POSTED BY Steven Sass on 15:53 under

Pinksterreeks Maandagaand 13 Mei 2013 Patensie
Hoe weet ek verseker dat dit die Here/ die Heilige Gees is wat met my praat?

Vanaand se fokus is om opnuut te besef dat ons elke dag op ons reis deur die lewe besluite moet neem, waarvoor ons leiding nodig het. Hierdie leiding kan baie keer bedenklik wees, en vanaand wil ons dus saam na die Woord gaan kyk na die betroubare leiding van die Heilige Gees in ‘n gelowige se lewe...

 Nou hoekom noem ek dat leiding bedenklik kan wees, ek het die beeld van iemand wat geblindoek is, en wat deur ‘n voorafopgestelde “opstical course” gelei moet word. Hierdie roete is dan rye eiers wat uitgepak word waartussen die persoon dan  moet beweeg. Hy het dus leiding nodig van iemand wat hom aan die hand sal vat en deur die eiers moet lei sonder dat die een wat geblindoek is op ‘n eier sal trap...
Alles hang dus af van die een wat die leiding gee, want hy kan een van twee bedoelings hê met die leidingsproses... wie weet dalk wil hy juis hê dat die een wat geblindoek word op ‘n eier moet trap....maar hoe kan mens seker wees?

 Die Heilige Gees se werking is natuurlik nie so “verdag” soos die een wat die geblindoekte persoon moet lei nie.Dis eintlik totaal anders omdat die Heilige Gees se intensies is om van God te getuig en dus ten diepste God se goeie wil altyd op die hart het.

 Maar tog ervaar baie van ons die leiding van die Heilige Gees as verdag... omdat dit vir ons totaal vreemd is.

Ek wil dit amper vergelyk met ‘n man wat gewoond geraak het daaraan om baie met sy vrou rusie te maak, hy is gewoond ook daaraan om alle argumente te wen, aangesien sy vrou nie die moed het om veel terug te praat nie....Natuurlik is hy dan totaal uit die veld geslaan as sy wel een dag opstaan teen hom en haar keel vir ‘n slag goed skoonmaak. Netso is dit dan seker ook so met ons, wat dalk gewoond geraak het oor jare om met God te praat, met Hom te baklei en te redeneer, Hom te ignoreer, Hom te wantrou dalk en nou hoor ons en verstaan ons dalk vir die eerste keer in ons lewens dat Hy terugpraat met ons!

Onthou ons beeld van die skip wat in die donker hawe invaar en waarvan die kaptein moet kyk dat 4 ligte reguit in lyn is sodat hy weet dat hy reg op koers is.... Vanaand kyk ons na die ander twee “ligte” wat vir ons nodig is om die stem van die Heilige Gees te vertrou.
Omstandighede
‘n Volgende lig wat ons kan help, is die omstandighede waarin ons verkeer. Kom ons kyk na ‘n Bybelse voorbeeld van hoe omstandighede deur die Heilige Gees gebruik is om mense te lei. Ons lees saam uit Handelinge 1:8 en 8:1-4. Die volgende vraag kom by my op na ons hierdie gedeelte gelees het: “Wat sien julle in hierdie verse oor die leiding van die Heilige Gees deur omstandighede?”

Dit was deel van God se wil dat die evangelie verder uitgedra moes word as net in Jerusalem. Nou gebruik die Gees omstandighede, die vervolging in Jerusalem, om dit te bereik. Deur hierdie omstandighede gebeur dit dan dat die gelowiges gelei word (amper half geforseer word) om die evangelie van Jerusalem af verder uit te dra. Netso gebruik God vandag nog omstandighede (bv. Oop deure en toe deure) om ons deur Sy Gees te lei. Ons sal egter ook altyd hierdie leiding (wat ons in omstandighede sien) moet toets aan ons “hooflig”, dit wat ons in die Bybel lees en dit wat ons by ons medegelowiges hoor.

Gesonde verstand
Dink julle die Gees kan ook ons gesonde verstand gebruik wanneer Hy ons wil lei? Hoekom? Kom ons lees Romeine 12:1-2.

Die Heilige Gees verander ons denke, Hy laat ons anders dink oor dinge en gebeurtenisse. Hy gebruik dus verseker ook ons gesonde verstand om ons te lei om Sy wil te wete te kom.

Die bekende George Miller, die stigter van een van Engeland se grootste weeshuise, het gepraat van die sogenaamde belansstaatmetode. Wanneer hy in ‘n saak leiding gesoek het, het hy dit in gebed aan die Here opgedra. Dan het hy kalm en bedaard ‘n skoon vel papier geneem en ‘n lyn van bo na onder getrek. Aan die een kant van die lyn het hy al die faktore aangeteken waaraan hy kon dink wat gunstig was vir die saak wat hy oorweeg het. Aan die ander kant van die lyn  het hy die ongunstige faktore neergeskryf. Dit het hy die balansstaat genoem, en oor hierdie balansstaat  het hy verskeie dae gebid en nagedink terwyl hy kort-kort, waar nodig, iets bygevoeg of weggeneem het. Die gevolg was dat die Here hom mettertyd tot ‘n duidelike oortuiging gelei en gemoedsrus gegee het oor wat hy moes doen. Ons sal egter duidelik weer moet sê dat hierdie metode van onderskeiding altyd getoets moet word aan die hooflig, die Bybel, medegelowiges, en omstandighede.
Samevatting
Die Heilige Gees lei ons dus deur wat ons lees in die Bybel, deur wat ons hoor by medegelowiges, deur wat ons sien in ons omstandighede en deur wat ons dink deur ons gesonde verstand te gebruik. Wonderlik! Die Gees van God gebruik AL jou sintuie om jou te lei! Hoekom? Omdat God mos in jou is deur Sy Gees wat besit van jou hele liggaam en siel neem!

Onthou dat ons altyd moet sorg dat hierdie ander bronne van leiding ooreenstem met wat die Woord van ons vra. Dit mag en kan nooit in stryd daarmee wees nie.

Die Bybel bly altyd ons hooflig. Die ander hoofligte is medegelowiges, omstandighede en gesonde verstand. Wanneer hierdie laaste drie “ligte” in lyn is met ons hooflig, dit wat ons in die Bybel lees, vaar ons nou veilig binne die wil van God. Maar as een van hierdie ander “ligte” nie in lyn met die Bybel lê nie, moet ons baie versigtig wees. Dan is ons nie noodwendig met die leiding van die Gees meer besig nie. Dit kan wees dat ons dan eerder besig is om te luister na ons eie (dikwels sondige en selfsugtige begeertes).

By ons soeke na die leiding van die Heilige Gees in al hierdie dinge, sal ons dit altyd biddend moet doen. Die Here belowe om die wysheid waarna ons soek vir ons in antwoord op ons gebed te gee....Jakobus 1:5
0 Kommentaar: so far: