POSTED BY Steven Sass on 06:31 under
1 Desember 2013 Patensie
Lukas 2:8-20
 Ons gaan voort met ons tema van  VREUGDE. Dis maklik om te dink hoekom. Die wagtyd is nou verby halfpad, en die opgewondenheid oor die naderende Kersfees begin groei. Maar  dit is ’n vreemde vreugde; ’n vreugde te midde van, en ten spyte van, die drama, die spanning, die seer en die afgematheid van die alledaagse lewe.
                      
Daarom het ons vanoggend die verhaal oor die engele en die herders gelees, want dis ook ’n vreemde verhaal, so totaal anders as wat ’n mens sou verwag.

1.
Dink ’n bietjie vir jou in in wat daar gebeur het. God se Seun word gebore, en Hy wil dit bekend maak, die Seun van God is gebore. Vir wie gaan Hy dit vertel? Wie is die mense wat dit heel eerste moet hoor?

Dis nie toevallig dat dit die herders was nie. God doen nie dinge sommer net nie. Hy kies om dit heel eerste aan die herders te vertel om vir ons daarmee te sê wie is die soort mense by wie Hy tuis is, wat Hy sy vriende noem, vir wie Hy wil uitsonder as Hy die geboorte van sy Seun bekend wil maak.

Ons sal seker heelwat kan maak van die feit dat hulle eenvoudige mense was, en dat God nie beïndruk word deur glans en status en posisie en aansien nie. Dit is hoekom ons Jesus later dikwels in die geselskap van die nederiges en die uitgeworpenes van die samelewing sien. Hy het gekom vir hulle wat nie status het nie.

Maar ek dink daar lê meer in. Skaapwagters was mense wat geweet het wat dit beteken om afhanklik van God te leef. Jesus het self by geleentheid gesê: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Dis by húlle waar Hy woning maak. Dís die gees waarin ons die Kerstyd moet vier: in diepe afhanklikheid van God.

2.
Die tweede ding wat my in dié gedeelte opgeval het, is die feit dat daar soveel engele betrokke was by die aankondiging.

 Ek stel my voor God het die engele bymekaargeroep en gevra wie wil saam met Gabriël gaan om die boodskap van sy Seun se geboorte te gaan aankondig. En die engele het almal hand opgesteek. Hulle wou almal by wees, deel wees van hierdie grootse gebeurtenis.

Toe ek dit lees, het ek net weer besef hoe geneig ons is om die evangelie te verskraal tot ’n boodskap vir onsself. Ja, natuurlik is dit ’n boodskap vir ons elkeen persoonlik. Natuurlik het Jesus gekom om jou te red, en my. Natuurlik gaan dit om die mense in wie Hy ’n welbehae het. Maar dit gaan nié net om ons nie.

God se skepping is baie meer as net ons, en hier sien ons so ’n ietsie daarvan. As Jesus gebore word, is dit nie net iets waaroor die mense kan bly wees nie. Dis ook ’n gebeurtenis waaroor die engele bly is. Hulle is óók geraak deur die stukkendheid van die wêreld. Hulle sien óók uit na die verlossing, wanneer God finaal die wêreld vir Hom terugwen. Dis nie net ons wat ly onder die sondeval nie. Die ganse geskape werklikheid ly daaronder.


Paulus skryf so ’n ietsie daarvan in Romeine 8 waar hy sê die hele skepping sug saam met ons in verwagting op die openbaarmaking van die heerlikheid van God. Die hele skepping! Ons is in hierdie dae baie bewus daarvan hoe die natuur al meer ly onder die mens se vergrype. Lukas herinner ons daaraan dat die engele ook geraak word.

Onthou, Christus is nie net ons Verlosser nie. Hy is die Eerste van die hele skepping, en dit sluit die engele in. Gaan lees gerus Paulus se pragtige loflied op die heerlikheid van die Seun in Kol 1:15-20.

Dis die ander ding wat ek dink ons hier moet raaksien: die betekenis van Jesus se koms na die wêreld is baie wyer as ons eie ou klein wêreldjie. Dit het betekenis vir die ganse skepping. Die Bybel wil ons visie op God hiermee so ’n bietjie wyer rek. Hoe sê Joh 3:16? So lief het God die wêreld gehad....

3.
Daar is ’n derde saak wat hierdie gedeelte wat ons nou gelees het, vir ons uitlig. Hierdie gedeelte praat oor die vreugde en verwondering onder die skaapwagters; vers 20 sê hulle het teruggegaan van die stal af terwyl hulle God loof en prys. En Lukas herinner ons aan die opgewondenheid in die hemel; dat die vreugde baie wyer is as wat ons kan verstaan. En as ons nie iewers in hierdie Kerstyd hierdie oorstelpende vreugde in God beleef nie, sal dit baie sleg wees.

Maar dis nie die enigste reaksie wat pas by gelowiges nie. Maria wys vir ons nog ’n weg. Sy het stilweg hierdie dinge in haar hart bewaar en dikwels daaroor nagedink (vers 19). Kerstyd gaan nie net oor vreugde en vrolikheid nie. Kersfees gaan ook oor stil word, nadink, bid. Want net as ons Kersfees só ingaan, sal die vreugde van Jesus se koms na ons toe langer hou as die Kersversierings in ons huise.

Dis mos wat Psalm 1 ons leer oor ’n vrugbare lewe voor God, nie waar nie? Hy sê die mense wat soos bome is wat langs waterstrome geplant is en vrugte dra op die regte tyd, is die mense wat vreugde vind in die woord van die Here en dit dag en nag oordink (Ps 1:2). Soos Maria.


Lukas wil ons met hierdie verhaal daaraan herinner dat God nie soos ons is nie. Hy word nie beïndruk deur status of geld of posisie nie. ’n Eenvoudige herder is vir Hom ook belangrik. Mense wat in afhanklikheid van Hom leef. Jý is vir Hom belangrik.
Ons moet ook raaksien dat Jesus se geboorte in Betlehem baie groter betekenis het as wat ons besef. Daarom strek die vreugde van sy geboorte tot in die hemel self.

Kom dan, kom ons volg Maria se voorbeeld. Kom ons gebruik hierdie tyd van afskaling van ons programme om meer tyd te maak om ons in God te verbly en na te dink oor sy goedheid oor ons.