POSTED BY Steven Sass on 20:20 under


26 Augustus 2012 Patensie
Hoop, veiligheid, vreugde en liefde deur die opstanding van Jesus
1 Petrus 1:3-9
Hierdie brief is waarskynlik rondom 65nC geskryf. Dit was ‘n moeilike en ontstuimige tyd. Nero was toe keiser van die Romeinse Ryk, en dit was juis in daardie jare dat hy die Christene met alle mag en geweld vervolg het.

Die donker wolke van hierdie onderdrukking het nog swaar gehang en die vraag was wat die toekoms tog sal inhou. Soos te wagte, was daar nie baie optimisme oor die die toekoms nie.

Hierdie brief word gerig aan gelowiges in Wes-Asië en dis na hulle na wie daar in 1:1 verwys word as die vreemdelinge. Dit verwys na vreemdelingskap op twee vlakke. Op politieke vlak was hulle nie  burgers van die Romeinse Ryk nie en was dus tweedeklas burgers, mense sonder politieke mag en seggenskap. Hulle was ook op geestelike vlak vreemdelinge gewees. Hulle was as Christene nie meer deel van die kringe waaruit hulle gekom het nie, nie meer Jode of aanhangers van ander godsdienste nie. Hulle het baie swaar gekry omdat hulle vervolging van drie kante in die gesig gestaar het.

Die Romeinse owerheid was die Christene nie goedgesind nie en het hulle selfs vervolg. Godsdienstig is hulle uitgeskakel deur hulle vorige vriende en geloofsgenote. Die Jode het veral nou begin om teen die Christene op te tree. Hulle het ook baie swaar gekry in sosiale kringe want as die hoof van die huishouding nie tot bekering gekom het nie, kon hulle uit die familiekring uitgeskakel word. In daardie stadium sou so ‘n stap tot die uiterste ellende gelei het.

Die mense aan wie hierdie brief gerig is, het dit juis baie moeilik gehad. Dit was asof alles in die lewe teen hulle was. Sou ons hulle kon verkwalik as hulle moedeloos sou word? Sou ons hulle kon kwalik neem as hulle gewonder het of dit alles die moeite werd was. Ons kla so maklik. Ja, dit gaan vandag nie maklik nie. Baie van ons kry ook maar swaar. Die politieke en sosiale en ekonomiese omstandighede waarin ons onsself bevind is nie maklik nie, maar is dit so erg soos die omstandighede van hierdie mense? Ons word darem nog nie vervolg en uitgeskel vanweë ons geloof nie.

Maar kom ons gee toe: daar is baie druk op gelowiges en in die gemeenskap kan ons ook al as vreemdelinge bestempel word, mense teen wie daar gediskrimineer word. Miskien is dit daarom goed dat ons nou opnuut sal luister na hierdie brief en sy boodskap.

Die brief begin met die besinging van die lof van God! Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Geen simpatie, geen klag, geen selfbejammering nie. Ten spyte van die omstandighede begin die brief met ‘n lofsang. Die lof van die Here word besing. Hoekom? In Sy groot ontferming het Hy aan ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus uit die dood(1:3).

Op grond van die opstanding kan die lof van God besing word. Voor Sy opstanding het alles in die skadu van die dood gestaan. Toe was die graf die eindpunt en die dood die finale. Met die opstanding van Jesus is die orde omgedraai. ‘n Geheel nuwe bedeling het aangebreek. Nou is die dood nie meer absoluut finaal nie. Met Sy opstanding het die lewe getriomfeer oor die dood.

Omdat Jesus in ons plek gesterf het, beteken Sy opstanding nie net dat Hy self nou leef nie, maar ook dat Hy die lewe skenk aan almal wat in Hom glo. God het aan ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus. Dit kan niemand en niks ooit van ons af wegneem nie. So seker as wat die skepping daar is, so seker is die lewe wat God aan ons gegee het. Hier word gepraat van ‘n nuwe lewe. Die ou dinge het verby gegaan.

Die nuwe lewe is anders, dit is nie tydelik of kortstondig nie, dis die hemelse ewige lewe. Dit is ‘n sinvolle, doelgerigte, vreugdevolle en God verheerlikende lewe wat geen einde ken nie!

Die opstanding van Jesus bring vir ons nuwe lewe. Daarom kan die gelowige wat in hierdie nuwe lewe staan, God loof en prys, selfs al gaan dit met jou swaar. Al blaak die hel van woede, al loop alles skeef, en al is almal teen ons, al gebeur wat ook al.

In die volgende verse word die kenmerke van die nuwe lewe belig. Hoe lyk die nuwe lewe? Waaraan word die gelowige wat die nuwe lewe deur die opstanding van Jesus as geskenk van God ontvang het, geken?

Die eerste wat genoem word, is dat die nuwe lewe ‘n lewe van hoop is. “Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onverderflike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. (1:3-4)”. Die lewe van die aan wie God uit Sy groot ontferming die nuwe lewe deur die opstanding van Jesus Christus gee, word gekenmerk deur hoop. Dit staan teenoor die gebrek aan hoop en wanhoop wat die wêreld kenmerk. Luister ons na so baie , dan hoor ons die gebrek aan hoop. Wat hou die toekoms tog in? Waar gaan alles heen? Mense is moedeloos, en ploeter maar voort, sukkel van dag tot dag en wonder of dinge tog ooit beter sal word.

Hoe tragies dat die gebrek aan hoop selfs tot in die kerk en onder gelowiges so sterk uitstaan. Hoor wat sê Petrus: Nou het ons ‘n lewende hoop! Ons het ‘n nuwe lewe. “n Lewe van hoop. Ons kyk nie vas teen die omstandighede nie. Ons kan die oog gevestig hou op Jesus, die Leidsman en Voleinder van ons geloof. Ons kan verby die aardse kyk. Ten spyte van alles wat skeef loop en al die verwerping en onderdrukking en uitskakeling en diskriminasie kan ons hoop. Deur die opstanding van Jesus is Christene hoopvolle mense.

Tweedens lees ond hier dat die nuwe lewe ‘n bewaarde lewe is. “En omdat julle glo, word julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word (1:5).”

Ons is veilig in God se hande. Hy bewaar en beskerm ons. Niks kan on suit Sy hand ruk nie. Paulus roep by geleentheid uit: “Ek is verseker dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie(Rom. 8: 38-39).”

Ons is veilig. God beskerm en bewaar ons. Hoe baie keer het die Here dit nie al in die Bybel beloof nie. Hy beloof nie dat dit altyd goed sal gaan met Sy kinders nie. Wat Hy wel beloof is dat Hy altyd by ons sal wees en ons sal beskerm. “As jy deur die water gaan, is Ek by jou en die vuur sal jou nie brand nie.” Vir Josua het Hy dit netso beloof. En in Daniël lees ons telkens hiervan.

Dwarsdeur die Bybel kom die boodskap: Moenie vrees nie, want God beskerm jou. Jy is veilig. Dit staan in kontras met die vrees wat so kenmerkend van ons tyd geword het. Ons mense is so bang. Kyk net hoe leef ons. Ja, die veiligheidsituasie laat veel te wense oor. Natuurlik moet ons versigtig wees. Maar angsbevange en byna neuroties van vrees, nee nooit! Dit pas die kind van God nie.

Onder alle omstandighede kan ons weet: ons word veilig bewaar deur die krag van God.

Die nuwe lewe is ‘n lewe van vreugde. Dit kom hier baie sterk na vore. “Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle vir ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van jullle geloof getoets akn word (1:6).

Vreugde en blydskap is kenmerke waaraan die lewe van elkeen wat deur die ontferming van God deur die opstanding van Jesus Christus die nuwe lewe ontvang het. Straal dit daagliks uit ons lewe? Wat sien ons elke dag rondom ons? Mense loop met lang gesigte rond. Hulle is beswaard en bekommerd. Die laste van die lewe druk soms so swaar dat ons daaronder knak. Depressie word algemeen. Ons is tog so swartgallig en swaarmoedig. Dit pas die kind van God nie.

Let op, Petrus het geen illusies nie. Hy sê nie dat die gelowiges vreugdevol moet leef omdat dit so goed gaan nie. Hy sê dat ons juis te midde van swaarkry blymoedig moet wees. Daar is en sal allerlei beproewings wees. Soos die suiwerheid van goud deur vuur getoets moet word, sal die suiwerheid van ons geloof ook getoets word.

Sien die krisisse as uitdagings. Sien die teenspoed as geleenthede. Sien die haglike omstandighede as die ruimte vir die verheerliking van die Here deur selfs die donkerste nag met blydskap in te gaan.

Die vreugde wat die nuwe lewe deur die opstanding van Jesus kenmerk, vloei nie voort uit idilliese toestande nie, maar uit die gebondenheid aan God en gerigtheid op Hom.

Laastens lees ons hier dat die nuwe opstandingslewe van die gelowige gemeknmerk word deur die liefde. Die liefde vir God. “Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie(1:8).”

Deur Sy groot ontferming, Sy oneindige liefde, het God aan ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus. Hom het ons lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. Hom het ons lief, omdat Hy ons lewe met liefde vul. Hierdie liefde oordek ons hele lewe. Dit moet in elke woord  en daad tot uiting kom. Dit moet  uit ons hele lewe straal. Kan ander hierdie liefde in ons sien?

Deur die opstanding van Jesus het God uit liefde vir ons ‘n nuwe lewe geskenk. “n Lewe wat genkenmerk word deur hoop, veiligheid, vreugde en liefde. Is hierdie nuwe opstandingslewe elke dag in ons daaglikse lewe, onder al die moeilike omstandighede waarin on sons bevind, sigbaar?
POSTED BY Steven Sass on 21:04 under

19 Augsutus 2012 Patensie
Kinderplesier en uitdagings
Psalm 127

Psalm 127 is seker een van die mooiste Psalms. ‘n Psalm wat ons baie goed ken. In hierdie Psalm val die klem op die noodsaaklikheid van die teenwoordigheid en betrokkenheid van die Here by die lewe van die gelowige, met die klem op die betrokkenheid van die Here by die gesinslewe van die gelowige.

Die Psalm val in twee hoofdele uiteen. Maar dis eintlik twee kante van dieselfde muntstuk. In die skadukant word die saak op negatiewe wyse belig en aan die ligkant word dit op positiewe wyse belig. Dit is in ooreenstemming met ‘n ou Hebreeuse gebruik, naamlik om eers iets negatief te stel ten einde die positiewe sterk te belig.

Lees mens die eerste vers, dan wonder jy of die Psalmis sê dat alles tevergeefs is. Dit is nie die geval nie, Nee, hy sê dat alles sonder God tevergeefs is. Sonder God kan ons nie ‘n huis bou of ‘n stad beskerm nie, en is dit tevergeefs dat ons van vroeg tot laat hard werk. Sonder God is die lewe sinloos. Hy sê dat ons hele lewe en elke aspek van ons lewe sinloos is as God nie betrokke is by elke ding wat ons doen en by ons hele lewe nie.

Dit beteken dat as ons kla dat alles wat ons doen tevergeefs is, dan beteken dit dat God nie met ons is nie. Dit ruk ons tot nadenke oor ons lewe en veral oor ons klagtes en siening van ons situasie.

“As die Here die huis nie bou nie, swoeg die wat daaraan werk tevergeefs”. Hier gaan dit om die letterlike bou van die huis, maar ook om die figuurlike bou van ‘n huis. Letterlik is die werk van die bouers wat saam met die Here werk en in verhouding tot en vertroue op God bou nie, tevergeefs.

Maar dit gaan ook oor die figuurlike bou van die huis. Dit gaan oor persone wat in die huwelik tree en die paartjie wat ‘n gesin begin en so bou aan ‘n huisgesin. As ons nie ons huwelik ingaan saam met die Here nie en as die Here nie elke dag saam met ons in die huis is en die Hoof van ons huis is nie, dan is alles tevergeefs.

Tevergeefs sal ons met allerlei slim en goeie maniere probeer om ‘n gelukkige en gesonde huislike lewe te bou as ons nie die Here innooi en saam met Hom bou aan ons huislike lewe nie. Kyk ons na die verval in ons gesinslewens en hoor ons hoe huise uitmekaar spat, dan kom die vraag al sterker: het ons nog nie geluister na Psalm 127 nie? Sal ons dan nie juis nou erns maak met hierdie teks en die Here vra om te help bou aan ons huis nie?

As die Here die stad nie beskerm nie, waak die wat beskerm tevergeefs. Nie net by die opbou van iets het ons die hulp van die Here nodig nie, maar ook by die beskerming daarvan. Hier word die beeld van ‘n stad en die beskerming daarvan gebruik.

Weereens dui die stad nie net op die gebou nie. Hoeveel ryke het nie al geval vanweë morele verval en interne spanning en struwelinge nie? As die Here ons nie beskerm nie, dan is al ons pogings tevergeefs. Ons mag nie op al ons sekuriteitmaatreëls staatmaak en die Here vergeet nie. Dit beteken nie dat die stad nie beskerm moet word en dat ons nie sekuriteitmaatreëls moet tref nie. Net dat ons die Here nie moet uitlaat nie. Hy is immers die Here wat alles beheer en wat ons beskerm. Sonder Sy beskerming is daar vir ons geen hoop of toekoms nie.

Die Psalmis gaan voort en sê dat al ons harde werk tevergeefs is sonder die Here. Dis verniet dat ons vroeg opstaan en tot laat werk as ons dit sonder God doen. Dan sal ons nie vrug op ons arbeid pluk nie. Nou kan ons dink dat dit nie waar is nie, want daar is mos baie ryk mense wat glad nie in die Here glo nie. Maar is al hulle werk en bymekaarmaak van skate nie tevergeefs nie, want wat sal al hulle skate hulle baat as hulle die dag tot sterwe kom? Sonder God kan daar geen sprake van ware sin in die harde werk wees nie.

Om dit te beklemtoon, sê die digter: “Vir die wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.” Dit is nogal moeilik om die vers te vertaal en te verklaar. Dit kan weergegee word met: Vir die wat Hy liefhet, gee die Here slaap. Om rustig te kan slap, is dan ‘n gawe van God. Die gelowige wat nie bekommerd is oor sy lewe en die lewe nie, kan rustig slaap.

Maar dit kan ook beteken dat die Here in die rustige slaap van die gelowige vir hom aantoon wat van hom verwag word en wat hy/sy moet doen. Staan ons nie soms op met die duidelike wete van wat ons moet doen nie? Ons moet net nie dink hierdie teks sê dat die gelowige maar net moet slaap en niks hoef te doen nie, want omdat die Here ons liefhet, sal Hy alles vir ons gee, selfs allerlei luukse en onnodige dinge nie. Dis beslis nie wat hier staan nie en rym nie met wat die Bybel vir ons leer nie.

Dit lyk my die mees waarskynlike is dat die teks op hierdie treffende manier net vir ons sê dat die Here onverdiend vir Sy kinders gee wat hulle nodig het. As jy slaap, doen jy mos niks en kan jy dus ook niks verwag nie. So gee die Here onverdiend aan ons uit Sy grote liefde.

Dit lyk asf die digter dan vanaf vers 3 met ‘n heel nuwe gedagte na vore kom. Sommige het al gesê dat ons hier twee Psalms het wat saamgevoeg is. Maar dis nie so nie. Die Psalm vorm ‘n eenheid met woorde wat dwarsdeur gebruik word. Eintlik word die boodskap van die eerste verse hier net op ‘n ander manier beklemtoon. Die Hebreeuse woorde vir bou (bana) en seuns (baniem) lyk en klink nogal baie na mekaar. Ons het dan hier ‘n uitbouing van die eerste gedagte, naamlik die bou van ‘n huis.

Dit word gedoen by wyse van ‘n seënbede. Seuns is geskenke van die Here; kinders word deur Hom gegee. In die Ou-Testamentiese tyd is dit absoluut geglo. Dis dan geen wonder dat die Here in Jesaja 7:14 vir Agas sê dat sy vrou ‘n seun sal hê en dat die seuntjie die teken van God se teenwoordigheid is nie. Kinders is nie net geskenke van God nie, maar moet ons elke dag ook herhinder aan die teenwoordigheid van die Here. Hulle herhinder ons aan die Here wat hulle aan ons gegee het.

Elke gelowige glo mos dat ons kinders geskenke van God is. Nou is dit so dat kinders vanaf geboorte  nie net ‘n besonderse plek in mens se hart inneem nie, maar dat ouers se lewens vandag nog tot ‘n groot mate sentreer om hulle kinders. En dis reg. Geniet julle kinders! Hulle is geskenke wat wardeer en geniet moet word. Die skatlike babatjie. Die sprankelende ogies. Elke treetjie wat op die ontwikkelingspad gegee word. Die babageluide, die eerste woordjies...

Dis nie net in hulle kinderjare dat hulle ‘n geskenk van God is nie. Ook in die tienerjare bly hulle gekskenke van God. Al gaan hulle deur moeilike fases en is daar tye wanneer ouers sê dat hulle nie van die kinders hou nie, al het hulle hulle lief. Al is daar pa’s wat tienerseuns wil offer soos Abrahm Isak wou offer. Tog is hulle dan ook geskenke van die Here.

As ons mooi daaroor dink, is daar selfs dan baie kosbare tye. Hulle kan so kostelik wees met hulle redenasies. Dis so lekker om hulle te sien grootword en meer verantwoordelikheid neem en meer selfstandig word. Ja, ook in hulle studentejare en jongmensjare en nog heel later bly kinders ‘n wonderlike en groot geskenk van die Here.

Miskien moet ons dit baie meer beklemtoon. Dit sal ons verhouding tot ons kinders bepaal. As ouers moet ons ons kinders wardeer as geskenke van God. Hulle is daarom kosbaar en moet met liefde behandel word. Met liefde versorg en beskerm word. Met liefde en wardering moet ons die pad saam met hulle loop. Hoe eensaam kan ‘n pad sonder kinders nie wees nie.

Maar voordat ons kinders dink dis net vir die ouers. Hier lees ons dat seuns soos pyle in die hand  van die krygsman is en dat die man wat seuns het, met vrymoedigheid in die stadspoort met die vyand onderhandel. Hier word twee dinge gesê: seuns maak hulle ouers sterk en seuns beskerm of sien om na hulle ouers.

Ouers kan kragtig optree, want hulle kinders ondersteun hulle. Kinders maak ouers sterk en kragtig. Krag kom nie altyd van binne af nie. Soms voel mens kragteloos en dan kyk jy weg van jouself en kry jy skielik krag. Die pa wat sy kinders sien, word sommer sterk. As hy moedeloos word en wil tou opgooi, dan is die kinders daar en weet hy dat hy sterk moet wees vir hulle. Hy moet aangaan want hulle maak staat op hom.

Kindes wat positief is, beur hulle ouers op en maak dat hulle ouers sommer kans sien vir baie. Die teenoorgestelde is ongelukkig ook waar. Kinders kan ouers afbreek en tot die dood toe moeg maak. Elke kind het dan die verantwoordelikheid om sy ouers sterk te maak en aan te moedig en om vir hulle iets te gee om na uit te sien en voor te leef.

Die digter van Psalm 127 sê hy tree kragitg en sterk op omdat sy seuns rondom hom staan om hom te beskerm. Kinders het dus die taak om hulle ouers te beskerm! Om na hulle ouers om te sien. Is dit nie iets waaraan elkeen van ons wat die voorreg het om ouers te hê ernstig moet aandag skenk en dit prakties moet uitleef nie?

Psalm 127 sê dat as die Here saam met ons aan ons huise bou, dan sal ouers kinders behandel as geskenke van God en sal kinders die belange van hulle ouers voorop stel. Dan word daar nie tevergeefs gebou nie.

Psalm 127 vra dat die hoorder sy eie lewe onder die soeklig plaas. Hoe bou ek aan my huis? Hoe beskerm ek wat aan my behoort? Hoe werk ek? Sonder God is alles tevergeefs en sinloos. As die Here met ons is, kry alles nuwe betekenis en het alles sin. Dan word die lewe ‘n fees. Dan is my gesninslewe ‘n fees en is ons kinders ‘n plesier....
POSTED BY Steven Sass on 06:06 under

12 Augustus 2012 Patensie
Seën ons kindertjies
Matteus 19:13-15
Jesus was baie lief vir kindertjies. Hieroor kan daar nie twyfel wees nie. Dit was ook geen geheim nie. Die mense het dit almal geweet. Ons lees op verskillende plekke hiervan. Sy optrede teenoor kindertjies staan nog meer uit as mens dit sien teen die agtergrond van die tyd waarin Jesus geleef het.

Dit is so dat kinders in Bybelse tye gesien is as ‘n besonderse seen van die Here. Dit is die Here wat aan die ouers kinders skenk. Kinders is Sy genadegawe aan die ouers. Tog het kinders nie juis ‘n belangrike plek in die sosiale lewe beklee nie. Hulle het ‘n ondergeskikte plek in die sosiale rangorde beklee, darem net bokant die slawe van destyds.

Kinders het destyds nie in die middelpunt gestaan soos vandag, en al die aandag gekry nie. Hulle was nie die spil waarom ‘n geselskap of die gesinslewe gedraai het nie. Kinders was maar eintlik op die agtergrond, hulle moes gesien maar nie gehoor word nie. Hulle mag nie inbreuk gemaak het op die werk en sosiale lewe van die ouers en veral die pa nie.

Nou lees ons hier dat die mense hulle kindertjies na Jesus gebring het sodat Hy hulle die hande moes oplê en vir hulle moes bid. Dit sluit aan by ‘n baie ou gebruik. Dit was die gebruik dat ‘n rabbi sy hande op die kindertjies gelê het en op hulle die seën van die Here afgebid het. Die gebruik sluit weer aan by die gebruik van die bejaarde en sterwende pa om sy hande op sy kinders te lê en hulle te seen. Hiervan het ons talle voorbeelde in die Bybel, soos Isak en Jakob wat hulle seuns geseën het voor hulle dood.

Die oplê van die hande het destyds veral daarop gedui dat iets van die een persoon na die ander gevloei het. So het die krag of aansien of eer van die pa deur die handoplegging oorgegaan na die kind. Dit kom byvoorbeeld baie duidelik na vore as die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, aan Jesus geraak het of die talle kere dat Jesus siekes aangeraak en hulle gesond geword het. Sy genesende krag het van Hom na hulle toe gevloei en ‘n verandering in hulle lewens tot gevolg gehad. As die ouers dan hulle kindertjies na Jesus bring en vra dat Hy hulle aanraak, dan vra hulle daarmee dat iets van Jesus se krag en liefde; ja iets van Homself moet oorvloei in hulle kindertjies in.

Ons het nie vandag meer ‘n soortgelyke gebruik nie. Dis jammer, want ons mis iets van die simboliek van hierdie handeling. Veral omdat ons vandag nogal telkens kennis neem van studies wat aantoon hoe belangrik aanraking in en vir die ontwikkeling van kindertjies is. Babas wat baie  en met liefde aangeraak word, ontwikkel vinniger en is rustiger en meer tevrede babas was die wat min aangeraak word. Om aan te raak, is teken van liefde. Dit maak die kindertjies geborge en laat hulle veilig voel.

Miskien moet ons meer hiervan maak- ook in ons huise. Ons moet ons kindertjies aanraak en hulle ook veilig laat voel. Ons moet hulle leer dat Jesus hulle deur ons aanraak en dat Sy liefde deur ons na hulle vloei sodat hulle kan weet dat hulle veilig is in Sy hande.

Die ouers het hulle kindertjies na Jesus toe gebring met die versoek dat Hy vir hulle moet bid. Hiermee het die ouers Jesus as Rabbi of leermeester of godsdienstige leier erken. Hulle vra dat Hy die seen  van die Here op hulle kindertjies sal afbid.

Dit wil voorkom dat ons hieruit kan leer dat ons ons kindertjies ook moet bring sodat die seën van die Here oor hulle ook afgebid kan word. Dit behoort een van die primêre take van ‘n godsdienstige leier, hetsy dominee, ouderling of wie ook al, te wees om die seen van die Here af te bid op die kindertjies. Dit behoort natuurlik juis ook die roeping van elke ouer te wees om die seen van God aft e bid op jou eie kinders. Want sonder die seen van God is daar nie lewe nie, soos ons, is hulle volkome afhanklik van die seen van God om sinvol te kan leef.

Die vraag is, of ons genoeg bid vir ons kinders? Bid jy daagliks die seen van God af op jou kinders? Bring ons hulle elke dag in gebed na Jesus en vra dat Hy die seen van die Vader op hulle sal afbid en laat kom?

IN die volgende vers lees ons dat die dissipels met die ouers geraas het. Hoe kan julle Jesus hiermee lasting val? Julle kan mos sien dat Hy besig is. Die mense put Hom uit, moet Hom nie nou nog met kindertjies belas nie. Die kindertjies is tog nie so belangrik nie. Hulle is nie belangrik genoeg om aanspraak te maak op die tyd van Jesus nie. Dis baie tragies. Maar gebeur dit nie vandag nog ook dikwels nie? Ons eredienste is gerig op die volwassenes met so af en toe ‘n kinderdiens of so ‘n klein tydjie wat darem aan die kinders afgestaan word. Ons dink die kindertjies sal dit tog in elk geval nie verstaan nie. Daar is mos nog baie tyd vir hulle. As hulle groot is, kan hulle ook hierin deel.

Die dissipels raas met die ouers, maar Jesus raas met hulle. “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” In die Markusevangelie word hier bygevoeg: “Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van die God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie”(Markus 10:15).

By ‘n nader geleentheid het Jesus ‘n kindjie geneem en vir die dissipels gesê dat kindertjies die grootste in die koninkryk van God is. Wat bedoel Jesus hiermee? Is die koninkryk van God dan net vir kinders? Word volwassenes dan uit die koninkryk van God uitgesluit? Nee, wat Jesus hier beklemtoon, is die kinderlike geloof. ‘n Kind glo onvoorwaardelik. ‘n Kind glo met oorgawe. ‘n Kind glo opreg. Nie soos volwassenes wat dikwels voorwaardelik glo nie. As die Here dit doen, dan sal ek glo. As dit of dat gebeur of bewys of beantwoord kan word, dan sal ek glo. As.... dan.... Dis nie geloof nie. Teenoor die kinderlike geloof met oorgawe, vind ons mos die geloof sonder passie en oorgawe. Die louwarm geloof van so baie volwassenes. Die geloof wat net vir die noodgeval daar is, maar nie my lewe bepaal en beinvloed nie. Teenoor die opregte kinderlike geloof, staan die onegte geloof. Die geloof wat niks anders is as ‘n assuransiepolis is nie. Dit is daar vir die ongeluksdag of as ek self nie kan nie, maar andersins laat ons dit gerieflikheidshalwe tuis.

Ek het so ‘n idee dat ons weer ‘n slag ernstig moet kyk hoe kinders glo en hoe hulle die Here dien. Dan sal ons weer besef wat Jesus van ons vra. Al klink dit baie vreemd, is dit nodig dat volwassenes en ouers by kindertjies moet leer hoe om te glo, en die Here te dien.

Die ouers het hulle kindertjies na Jesus gebring sodat Hy hulle die hande kon oplê en vir hulle kon bid. Nou ontvang hulle ook baie. Hulle leer hoe om Jesus te dien en te volg. Hulle leer nou wie die belangrikste in die koninkryk van God is. Hulle leer wat die prioriteite in die koninkryk van God is. Dis iets wat elke gelowige ouer ook mos telkens ervaar. As ons kinders na Jesus bring, dan ontvang ons ook baie. Ons deel in die seen van die Here wat ons afbid oor ons kinders.

Jesus het Sy hande op die kindertjies gelê en hulle geseën. Hy laat hulle vol en ryk van Hom af weggaan. Jesus stuur kinders nooit met leë hande en harte weg nie!