POSTED BY Steven Sass on 18:12 under
31 Mei 2015 Patensie
Hoe lyk JY?
Handelinge 2:37-47

 Die enigste gepaste reaksie op die boodskap van Jesus is om jou te bekeer. Bekering beteken om te buig voor Jesus en jou lewe in te rig volgens die leer en voorbeeld van Jesus. Só dra jy vrug wat by die bekering pas. Op hierdie manier word God se koningskap 'n werklikheid in jou lewe.

Bekering is egter nie net 'n individuele proses nie...Volgens Handelinge is bekering ook 'n proses wat jou insluit by God se gemeente... Op die dag van Petrus se boodskap, die dag waarop die Heilige Gees uitgestort is, is omtrent drie duisend mense "by die getal van die gelowiges gevoeg." (41). God se werk in Christus, deur die krag van die Heilige Gees, skep altyd nuwe gemeenskap. Dit sluit mense altyd in by God se kerk. Bekering in die kragveld van die Gees is altyd om deel van 'n geloofsgemeenskap gemaak te word....

 In ons teks word die karaktertrekke van die geloofsgemeenskap wat die Heilige Gees deur bekering skep, op 'n besondere manier beskryf. Dis soos die gemeenskaplike vrug van bekering lyk. Die eerste Pinkstergemeente was volgens vers 42 volhardend toegewy aan:
· Die leer en onderrig van die apostels * Onderlinge verbondenheid aan mekaar
· Die gemeenskaplike maaltyd * Volhardende gebed Leer en onderrig van die apostels. Deur die uitstorting van die Heilige Gees het Hy aan die apostels die bevoegdheid gegee om in sy Naam herders en leraars van die gemeente te wees, bevoegdhede wat stelselmatig ook deur die Gees as gawes aan meer gelowiges as slegs die apostels gegee is (Ef. 4:11, 12).

Die geestelike versorging van die gemeente deur haar Hoof is dus vanaf die eerste dag van haar bestaan gewaarborg en daarmee saam is die gesagstruktuur vir die gemeenteliggaam ook vasgelê. Die Here se unieke gawes aan die liggaam van gelowiges is die herders wat direk teenoor Hom verantwoordelik is vir hulle taak om die liggaam van Christus, sy vrygekoopte kudde op te bou. Gehoorsaamheid aan die leer van die apostels is dus gehoorsaamheid aan Christus self. Dit is hierdie leer wat vir die gemeente van vandag in die Heilige Skrif opgeteken staan. Uiteindelik word die gehoorsaamheid van die gelowiges aan Christus gemeet aan hulle gehoorsaamheid aan die heilige Skrif (2 Tim. 3:14-17). Ons moet die Skrif se gesag onvoorwaardelik aanvaar.

 Onderlinge verbondenheid: (vers42) Die woord koinonia wat in die OAV met “gemeenskap” vertaal word, is meer as net “onderlinge verbondenheid” (NAV). Dit is ’n onderlinge verbondenheid wat praktiese uitlewing vind in gemeenskaplike verkeer, aanbidding, dienslewering asook bediening van mekaar tot opbou van die liggaam van Christus in liefde (Ef. 4:16b).

Hierdie Pinkstergelowiges het mekaar opreg liefgehad, dikwels onderling gesprek gevoer en voortdurend bymekaar gekom. Hulle het hulle nie as kluisenaars aan die samelewing onttrek nie, maar hulle gemeenskap ook in die openbare plekke beoefen, veral in die tempel waar hulle daaglikse samekoms plaasgevind het (2:46). Hierdie gemeenskapsbeoefening was hulle helderste getuienis van hoe die Goeie Herder verlore en verstrooide skape tot ’n goedgeordende en lewenskragtige kudde wat Hom getrou volg omskep. Hierdie gemeenskap met mekaar berus op ’n dieper gemeenskap, naamlik die van die gelowiges met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus (1 Joh. 1:3). Gemeenskaplike aanbiddingsgemeenskap met die Vader en sy Seun is die beste gemeenskap wat gelowiges met mekaar kan hê . Onderlinge verbondenheid is nie ‘n teorie nie. Dit is prakties waar gemeente God dien, mekaar dien, versorg en liefhet.

Die gemeenskaplike maaltyd Die eerste gemeente is gekenmerk deur die eet van die gemeenskaplike maaltyd (NAV) of te wel die breking van die brood (OAV). Dit is moeilik om te sê of ons hier te doen het met die nagmaalviering of met die gewone maaltye. Die breking van die brood was ’n handeling deur die hoof van die huis of feesviering wanneer hy die seën oor die gebruik van die voedsel gevra het. Jesus het dit waarskynlik gereeld by die maaltye met sy dissipels gedoen (sien Matt 26:26 en Luk 24:30). Dit is ook deur hierdie handeling dat die Emmausgangers Hom herken het. Die Verklarende Bybel verklaar dat dit lyk of die nagmaal en gewone etes in die vroeë kerk nie duidelik geskei is nie. Die daaglikse etes sou waarskynlik ook ’n ‘nagmaalsbetekenis’ gehad het; dit is met ander woorde beleef as ’n herinnering aan die tafelgemeenskap met Jesus. Die sakramentele aard van hierdie gemeenskap was uiteraard onmiskenbaar.

 Die gemeente het voortgegaan met die viering van die herinnering aan hulle Meester se dood, as mense wat nie skaam was vir hulle eie verhouding tot Hom en afhanklikheid van Hom, Christus die gekruisigde, nie. Hulle kon sy kruisdood nie vergeet nie, maar het hierdie herdenking daarvan in stand gehou as ’n volgehoue praktyk omdat dit die instelling van Christus was wat aan die kerk deurgegee moes word vir die eeue wat sou volg.  Die nagmaal was van die begin van die lewe van die kerk af die liturgiese handeling wat die verhouding tussen Jesus en sy liggaam bevestig. Elke keer as hulle saam eet onthou hulle wat Jesus gedoen het. Jesus het brood gebreek en uitgedeel. Dit is my liggaam, dit is my bloed.

Volhardende gebed Voor die uitstorting van die Heilige Gees (die gawe wat die Vader belowe het), op wie die apostels gewag het (Luk 24:49), het hulle saam met ander gelowiges eensgesind volhard in die gebed (Hand 1:14).

Gebed in hierdie sin is ’n bewuste wisselwerking van gedagte en woord tussen God en die bidders en die bidders onderling. Dit is die kommunikasiestelsel deur die liefde gedryf wat die ganse funksionering van die Hoof en sy liggaam (1 Kor. 12:12- 31; Ef 4:15, 16) rig en beheer. Na die uitstorting van die Heilige Gees het voortdurende gebed die lewenswyse en uitstaande kenmerk van die Geesvervulde jong kerk geword. So belangrik is hierdie bedrywigheid geag dat Paulus in die eerste sendbrief wat hy aan ’n nuutgestigte gemeente geskryf het die opdrag kon gee: “Bid sonder ophou!” (1 Tess 5:17). Op hierdie wyse is die gebedskultuur van die eerste oomblikke af deel van die lewe van die kerk. Gedring deur die liefde vir die Here volg die gelowiges Hom na – altyd in gebedsgemeenskap met Hom sonder wie hulle niks kan doen nie (Joh. 15:5). Kan nie gelowige wees sonder gebed nie. Gemeente kan nie funksioneer sonder gebed nie.

 Gesonde gemeente In die Bybel is die Handelingegemeente kort na die uitstorting van die Heilige Gees waarskynlik ’n goeie voorbeeld van ’n groep mense wat geestelik gesond geleef het. Hulle lewenstyl was so aantreklik dat mense graag soos hulle wou geleef het. Clinton McKinley het in ’n preek oor Handelinge 2 met die titel "Getting W.E.L.L." die Engelse woord WELL as ’n akroniem gebruik om vier kritiese eienskappe van die eerste gemeente in Handelinge 2 uit te spel:
 · W– Worshipping – hulle het gereeld saamgekom om te aanbid.
 · E – Evangelizing – hulle leefstyl was aantreklik – ander mense wou ook só leef.
· L – Learning – hulle het God se Woord met daaglikse dissipline verorber.
 · L – Loving – hulle was liefdevol en het regtig omgegee vir mekaar en ander mense.


Gesonde kerke wat groei, vertoon vandag nog steeds dieselfde eienskappe. Om geestelik fiks en gesond te wees, het ons in die lewe ook hierdie dissiplines nodig – ons moet saam aanbid, saam uitreik na mense, saam leer en saam liefhê. Dit beteken dat God se Gees ons gees moet beheer....en dis hoe jy moet lyk...
POSTED BY Steven Sass on 23:04 under
17 Mei 2015 Patensie
Markus 8:34-38
‘Om Jesus te volg”
As deel van ons tema van die kwartaal waar ons saam fokus op die werking van die Heilige Gees, het ons  laasweek gekyk na die verhaal van Markus2 waar Jesus die verlamde man genees het. Ons behandel ook hierdie selfde gedeelte met die Bybelstudies en ons wyksbyeemkomste van hierdie kwartaal, en met al hierdie geleenthede moet ek sê, doen ons nogal baie moeite met hierdie gedeelte, maar herhaling is dalk juis wat ons nodig het, en volgehoue herhaling is juis ook deel van die ‘taal’ van vanoggend se teks.

 Ons het gesien, en opnuut beleef hoedat Jesus dit ‘raakgesien het’ dat die vriende van die verlamde man nie omgedraai het by die huis toe hulle daar aangekom het met hul vriend op sy draagbaar, en hulle gesien het dat dit eintlik onmoontlik was om tot by Jesus te kom, asgevolg van die samedromming van ‘n skare mense by die ingang van die huis waar Jesus op daardie stadium was.

 Hulle het nie tou opgegooi nie en eeder aangehou planne maak, en het toe mos besluit dat hulle hulle vriend op die dak sal optel en op so ‘n manier deur die dak tot by Jesus te kom: ‘n ware storie van ‘aanhouer wen!’.  In hierdie gedeelte het ons iets ook beleef van wat dit dan van ons vra om ook op hierdie manier (van nie tou opgooi nie) na Jesus toe te gaan...

Dit vra van ons dat ons in die eerste plek sal erken en besef dat Jesus die antwoord op ons probleme is, en ons grootste probleem is dat ons verlos moet word van ons sondes. Dis primêr, ons geestelike gesondheid.... en  eers daarna...dalk enige ligaamlike of fisiese  probleem wat ons dalk sou gehad het.

Die tweede dinge wat ons besef het, is dat ons nie in die proses van om Jesus te nader, moet moedopgee as daar dinge oor ons pad kom wat ons wil verhinder om fisies by Jesus uit te kom nie: Dat die hele ding van ‘aanhouer wen’ ook ten diepste vir ons elkeen  sal moet waar wees.

In vanoggend se teksgedeelte kyk ons bietjie verder na wat dit dan nou behels om Jesus te volg in ons alledaagse bestaan. Dit gaan hier soos een kommentaar dit beskryf soos ‘n kinder-speletjie van “follow the leader” dat jy netsoos ‘n kind die leier sal volg en dus oral sal gaan waar Hy gegaan het sonder om te blik of te bloos of te aarsel.... want die leier was mos al daar, het dit gedoen en netso moet ek ook! Dat ek dus alles moet doen wat Jesus gedoen het!

Ja dit beteken veral ook dat ek my kruis gewillig sal moet opneem om Jesus te volg. En hiermee is daar geen verwysing na die gesegdes wat aan ons so bekend geword het soos ‘elke huis het sy kruis’ en waar ons dalk vir mekaar sal sê: ‘ ja jong, om met hom/haar getroud te wees is nie maklik nie en ek sal maar seker maar my kruis moet dra, of my kind is onhebbelik en het nie maniere nie en ek sal maar seker my kruis moet dra, nie. Dit is glad nie wat hierdie gedeelte wil sê nie, en dit het eintlik ‘n heel ander betekenis.

 Dit gaan hieroor dat jy sal afstand doen van jou eie (dikwels sondige begeertes), en jou eie behoeftes...dinge waaraan ons so baie aan krampagtig vaskleef, soos ons persoonlike gemak en gerief ens. Dat ons van hierdie ou lewe sal afstand doen, en ons kruis gewillig sal opneem ( die afsterwe van ons ou lewens sal aanmoedig), en in Jesus, ons leier,  se voetsproe sal volg.

 In Jesus se tyd is Hy veroordeel en het Hy nie as veroordeelde regtig ‘n keuse meer oorgehad toe Hy Sy kruis gedra het nie, aangesien Hy daarmee Homself volkome onderwerp het aan die Romeinse reg sodat Hy in ons elkeen se plek kon sterf. Maar nou kan ons elkeen absoluut vrywillig ons kruis opneem, en sterf aan ons ou sondige self en leef as volkome oorwinnaars in Hom!

Hoekom? Omdat Jesus dit van ons vereis.... sodat nie een van ons ons ooit weer kan roem op ons eie krag en ons eie insigte nie maar eerder onsself sal roem daarin dat ons besig is om vir Jesus te volg. Ons weet moes goed dat Jesus ons antwoord is en dat ons elkeen soos die verlamde man ook nodig het om by Jesus uit te kom. Daarom doen ons vrywilliglik afstand van ons eie lewens, en neem ‘n nuwe lewe aan wat in diens is van die Here.

Dis duidelik dat hierdie hele ding van ‘om Jesus te volg’ nie net ‘n eenmalige iets is wat maar net eenkeer gebeur, en dan is dit nou maar so tot in lengte van dae nie. Dis ‘n aanhoudende nimmereindige afsterwe van die oue en begin met die nuwe. Elke dag vir die res van ons lewens.

Alhoewel dit elkeen van ons se eie persoonlike keuse is om Jesus te volg, is dit ook nodig om te besef en te erken dat dit eintlik die leiding van die Heilige Gees is wat ons in hierdie besluitneming help en ons aanhou daartoe dring... Johannes 3:3 en 5 praat juis van die aanhoudende wedergeboorte. Ek het oor hierdie verhaal van Jesus en Nikodemus ook al in 2010 gepreek... kan iemand nog daardie preek onthou? As julle nie kan nie, is dit te verstane en daarom weereens versterk dit juis die punt: Ons eie insigte en selfs ook ons eie verstandelike vermoëns en –prosesse kan ons net tot op ‘n sekere en dikwels ook wankelrige punt bring, maar die Heilge Gees neem ons verder, neem ons tot by Jesus.... Ek en jy moet net luister, en volg!

Die uiteinde is dat ons dan ‘n wonderlike en ‘n doelgerigte lewe sal kan lei, wat sin maak, wat vreugde en vrede gee! As ons nie voluit hiervoor lewe nie, en ons daarvoor skaam of wegskram daarvoor moet ons ook weet dat die Here Jesus ook netso by Sy wederkoms vir ons sal skaam en vir ons sal wegskram (Markus 8:38).


Pak dus vanoggend saam met my jou ou lewe voor die Here uit... doen afstand van die dinge wat ‘n hindernis is tussen jou en die Here, en as dit dan nie moontlik is om hierdie dinge te vernietig nie, vermy dit dan eenvoudig soos wat die verlamde man se vriende die gedruis by die ingang na Jesus se huis vermy het, en sorg dat jy saam met my by Jesus uitkom en Hom vir die res van ons lewens sal volg, sal doen wat Hy van ons vra! En... sal gaan na waartoe Hy ons stuur!
POSTED BY Steven Sass on 05:36 under
10 Mei 2015 Patensie
Markus 2:1-12
Gód vergewe sondes; daarom vra ons dit van Hóm Heidelbergse Katagismus 51
Dit wat die Here Jesus ons in die “Onse Vader” leer vra, is alles dinge wat ons nie self kan doen of kan regkry nie. Dis dinge wat Gód doen. En al skakel Hy ons partykeer in by wat Hy doen, is dit ten diepste Hý wat dit doen  − dis Hý wat sorg dat Sy Naam geheilig word − dis Hý wat Sy koninkryk laat kom− dis Hý wat ons Sy wil laat doen − dis Hý wat sorg dat ons brood het om te eet − en natuurlik is dit net Hy wat ons ons skuld/sondes/oortredings kan vergewe – iets wat in ’n sekere sin die heel grootste is wat met enige mens kan gebeur: dat jou sondes vergewe word!

Dis waaroor hierdie preek gaan, oor die feit dat Gód sondes vergewe en ons dit dus van Hóm moet vra. Ons gaan kyk - wat vergewing van sondes is - wie dit gee - dat ons dit dus van Hom moet vra.
1.            VERGEWING VAN SONDES Dis seker nie nodig om vir jou te sê wat sondes is nie. Dis al die verkeerde wat ons in ons lewens gedoen het en gepraat het en gedink het en gewens het en al die goeie dade en woorde en gedagtes en wense wat ons in ons lewens nagelaat het om te doen. En as jy wil weet wat die verkeerde is en wat die goeie is, dan gaan lees jy die Bybel, want die Here het dit daarin vir ons laat opskryf.

Sondes verwoes ’n mens se lewe - dit vat jou van God af weg - dit bring jou in die skuld by Hom - dit maak dat jy Sy straf verdien - dit sleep jou hel toe! Wat is vergewing van sondes dan? 

 Dis wanneer die verkeerde wat jy gedoen het en die goeie wat jy nagelaat het om te doen, nie meer teen jou gehou word nie. Dis wanneer jou skuld by God gekanselleer word. Dis wanneer jy die straf wat jy verdien, kwytgeskeld word. Dis wanneer jou sondes só van jou af weggevat word, dat dit tussen jou en God is asof jy nooit enige sonde gehad of gedoen het nie, en Hy jou dus as Sy kind behandel en jou vir ewig die rykdom van Sy liefde laat geniet. Dis seker die grootste wat met enige mens kan gebeur: dat jou sondes vergewe word.

Die ergste wat ooit met ’n mens kan gebeur, is dat jy die ewige straf van God in die hel sal moet dra. Dit wat jou dáárvan verlos, en jou in die plek daarvan die ewige heerlikheid gaan laat geniet – die vergewing van sondes – is dan die grootste wat met ’n mens kan gebeur.

Met dit wat Jesus vir hierdie verlamde man gedoen het, wýs Hy dit ook vir ons. Hierdie verlamde word na Jesus toe gebring, hy kom na Jesus toe, om liggaamlik gesond gemaak te word. Wat al klaar iets wonderliks sou wees: - om verlam te wees, ’n parapleeg of ’n kwadrupleeg – en gesond te word! - om iemand te wees wat permanent van ander se hulp en sorg afhanklik is – en skielik is jy fisies sterk en gesond en kan jy ’n normale lewe lei, dis iets onbeskryflik groot!

Maar wat doen Jesus? Voordat Hy enige iets aan hierdie man se fisiese gestremdheid doen, vergewe Hy hom sy sondes, gee Hy vir hom dit wat meer is en groter en belangriker as liggaamlike gesondheid: die vergewing van sondes, met alles wat daarmee saamgaan,  dat jou saak met God reggemaak is, dat jy Sy kind geword het, dat jy die ewige lewe kry. En deur dit eerste te doen, wys die Here Jesus dat vergewing van sondes groter en belangriker as liggaamlike gesondheid is. Dis die grootste weldaad denkbaar! En daarmee wys die Here Jesus sommer ook baie duidelik wie Hy is, want wie kan sondes vergewe…?

2.            WIE SONDES VERGEWE: Jesus wys hiermee dat Hy God is, want net God kan sondes vergewe. Hý’s die Een wie se wil en wet deur sondes oortree word en daarom is Hý die Een wat die reg het om te besluit wat van die skuld en die straf wat hierdie oortredings verdien, word.

Mense kan verkondig dat God sondes vergewe. Een mens kan byvoorbeeld vir ’n ander mens sê: As jy jou sondes bely, dan sal God jou vergewe, want God self het dit so gesê. Maar een mens kan nie vir ’n ander mens die sondes wat daardie een teen God gedoen het, vergewe nie. Net God kan dit doen. Daarom dat hierdie skrifgeleerdes, wat nie geglo het dat Jesus God ook is nie, gereken het dat Hy Godslasterlik praat toe Hy vir hierdie mens Sy sondes vergewe. In hulle oë was Hy maar net ’n mens, wat nou maak asof Hy God ook is! Maar dan wýs Jesus vir hulle dat Hy God ook is. En Hy doen dit deur iets te doen wat net God kan doen en wat hulle met hulle eie oë kon sien gebeur. Dis net God wat bloot met die krag van Sy woorde ’n verlamde mens onmiddelik gesond kan maak en dadelik só sterk dat hy self sy bed kan optel en daarmee huis toe loop.

Niemand kon hierna hieraan twyfel nie, want hulle het met hulle eie oë gesien hoe Jesus met Goddelike mag en gesag optree. Vergewing van sondes gebeur nie sigbaar nie, en daarom sou skeptiese mense kon sê: - as Jesus sê dat sy sondes vergewe is – hoe weet ons of dit regtig gebeur het? Maar daarom wys Jesus dan Sy goddelike mag deur iets wat getoets kan word: - as jy vir ’n verlamde man sê: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe, dan gaan almal wat daar is, met hulle eie oë kan sien of dit gebeur of nie.

Hoe oortuig die Here Jesus mense dat Hy sondes kan vergewe? Deur vir hulle te wys dat Hy God is en dus sondes kan vergewe, want net God kan sondes vergewe. Die res van die Bybel bevestig dit dat Gód sondes vergewe. Dis God, in wie se hart daar liefde is, selfs vir mense wat teen Hom oortree het, en wat ’n verlossingsplan maak, en wat dit uitvoer – dink aan Christus aan die kruis, en wat ons hier binne oortuig dat dit vir ons ook bedoel is en met ons ook gebeur: dat ons sondes vergewe word – met álles wat dit inhou… Gód vergewe sondes.

3.            DAT ONS DIT DUS VAN HOM MOET VRA: Die Here Jesus leer ons nie om allerhande dinge te doen waarmee ons die skuld, wat ons met ons sondes gemaak het, self moet probeer betaal nie. Hy gee nie vir ons ’n program van aksie wat ons moet volg om die straf wat ons verdien, vry te spring en weer in God se goeie boekies te kom nie. Hy leer ons bid daarvoor. Hy leer ons om te glo dat God se liefde so groot is dat jy net kan gaan vra, en Hy vergewe – álles, ál jou sondes, volledig; daar bly níks oor waarvoor jy nog eendag op een of ander manier sal moet boet nie.

Die Here Jesus leer ons met die Onse Vader om gereeld – daagliks – vir die vergewing van ons sondes te vra, sodat ons elke dag bewus sal bly van hierdie genade wat aan ons bewys is en wat ons as mense wat elke dag sondig, glad nie verdien nie. Dis vir ons geestelike belewenis van die Here se liefde nodig dat ons elke dag die sondes wat ons doen, bely en vergewing daarvoor vra. Sal ons hierdie vergewing kry? Wel, dis belówe vir elke kind van God, vir elke gelowige. Dis wat ons vanoggend ook gelees het: … toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Seun, jou sondes is jou vergewe!

Is ons gelowiges – regtig gelowiges? As jy is, sal jou veranderde lewe wys dat dit so is. En een baie belangrike faset van ’n veranderde lewe is dat jy dit ook regkry om mense wat teen jóú oortree het, te vergewe.


As ons eerlik vir God, wat tot in ons diepste binneste kan kyk, kan sê: soos ons ook ons skuldenaars vergewe, dan ís ons veranderde mense, nuutgemaakte mense, egte gelowiges – mense vir wie die vergewing van sondes bedoel is en gegee is…