POSTED BY John Wait on 06:08 under , ,
1 Tessalonisense 4:15


Hierdie gedeelte is deur Paulus aan die gemeente geskryf om te verseker dat die gemeente nie onkundig sou wees oor die ontslapenes, of te wel hul geliefdes wat gesterf het nie. En dat hulle nie oor hul geliefdes hoef te treur nie. Die heidene teur in hierdie verband oor hul geliefdes aangesien hulle geen hoop het nie.


Die eintlike uitdaging vir hierdie vroeë gemeente in Tessalonisense was dat hulle geredeneer het dat  hulle persoonlik die wederkoms van die Here nog sal beleef in hule eie leeftyd . 


So terwyl die lidmate nie gesterf het nie, het die gmeente die posisie van die ontslapenes by die wederkoms en die tyd daarvan nie as ‘n probleem ervaar nie. Maar toe daar egter sterfgevalle begin voorkom het, het die kommer ontstaan of die ontslapenes dan nie miskien by die wederkoms benadeel sou word nie. Dit het baie ongemak en spanning veroorsaak onder die gemeentelede.


Paulus maak dus hier duidelik ‘n onderskeid tussen die ongelowiges wat geen hoop het as hulle of hul geliefdes sterf nie, en die gelowiges wat wel hoop het.  Gelowiges is dus en moet dus anders wees, want hulle leef vanuit die perspektief van geloof en hoop. 


Omdat hulle glo dat Jesus nie net gesterf het nie maar ook uit die dood uit opgestaan het, het hulle ‘n toekoms. En juis daarom glo hulle ook dat die gestorwe gelowiges uit die dood uit sal opstaan om netsoos die wat met die aanbreek van die wederkoms nog sal lewe, “…altyd by die Here” sal wees (vers 7). 


Die uitdrukking  “om by die Here te wees” kom nie net in tekste voor waar dit in verband staan met die deelhê aan die heerlikheid van die Here nie, maar ook in die dooptekste. Heel gepas dan nou ook vir ons diens hier vanoggend. 


Dit wil juis voorkom asof die twee sinne wat vers 14 dan nou uitmaak eintlik juis ontleen is van ‘n doopformule in die vroeë kerk. (Rom. 6:4-8, Kol. 2:12). Hierdie formule is ‘n uitdrukking daarvan dat die geloof in die sterwe en opstanding van Jesus , waaraan die gelowige deel het, deur die doop gesimboliseer word. 


Om by die Here te wees is dan mos juis die hoop wat die gelowige het sedert sy doop. En omdat die gestorwe gelowiges vroeër, soos die huidige lewendige gelowiges in hierdie hoop volhard het, hoef daar geen kommer te bestaan  dat die ontslapenes enige nadeel of agterstand by die aanbreek van die wederkoms van die Here sal hê nie. 


Paulus sê in vers 15 dat sy sekerheid in hierdie verband op ‘n Jesuswoord berus. Ons is egter nie bewus van enige oorgelewerde uitspraak van Jesus hieroor nie. Verskillende verklarings is derhalwe in hierdie verband in omloop, want so is daar sekere kenners wat byvoorbeeld van mening is dat Paulus in hierdie verband tot God gebid het en nou beskryf hy die antwoord daarop as iets “opgrond van wat die Here gesê het” (vers15). 


Ander geleerdes beweer dat, soos die Here deur die mond van die Ou-Testamentiese profete met die gelowiges  gepraat het, Hy dit ook deur middel van ‘n Nuwe Testamentiese profeet, naamlik Paulus kan doen.


Dit is egter meer waarskynlik dat ons hier ‘n ander vorm van die “apostoliese tradisie” het wat reeds  in die eerste 3 hoofstukke van die brief voorgekom het. Die milieu en die atmosfeer tydens die aanbreek van die wederkoms word in beeldspraak beskryf. 


Die beelde wat gebruik word, verwys na ‘n aankondiging van die wederkoms wat vertaal is as ‘n “bevel” van God (vers 16), die medewerking van die “aartsengel”, en die onbeskryfbare stem van God, oftewel die “trompet van God”. 


Hierdie tipe beeldspraak kom in soortgelyke literêre vorme in die Bybel voor. Dit het te make met daardie openbaringswyse waar God op die een of ander manier in ruimtelike sin met die mens in ‘n ontmoeting tree en wat in menslike terme beskryf word. 


Dit bestaan hier uit drie elemente


1.     ‘n vermelding van die koms van God met behulp van werkwoorde wat beweging aandui


2.     ‘n beskrywing van kosmiese beroeringe wat God se koms begelei


3.     en ‘n daad van God wat op Sy koms volg en wat op hulp aan die volk van God uitloop.


Dit is dus duidelik dat, om die frase ‘op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet” (vers vers17), op te neem  as ‘n “wegraping” wat betrekking sou hê op ‘n duisenjarige vredesryk (Openbaring20:1-10), nie aan die teks en sy vorm reg laat geskied nie. Die uitdrukking “weggevoer…die lug in, die Here tegemoet” (vers 17) dui op ‘n bonatuurlike verplasing en dit moet as die derde element van die ontmoeting opgeneem word. 


Ook die “wolke” (vers17), is ‘n apokaliptiese beeld wat hier die verskyning van die Here aandui. Dit is dus onvanpas om net bloot op grond van vers 16 en 17 te spekuleer oor die aard van die opstandingsliggaam, die volgorde van die gebeure by die aanbreek van die wederkoms, of oor die bestaan van ‘n tussenryk (duisendjarige vredesryk) al dan nie…


Onthou wat die gedeelte se eintlike bedoeling was…om ons troos te gee. Om vir jou opnuut vandag ook te kom sê dat jy vir niks hoef bang te wees nie. Nie ers die dood nie. Jy is gedoop, jy behoort aan die Here. Dis al wat saak maak, dan nie?


Die volgorde en presiese aard van al die gebeure rondom die Here se wederkoms, die sogenaamde “wegraping” en ons “wegvoering die woke in” maak mos nie eintlik ‘n verskil aan ons vaste verskering dat ons aan die Here behoort nie. Hoer dit gebeur en wanneer dit gaan gebeur maak nie saak nie. Maar wat wel saak maak is dat jy vandag seker moet wees of jy aan die Here behoort. Getuig jou lewe en jou toekomsvisie daarvan. Is jy ook reg om vandag die Koning van die Heelal te ontmoet?