POSTED BY Steven Sass on 06:13 under
26 Mei 2013 Patensie
Begeertes kan vernietigend wees!
Eksodus 20:17
Hierdie gebod is die tiende en laaste gebod. Dis ‘n besonderse gebod, en nie maar net die laaste gebod wat dalk as’tware as ‘n latere toevoeging of samevattende afsluiting bygevoeg is nie. Hierdie gebod is eintlik en tot ‘n sekere mate alreeds in die ander gebooie teenwoordig. Dit is egter nie daarom onnodig nie. In hierdie gebod word ons verhouding met die Here ons God en ons verhoudings met ander mense tot op die been oopgevlek. In hierdie gebod gaan dit om wat ons begeer en dus graag wil hê.

Ons het reeds telkens by die ander gebooie daarop gewys dat die gewone menslike lewe in diens van die Here moet staan. Ons ganse lewe, met alles waaroor ons beskik, moet in diens van God staan. As die Here ons God is wat ons verlos het en as ons Sy koningskap aanvaar, moet ons denke en begeertes tot Sy eer strek en mag ons nie verkeerde begeertes koester nie. Die mens sondig nie alleen deur dit wat hy doen of nalaat om te doen nie, maar ook en miskien veral deur dit wat hy dink en begeer. Kom ons stel dit positief: ‘n Mens se positiewe geloofslewe begin met dit wat ons dink en begeer. Ten grondslag van ons dade lê wat ons begeer.

Sielkundiges beweer, met goeie reg, dat die denke van die mens sy lewe diepgrypend beïnvloed en tot ‘n groot mate bepaal. Die mens handel selde voordat hy eers gedink het oor wat hy wil doen. Edelheid van karakter begin by edelheid van denke, en juis daarom moet ons verhouding tot God in ons gedagtewêreld ‘n duidelike neerslag vind.

Dit is ongelukkig so dat ons al te geneig is om negatief te dink oor hierdie gebod, soos trouens oor al die gebooie. So asof die Tien Gebooie net ‘n lys is van wat ons nie mag doen nie. Dit is nie die geval nie. Die Tien Gebooie wil ons mos juis oproep om op ‘n wyse te leef ter erkenning van die koningskap van die Here, ons Verlosser.

Kom ons beklemtoon weer ‘n keer twee belangrike aspekte. Die Tien gebooie moet verstaan word teen die agtergrond van die inleidingswoorde: “Ek is die Here jou God wat jou verlos het.” Hierin sê die Here vir ons wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het. Dit sê Hy as ons Koning. As Koning stel Hy dit dan duidelik wat Hy van ons as Sy onderdane verwag. As ons deel in Sy koninkryk en Sy kinders wil wees, dan sal daar nie vir ons ander gode wees nie; sal ons niks en niemand anders aanbid nie; sal ons Sy Naam eer en die rusdag onderhou. As Sy kinders sal ons ons ouers eer, nie moord pleeg nie, nie steel nie, nie owerspel pleeg nie, nie lelik praat nie of nie iemand se goed begeer nie. Netsoos daar familie en gesinswaardes is wat ons nastreef en handhaaf omdat ons aan ‘n bepaalde familie of gesin behoort, is hierdie gebooie die norme waaraan ons lewens as kinders van die Here gekenmerk word. In God se koninkryk leef sy volgelinge só.

Die ander aspek wat ons in gedagte moet hou, is dat dinge in Hebreeus dikwels in negatiewe vorm uitgedruk word om die positiewe te beklemtoon. As ons dan lees dat ons nie ander gode sal hê nie, wil dit juis baie sterk beklemtoon dat ons die Here volkome moet dien en aanbid. As ons lees dat kinders van God nie moord pleeg nie, word dit baie sterk beklemtoon dat kinders van God ander se lewens kosbaar en hoog ag. Dit geld vir elkeen van die Tien Gebooie.

Wat beteken dit dan as ons lees: “Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie, of enigiets wat aan hom behoort nie?” Dit beteken heel eenvoudig dat ons nie jaloers mag wees op wat iemand anders het nie. Dat ons nie ongelukkig mag wees oor wat ons het nie of onvergenoegd mag wees met ons persoonlike situasie nie.

Laat ons dan nie op grond van hierdie gebod argumenteer oor wat ons nie mag begeer nie en wat ons wel mag begeer nie. Dan maak ons mos lysies van wat mag en wat mag nie en dan eindig ons soos die Jode in Jesus se  tyd met ellelange lysies oor wat  onder die gebod ingesluit en uitgesluit is.
Dit lyk my hierdie gebod wil ons oproep om onsself te ondersoek en te vra of ons die koningskap van die Here aanvaar en op grond daarvan bereid is om op ‘n bepaalde wyse te leef as Sy volgelinge en hier dan spesifiek of ons begeertes inpas by die aanvaarding van die koningskap van God.

Die Here is die Soewereine Here, die Skepper van hemel en aarde, Heer van alles. Die Here gee dan aan elke mens uit vrye genade wat Hy wil. Hy gee aan elke mens die lewe; aan elke mens sy lewensruimte; talente; aan elke mens ‘n taak en ‘n roeping om te volvoer. Daarom is geen menslike lewe sinloos of waardeloos nie. Ons almal is soos blokkies in ‘n legkaart, waarvan die totaal die beeld van God uitbeeld.

En nou sê ons teksgedeelte: As die Here ons God is wat ons verlos het, sal ons geen ander lewensruimte begeer as die een waarin God ons geplaas het nie. Die tiende gebod wil nie sê dat ons nie drome mag droom en ideale mag koester nie. Inteendeel. As gelowiges wat God se koningskap aanvaar moet ons vir onsself lewensdoelwitte stel. Gelowiges is juis mense wat doelgerig leef, ons teks sê immers nie dat alle begeertes as sodaing sondig is nie. Nee, ‘n mens wat sonder begeertes is, is ‘n mens wat sonder ambisie is en nie God se wil met sy lewe sal bereik nie. Natuurlik moet ons strewe na beter. Ons moet nie net daarna strewe nie, maar ook daarvoor werk. Ons moet woeker met die talente wat die Here aan ons gee. Hoe dikwels lees ons dit nie in die Bybel nie. Het Jesus dit nie uitdruklik en nadruklik gesê nie?

Om iets te begeer is daarom nie noodwendig verkeerd nie. Ons teks sê: die mens mag nie iets van jou naaste begeer nie. Nie iets wat aan iemand anders behoort nie. Nie sy huis nie, ook nie sy vrou, slaaf of slavin, bees of ‘n donkie of enigiets anders nie.

Die Here het aan elkeen gegee wat hy wou. Daarom mag ons nie jaloers wees op mekaar en op wat God aan ander mense gegee het nie, maar moet die Christen saam met sy naaste God dank vir dit wat Hy aan hom gegee het.

Wie sy naaste se lewensruimte begeer, gee te kenne dat hy ontevrede is met sy eie lewensruimte. En wie te kenne gee dat hy ontevrede is met sy lewensruimte, wil eintlik daardeur sê: “God het ‘n fout gemaak met my lewe. God mishandel my! En daardeur het hy in opstand gekom teen God! Ja wil daardie mense sê: as ek God was, sou ek van beter geweet en dit beter gedoen het!

Daarom is dit so dat diegene wat die lewensruimte van ‘n ander begeer en sy eie God gegewe lewensruimte haat, eintlik vir God wat daardie lewesnruimte aan jou gegee het, haat!

Dit gaan in die laaste gebod dus daarom dat ek nie met afguns en jaloesie aan ander mense moet dink nie. Dit dui daarop dat ek jaloers en afgunstig is, afgunstig en ontvrede met my deel en lot. Dit dui daarop dat ek nie dankbaar is  vir wat God aan my gegee het nie. Gun mekaar ‘n plekkie onder die son. Wees in alles dankbaar. Moenie toelaat dat afguns, jaloesie en ontevredenheid nie net jou lewensvreugde ontneem nie, maar ook leit tot sondige dade.


Hierdie gebod roep ons op om dankbaar en vergenoegd te wees. Om te werk en te woeker met ons talente. Om God voortdurend te dank omdat Hy ons God is wat ons verlos het en wat ons onderhou van dag tot dag...
POSTED BY Steven Sass on 15:19 under

Pinksterreeks 2013 Patensie Woensdagaand
Die Gees in ons, vloei uit ons Skrif: Handelinge 2, Johannes
Skriflesing vir ons tema: Joh 7:37-39;14:16-17; Gen 11:1-9; Rom 8:19
Heidelbergse Kategismus Sondag 20. Wat glo jy van die Heilige Gees? Dat Hy ook aan my (ons) gegee is, sodat Hy my (ons) deur ’n ware geloof laat deel kry aan Christus en al sy weldade, my (ons) troos en ewig by my (ons) bly. Sondag 21 En van die gemeenskap van die gelowiges? Dat elkeen verplig is om sy (of haar)gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.

• Die Gees vul ons onverdiend met oorvloed …Dit is Pinksterfees. Ons is weer saam vanaand  om God te loof vir die uitstorting van die Heilige Gees. Ja, die Gees van Christus wat van die Vader uitgaan, is hier, by ons,
in ons, tussen ons, om ons te leer van Jesus en ons saam te lei op die regte pad.


Op die vooraand van sy dood het Jesus met sy dissipels oor die Gees se koms
gepraat. Julle moenie ontsteld wees nie (Joh 14:1), my geliefde dissipels (13:1).
Ja, julle wat pas onder mekaar uit eersug en afguns gestry het oor belangrike
posisies (Luk 22), met my verraaier, Judas, tussen julle (Joh 13:21), met die
toekomstige kerkleier Petrus onder julle wat my binnekort eers drie maal sal
verloën (Joh.13:38), ja julle wat verslae en onseker is oor my optrede (Joh.13:22), met Tomas die ongelowige twyfelaar by julle (Joh.14:5, 20:24, 25). Moenie bekommerdwees nie. Ek betaal nie in eie munt terug nie. Ek vergeld nie oog vir oog en tandvir tand nie. Ek is oneindig lief vir julle almal (Joh13:1). Ek sorg immers vir lewe inoorvloed (Joh.10:10).
Daarom, as ek binnekort weggaan, sal julle nie weeskinders word nie (Joh.14:18),troos Jesus sy dissipels.

Hy beloof hulle Iemand in sy plek. Hy sou sy Vader bid om die Gees van die waarheid te stuur, wat ewig by hulle sou bly, in hulle (Joh.14:16,17), vir altyd.

Jesus het geweet dat sy voorspelling van vroeër, met sy weggaan en die koms van die Heilige Gees, vir ons almal wat in Hom glo, waar sou word. “Met die een wat in my glo”, het Jesus geleer, “is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy [daardie mens] se binneste vloei” (Joh.7:38). Hy het onder andere na Jes 58:11 verwys: “Dan sal Ek, die Here, julle die hele tyd lei, in julle behoeftes voorsien en julle krag gee. Julle sal wees soos ’n tuin wat volop water kry, soos ’n fontein wat nooit opdroog nie”.

• Vol van die Gees om vir ander tot seën te wees. Ja, só sal dit wees as die Gees van God die dissipels en ook vir ons herinner aan wat Jesus gesê het (Joh.14:26). Die Gees sal ons laat onthou om mekaar lief te hê.
Die Gees leer ons om mekaar se voete te was – soos Jesus – om waarlik een te
wees, om met nederigheid te leef, om vreugde te versprei, om vrede na te jaag,
om geduld te beoefen met mekaar, om te alle tye vriendelik te wees met ander, om goedhartig te wees teenoor alle mense, om getrou te bly aan Jesus, om selfverloënend te leef, nederig en selfbeheersd (Gal 5:22).


Die Gees leer ons hierdie dinge sodat ek en jy die sout en die lig vir die wêreld kan wees, wat só werk dat ons Vader in die hemel verheerlik word (Matt 5:16).Die Gees herskep ons, die hele gemeente saam, om soos Jesus self te word, sodat ons soos Hy altyd tot seën vir ander mense sal wees, goeie nuus vir ander, ingestel op die verheerliking van ons hemelse Vader.


Ons ontvang nie die oorvloed van genadegawes van Jesus om vir onsself te hou nie. Ons skuld byvoorbeeld die liefde vir mekaar (Joh 13:34; 15:12, 17) en vir
ander (Rom 13:8). Ons eenheid het ’n doel buite onsself. Dit is nodig sodat die wêreld kan glo (Joh 17).

Jesus sê ons is baie gelukkig, geseënd, salig as ons diensgerig is, mekaar se voete was, want daarmee eer ons Hom (Joh 13). Liefde, eenheid en diensgerigtheid is die kenmerke van ’n gemeenskap wat innig vir mekaar omgee, juis omdat hulle God verheerlik. En dít is die beste nuus vir die gemeenskap rondom ons.

Ons lees in Hand 2 dat nadat die Heilige Gees uitgestort is, al die gelowiges eensgesind en mededeelsaam was, mekaar se behoeftes versorg, saam geeët en gebid het, en dat die hele volk hulle goedgesind was.


• Vol van die Gees om vir die hele skepping vreugde te bring. Met die koms van God se Gees by en in ons word ons genadiglik bewaar van onsself, teen die soort sondige hoogmoed, arrogansie, trots en selfgenoegsaamheid waarmee mense hulleself dikwels teen God opstel. Die Gees
bevry ons ook van ongehoorsaamheid om, nes Babel se toringbouers in Gen 11, in een vlakte saam te koek met een taal, een stad, en een toring. En dit terwyl die Here bedoel het dat ons moes vermeerder, die hele aarde bewoon en dit bewerk, as sy opdrag (Gen 1:28) en tot sy verheerliking. Met die koms van die Gees op Pinkster word ons sensitief vir God se bedoeling met die hele aarde. Ja, met almal en alles daarop. Dis immers sy skepping. Hy wou dat die aarde gevul sou wees met ’n ryke verskeidenheid plante, diere en mense wat in harmonie saamleef. Hy het alles goed gemaak.

Sondige, selfgerigte mense wat torings bou vir hulle eie naam, is egter nie sensitief vir die behoeftes van die aarde nie. Hulle bou groot stede en ontwikkel in ons tyd tegnologiese wonderwerke. Ons moderne wêreld beleef egter vandag oorbevolking in ons stede, en ons misbruik die aarde se natuurlike hulpbronne soos nog nooit. En tog is daar hoop vir die Here se skepping!

 Sy Heilige Gees in ons laat ons soos God oor die skepping dink. Die aarde se beste versorging word nou ook ons wens en droom. Geesvervuld soek ons saam na die aarde se welsyn. Ons wil nie meer mors en besoedel nie. Ons wil die natuur beskerm en vertroetel. Ons wil die effek van ons misbruike teen die skepping teenwerk, want die Skepper Gees, woon nou in ons!

 Nog meer, ons wil as ’t ware teenoor alle mense uitroep: soos ons God, het ons julle almal in die hele wêreld lief (Joh 3:16). En teenoor die hele skepping: hier is ons na wie julle met gespanne verwagting uitsien (Rom 8:19).

Hier is ons, die Jesus-familie, Geesvervuld, om vreugde te bring en verlossing te help bewerk in alles wat ons dink en sê en doen, want die Gees in ons vloei uit ons, vir julle, tot eer van God!
POSTED BY Steven Sass on 14:55 under

Pinksterreeks 2013 patensie Dinsdagaand
Die vervulling met die Heilige Gees, kan ek seker daaroor wees?
Ons “hooflig” die Bybel beveel ons : “ Word vervul met die Heilige Gees.” Kom ons lees Efesiërs 5:18 en Galasiërs 5:16 en probeer vasstel wat dit dan beteken om vervul te wees met die Heilige Gees.  Watter opdragte gee Paulus in hierdie twee gedeeltes aan die gelowiges?...Die vraag kan dus nou gevra word of hierdie vervulling met die Gees iets is wat net eenkeer  in jou lewe gebeur? (Handelinge 2:4).....Maak die vervulling met die Heilige Gees jou ‘n volmaakte mens? (Dink bv. aan Petrus, vgl. Hand. 2:4 en 4:8 met Galassiërs 2:11 en 14)
Wat beteken dit dan om met die Heilige Gees vervul te wees?
Paulus het dit vir ons in Efesiërs 5:18 verduidelik deur die beeld van ‘n dronk mens te gebruik. Hoe is ‘n dronk mens? Dit is ‘n mens wat onder beheer (onder die invloed) van ‘n sekere mag staan. Jy kan dit hoor aan sy/haar praat en sien aan sy/haar manier van loop. Die persoon se hele persoonlikheid verander. Sommige mense word die vriendelikste mense onder die son. Ander sien weer kans om ‘n swaargewigbokskampioen ‘n drag slae te gee. Om met die Gees vervul te wees beteken dat jou lewe onder die beheer (onder die invloed) van die Heilige Gees staan.

Die vervulling (party mense noem dit die salwing) met die Heilige Gees is ‘n voortgaande gebeurtenis. Dit gaan oor ‘n proses  van groter toewyding en oorgawe waarin jy jou al hoe meer vir die  Here beskikbaar stel. Ons is nie altyd ewe begeester nie, en die vrugte wat ons dra, wissel ook geweldig...ook goed so omdat ons mos gemaak is om mekaar aan tevul, die bedoeling is nie dat ons mekaar moet oortref/uitstof nie!

Soek jy elke dag in alles die Gees se wil en leiding? Doen jy wat die Heilige Gees in die Bybel vir jou sê om te doen? Dan is jy ‘n geesvervulde kind van God.

Wanneer ons mooi gaan kyk na hierdie Bybelgedeeltes van vanaand, sien ons dat die vervulling met die Heilige Gees ook nie van jou ‘n volmaakte mense maak nie. Ons lees dat Petrus vervul is, en dan  lees ons ook in Galasiërs dat hy van die regte pad afgewyk en verkeerd opgetree het...As dit met hom dan gebeur het kan dit mos netso maklik met jou gebeur, of hoe?

Nou is daar baie mense wat wil weet of hulle die Heilige Gees het. Kom ons lees saam uit Romeine 8:1-9 en soek antwoorde op ons vrae, ook wat gebeur dan as Die Gees in ons woon en natuurlik wat gebeur as Hy nie in jou woon nie? Miskien moes die vraag nie gewees het “Hoe kan mens weet of jy die Heilige Gees het” nie, maar eerder “Hoe ontvang ‘n mens die Gees?
Jy ontvang die Heilige Gees netsoos enige ander geskenk van God- uit genade. Heeltemal sonder dat jy dit verdien. Jý hoef nie iets te doen nie. Jy kry die Gees verniet! Netso min as wat dit nodig is om vir Christus iets te betaal om ook jou sonde aan die kruis te dra, netso min is dit nodig dat jy betaal om die Gees van God te ontvang. OMDAT Jesus aan die kruis vir jou gesterf het, gee Hy ook Sy Gees aan jou. Die Gees kom maak Sy woning by elkeen wat aan Jesus behoort....

Daarom kan ons nie Die Gees van Jesus of van die Vader af skei nie. Jy kan byvoorbeeld nie vir Jesus ontvang sonder die Heilige Gees nie. God is ‘n Persoon en jy kan Hom nie in “paaiemente” ontvang nie.

Om dit doodeenvoudig te stel: Wanneer jy in jou hart regtig glo dat Jesus jou van jou sonde verlos het, dat Hy jou Here is, kan jy maar weet dat jy die Heilige Gees ontvang het. Dis juis omdat die Gees in jou hart werk dat jy instaat is om in Jesus te glo. Dis wat in 1 Korintiërs 12:13 staan. Onthou dit asseblief vir altyd: Wie by Christus is, is by Sy Gees. Wie in Christus glo, het Sy Gees ontvang...

Hoekom gebeur dit?
Die vervulling van die Heilige Gees is nie maar ‘n persoonlike gebeurtenis om ons lekker en trots te laat voel nie... Ek wil hier twee sake vir julle uitlig:
1)                  Die eerste bedoeling van die vervulling van die Heilige Gees is dat ons as God se kinders al hoe meer die beeld van Jesus sal vertoon. Wanneer ons sê dat ons aan God behoort, moet ons lewe soos wat Jesus gelewe het (Joh. 2:6). Die vervulling van die Heilige Gees wil ons juis daartoe instaat stel (2Kor3:18). Dis miskien een van die grootste aanklagte teen ons kerk se lidmate – dat ons juis nie elke dag soos Christene leef nie. Ek wonder wat sal ons hoor by mense wat nie die Here ken nie as ons hulle sou vra wat hulle dink van ons as Christene.
2)                  Die vervulling van die Heilige Gees gebeur ook nie los van die liggaam van die Here, ons gemeente nie. Ons word ter wille van die liggaam met die Gees vervul, sodat ons nog meer bruikbaar kan wees om die liggaam van die Here op te bou. Die Here het ‘n wonderlike plan met elkeen van ons!
Die Bybel leer ons dat ons as kinders van die Here elke dag die vervulling van die Heilige Gees moet soek en daarvoor moet bid (Luk. 11:13). Ons moet met groter entosiasme en toewyding aan die Here lewe....

Baie van julle is seker van julle verhouding met die Here omdat julle saak met Hom lank gelede of selfs dalk ook onlangs uitgemaak het. Ander van julle het nog nie by daardie punt gekom nie. As jy dit nog nie gedoen het nie en jy wil graag die redding wat die Here aanbied, aanvaar wil ek jou kans gee om dit te doen. Dit is moontlik dat jy die Here Jesus nou aan die deur van jou hart kan hoor klop.
Wat moet jy doen as jy Hom hoor klop?

 Jy kan weet dat Hy reeds by jou doop met jou besig was. Hy wag dat jy moet reageer. JY ontvang God se verlossing wat Hy in jou doop aan jou toegesê het deur hierdie gesindheid wat nou in jou hart is, te laat uitkom in woorde, in gebed. Want gebed is ‘n gesprek met God. Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6).

‘n Mens word uit genade gered. Nie deur goeie werke nie. Al is jy die beste persoon in ons gemeente kan jy nie gered word deur jou goeie dade nie. Jy word uit genade gered. En die feit dat ek nou met julle praat, is nie om God se genade te manupuleer nie, want ek glo dis uit genade dat julle nou hier in die kerk sit vanaand. Die feit dat jy nou hier is is genade. God het julle daartoe gelei omdat Sy genade in julle lewe so groot is.

Die gebed wat jy kan bid is ‘n eenvoudige gebed. Praat nou met God en sê vir Hom dat jy Hom in beheer van jou lewe plaas. En waneer jy hierdie gebed in jou hart saam met my bid en jy bedoel dit, sal sy verlossing ook vir jou ‘n werklikheid wees. Nie omdat ek so sê nie, maar omdat God dit so gesê het. Nie omdat jy so gaan voel nie, maar omdat God dit belowe het. Kom ons buig ons hoofde en bid saam:

“Here Jesus, ek het U nodig. Ek self is in beheer van my lewe. U het oor die afgelope paar aande vir my oortuig van my tekortkominge en sondes. En daar is niks wat ek kan doen om gered te kan word nie, anders as om u genade aan te neem. Ek maak nou my lewe wyd oop en nooi U om op die troon van my lewe te kom sit en my van hierdie oomblik af die mens te maak wat U wil hê ek moet wees, sodat die Naam van Jesus ook in my lewe verheerlik kan word. En omdat U in U Woord belowe dat wanneer ek die deur oopmaak, U sal inkom, sê ek nou vir u dankie dat U ingekom het. In die Naam van Jesus. Amen!
As jy nou opnuut of vir die eerste keer die sekerheid het dat die Here in jou lewe is, kan jy ook seker wees dat jy die Heilige Gees het!
POSTED BY Steven Sass on 15:53 under

Pinksterreeks Maandagaand 13 Mei 2013 Patensie
Hoe weet ek verseker dat dit die Here/ die Heilige Gees is wat met my praat?

Vanaand se fokus is om opnuut te besef dat ons elke dag op ons reis deur die lewe besluite moet neem, waarvoor ons leiding nodig het. Hierdie leiding kan baie keer bedenklik wees, en vanaand wil ons dus saam na die Woord gaan kyk na die betroubare leiding van die Heilige Gees in ‘n gelowige se lewe...

 Nou hoekom noem ek dat leiding bedenklik kan wees, ek het die beeld van iemand wat geblindoek is, en wat deur ‘n voorafopgestelde “opstical course” gelei moet word. Hierdie roete is dan rye eiers wat uitgepak word waartussen die persoon dan  moet beweeg. Hy het dus leiding nodig van iemand wat hom aan die hand sal vat en deur die eiers moet lei sonder dat die een wat geblindoek is op ‘n eier sal trap...
Alles hang dus af van die een wat die leiding gee, want hy kan een van twee bedoelings hê met die leidingsproses... wie weet dalk wil hy juis hê dat die een wat geblindoek word op ‘n eier moet trap....maar hoe kan mens seker wees?

 Die Heilige Gees se werking is natuurlik nie so “verdag” soos die een wat die geblindoekte persoon moet lei nie.Dis eintlik totaal anders omdat die Heilige Gees se intensies is om van God te getuig en dus ten diepste God se goeie wil altyd op die hart het.

 Maar tog ervaar baie van ons die leiding van die Heilige Gees as verdag... omdat dit vir ons totaal vreemd is.

Ek wil dit amper vergelyk met ‘n man wat gewoond geraak het daaraan om baie met sy vrou rusie te maak, hy is gewoond ook daaraan om alle argumente te wen, aangesien sy vrou nie die moed het om veel terug te praat nie....Natuurlik is hy dan totaal uit die veld geslaan as sy wel een dag opstaan teen hom en haar keel vir ‘n slag goed skoonmaak. Netso is dit dan seker ook so met ons, wat dalk gewoond geraak het oor jare om met God te praat, met Hom te baklei en te redeneer, Hom te ignoreer, Hom te wantrou dalk en nou hoor ons en verstaan ons dalk vir die eerste keer in ons lewens dat Hy terugpraat met ons!

Onthou ons beeld van die skip wat in die donker hawe invaar en waarvan die kaptein moet kyk dat 4 ligte reguit in lyn is sodat hy weet dat hy reg op koers is.... Vanaand kyk ons na die ander twee “ligte” wat vir ons nodig is om die stem van die Heilige Gees te vertrou.
Omstandighede
‘n Volgende lig wat ons kan help, is die omstandighede waarin ons verkeer. Kom ons kyk na ‘n Bybelse voorbeeld van hoe omstandighede deur die Heilige Gees gebruik is om mense te lei. Ons lees saam uit Handelinge 1:8 en 8:1-4. Die volgende vraag kom by my op na ons hierdie gedeelte gelees het: “Wat sien julle in hierdie verse oor die leiding van die Heilige Gees deur omstandighede?”

Dit was deel van God se wil dat die evangelie verder uitgedra moes word as net in Jerusalem. Nou gebruik die Gees omstandighede, die vervolging in Jerusalem, om dit te bereik. Deur hierdie omstandighede gebeur dit dan dat die gelowiges gelei word (amper half geforseer word) om die evangelie van Jerusalem af verder uit te dra. Netso gebruik God vandag nog omstandighede (bv. Oop deure en toe deure) om ons deur Sy Gees te lei. Ons sal egter ook altyd hierdie leiding (wat ons in omstandighede sien) moet toets aan ons “hooflig”, dit wat ons in die Bybel lees en dit wat ons by ons medegelowiges hoor.

Gesonde verstand
Dink julle die Gees kan ook ons gesonde verstand gebruik wanneer Hy ons wil lei? Hoekom? Kom ons lees Romeine 12:1-2.

Die Heilige Gees verander ons denke, Hy laat ons anders dink oor dinge en gebeurtenisse. Hy gebruik dus verseker ook ons gesonde verstand om ons te lei om Sy wil te wete te kom.

Die bekende George Miller, die stigter van een van Engeland se grootste weeshuise, het gepraat van die sogenaamde belansstaatmetode. Wanneer hy in ‘n saak leiding gesoek het, het hy dit in gebed aan die Here opgedra. Dan het hy kalm en bedaard ‘n skoon vel papier geneem en ‘n lyn van bo na onder getrek. Aan die een kant van die lyn het hy al die faktore aangeteken waaraan hy kon dink wat gunstig was vir die saak wat hy oorweeg het. Aan die ander kant van die lyn  het hy die ongunstige faktore neergeskryf. Dit het hy die balansstaat genoem, en oor hierdie balansstaat  het hy verskeie dae gebid en nagedink terwyl hy kort-kort, waar nodig, iets bygevoeg of weggeneem het. Die gevolg was dat die Here hom mettertyd tot ‘n duidelike oortuiging gelei en gemoedsrus gegee het oor wat hy moes doen. Ons sal egter duidelik weer moet sê dat hierdie metode van onderskeiding altyd getoets moet word aan die hooflig, die Bybel, medegelowiges, en omstandighede.
Samevatting
Die Heilige Gees lei ons dus deur wat ons lees in die Bybel, deur wat ons hoor by medegelowiges, deur wat ons sien in ons omstandighede en deur wat ons dink deur ons gesonde verstand te gebruik. Wonderlik! Die Gees van God gebruik AL jou sintuie om jou te lei! Hoekom? Omdat God mos in jou is deur Sy Gees wat besit van jou hele liggaam en siel neem!

Onthou dat ons altyd moet sorg dat hierdie ander bronne van leiding ooreenstem met wat die Woord van ons vra. Dit mag en kan nooit in stryd daarmee wees nie.

Die Bybel bly altyd ons hooflig. Die ander hoofligte is medegelowiges, omstandighede en gesonde verstand. Wanneer hierdie laaste drie “ligte” in lyn is met ons hooflig, dit wat ons in die Bybel lees, vaar ons nou veilig binne die wil van God. Maar as een van hierdie ander “ligte” nie in lyn met die Bybel lê nie, moet ons baie versigtig wees. Dan is ons nie noodwendig met die leiding van die Gees meer besig nie. Dit kan wees dat ons dan eerder besig is om te luister na ons eie (dikwels sondige en selfsugtige begeertes).

By ons soeke na die leiding van die Heilige Gees in al hierdie dinge, sal ons dit altyd biddend moet doen. Die Here belowe om die wysheid waarna ons soek vir ons in antwoord op ons gebed te gee....Jakobus 1:5
POSTED BY Steven Sass on 15:30 under

Pinkster reeks 2013 Patensie
Die Heilige Gees / Hoe weet ek dis die Heilige Gees wat met my praat?
Johannes 16:5-11 en Hebreërs 1:1-2
Baie keer hoor ons mense sê dat die Here of die Heilige Gees vir hulle dit of dat gesê het. Dis asof daar by ons ‘n mate van agterdog is wanneer iemand dit sommer so vir ons kom sê, juis as gevolg van die feit dat ons al so lank die Here dalk ken en Hom al so lank al aanbid dat ons agtergekom het dat mense baie keer reguit vir ons kom lieg as hulle so iets sê.

Baie keer het mense juis dit gesê om ons sag te maak soda tons werlik moet glo dat dit wat hulle nou gaan kwytraak reguit uit die Here se troonkamer af vir ons bedoel is om te hoor....

Ek wil vanaand en môre aand meer hieroor met julle praat en aan die hand van die Bybel probeer dat ons sekere dinge in plek kan stel om seker te maak as iemand vir ons so iets sê dat dit die waarheid is, en veral as ons dit self sou sê seker kan wees dat dit werkik van God en Sy Gees af kom.

In Johannes 16:5-11 vertel Johannes ons van die Heilige Gees wat die wêreld sal lei om hulle sonde en die oordeel van God vierkant in die oë te kyk. Van vers 12-15 af gaan hy voort om die leiding van die Gees in die lewe van gelowiges te beskryf.

Hierdie verse sê twee dinge baie duidelik: God wil ons lei. En Hy doen dit deur die Heilige Gees. Lank gelede het iemand ‘n predikant met die naam F.B.Meyer gevra hoe ‘n Christen die wil van God kan ken? Sy antwoord was: “Hierdie vraag is eenmaal aan boord van ‘n skip vir my beantwoord...

Ons het in ‘n baie donker nag die hawe binnegevaar. Ek het aan die kaptein gevra hoe hy dit regkry om die nou ingang na die hawe in die nag te vind. Sy antwoord was: “Sien u daardie drie ligte? Wanneer daardie ligte in een lyn agter mekaar staan, weet ek dat ek in die regte kanaal is”. So is dit dan ook met God se wil. Wanneer die Woord van God, die indruk van die Gees in my hart en die uiterlike omstandighede ooreenstem, is ek oortuig dat ek ooreemkomstig die will van God handel”.

Die Bybel:
Om ons te lei, gebruik die Heilige Gees verskillende instrumente of “ligte”. Kom  ons lees gou Hebreërs 1:1-2 saam. God het in die bedeling voor die koms van Christus op baie maniere gepraat en die mense gelei. Dit het byvoorbeeld deur drome en gesigte gebeur.

Noudat Jesus gekom  en die laaste dae aangebreek het, praat God deur Sy Seun met ons, deur dit wat Jesus gesê en gedoen het en dit deur alles wat vir ons in die Bybel opgeteken staan. Hierdie gedeelte wil ons aandag daarop vestig dat God Sy wil veral deur Sy Woord bekend maak.

Die Heilige Gees lei ons hoofsaaklik deur die Woord. Johannes 16:13-14 gaan selfs so ver as om te sê dat die Gees net sal sê wat Jesus gesê het...

Dit is mos nou so duidelik soos daglig dat dit geweldig belangrik is om die Bybel dus baie goed te ken. Dit gaan nie maar net daaroor om die Bybel op ‘n plek oop te slaan die dag as jy leiding nodig het nie. Jy moet so uit die Woord leef dat die beginsels van die Woord so deel word van jou dat jy byna instinktief weet wat die wil van die Gees is.

Soms gee die bybel baie duidelike uitsprake, soos om nie jou liggaam aan iets verslaaf te laat raak nie (1Korintiers 6:12). In so ‘n geval vra jy mos nie eers wat die wil van die Here is nie. Dis mos alreeds baie duidelik in die Bybel vir jou uitgespel. Daarom kan ons doodseker wees dat die Gees ons nie sal lei om byvoorbeeld in stryd met so ‘n Skrifgedeelte te  handel nie. Die Gees lei ons dus heel eerste deur presies dit wat ons in die Bybel lees.

Maar die leiding van die Heilige Gees  bestaan nie net uit die blote herhaling van Jesus se woorde in die Bybel nie. Nee, Hy sal voortbou op wat Jesus gesê en gedoen het. Die Boodskap stel dit so: “ Hy sal met julle praat oor wat Hy gehoor het. Verder sal Hy julle ook voorberei op alles wat nog vir julle voorlê. Die Gees sal voortbou op wat Ek gesê en gedoen het.”
Medegelowiges:
Hierdie “voortbou” van die Heilige Gees kom na ons toe op verskillende maniere. Die eerste “lig” naas ons “hooflig” – die Bybel- is die raad van medegelowiges.

Nou is die vraag vanaand: “Wat dink julle van die leiding van die Gees deur die raad van medegelowiges?”.

Die Gees is as gawe aan die hele kerk van Christus gegee. Daarom moet ons deeglik kennis neem van ander gelowiges se menings en raad wanneer ons na die wil van God vra. Hy gebruik hulle ook om ons te laat hoor wat Sy wil is. Daarom moet ons kennis neem van ons kerk se standpunte  soos dit byvoorbeeld na vore kom in publikasies, kerklike besluite, preke en raad van medegelowiges soos vriende, onderwysers en kerkraadslede. God gee tog ook genadegawes aan gelowiges wat dikwels juis help om die leiding van die Gees vir ons duidelik te maak.

Sommige mense het die gawe van profesie en maak die woord en wil van God so duidelik aan ons dat ons juis daarin hoor wat die Gees vir ons wil sê. Ander beoefen die woord van wysheid wanneer hulle wyse raad gee wat ander mense sommer dadelik laat besef dat dit die leiding van die Heilige Gees is....

Ek het byvoorbeeld die gebruik, dis seker al meer as net ‘n gebruik, dalk eintlik ‘n gewoonte, om na een van my ouderlinge te gaan vir raad as ek dalk vasdraai met ‘n krisis of iets wat vir my moeilik is om te hanteer.... Iemand anders sal dalk nie na hom toe wil gaan nie, juis omdat sy raad meestal dieselfde is en ook meeste van die tyd geweldig eenvoudig is.... Sy raad is meeste van die kere net die volgende woorde: .....ek hoor jou, Steven, ....maar wat gaan jý daaraan of daaromtrent doen...” Dis mos net wysheid van die Gees daai, of hoe? Dis mos goeie raad reg uit die opsomming van die Bybel van een van ons gemeente se ouderlinge af!

Ons sal egter atlyd hierdie leiding moet toets aan ons “hooflig”, die inhoud van die Bybel....

Kom gerus more aand weer soda tons oor die ander twee “ligte” kan praat wat in lyn moet wees sodat jy seker kan wees dis die Gees/God wat met jou praat....
POSTED BY Steven Sass on 06:41 under

12 Mei 2013 Patensie
Vriendelikheid
Galasiërs 5:16-26
Vriendelikheid. Dit is iets waaroor ons so baie praat en dink. Meet en beoordeel ons nie mense aan die vraag: is hy/sy vriendelik of onvriendelik nie? Dit is byna die eerste oordeel wat ons oor ‘n mens vel.
Ons teks sê: vriendelikheid is ‘n vrug van die Heilige Gees.
Maar is vriendelikheid dan nie so algemeen menslik nie? Is alle gelowiges vriedelike mense en alle ongelowiges onvriendelike mense? Lees ons dan nie in 2 Konings 25:28 dat Ewil-Merodak, die Babiloniese koning en ongelowige, vriendelik opgetree het teenoor Jojajim die koning van Juda tydens die ballingskap nie? En in Handelinge 28:7 lees ons dat Publius, die hoof van die eiland Malta, waar Paulus as gevangene gestrand was, Paulus drie dae lank vriendelik ontvang het. En sien ons dit nie daagliks dat ongelowiges ook vriendelik is nie? Ag jy ken mos die vriendelike sakeman wat niks met die Here te doen wil hê nie, die vriendelike mense wat dalk saam met jou werk, maar nie in die Here glo nie. Hoe kan die Bybel dan sê: “Vriendelikheid is ‘n vrug van die Gees?” Is vriendelikheid dan meer as ‘n verbygaande glimlag of gulhartige behandeling? Moet ons nie miskien tussen soorte vriendelikheid onderskei nie?

Die vriendelikheid van ‘n ongelowige is tog ten diepste ‘n selfgesentreerde vriendelikheid. Iets wat die ongelowige wys of openbaar om self iets daaruit te verkry. So is die ongelowige handelaar of sakeman vriendelik met sy kliënte omdat hy geld wil maak. ‘n Man is vriendelik met ‘n vrou omdat hy ‘n verhouding met haar wil aanknoop. Is die ongelowige buurman vriendelik omdat hy in aanganame omstandighede wil leef, maar hierdie vriendelikheid is nie blywend nie. Dit is ‘n middel tot ‘n doel...

Die vriendelikheid as vrug van die Heilige Gees is veel dieper. Dit is nie ‘n middel tot ‘n doel nie. Dit is die uitvloeisel van die gesindheid van die hart. Daarom is die vriendelikheid van die gelowige gegrond in die mens se beskouing. Wie sy medemens beskou as ‘n bedreiging, ‘n gevaar, wat sy medemens op ‘n afstand hou, behandel hom onvriendelik. Wil as’t ware ‘n skans rondom hom bou. Die gelowige weet: die mede mens is geskep na die beeld van God; is deur God geskep met ‘n besondere doel. Ja Jesus Christus het elkeen so lief dat Hy vir elkeen gesterf het. Daarom: betoon die Christen vriendelikheid. Soos Jesus dit so mooi in Matteus 25 gestel het sal dit uit die vriendelike behandeling van die een wat honger en dors was; die vreemdeling; die persoon in die gevangenis, die arme, die sieke blyk of ons in Hom glo.

 Hier is die toets van geloof en van vriendelikheid: of ons ook vriendelik is teenoor die persoon wat nie instaat is om jou te vergoed vir jou vriendelikheid nie.

 Maar vriendelikheid is nie alleen ‘n uitvloeisel van die mensbeskouing nie. Dit is ook die kenmerk van die liefde. Want in 1Korintiërs13:4 lees ons: die liefde is lankmoedig en  vriendelik. Vriendelikheid en liefde kan nie geskei word nie. Jy kan alleen vriendelik wees as jy liefhet. Man en vrou; ouers en kinders; vriende is vriendelik teenoor mekaar omdat hulle mekaar liefhet. Liefhet met die liefde van Jesus: wil gee en nie wil ontvang nie. Wil opoffer en nie ontvang nie. Liefde ten spyte van en nie ter wille van nie. Hierdie liefde het alleen die gelowige – want dit is die liefde wat God skenk. Daarom: hierdie vriendelikheid het alleen die gelowige.

 Daarom word vriendelikheid juis gekenmerk van die lewe van die gelowige. In 1 Petrus 3:8 roep die gelowiges op met die woorde: “wees almal eensgesind, vol broederliefde en ontferming, vriendelik”. En in 2 Timoteus 2:2 sê Paulus : “ ‘n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal”. En natuurlik in Filippense 4:4-5 lees ons die bekende: “Verbly julle altyd in die Here. Ek herhaal, verbly julle. Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby”.

 Ja: vriendelikheid teenoor mense is die uitvloeisels van blydskap in die Here. Terwyl dit so is dat ongelowiges ook vriendelik kon wees, al is dit gegrond in die situasie en met die verkeerde doel voor oë, is dit deel van die algemen genade van God. Maar die gelowige, die kind van God kon nie anders as om vriendelik te wees nie.  ‘n Onvriendelike Christen is dus nie moontlik nie!

Want vriendelikheid is ‘n vrug van die Gees as die mens sy lewe aan die Here oorgegee het en die Heilige Gees ons lewens betree en bewoon – dan en dan alleen vloei die vrugte van die Heilige Gees en ook vriendelikheid uit ons lewens uit. Die gelowige is soos ‘n spons wat in water gedompel is. En as dit uit die water uitgehaal word, dan drup die water mos daaruit. Nie omdat die spons water maak nie. Maar omdat hy nie instaat is om vir homself te hou, dit wat hy ontvang het nie. So is die kind van God. Die Heilige Gees voed ons: en die vrugte van die Gees drup uit ons lewe: ons kan nie anders nie. Ons kan dit nie vir onsself hou nie. Dit is nie ons nie. Dit is die Heilige Gees in ons!

Daarom kon die gelowige nie anders as om vriendelik te wees nie. So word die vrugte van die Gees die norme waaraan ons ons eie lewe kon evalueer en vra: het ek ruimte vir die Heilige Gees in my en by Hom gepleit om my lewe ook vol te maak? Of wil ek nog uit my eie krag leef?

Die vriendelikheid as vrug van die Heilige Gees behels dan veel meer as net ‘n glimlag. Ja, natuurlik dit ook. Maar dit is meer. Dit is die vriendelikheid wat deurskemer in ons manier van praat met mense. Maar word ook hoorbaar in my gesprekke oor ander mense. In 1 Timoteus 3 word die vriendelike mense gestel teenoor die rusiemaker, die een wat skinder en deel aan vuil praatjies! Die vriendelike persoon is geen rugsteker wat ander beskinder en beswadder nie. Die vriendelikheid moet ook deurskyn in die werke. Ja die benadering tot die werk; die vreugde waarmee gewerk word-nie vol verskonings en al klaende nie. Maar een vriendelikheid terwyl ‘n glimlag om die mond en ‘n lied in die hart is! So moet die vriendelikheid uit jou hele lewe uitstraal; die vreugde om te leef; omdat die lewe die moeite werd is; ja omdat die Heilige Gees dit die moeite werd gemaak het.  Omdat Hy ons lewe vul.

Daarom vra ons onsself: Hoe lyk my lewe? Word dit gekenmerk deur die vriendelikheid as een van die vrugte van die Heilige Gees en daarom word dit ken merkend van ‘n lewe in die Heilige Gees?
POSTED BY Steven Sass on 20:05 under



5 Mei 2013 Patensie
Geregtigheid uit die geloof!
Galasiërs 2: 15-21

In hierdie gedeelte het ons in verse 17 & 21 die woord VRYGESPREEK/vryspraak gelees. Letterlik beteken dit: regverdig verklaar/geregverdig word. Dis 'n woord wat aan 'n hof herinner. Daar is 'n skuldige - wat meteens onskuldig verklaar word. Vrygespreek omdat 'n plaasvervanger ingestaan het om die skuld te dra/betaal.

Hierdie woord “onskuldig” som die hele essensie van die Bybel op. Alles is saamgevat in daardie een woord: onskuldig/sonder blaam.

Die kern van die blye boodskap wat ons aan alle mense sonder onderskeid gaan verkondig is juis dat God hulle onskuldig ag op grond van Jesus Christus se kruisdood, waarby God hulle onverdiend ingesluit het. En ons verkondig hierdie bloedwarm goeie nuus aan hulle om hartstogtelik gegló te word. Maar die “glo” is nie 'n ietsie wat die mens moet doen om (soos 'n menslike aandeel) vrygespreek te word nie. Die “glo”aanvaar/ontvang net die vryspraak wat reeds op die kruis 'n realiteit geword het.

Die oomblik wanneer die “glo” 'n ietsie word wat die mens éérs moet doen om God goedgesind te maak – dan is ons weer van voor af terug binne-in die onderhouding van die wet om gered te word. Want by die Wet gaan dit oor DOEN en oor VOORWAARDES ("asse"). Sien Gal 3:12.
Die manier hoe 'n mens níé onskuldig verklaar word nie, is deur die Wet te probeer onderhou.

Die boodskap is duidelik: ‘n Sondaar word nie gered deur die wet (menslike doen) nie. ‘n Sondaar ís gered deur die verlossing wat Jesus in-die-plek-van-die-sondaar op die kruis kant en klaar bewerk het. Dit is nie 'n potensiële werklikheid nie. Dit ís 'n werklikheid, want die kruis/Gods trou láát dit 'n werklikheid wees. Hierdie realiteit word egter 'n persoonlike belewenis in die sondaar se lewe op die oomblik wanneer hy/sy dit werklik hoor, ontdek & verstaan & gevolglik glo. Dis die blye boodskap.

Maar die oomblik wanneer 'n mens dít gesê het, kom die misverstande!Jy sal byvoorbeeld hoor dat mense reageer deur te sê: “Jong dis gevaarlik om só te praat soos jy nou praat. Want jy weet, as dit so is dat God sondaars vryspreek op grond van Jesus se kruisdood terwýl hulle nog sondaars is, sonder om eers voorwaardes te stel, sonder om eers te verwag dat hulle hulle kant bring – wat is dan die punt om in oorwinning oor sonde te wil leef? Dan kan ons mos leef soos ons wil en enigiets gaan aanvang. Dan beteken dit eintlik dat die vrye vryspraak-op- grond-van-Jesus-se-kruisdood daartoe sal lei dat mense nog méér sal sondig. Jesus kom dan in diens van die sonde – om dit so kras te stel! Jesus wakker sonde aan!” Sien vers 16.

BESLIS IS DIT NIE SO NIE – antwoord die Apostel. As jy so graag in sonde wil leef is dit beslis nie Christus en die vrye vryspraak deur Sy kruisdood se skuld nie. Jy kan slegs jouself daarvoor blameer. Hý is nie verantwoordelik vir sonde in gelowiges se lewens nie (vers 17). Dis nie die genade wat jou laat sondig nie. Dis jyself wat dink dat genade goedkoop is. En nou misbruik jy Sy goedheid.

Maar nou moet jy ook nie weer die werke van die wet (ietsies doen as voorwaardes vir seën) terugbring in jou verhouding met die Here om die sondes daarmee te probeer oorwin nie (vers 18). Dit is weer die ander misverstand. Want so redeneer ons menslike logika, sien?

Volg julle die argument? Kom ons kyk weer:

Die suiwer evangelieboodskap is dat God die mens ingesluit het by Jesus se kruisdood en die mens sodoende onskuldig verklaar het – om gegló te word.

MISVERSTAND NO 1: “O, dan kan ek mos nou maak net waartoe my sondige luste my lei – Jesus se kruisdood het my mos vrygemaak. Ek kan nou vrolik sondig - en as ek só doen, is dit die genade se skuld. Hy wil my mos op die kruis sommer net so vrygemaak het!”

NEE sê die Apostel – Sy vrymaking op die kruis kan/sal jou nooit met opset laat sondig nie. Dáárvoor is jý self verantwoordelik.

MISVERSTAND NO 2: “As ék dan verantwoordelik is, laat ek dan my maar weer inspan en my deel probeer doen: Ek sal vas glo dat Jesus se kruisdood my vrygemaak het, maar ek sal tog ook nog die werke van die wet byderhand hou en hard probeer om nie te sondig nie. Ek sal hard probeer om my eie-ek dood te kry.”

NEE, sê die apostel, dit werk ook nie só nie, want dan gaan jy aanhoudend veroordeeld en skuldig voel, want die wet gaan vir jou vertel hoe sleg jy is omdat jou probeerslae altyd te kort skiet. Die wet sal jou heeltyd as oortreder aankla.

Nou hoe nou gemaak? Hoe kom ek uit hierdie dilemma? Antwoord is: Die wet veroordeel my tot die dood omdat ek nie daarin slaag om al die ietsies reggenoeg te doen om in God se goeie boekies te kom nie. Daarom eis die Wet my dood.

Maar, ek het KLAAR aan daardie eis van die Wet voldoen, want ek HÉT gesterf. Ek is ingesluit by Jesus se dood! Ek het dus alreeds aan die eis van die Wet voldoen. Die wet eis my dood en ek het gesterf! Toe Jesus as my Plaasvervanger gesterf het, toe het God my daarby ingesluit. Ek is SAAM MET (ingesluit) Hom gekruisig.Nou kan/mag die Wet geen dood meer van my eis vir enigiets wat ek verkeerd doen nie! Ek is morsdood vir die wet se eis dat ek moet sterf. Ek is morsdood vir die Wet se voorwaardes van “ietsies doen” om in God se goeie boekies te kom.

Daarom kan ek nou net vir die Here lewe! Dis al wat vir my oorbly. Waar ek faal sal Hy dit nie teen my hou en my straf nie – want ek is klaar op die kruis gestraf. Ek lewe nie meer onder veroordeling nie. Maar ek wil ook nie meer sondig nie, want dit is Christus wat nou in my lewe. Is dit nie wonderlik nie? Ek het 'n nuwe rekord in die hemel: 'n Skoon rekord want alles is betaal. En dit blý skoon vir altyd. Christus is my lewe. Elke mens vir wie Christus gesterf het, het self ook gesterf! As een vir almal gesterf het, dan het almal gesterf (2 Kor 5:14). Nou reken God CHRISTUS se lewe as jou en my lewe. Hy reken alles van Christus vir jou en my toe sodat dit só is dat óns dit werklik ís.

Hoe op aarde kan ek dít besef en dan wil voortleef in sonde? Dit is mos pure nonsens. Christus is my lewe – ek is by Hom ingesluit. Ek het nie myself by Hom ingesluit deur my keuses of geloof nie. Gód het my ingesluit. Dit is my vaste vertroue. Daarom het ek nuwe begeertes, nuwe denke, nuwe insigte, nuwe manier van doen, nuwe vriende, nuwe leesstof, nuwe internetgewoontes, 'n nuwe hoop. Ék het absoluut niks verander nie. Ek het net tot die ontdekking gekom dat Hý dit verander het. Halleluja!

Hoeveel keer het ons nie al preke oor Gal. 2:20 gehoor nie! Dan hoor ‘n mens soms goed soos: “Jy moet jou eie-ek kruisig” OF “As Gal. 2:20 uiteindelik van jou waar geword het, kan jy ontslae raak van allerhande sondes, omdat die eie-ek dan dood is”. So asof Gal. 2:20 oor die EIE-EK handel. En so asof Gal. 2:20 net van sommige Christene waar geword het. Jy moet eers 'n bepaalde “vordering” in jou geestelike lewe maak voordat Gal. 2:20 van jou waar sal word. So trek jou sokkies op boetie!

Maar, dit is hoegenaamd nie wat die Woord leer nie. Gal 2:20 is alreeds waar. Vanaf die kruisigingsdag is jy saam met Christus gekruisig en leef Hy in jou.

Hier staan ook glad nie dat die mens self sy eie-ek moet probeer kruisig nie! Nee. Dis iets wat God gedoen het.

Wat het Hy gedoen? Wat sê Paulus hier? Wie is dit wat saam met Christus gekruisig is? Die "eie-ek"? Nee. Dit is daardie ou Paulus wat homself probeer verbeter het deur dit en dat te doen! Dít is die mens wat gekruisig is. Die mens wat gekruisig is, is die mens wat homself op 'n hoër vlak probeer kry deur sy eie geloof en bekering en beslissings vir Christus. Die mens wat altyd goedjies wil bydoen bý Christus. Die mens wat nie tevrede is nét met Christus nie. Daardie mens is nou dood. Hy's gekruisig. Hy's ingesluit by Jesus se dood. En, dit is van alle Christene waar.

Nou bly net een ding oor: Ek lewe deur Sý geloof (v 20). In ons vertaling staan: “Die lewe wat ek nou nog lewe, lewe ek deur die geloof IN die Seun van God wat Sy liefde aan my bewys het..” Maar in die Grieks staan: “Die lewe wat ek nou nog lewe, lewe ek deur geloof (geen lidwoord) VAN die Seun van God (ên pistei toe whee-oe toe Thêoo) wat Sy liefde aan my bewys het... ek verwerp nie die genade van God nie. As ek dít sou doen, sou dit beteken dat Sy kruisdood waardeloos was.”

Terwyl ons dikwels sweet en swoeg en maagsere kry soos wat ons ons sogenaamde eie-ek probeer kruisig en doodkry, praat Paulus ‘n heel ander taal. ‘n Soete, hemelse taal. Hy sê: Ek leef uit die geloof van Hom wat Hom al lankal, uit pure liefde vir my, aan my oorgegee het!! En die ou Paulus, wat deur ietsies doen probeer het om die hemele te haal, is dood. Hy ís dood. Pleks van maagsere en ‘n senuwee-ineenstorting kry, rús Paulus in Christus Jesus se geloof!

Wat beteken dit: “rus in Christus se geloof”? Letterlik in Grieks: “Christus se oortuiging”. Christus het 'n oortuiging jeens jou wat Hy nooit sal verander nie. Hy is aangaande jou oortuig dat jy ingesluit is by Sy kruisdood en dat jy daarom onskuldig is voor God.

Al wat jou oortuiging (geloof) doen, is om Sy oortuiging (geloof) te ontdek en daarin tot rus te kom. Paulus sê dis AL lewe wat hy op aarde lewe (v 20). Dit beheers alles wat hy praat en doen. Hy het 'n geloofsoortuiging wat rus in Christus se geloofsoortuiging aangaande hom. En dit is dat hy saam met Hom gesterf het. Punt uit en verby.

Dit is Bybelse taal van oorwinning. Dit is die soort taal wat Paulus aan die Galasiërs probeer leer het. Want, as hierdie soort lewe nie moontlik was nie, sou Christus tevergeefs gesterf het!