POSTED BY Steven Sass on 06:32 under
2 Junie 2013 Patensie
Leef tog ‘n bietjie meer beskeie
Lukas 12:13-21
Gierigheid en hebsug is sonde. Ons leef in ‘n meterialistiese en tot ‘n mate in ‘n hebsugtige wêreld. Baie mense se lewens word oorheers  deur die smag na rykdom. Miskien neem hebsug in ons tyd groter afmetings aan as tevore. Oral word besittings voorgehou as dit wat die lewe die moeite werd maak. Dis asof baie mense  ook daartoe neig om ‘n al te groot waarde aan materiële besittings toe te ken. Dikwels word mense beoordeel aan die hand van hulle besittings.

In hierdie gedeelte waarsku Jesus teen hebsug: “Pasop en wees op julle hoede vir gierigheid, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.”

Soos met alle gedeeltes in die Bybel, is dit nodig om ook hierdie woorde in konteks te verstaan. Die gedeelte kom uit die Evangelie van Lukas. Daar kan aanvaar word dat die skrywer van hierdie Evangelie ‘n medikus was. Dit is dan geen wonder dat hy ‘n besondere belangstelling toon in mense wat siek was en dat ons in hierdie Evangelie meer lees van genesings as in enige van die ander Evangelies nie. Verder toon hy besondere empatie met die mense wat op die kantlyn gestaan het en dalk deur die gemeenskap eenkant toe gestoot en geminag is, soos vroue, weduwees en weeskinders, slawe en so aan.

 Die Evangelie van Lukas is in die eerste plek gerig aan Christene uit die Romeinse Ryk wat nie tradisioneel tot die volk van die Here behoort het nie. Daarom word besondere klem gelê op die feit dat Jesus vir alle mense gekom het en dat Sy verlossing vir almal, ongeag hulle herkoms is. Dit is verder so dat die Christene vir wie Lukas sy Evangelie skryf, nie baie welvarend was nie. Trouens, hulle was arm en het geworstel om kop bo water te hou. Tog was daar ook mense in die kerk met wie dit beter gegaan het en soos dit nou maar eenmaal gaan, het daar spanning in die kerk ontstaan tussen rykes en die armes. Hierby moet ons onthou dat daar ‘n siening was dat rykdom ‘n teken van die seën van die Here was, en dat armoede en teenspeod aanduidings van die straf van die Here was.  In die Lukas Evangelie lees ons ook meer oor geluk, dankbaarheid en lofprysing as in enige van die ander Evangelies.

In Lukas 12 lees ons van ‘n man wat in verband met sy erfenis deur sy gierige broer bedreig is. Volgens die gebruike van daardie tyd kon hy ‘n skrifgeleerde inroep om as regter of boedelberedder op te tree. Noudat hy van Jesus gehoor het, wend die man hom tot Jesus en lê hy sy probleem voor Jesus. Jesus weier egter om as regter of boedelberederaar in die saak op te tree. Maar Hy rig ‘n baie duidelike waarskuwing waardeur beide die broers tot selfondersoek opgeroep word en opgeroep word om die saak reg te stel.

Jesus waarsku teen gierigheid. Dit doen Hy op dubbelsinnige wyse: Pas op vir gierigheid: wees op julle hoede vir hebsug. Daarmee sê Jesus dat hebsug ‘n gevaar is wat as’tware steeds latent aanwesig is; iets is waarvoor die mens moet oppas en op sy hoede wees. Want die mens kan so maklik in hebsug verval en daarin verstrengel raak. Hebsug is vir die mens soos ‘n spinnerak vir ‘n insek, as hy nie oppas en op sy hoede is nie, word hy vasgevang en in die geworstel en geskarrel word hy al hoe vaster vasgevang totdat hy sterwe.

Jesus motiveer Sy waarskuwing as Hy sê: want iemand se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie. Ware rykdom kan nie verkry word deur die bymekaarmaak van aardse skatte en besittings en rykdom nie. Wie in die waan leef dat dit die geval is, het nog nooit ware rykdom leer ken nie. Om dit te illustreer het Jesus ‘n gelykenis vertel, die verhaal van ‘n man wie se grond goeie oeste opgelewer het. Op grond hiervan besluit die man om sy ou skure af te breek en groter skure te bou.

Dit lyk op die oog af na goeie voorsorg. Maar ons vind in hierdie man geen dankbaarheid teenoor die Here nie. Hy bely nie dankbaar dat die Here reën en vrugbaarheid geskenk het nie. Nee, hy sien die goeie oes en inkomste as die gevolg van sy eie prestasie, en daarom vind ons by hom ook geen mededeelsaamheid nie. Hy is nie bereid om ook iets te gee vir hulle wat nie het nie...by hom vind ons slegs selfverheffing en selfsugtigheid. Die motief vir sy daad is dan ook selfgenot, want hy sê vir homself: mens, jy het baie goed weggesit vir baie jare, hou op met werk: eet, drink en leef lekker. Hierdie man wou ryk wees en het daarin geslaag, sodat hy dit in sy selfsug kon geniet.

Teenoor hierdie selfgesprek staan die spreke van God. Daardeur kom ‘n enorme fout in hierdie man se redenasie na vore. Want God sê: Jou dwaas, vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het? Juis Hy met wie geen rekening gehou is nie, heers oor alles, ook oor die lewe van die dwaas ryk man. Hy was ‘n dwaas, nie omdat hy nie genoeg verstand het nie, maar omdat hy sy verstand verkeerd gebruik het. Hy kón boer, hy kón skure bou, hy kón geld maak. Maar hy het God vergeet. Dit laat mens dink aan die Woord van Openbaring 3:17: “Julle sê ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie, en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal.”

Dwaas is die mens wat reken dat die rykdom van die lewe geleë is in die materiële besittings. Daarom sluit Jesus Sy gelykenis af met die ernstige woorde: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie. Ware rykdom is geleë in rykdom by God.

Wat beteken dit om ryk by God te wees? Dit beteken om te deel in die rykdom van God. En God is ryk. Die ganse skepping is Sy ryk, die son die maan en die sterre behoort aan hom, die hele aarde die plante en al die diere behoort alles aan Hom. Dit is Syne en Hy het dit alles gemaak... en nou leen Hy hierdie koninkryk aan die mens sodat die mens in die koninkryk van God sy lewensruimte kan vind. Behoort ons dan nie veel meer rondom ons te kyk en die Here te dank vir die skepping en die natuur nie? Is ons nie ryklik bevoorreg om in hierdie wonderlike heelal te kan leef nie?

God se rykdom omvat veel meer as net die skepping en die heelal. Want God is ook in Sy wese ryk, want Hy is die liefdevolle, die genadige, die barmhartige, die Een wat vergewe en verlos; wat help en gee. Hy is die Lig en die wysheid en die Lewe; Hy is die liefde! Hoe wonderlik bevoorreg is ons nie om in ‘n lewende verhouding met die lewende Here te kan leef nie. Ons verhouding met ons hemelse vader maak ons oneindig ryk...ongeag van wat ons besit...

Om in God ryk te wees beteken om te deel in die rykdom van God. Maar hoe? Van nature is die mens op homself en sy eie behoeftes gerig, soos hierdie ryk man. Maar Jesus het gekom om ons te verlos en te herskep. En deur Jesus word ons deur die Vader aangeneem as Sy kinders. So word ons erfgename van Sy koninkryk. In Jesus begryp ons ons plek in hierdie wêreld van God. Maar Jesus herskep ook die beeld van God in ons as Hy ons Sy liefde en Sy genade skenk, sodat ons ook kan vergewe, ook kan help en ook kan gee...


En dan as ons sterf, sal gesê kan word dat die belangrikste vir ons nie was om vir onsself ‘n koninkryk te bou nie, maar om betrokke te wees in die koninkryk van God. Nie om ons te verheug in eie rykdom of om ons aardse plesier te kon geniet nie. Maar om ons te verheug in die onbegryplike rykdom van God’s genade....
0 Kommentaar: so far: