POSTED BY Steven Sass on 21:05 under
14 Desember 2014 Patensie
Lukas 1: 67-79
Die feestelikheid en vrolikheid van die Kerstyd bombardeer ons sintuie oral waar ons gaan. Liggies en versierings, Kersmusiek in elke winkel en oor die radio, en dan word daar ook heelwat geëet en gedrink om by te dra tot die gevoel van feestelikheid.

 Maar daar is nie noodwendig vrolikheid en gevoelens van feestelikheid in almal se harte net omdat dit die Kersseisoen is nie. Die nood, lyding, eensaamheid en pyn wat deel is van die lewe, kom nie tot stilstand nie, en verdwyn nie soos mis voor die son net omdat dit nou feestyd is nie. Inteendeel, baie mense beleef die Kerstyd as besonder moeilik. Vir party is dit ‘n pynlike herhinnering aan ‘n plek wat leeg is omdat ‘n geliefde dood is, vir ander is it ‘n tyd wat gevrees word vanweë meer geweldpleging of omdat ‘n eggenoot met ‘n drankprobleem gewoonlik in hierdie tyd weer ‘n terugval beleef.

 Vir mense wat hulle eensaamheid besweer deur hard te werk en aan die gang te bly, is dit ‘n tyd wanneer hulle alleenheid nie ontvlug kan word nie. Alles kom tot ‘n stilstand, mense ontspan saam met vakansie, families kom bymekaar, maar vir hulle is daar niemand nie. Die kunsmatige vrolikheid en welwillendheid wat in die Kerstyd ontstaan, help nie om die regte nood ellende in ons wêreld te verlig nie. Inteendeel, dit vererger dit soms.

Dit is eintlik ironies dat al die valse en aangeplakte vrolikheid van hierdie tyd juis as ‘n tradisie tot stand gekom het omdat die Kerstyd ‘n blye boodskap en goeie tyding bring. Maar êrens langs die pad het die blye boodskap verdwyn en al wat oorgebly het is die vrolikheid wat veronderstel was om die reaksie op die goeie nuus te wees. Nou is die vrolikheid hol en leeg, want die rede is nie meer vir die mense belangrik nie.

Sagaria se loflied getuig van ‘n egte, inhoudelike vreugde. Sy blydskap is nie hol en leeg, kunsmatig of aangeplak nie. Want hy het rede om bly te wees. Die nuus wat hy verneem het is at die ware nood en ellende in die wêreld nou nie meer die oorhand gaan hê oor mense en menselewens nie, want daar het ‘n egte en ingrypende verlossing gekom.

Sagaria se blydskap het ‘n stewige fondament, naamlik God se werke van die verre verlede af, tot nou in Sagaria se lewe en tot in die verste toekoms. Sy lied begin met lof aan God omdat God goed was vir Sy volk. Hy het hulle nie maar aan hulle lot oorgelaat nie. God het Sy mense raakgesien, opgesoek en daadwerklik vir hulle iets gedoen. Hy het vir hulle verlossing bewerk.

God se werk is ‘n stewige fondament vir Sagaria se blydskap. Dit is nie ‘n tydelike rede om vrolik te wees en dan gaan dit verby en almal is weer kniediep terug in hulle ellende nie. God se werk kom van ver af, die verlossing maak ‘n ingrypende verskil en daardie verskil verander lewens permanent. Die nuwe verloste mens kan ‘n positiewe lewe vol vrede en vreugde aanpak, want God se verandering is blywend en God se verlossing is ingrypend.

God se belofte van verlossing kom al van ver af. Die belofte is gemaak deur die profete lank voor Sagaria se tyd. God het reeds met Abraham duidelik gemaak dat God met hierdie mense in ‘n verhouding wil wees. God het met hulle ‘n verbond gesluit, dit wil sê met hulle in ‘n verhouding getree en Sy belofte bevestig dat Hy hulle sal red van hulle vyande.

Om ‘n verbond te sluit was ‘n algemene gebruik in daardie tyd. Dit was gewoonlik ‘n sterk koning wat met ‘n kleiner, swakker volk ‘n ooreenkoms aangegaan het. Die ondergeskikte volk moes dan sekere beloftes maak en sekere betalings doen aan die sterk koning. Dit is hoe hulle dit geken het, en nou kom God, die grootste, sterkste koning, en Hy sluit met hulle ‘n verbond waar Hy die een is wat beloftes maak en wat vir hulle iets gaan gee. As die sterke God nog boonop Sy belofte met ‘n eed bevestig, dan laat dit geen twyfel nie: dit is rotsvas en onwankelbaar. Dit sal so wees....
 God gaan en sal vir ewig en altyd by ons, by jou en by my wees.... niks en niemand sal ons ooit uit Sy hand kan ruk nie. Maak nie saak wat in hierdie wêreld, of land gaan gebeur nie. Ons Immanuel is by ons. Hy is by ons om ons toe te vou in Sy wonderlike liefde, Hy is by ons om ons te vul met Sy wysheid, Hy is by ons om ons te beskerm en te bewaar teen alle gevare, Hy is by ons om ons te leer, te laat voel en te wys wat liefde regtig is.... Nou en vir altyd!

Maak dit jou ook bly vanoggend? Maak dit jou ook opgewonde vanoggend? Of soek jy nog op die verkeerde plek jou ware geluk en heil? Of is jy nogsteeds besig om ander plannetjies te maak? Miskien is dit juis hoekom jou lewe vir jou so vervelig/eentonig/min werd is.


My gebed is dat jy jouself opnuut sal blootstel aan die wonderlike loflied van Sagaria, dat Jesus vir jou ook in hierdie tyd ‘n werklikheid sal wees....Amen