POSTED BY Steven Sass on 06:33 under

13 Januarie 2013 Patensie
Wat vra God van ons?
Miga 6:6-8
Dis nie net interessant nie, maar ook belangrik om daarop te let dat die Ou-Testamentiese profete in tye van krisis opgetree het. Dit is asof die Here juis in moeilike tye in die besonder uitreik na sy kinders. Dit is dan dat Hy duidelik met hulle praat. Dit is ook dan dat die mens so in die besonder ‘n behoefte het aan leiding en vertroosting. Dit is ook in krisistye dat mense so maklik moedeloos word en die spoor byster raak.

In die tyd van Miga het die Assiriese Ryk sterk na vore getree. Hulle het baie gou bekend geword as die wreedste mag wat nog ooit in die geskiedenis geheers het. Met ongekende wreedheid het hulle die een volk na die ander verower en by die groeiende Assiriese ryk ingelyf. Met vrees het die kleiner volke, waaronder Israel en Juda, die opmars van die Assiriërs waargeneem. Wanneer is ons aan die beurt? Hoe kan ons die wrede oorname vryspring? Hoe kan ons keer dat ons nie ook verswelg word en alles verloor nie?

Hierop het twee denkwyses na vore gekom. Aan die een kant was daar diegene wat ‘n anti-Assiriese beleid nagestreef het. Hulle het ‘n koalisie teen Assirië gevorm. Aan die ander kant was daar diegene wat ‘n pro-Assiriese beleid gepropageer het. Hulle het gedink dat hulle die wrede oorname kon vermy deur vrywillig deel van die Assiriese Ryk te word.

Die Noordryk, Israel, het eersgenoemde beleid gevolg. Juda, aan die suide weer die pro-Assiriese beleid gevolg. Dit het vir hulle an die logiese manier gelyk om die wreedheid van die vyand te ontlont. Waarmee hierdie leiers nie rekening gehou het nie, was die prys wat vir hierdie beleid betaal moes word nie. Dit sou onder andere inhou dat hulle al die gebruike van die Assiriërs moes volg. Dit het ook ingehou dat hulle die gode van die Assiriërs moes dien. Dit was ‘n groot prys om te betaal vir die politieke onafhanklikheid,of liewers vir gedeeltelike onafhanklikheid. Hulle moes in elkgeval swaar belastings aan die Assiriers betaal en het nie meer volle seggenskap oor hulle eie sake gehad nie.

Hierdie situasie het daartoe gelei dat die volk hulle geloof en vertroue verloor het. Hulle het nog die Here gedien, maar nie meer so met oorgawe nie. Hulle het begin wonder of dit nog die moeite werd is om die Here te dien. Wat help dit tog om die Here te dien, as dit nie goed gaan nie en hulle swaarkry en alles gaan verloor. Hulle het nie meer hoop vir die toekoms en veral vir die toekoms van hulle kinders gehad nie. Dit lei daartoe dat hulle godsdiens oppervlakkig geword het. Hulle het nog tempel toe gegaan, hulle het nog gebid, maar dit het ‘n dooie vormgodsdiens geword. Hulle hart was nie meer in die aanbidding van die Here nie.

Dit is teen hierdie agtergrond dat ons die betrokke gedeelte moet lees en verstaan. Dit is nogal ‘n angtergrond waarmee ons kan identifiseer. Ons kry ook swaar. Daar is ook in ons tyd veral twee denkrigtings oor die politieke en ekonomiese situasie. Maar belangriker nog, in ons tyd is daar ook ‘n hoë prys wat betaal word. Mense word al meer oppervlakkig in hulle godsdiensbeoefening. Godsdiens word al meer ‘n vormgodsdiens en ‘n formaliteit. Die hart is so dikwels nie meer daarin nie. Toewyding en toegewydheid ontbreek. Mense word moedeloos en vra: is dit die moeite werd om die Here te dien?

In Miga 6 lees ons van die regsaak wat die Here teen Sy volk het. Die berge word opgeroep om getuies te wees in die saak wat die Here teen Sy volk het. Die berge word geroep omdat die berge die simbool is van vastigheid en betroubaarheid. Die berge is die fondamente waarop die aarde rus. Dit is groot en magtig, standvastig en onveranderlik. Die saak van die Here teen Sy volk staan baie vas, vas soos die berge.

Wat is die aanklag van die Here? Dit word by wyse van twee vrae aangetoon: “My volk, wat het Ek jou aangedoen? Hoe het Ek jou moeg gemaak?” (Miga 6:3). Die klag teen die volk is dus dat die volk moeg is vir die Here op grond van iets wat Hy hulle sou aangedoen het. Die verhouding tussen die volk en die Here het uitgerafel. Hulle was moeg vir die verhouding waarin hulle tot Hom gestaan het. Hierdie verhouding het niks meer vir hulle beteken nie. Dit het vir hulle nie meer sin gemaak nie. Hulle wou nie meer in hierdie verhouding staan nie en wou nie meer hiermee voortgaan nie. Die verhouding is verby!

Dit laat mens nogal dink aan die baie kere dat mense deesdae hierdie woorde hoor oor veral huweliksverhoudings wat op die roste beland. Ek is moeg vir hierde verhouding. Ek kan nie meer in hierdie verhouding leef nie. Die verhouding is dood. Ek moet hier uit. So het Israel destyds oor die verhouding met die Here gedink. So het baie jare later die gemeente van Laodicia gedink. Toe het hulle lou geword, Hulle wou ook nie die verhouding formeel beëindig nie, maar hulle was nie meer hart en siel in die verhouding nie. Is dit nie wat vandag nog gebeur nie? Ons gaan nog aan, maar dis oppervlakkig. Ons kom kerk toe omdat dit die ordentlike ding is om te doen, maar gaan so gou as moontlik weg en vergeet alles. Ons is nie meer hart en siel besig om in ‘n lewende verhouding met die lewende Here te leef nie. In ons daaglikse lewe en alles wat om ons gebeur, sien ons dit mos. Hoe kan ‘n volk wat hart en siel aan die Here behoort en in ‘n lewende verhouding met Hom leef, leef soos ons leef?

Die Here gaan dan voort deur te wys op wat Hy vir die volk gedoen het. Hulle beskuldig Hom mos dat Hy niks doen nie, of dat Hy verkeerd optree en daarom hou die verhouding niks in vir hulle nie. Hy wys hulle daarop dat Hy hulle uit Egipte verlos het, Hy het hulle vrygemaak van slawebande, ‘n einde gemaak aan die onderdrukking wat hulle in Egipte gehad het, Hy het hulle telkens die oorwinning laat smaak in al wat ‘n veldslag was selfs toe hulle gedink het dat dit onmoontlik was. Hy red, Hy gee lewensruimte. Is dit nie wat die Here ook aan ons gedoen het nie? Ja Hy het ons mos ook verlos van ons sonde, dit het Hom Sy Seun gekos. Hy het alles nuut kom maak vir ons. Die Here het ons ook kom beskerm. Ons leef deur Sy genade. Dit het Hy vir ons kom doen.

Die vraag is: Wat vra die Here vir ons? Vra die Here offers? Nee. Alles behoort tog aan Hom en Hy kan goed klaarkom sonder enigiets van ons af. Hy het nie iets wat ons het nodig nie. Hy is mos nie behoefftig nie.  Wat vra God dan? In Miga 6:8 word drie dinge genoem: “Hy vra dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys en dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God”. Dit is wat God van ons vra. Dit is hoe Hy wil dat ons sal leef as antwoord wat Hy vir ons gedoen het. Dit is wat ons moet doen uit liefde en as aanduiding van ons verhouding met Hom. As ons dit doen, dan sal dit blyk dat Hy ons verlos en beskerm het en aan ons elkeen lewensruimte gegee het. As ons so leef, sal dit duidelik wees dat ons in ‘n lewende verhouding met die lewende Here leef in die konkrete werklikheid van elke dag.

Vra God te veel? Nee, sekerlik nie. Hy vra dat ons eerlik en regverdig sal leef. Dat ons liefde en trou sal betoon, dat ons bedagsaam sal wees. Kan ander sien dat die Here jou verlos het? Jou beskerm en aan jou lewensruimte gegee het, deurdat hulle reg, liefde, trou en bedagsaamheid in ons sien?