuld nie? Maar dis nie waaroor dit gaan nie. In daardie tyd was die onderhouding van die Sabbat en ook die sabbatsjaar kenmerke van hulle geloof wat hulle onderskei het van die ander godsdienste. Op die unieke wyse het hulle deur hulle lewenswyse te kenne gegee dat hulle die Here aanbid en dien. Hulle onderneem daarom plegtig om so te leef dat almal kan sien dat hulle die Here aanbid en dien.

Dit is waartoe hierdie gedeelte van die Woord van die Here ons oproep. Leef so dat ander kan sien dat ons die Here aanbid en dien? Ons leef immers ook in ‘n land waar daar mense is wat ander godsdiesnte aanhang. Die vraag kom dan: waaraan kan die ander inwoners van die land en mense uit ander lande sien dat ons die Here aanbid en dien? Nou praat ons nie van kerkgeboue nie, maar van lewenswyses wat ons onderskei van die nie-gelowiges. In die lig van die groot gebod en Jesus se herhaalde beklemtoning van die uitlewing van liefde as teken van ons geloof, moet ons vra of ons plegtig onderneem om elke dag in liefde te leef en dus so te leef dat almal wat met ons in aanraking kom, kan sien dat die liefde van Jesus uit ons lewenswyses straal.

Onder leiding van Nehemia het die gelowiges verder onderneem om alles in hulle vermoë te doen en sorg te dra dat die huis van hulle God nie verwaarloos sou word nie. Dit beteken  dan dat hulle sou toesien dat die gebou wat hulle pas voltooi het, in stand gehou sou word. Dit gaan egter ook om meer as net die fisiese gebou... dit gaan ook en  miskien juis om die instandhouding van die aanbidding van die Here. Hulle onderneem plegtig om so te leef en sodanig op te tree dat die aanbidding van die Here kan voortgaan...hiervoor sou hulle opofferinge moes maak wat hulle aan hulle eie sake sou voel.


Nou moet ons nie gaan eis dat elkeen soos die Israeliete van ouds elkeen vier gram goud en hout en al die eerstelinge en tiendes en offergawes moet bring om die kerk, die eredienste en al die aktiwiteite van die kerk in stand te hou nie. Waartoe hierdie gedeelte ons wel oproep, is dat elkeen van ons, elke gelowige, plegtig sal  onderneem dat ons die huis van God nie sal verwaarloos nie, dat ons die aanbiddding van die Here nie sal verwaarloos nie, dat ons die diens aan die Here nie gering sal skat nie, dat ons elke dag so sal leef en sodanige opofferinge sal maak dat almal kan sien en weet dat ons die Here dien. Dit kan behels  dat ons op ander maniere opofferinge sal maak, soos byvoorbeeld om van ons tyd af te staan om betrokke te wees by allerhande dinge wat die Here vir jou deur Sy Gees ookal vra....Dien die Here met oorgawe en op alle lewensterreine. Nehemia 10 roep elke gelowige op om erns te maak met ons aanbiddding van die Here!
POSTED BY Steven Sass on 05:39 under
5 Oktober 2014 patensie
Luister na die Woord van die Here en vier Fees!
Nehemia 7:73-8:13
Die samekoms van gelowiges het nog altyd ‘n sentrale rol in die lewe van gelowiges gespeel. Dit is so dat die mens ‘n sosiale wese is. Mense soek mekaar op en wil in groepsverband leef. Ons sien dit mos sterk by ons kinders wat net nie sonder hulle maatjies wil wees nie. Jongmense soek lewensmaats. Namate mens ouer word, word die samesyn met familie en vriende ook al hoe belangriker. Dit is ‘n natuurlike verskynsel dat mense in groepsverband wil leef. Dit is daarom voor die hand liggend dat gelowiges ook die begeerte het om saam met ander gelowiges te wees.

Dit behoort in die samekoms van gelowiges egter nie alleen te gaan om die saamwees nie, maar die doel van die saamwees behoort te sentreer om die aanbidding van die Here en die luister na Sy Woord.

In hierdie gedeeltes lees ons in die eerste plek dat almal wat uit ballingskap teruggekeer het hulle gevestig het in die stede waar hulle vandaan gekom het. Almal keer dus terug na die plek van herkoms. Dan word dit genoem dat Israeliete hulle oral in die land gevestig het. Oral in die stede was Israeliete wat teruggekeer het na hul vaderland. Dit beteken dan ook dat hulle oor die hele land versprei was. Ons lees egter nie van enige vorm van gesamentlike organisasie van hierdie teruggekeerde ballinge nie, en die vraag kom dan: hoe gaan hulle hulself as groep oragniseer?

In Nehemia 6:6-7 lees ons dat Sanballat beweer dat daar ‘n gerug was dat Nehemia homself as koning sou wou laat uitroep. Dit beteken dat die vyande van Israel gevrees het dat die Judeërs ‘n politieke staat wou stig en so die gesag van die Persiese Ryk verwerp en daardeur onrus en onstabilitiet in die ou Nabye Ooste sou kom. Gaan die Jode nou weer probeer om ‘n nasionale eenheid te vorm en die ou Dawidsryk en koninkryk probeer oprig? Dit is hierop dat Nehemia 8:1-13 ‘n duidelike antwoord gee. “Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die plein voor die Waterpoort en vir Esra die Skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring.” (Neh. 8:2).

 Opvallend dat ons nie hier lees dat die hele volk opgeroep is om bymekaar te kom nie. Ons lees nie van ‘n bevel of versoek van die kant van Nehemia of Esra of die leiers nie. Dit word as ‘n spontane byeenkoms beskryf. Dit was ‘n volksbesluit. Leer ons nie hieruit dat daar nie aldag gewag moet word dat die leiers die besluite moet neem nie? Die gemeenskap moet spontaan self na vore kom in sake wat hulle na aan die hart lê.

Die samekoms rig ‘n duidelike versoek, naamlik dat Esra die wetboek van die Here moet bring. Die doel van die samekoms is dan baie duidelik.... hulle het nie politieke motiewe gehad, of hulle wou nie in opstand kom nie en hulle wou ook nie kla oor allerhande dinge nie, nee hulle kom almal saam omdat hulle na die wetboek van Moses wou luister....

Hierdie begeerte hang saam met die feit dat baie min mense destyds kon lees en skryf, heel moontlik kon minder as 5% van die bevolking lees of skryf, so die oorgrote meerderheid kon dus nie self die wetboek lees nie. Die begeerte was ook dieper...hulle weet dat hulle die gemeenskap moes herbou, nou is die fisiese heropbouproses afgehandel, die tempel, en die stadsmure en huise is herbou en die landerye en die wingerde is aangelê...en nou moet hulle die gemeenskapslewe herbou. Wat moet die karakter en norme, die basis van die gemeenskap wees? Hulle vra dan dat Esra die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israeel opgeteken is, aan hulle voorhou. Dit is baie duidelik: hulle wil die gemeenskap heropbou op grond van die bevele van die Here aan Israel.

Esra doen wat gevra is, en hy het daaruit voorgelees op die plein voor die Waterpoort van ligdag af tot die middel van die dag ten aanhore van almal... die aandag van die hele gemeente was by die wetboek”(Neh. 8:4)...dit was ‘n baie lang diens...wat hulle met toewyding bygewoon het! Hulle is nie net daar nie, maar hulle gee aandag want dis vir hulle ‘n saak van groot erns.

Ons lees hier dat die gemeente verstaan het. Daar word nogal dikwels hier na die woord verstaan verwys. Die gemeente luister met aandag. Hulle hoor en begryp waaroor dit gaan. Hulle reageer dan ook daarop. “Die hele gemeente het gehuil by die aanhoor van die wet” (Neh. 8:10).

Mense huil om verskillende redes. Party uit blydskap, maar dit lyk nie of dit hier die geval was nie. Party huil omdat die oomblik te groot is, ander huil uit herhinnering aan die vorige geleenthede wat hulle lank gelede gehad het om na die wet van die Here te luister. Sommige huil omdat hulle skuldig gevoel het...

Nehemia en Esra sê dan: “Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm”(Neh.8:11). Die Leviete het die woorde herhaal. Die gemeente het geluister en toe gaan eet, lekkkernye uitgedeel en groot feesgevier (Neh. 8:13).  As ons byeenkomste tog maar so sou afloop! Dien die Here met blydskap.

Vir die eerste lesers het hierdie gedeelte gesê dat hulle nie daarna moet streef om ‘n politieke ryk daar te stel nie. Die riglyne van die gemeenskap van gelowiges wat hulle moes opbou, is te vinde in die wetboek van die Here. Die kernsamevatting daarvan is dat die Here met blydskap gedien moet word en dat die gelowiges dan versker kan wees dat die Here hulle sal beskerm.


Dit is ook die boodskap van hierdie gedeelte aan ons. Sal ons nie ‘n slag ons verdeeldheid laat staan en geestlike eenheid nastreef nie? Moenie julle heil soek in politieke of sosiale struktire nie. Luister met aandag na die betekenis van die boodskap van die Bybel. Dien die Here met blydskap in die wete dat Hy ons verlos het en ons as Sy kinders aangeneem het en ons sal beskerm!