POSTED BY Steven Sass on 15:19 under

Pinksterreeks 2013 Patensie Woensdagaand
Die Gees in ons, vloei uit ons Skrif: Handelinge 2, Johannes
Skriflesing vir ons tema: Joh 7:37-39;14:16-17; Gen 11:1-9; Rom 8:19
Heidelbergse Kategismus Sondag 20. Wat glo jy van die Heilige Gees? Dat Hy ook aan my (ons) gegee is, sodat Hy my (ons) deur ’n ware geloof laat deel kry aan Christus en al sy weldade, my (ons) troos en ewig by my (ons) bly. Sondag 21 En van die gemeenskap van die gelowiges? Dat elkeen verplig is om sy (of haar)gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.

• Die Gees vul ons onverdiend met oorvloed …Dit is Pinksterfees. Ons is weer saam vanaand  om God te loof vir die uitstorting van die Heilige Gees. Ja, die Gees van Christus wat van die Vader uitgaan, is hier, by ons,
in ons, tussen ons, om ons te leer van Jesus en ons saam te lei op die regte pad.


Op die vooraand van sy dood het Jesus met sy dissipels oor die Gees se koms
gepraat. Julle moenie ontsteld wees nie (Joh 14:1), my geliefde dissipels (13:1).
Ja, julle wat pas onder mekaar uit eersug en afguns gestry het oor belangrike
posisies (Luk 22), met my verraaier, Judas, tussen julle (Joh 13:21), met die
toekomstige kerkleier Petrus onder julle wat my binnekort eers drie maal sal
verloën (Joh.13:38), ja julle wat verslae en onseker is oor my optrede (Joh.13:22), met Tomas die ongelowige twyfelaar by julle (Joh.14:5, 20:24, 25). Moenie bekommerdwees nie. Ek betaal nie in eie munt terug nie. Ek vergeld nie oog vir oog en tandvir tand nie. Ek is oneindig lief vir julle almal (Joh13:1). Ek sorg immers vir lewe inoorvloed (Joh.10:10).
Daarom, as ek binnekort weggaan, sal julle nie weeskinders word nie (Joh.14:18),troos Jesus sy dissipels.

Hy beloof hulle Iemand in sy plek. Hy sou sy Vader bid om die Gees van die waarheid te stuur, wat ewig by hulle sou bly, in hulle (Joh.14:16,17), vir altyd.

Jesus het geweet dat sy voorspelling van vroeër, met sy weggaan en die koms van die Heilige Gees, vir ons almal wat in Hom glo, waar sou word. “Met die een wat in my glo”, het Jesus geleer, “is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy [daardie mens] se binneste vloei” (Joh.7:38). Hy het onder andere na Jes 58:11 verwys: “Dan sal Ek, die Here, julle die hele tyd lei, in julle behoeftes voorsien en julle krag gee. Julle sal wees soos ’n tuin wat volop water kry, soos ’n fontein wat nooit opdroog nie”.

• Vol van die Gees om vir ander tot seën te wees. Ja, só sal dit wees as die Gees van God die dissipels en ook vir ons herinner aan wat Jesus gesê het (Joh.14:26). Die Gees sal ons laat onthou om mekaar lief te hê.
Die Gees leer ons om mekaar se voete te was – soos Jesus – om waarlik een te
wees, om met nederigheid te leef, om vreugde te versprei, om vrede na te jaag,
om geduld te beoefen met mekaar, om te alle tye vriendelik te wees met ander, om goedhartig te wees teenoor alle mense, om getrou te bly aan Jesus, om selfverloënend te leef, nederig en selfbeheersd (Gal 5:22).


Die Gees leer ons hierdie dinge sodat ek en jy die sout en die lig vir die wêreld kan wees, wat só werk dat ons Vader in die hemel verheerlik word (Matt 5:16).Die Gees herskep ons, die hele gemeente saam, om soos Jesus self te word, sodat ons soos Hy altyd tot seën vir ander mense sal wees, goeie nuus vir ander, ingestel op die verheerliking van ons hemelse Vader.


Ons ontvang nie die oorvloed van genadegawes van Jesus om vir onsself te hou nie. Ons skuld byvoorbeeld die liefde vir mekaar (Joh 13:34; 15:12, 17) en vir
ander (Rom 13:8). Ons eenheid het ’n doel buite onsself. Dit is nodig sodat die wêreld kan glo (Joh 17).

Jesus sê ons is baie gelukkig, geseënd, salig as ons diensgerig is, mekaar se voete was, want daarmee eer ons Hom (Joh 13). Liefde, eenheid en diensgerigtheid is die kenmerke van ’n gemeenskap wat innig vir mekaar omgee, juis omdat hulle God verheerlik. En dít is die beste nuus vir die gemeenskap rondom ons.

Ons lees in Hand 2 dat nadat die Heilige Gees uitgestort is, al die gelowiges eensgesind en mededeelsaam was, mekaar se behoeftes versorg, saam geeët en gebid het, en dat die hele volk hulle goedgesind was.


• Vol van die Gees om vir die hele skepping vreugde te bring. Met die koms van God se Gees by en in ons word ons genadiglik bewaar van onsself, teen die soort sondige hoogmoed, arrogansie, trots en selfgenoegsaamheid waarmee mense hulleself dikwels teen God opstel. Die Gees
bevry ons ook van ongehoorsaamheid om, nes Babel se toringbouers in Gen 11, in een vlakte saam te koek met een taal, een stad, en een toring. En dit terwyl die Here bedoel het dat ons moes vermeerder, die hele aarde bewoon en dit bewerk, as sy opdrag (Gen 1:28) en tot sy verheerliking. Met die koms van die Gees op Pinkster word ons sensitief vir God se bedoeling met die hele aarde. Ja, met almal en alles daarop. Dis immers sy skepping. Hy wou dat die aarde gevul sou wees met ’n ryke verskeidenheid plante, diere en mense wat in harmonie saamleef. Hy het alles goed gemaak.

Sondige, selfgerigte mense wat torings bou vir hulle eie naam, is egter nie sensitief vir die behoeftes van die aarde nie. Hulle bou groot stede en ontwikkel in ons tyd tegnologiese wonderwerke. Ons moderne wêreld beleef egter vandag oorbevolking in ons stede, en ons misbruik die aarde se natuurlike hulpbronne soos nog nooit. En tog is daar hoop vir die Here se skepping!

 Sy Heilige Gees in ons laat ons soos God oor die skepping dink. Die aarde se beste versorging word nou ook ons wens en droom. Geesvervuld soek ons saam na die aarde se welsyn. Ons wil nie meer mors en besoedel nie. Ons wil die natuur beskerm en vertroetel. Ons wil die effek van ons misbruike teen die skepping teenwerk, want die Skepper Gees, woon nou in ons!

 Nog meer, ons wil as ’t ware teenoor alle mense uitroep: soos ons God, het ons julle almal in die hele wêreld lief (Joh 3:16). En teenoor die hele skepping: hier is ons na wie julle met gespanne verwagting uitsien (Rom 8:19).

Hier is ons, die Jesus-familie, Geesvervuld, om vreugde te bring en verlossing te help bewerk in alles wat ons dink en sê en doen, want die Gees in ons vloei uit ons, vir julle, tot eer van God!
0 Kommentaar: so far: