POSTED BY John Wait on 18:27 under

1 Samuel 25, 2 Samuel 11

Daar is niks nuuts onder die son nie! Hoe waar is dit nie. Lees mens die verhaal van Dawid soos dit in die boek Samuel en Konings vertel word, staan mens verslae oor hoe Dawid in slaggate getrap het en waarin baie mans ook op die ou ent trap. Mens wonder of die opskrif van die Dawidsverhale nie moet lees: Nie so nie!

Die boeke Samuel en Konings vorm deel van wat vandag algemeen bekend staan as die Deuteronomistiese geskiedswerk en wat die boeke Deuternomium, Josua, Rigters, Samuel en Konings omvat. Hierdie werk is in die finale vorm geskryf tydens die Babiloniese ballingskap. Die uitgebreide werk handel oor die lotgevalle van die volk vanaf die tyd voor die intog tot met die Babiloniese ballingskap.

Dit is dus eerstens gerig aan mense wat in alle opsigte diep ontnugter en moedeloos was. Hulle het geworstel met talle vrae, soos: Waarom het ons alles verloor? Waarom moet ons nou in ballingskap leef? Wat hou die toekoms in as daar nog hoegenaamd ‘n toekoms kan wees? Waarom het die Here ons oorgegee in die hande van goddelose magte? Waarom het die Here nie Sy kinders beskerm nie? Waar is die Here? Wat het van die Here se beloftes geword?

Die Deuteronomistiese geskeidswerk is toe gekryf om aan hulle ‘n verduidelikking te gee van wat aanleiding gegee het tot die situasie waarin hulle hulself bevind het. Die kernboodskap is dat die Here hulle Sy volk gemaak het. Hy het ‘n verbond met hulle gesluit en aan hulle Sy wet gegee.

Die ooreenkoms was duidelik. As hulle die wet van die Here onderhou en daarvolgens leef, sal hulle voorspoedig wees in die land wat die Here aan hulle gee. As hulle egter ongehoorsaam en ontrou is, sal hulle die land verloor. Die geskiedenis word dan vertel om aan te toon hoe ontrou hulle was. Van die begin af  het hulle nie altyd geluister na die wet van die Here en nie gedoen wat Hy gevra het nie. Ook die konings en selfs die man na God se hart het nie geleef volgens die wil van God nie. Daarom is hulle in ballingskap. Die ellende kan nie toegeskryf word aan die afwesigheid van die Here of dat Hy Sy beloftes of kinders vergeet het nie, maar omdat hulle ongehoorsaam en ontrou was.

Dawid was ‘n besondere man met baie talente. Hy was ‘n goeie musikant. Hy was ‘n onverskrokke jongman en uitstekende militaris. Reeds op vroeë ouderdom het hy hom onderskei toe hy teen Goliat geveg het en van onkonvensionele metodes gebruik gemaak het om die reus te verslaan. In die daaropvolgende optredes teen baie vyande het sy militêre insig en vermoë sterk na vore gekom. Daarby was hy ‘n minsame persoon wat goed met ander oor die weggekom het. Geen wonder dat hy die koning geword het nie. “n Man met baie talente. Dawid was bo-al nog ‘n diep gelowige. ‘n Pragtige toekoms het op hom gewag.

Op ‘n vroeë ouderdom het Dawid al die kruin bereik. Hy was ‘n koning van drie koninkryke. Hy was mos koning van Juda (die Suidelike Ryk) en van Israel (die Noordelike Ryk) en van sy persoonlike staat Jerusalem. Hy was welvarend. Hy was getroud (met ‘n hele paar vrouens) en het ‘n aantal kinders gehad. “n Man van aansien nie net in sy eie stad en land nie, maar ook in die hele streek.

Daarby was hy ‘n diep godsdienstige man en het ‘n aktiewe rol gespeel in die kerk van destyds. Dawid was ‘n man op wie enige ouer kon trots op wees en met wie mens graag sou wou assosieer. Hoe graag sou ons nie in sy skoene wou staan nie of sy voorbeeld wou navolg nie.

Ongelukkig was daar ook ‘n skadukant. Hierdie skadukant word ook nie in die Bybel verswyg nie, dit laat ‘n rilling teen jou ruggraat afgaan, want dis ‘n skadukant wat helaas vandag nog baie aangetref word.

Dawid se posisie het gelei tot ‘n strewe na mag en populariteit. Hy was die stigter van ‘n tipe apartheidsryk. Hy het aan sy mense alle segenskap gegee terwyl die ander inwoners van die land wat ook onder sy mag en jurisdiksie geval het, geen sê gehad het nie en al die belasting moes betaal. Soos die tyd aangestap het, het hy al hoe meer gedelegeer en moes dinge namens en veral vir hom gedoen word. Dit het aanleiding gegee tot ander wanpraktyke.

Is dit nie dinge wat ons ook mos dikwels sien nie? Mense in magsposisies wat net meer mag wil hê, ander uitbuit en misbruik, al minder doen en verwag dat ander al meer vir hulle doen. Soos Dawid bou hulle ‘n gemaksone om hulself. Hoe dikwels lei dit ook nie tot ledigheid en verval nie.

Dawid het met tyd saam ‘n vrouejagter geword. So het hy met Abigail getrou nadat hy haar man afgedreig het. Die dreigemente het gelei tot die dood van Nabal waarna Dawid met Abigail kon trou (1 Samuel 25). Dawid het ook ander vroue gehad, naamlik: Aginoam, Maaka, Gaggit, Abital, Egla (2 Samuel 3:1-5). Dan moet ons ook onthou dat hy nog getroud was met Mikal. Asof dit nie genoeg was nie, het Dawid toe nog owerspel gepleeg met Batseba. Dawid het mos nie, soos dit ‘n koning betaam, saam met sy manskappe opgeruk na die veldslag nie, maar het by die huis gebly. Toe sien hy ‘n mooi vrou bad en pleeg owerspel met haar. Toe dit blyk dat sy swanger is, probeer hy op slinkse manier sy verantwoordelikhede ontduik. Dit slaag nie en lei daartoe dat hy sy mag misbruik en verantwoordelik is vir die dood van haar man. Toe het hy gedink kan hy met haar trou sonder dat ‘n haan sou kraai oor sy eskapades. Sy slim plannetjies werk toe nie! Die Here stuur ‘n profeet na Dawid toe. Natan kondig die straf oor Dawid aan. Sy sonde word nie ongestraf gelaat nie. Hy moes duur betaal vir sy onbeheersde optrede. Nie so nie, Dawid! Dit pas die gelowige nie om so te leef nie, want dit druis in teen die Woord van die Here.

Nie so nie! Hoe tragies is dit nie dat hierdie veroordeelde lewenswyse van Dawid vandag nog nagevolg word nie. Dis asof mans in hulle middeljare, as hulle hul merk gemaak het, baie bereik het en dit lyk of die moeilike pad boontoe nou ‘n gelyk-pad geword het, vir hulleself gemaksones skep en hulle dan met allerhande onheilige dinge besig hou. Te veel tyd en te veel geld lei soms tot te veel probleme en verval en ongeluk. Mense begin dink dat hulle alles kan reg koop. Hulle hoef nie meer so hard te werk nie en kan ander laat werk. … dan begin die oë dwaal en word allerlei verhoudings aangeknoop. En so dikwels dink mense hulle kan daarmee wegkom. Baie slim plannetjies word beraam. Dit werk nooit uit nie! Een of ander tyd kom dit maar op die lappe. Die Here sien dit en slaap nie. Daar rus ‘n straf daarop. Jou sondes sal jou die een of ander tyd inhaal.

Dawid se rondslapery het baie negatiewe gevolge vir sy gesin en familie ingehou. Sy vrouens en kinders het daaronder gely. Hyself moes daaronder ly. Tot met sy dood moes hy swaarkry as gevolg van die baie vrouens met wie hy verhoudings gehad het en met wie hy selfs getroud was. Selfs na sy dood het dit negatiewe gevolge vir sy kinders gehad. As hy tog maar sy tyd en energie gebruik het tot voordeel van sy eie gesin. Laat dit vir ons ‘n waarskuwing wees. Laat dit ons dring om ons krag en energie en liefde te fokus op ons eie vrouens en eie gesinne. Laat ons nie ons lewens opmors nie, maar laat ons die talente wat die Here aan ons gee, gebruik tot opbou van ons gesinne, tot eer van die Here deur te leef volgens Sy Woord.
POSTED BY John Wait on 18:15 under
Psalm 150


Die Psalmis eindig met die Hallelujakoor! In elkeen van die dertien sinne waaruit hierdie Psalm bestaan, kom die woord Halleluja (Prys die Here) voor. Daar is nie ‘n enkele sin waar dit ontbreek nie. Nou sou iemand dalk kon sê dat die woorde hier na 150 Psalms opgeraak het. Miskien sou ons eerder kon sê dat die behoefte om die Here te prys nou al sterker geword het en hier ‘n klimaks vind.


Ons hoop dat ons almal nou al gereed is om hierdie Hallelujakoor saam te sing. Soos ‘n goue draad het die oproep deur die Psalms geloop en al sterker het die oproep tot ons gekom: prys die Here! Dit moet nie net ‘n integrale deel of die begin en einde van ons aanbidding van die Here wees nie. Dit moet ons hele lewe omvat.


Psalm 150 wil ons leer waar die Here geprys moet word: waaroor Hy geprys moet word en deur wie Hy geprys moet word.


Waar moet die Here geprys word? Vers 1 gee vir ons die antwoord. Prys die Here in Sy Heiligdom, prys Hom hier onder Sy magtige hemelgewelf! Die Here moet in Sy heiligdom, in die tempel geprys word. In die kerk moet ons Hom prys. Mens wil byna sê dis so vanselfsprekend dat dit nie genoem hoef te word nie. Miskien is dit waar, maar ons moet altyd daaraan herhinder word. Want as ons nie die Here prys nie, dan is dit nie ‘n erediens nie. 


In die erediens gaan dit mos om die bring van die eer aan God. Ja, ons kan na die erediens kom met ons versoeke en beswaarde gemoedere, maar ten spyte van alle situasies moet die lofprysing sentraal staan.


Die Here moet nie net geprys word in die tempel of kerk nie, maar ook onder Sy magtige hemelgewelf. Dit wil sê in die ganse kosmos. In daardie tyd het hulle die hemel gesien soos ‘n tentdoek of koepel wat oor die aarde gespan is. In die hele skepping moet Hy geprys word. Nie net in die kerk nie, maar oral op aarde. Oral in die hele skepping!In ons werkplekke; op die ontspanningsterreine, in ons huise, oral waar ons mag kom of gaan, moet die Here geprys word. 


Dit sal nie besondere betekenis hê as ons die Here hier in die kerk loof en prys en vergeet om Hom orals buite die kerk ook te loof en prys nie. Die Hallelujakoor moet nie net die wêreld oor weerklink nie, maar moet deur gans die kosmos weerklink!


Psalm 150:2 leer ons waaroor die Here geprys moet word. “Prys Hom oor Sy kragtige dade, prys Hom in Sy magtige grootheid.” Hiermee word gesê dat ons die Here moet loof oor Sy handelinge in die lewens van mense en oor Sy skeppingsdade. 


Die uitdrukking: kragtige dade, verwys dikwels in die Ou-Testament na die handelinge van God in die lewens van mense. Hier dink ons dan in die eerste plek aan die verlossingsdade van die Here. Die uittog uit Egipte; die redding uit die mag van die vyande by talle geleenthede. Hoe die Here ingegryp en uitkoms gegee het. As Christene is die kragtigste van al God se handelinge die gebeure aan die kruis van Golgota. God maak ons vry van al die bande wat ons gebind het. Hy het die mag van sonde en dood oorwin. Die Satan is verslaan. Prys Hom hiervoor! 


Maar dit verwys ook na die kragtige handelinge van God in Sy ontferming en beskerming van Sy kinders. Hiervan lees ons ook dikwels in die Bybel. Dit het ons mos almal al ervaar. Prys Hom daarvoor.


“Prys die Here in Sy magtige grootheid.” Hy is die Skepper. Hy het alles gemaak. Dis te groot vir ons om te begryp. Dis te ingewikkeld vir ons om te verstaan. Dis te aangrypend om te beskryf. Ons duisel as ons daaroor dink. Prys Hom daarvoor. Prys Hom vir die omgewing en lewensruimte wat Hy vir ons gee. Prys die Here, ons Skepper, Verlosser, Koning. Prys die Lewende Here!


In verse 3-5 word vir ons gesê waarmee ons die Here moet prys. Die reeks van musiekinstrumente wat hier genoem word, wil meer sê as net dat die Hallelujakoor met volle orkersbegeleiding moet geskied. Van die instrumente het spesifieke funksies gehad en is veral by spesifieke geleentehde gebruik. 


So is die ramshoring, ‘n lang gedraaide horing, gebruik om alarm te maak, of om die volk op te roep na ‘n spesiale byeenkoms. As die alarm weerklink en die oproep kom, begin hulle dan al om die Here te prys, en het hule nie gewag om eers by die samekoms aan te kom nie. Die harp en die lier, moontlik ‘n kleiner harp wat die laer akkoorde gespeel het, was die mees algemeenste instrument. Dit is dikwels by godsdiesntige geleentehde gebruik maar ook by sosiale byeekomste. 


Die tamboeryn is byna uitsluitlik gebruik om ritme aan te gee vir dansers. Dans het dan ook ‘n belangrike rol gespeel, maar nie as ontspanning nie. Veral vrouens het gedans na oorwinnings en tydens godsdienstige feeste. So af en toe het mans ook op hierdie manier uiting gegee aan hulle oorwinningsvreugde.


Snaarinstrumente en fluite word saam genoem en verwys moontlik na musiek by spesiale musikale geleenthede. Simbale en klinkende simbale (amper wat soos klein tee koppies gelyk het), is slegs by godsdienstige geleenthede gebruik. 


Dit wil klink asof al die bekende musiekinsrtumente genoem word. Alle instrumente moet gebruik word om die Here te prys. Dit word mos gesê dat die orrel al die instrumente in een saamvat en daarom iets van die oproep van Psalm 150 vervat. Dit wil ook sê dat die Here geprys moet word by elke geleentheid.


Die laaste vers lees ons wie die Here moet prys. Nou sou ons eerste reaksie seker wees dat alle gelowiges die Here moet prys. Maar wat lees ons hier: Laat alles wat asem het, die Here prys! Dit gaan dus om veel meer as net die gelowiges. Dit gaan om alle mense . Alle mense behoort die Here te prys. Almal word hier opgeroep om dit te doen! Dit was nogal iets radikaals in daardie tyd. Toe is mos gedink dat net Israel die volk van God is. Van hulle is verwag om Hom te prys. Maar nou kom hierdie oproep tot alle volke en nasies.


Alle mense moet die Here loof en prys, maar meer as dit alles wat asem het moet die Here loof en prys. Dit sluit ook al die diere in. Net net alle mense, maar ook al die diere moet die Here prys. Ons sou selfs sover kon gaan om te sê dat die uitdrukking: alles wat asem het, dui op alles wat leef. Dan sou dit selfs die plante ook ingesluit het by die universele koor wat die Halleluja sing. Hoe wonderlik: die groot heelal neem deel aan die uitvoering van hierdie besondere universele koorsang!


Op besondere wyse sluit die psalmbundel af. Dit sluit af met ‘n oproep om deel te neem aan die Halelujakoor. Prys die Here oraloor. Prys die Here vir Sy groot dade. Prys Hom omdat Hy so groot en wonderlik is. Prys die Here met alle musiekinstruemnte. Prys die Here alles en almal wat leef!
POSTED BY John Wait on 07:04 under , ,
Job1:20-22, 42:1-6…Johannes 3:1-21; 7:45-52; 19:38-42

Die afgelope week het daar baie dinge gebeur wat mens sommer net nuut laat dink het. Dit het gereen! En tussendeur is dit asof God net met ons valley op ‘n besonderse manier gepraat het. Maar ek weet nie of almal dalk hierdie ervaring gehad het nie en of almal sensitief genoeg was om die stem van die Here te kon hoor nie… Hierdie “nie weet” van my het my so bietjie laat dink oor dienge en selfs ook bietjie laat twyfel. En dit bring my dan nou by die tema van vanoggend se preek…. “mag gelowiges dan twyfel?

Daar is mense wat maklik glo. Kinderlik en opreg glo hulle dat God daar is, dat hulle kinders van God is, dat net goeie dinge met die kinders van God gebeur omdat alles altyd ten goede meewerk. Dit lyk of niks op aarde hulle geloof kan skud nie.

Maar daar is ook ander mense, mense wat moeilik glo. Hulle word voortdurend geteister met die sê-nou-maar-vrae. Sê nou maar God bestaan nie regtig nie. Sê nou maar God bemoei Hom nie regtig met al my beuselagtige, en my groter probleme nie, omdat Hy eintlik maar net die geheel van Sy skepping op koers hou? Sê nou maar net ons geloof is op die ou end net ‘n illusie? …

Mense wat maklik glo, skud soms hulle kop vir die chroniese twyfelaars en meen dat daar iets skort met hulle oorgawe aan God – om die twyfelaar net nog meer te laat twyfel aan die egtheid van sy geloof.

Maar hierdie chroniese  twyfelaars, hierdie soekers na sekerheid, stry en redeneer en soek juis omdat hulle glo. Waarom sou ‘n mens jou hoegenaamd met hierdie sê-nou-maar-net-vrae opgehou het as jy inderdaad nie geglo het nie?

Daar is baie voorbeelde in die Bybel van twyfelende gelowiges. ‘n Mens dink sommer dadelik aan Job, Jeremia en Nikodemus. Maar daar is vanoogend nie tyd om na almal te verwys nie… so ek wil he dat ons net beitjie moet stilstaan by Job omdat ons hom mos al so goed ken…

In die boek Job gaan dit onder meer oor die vraag na die egte geloof. Job se vriende glo maklik, want Job se probleem is nie vir hulle ‘n probleem nie: God is regverdig. God laat nie onskuldige mense ly nie.  Dus is Job skuldig.

Job glo moeilik: hy is onskuldig. God laat onskuldige mense ly. Daarom is God onregverdig.

Op die ou end is die argumentbasis van sowel Job as sy vriende dieselfde.

Die hele drama ontwikkel rondom hierdie probleem totdat dit heel verrassend ontknoop: Beide Job en sy vriende was toe verkeerd. Dit het nooit gegaan om die regverdigheid van God nie, maar eerder om ‘n kosmiese stryd tussen God en Satan in die lewe van Job.

Die mense wat oor God gedebateer het, het oor ‘n heel verkeerde saak geredeer. Maar tog gee God Job van alle mense gelyk. Hy het meer korrek oor God gepraat as sy vriende ; want hy het agtergekom dat daar iets skort met die tradisionele dogma (of leerstellings) soos dit in sy vriende te siene was.

Job het al vegtende op soek gegaan na God. Hy het getwyvel, maar tog al twyvelende geglo.

Dit is nie ‘n skande  om te twyfel nie; want God is groter as ons. Dit moet Job ook uitvind. Nog hy nog sy vriende het God regtig verstaan. Wat met Job gebeur het, het hulle dadelik in verband gebring met die regverdigheid van God, maar uiteindelik was hulle gestry oor die regverdigheid van God ietwat verspot, want ons wat die eerste hoofstukvan Job ken, weet dat die kern van die saak nie om die regerdigheid vanGod gedraai het nie, maar om die krag van die geloof.

Die argument oor die regverdigheid van God sou die probleem nooit kon oplos nie. Daarom het God Job op die ou end op ‘n baie direkte manier op die ware toedrag van sake gewys.

Hy het Job voor die grootsheid van die skepping staan gemaak: kan Job die diereriem op sy tyd in die lugruim laat verskyn? Kan hy die takbok kos gee? Kan hy die stoorkamers van die hael en die wind en die sneeu toesluit en oopmaak? Verstaan hy iets van hoe die magtige skepping inmekaarsteek?

Job moes toegee dat hy maar liewer sy hand op sy mond moet sit, want God het hom in ‘n hoek. Hy verstaan niks van die manier waarop God mense se lewens, ook sy eie lewe, bestuur nie, maar daaroor het hy veel te sê gehad.

God is te groot vir menseverstand. Dis wat Job uitgevind het. Maar tog het God Job nie verkwalik  vir die gestoei nie. Job se eerlike soeke het hom by die punt gebring waar hy moes sê: hierdie teologie werk nie.

So is daar baie vrae in ons lewens. En dis nogal moeilik en groot vrae ook. Die ergste van alles is egter dat hierdie kwelvrae het nie regtig bevredigende antwoorde nie…omdat ons verstand te klein is om God uit te lê. Trouens ons sou God se baas word as ons dit kom doen. Maar heel dikwels gaan baie van ons kwelvrae daaroor dat ons ons probleem nie duidelik of korrek  formuleer nie of dat ons onsself met gelyke frases bedien in ons argument en dat daar geen antwoord bestaan nie, selfs nie eers van die God-is-soos-tipe nie.

Ons is almal maar soekers in die duister. Genadiglik is God soos ‘n ligfakkel wat jou help om jou posisie te bepaal en koers te kry na Hom toe!

By geleentehid het Nietzsche gepraat van wat hy genoem het ‘n vlugvoetige God, ‘n God wat nie so maklik tussen die buiteblaaie van ‘n dogamtiekboek vasgeskryf kan word  of ‘n dosyn artikels of in die die Sondae van een jaar uitgelê kan word nie.

Barth het na die Here verwys as die Gans Andere. God is oneindig ver bo ons. Onbegryplik. Voor Hom kan ons maar net… met al ons twyfel en vrae…in verwondering buig….
POSTED BY John Wait on 17:17 under ,
Johannes 12:1-8

Johannes lê meer klem op die sosiale lewe van Jesus as enige ander Evangelies. Die eerste wonder wat Jesus gedoen het, naamlik om water in wyn te verander, het tydens ‘n bruilofsfees plaasgevind. By talle ander geleenthede verwys hy na Jesus se betrokkenheid by sosiale aspekte. In Johannes 12:1-8 lees ons van ‘n ete wat vir Jesus aangebied is. Ses dae voor die Paasfees was Jesus en Sy vriende bymekaar. Dit klink na ‘n besonder aangename en hartlike sosiale kuier. Hulle was gesellig saam.

Dit is belangrik om daarop te let dat Jesus nie net in die tempel was nie. Hy was nie altyd omring deur ‘n skare nie. Daar was ook tye dat Hy alleen was. Soms heeltemal alleen. Soms net saam met die dissipels, en soms soos hier saam met Sy vriendekring. Jesus het nie heeldag en aldag gewerk nie. Hy het ook ontspan. Hy het tyd ingeruim om sosiaal te verkeer. Hy het gebalanseerd geleef.

Kan ons dan nie hieruit aflei dat sosiale verkeer nie net reg en goed is nie, maar ook belangrik? Ons kan tog nie net werk nie? Tyd vir ontspanning is noodsaaklik. Ons behoort tyd in te ruim om sosiaal te verkeer- ook met ons vriende. Ja, selfs nie net betrokke by kerksake nie, maar ook op sosiale vlak. Dis mos deel van ons menswees en Christenwees. Ook hierin kan en behoort ons die voorbeeld van Jesus na te volg.

Wat die vriende nie besef het nie, was dat dit die laaste keer sou wees dat hulle so saam sou wees. Hierna sou hulle nie weer die geleentheid gehad het nie. ‘n Week later is Jesus gekruisig. ‘n Week later sou hulle anders bymekaar wees. Toe het hulle gerou oor die dood van Jesus. Toe was hulle gebroke en verslae. Hierdie sou die laaste keer wees dat hulle so gesellig bymekaar sou wees.

Hoe dikwels hoor mens nie dat mense sê: as ek tog maar net tyd gemaak het om saam met iemand te wees nie, maar nou is die persoon dood. Dit alles het so skielik gebeur. Nou is dit te laat.

In hierdie gedeelte lees ons dat Maria die gaste bedien het. Dis op grond hiervan dat ons die uitdrukking van die dienende Marta ken. Ons moet tog nie te gou mense in hokkies plaas nie. In hoofstuk 10 het ons Marta leer ken as die een wat in gesprek met Jesus was. Sy het toe ‘n lang indringende en diep gesprek met Jesus gevoer. Nou is sy meer op die agtergrond.

 Toe was Maria in die huis en sy het uitgekom toe Marta haar kom roep het. Toe het Maria byna verwytend haar gesprek met Jesus begin: As U hier was, sou my broer nie gesterf het nie. Ook sy speel nou ‘n heeltemal ander rol. Marta en Maria is nie plat karakters nie. Hulle is veelsydige persone. Hulle tree verskillend op in verskillende situasies. Ons kan en mag hulle nie in hokkies plaas nie.

Dit mag ons eintlik met geen mens doen nie. Nogtans is ons so lief om dit te doen. Ons hang maklik etikette om mense se nekke. Ons dink enkelvoudig oor mense. Hierdie persoon is dan as’t ware  net goed vir dit of dat. Miskien moet ons dit ook uit hierdie gedeelte leer: mense tree verskillend  op in verskillende situasies. Mense kan nie in hokkies geplaas word nie.

Maria tree hier sterk na vore. Sy neem ‘n half liter kosbare, baie duur nardusolie en salf die voete van Jesus. Om hierdie optrede te verstaan, moet ons onthou dat salwing in daardie tyd ‘n belangrike rol gespeel het. Nie alleen is die koming in die Ou-Testamentiese tyd geslaf nie. Daarmee is aangedui dat hy die uitverkore en deur God aangewysde persoon en koning is. Ons lees ook dat  profete en die hoë priester gesalf is.

Wat hier van belang is, is die feit dat besondere eregaste ook gesalf is. As jy iemand baie spesiaal ontvang het in jou huis, en dit nie sommer net jou beste vriend nie, maar regtig iemand baie , baie spesiaal, dan het jy die persoon gesalf. Hierna vind ons ‘n verwysing in byvoorbeeld Psalm 23, wat in die ou vertaling gelui het: U salf my hoof met olie. In die nuwe vertaling lees ons: U ontvang my soos ‘n eregas.

 As Maria Jesus salf, dan sê sy daarmee dat Jesus vir haar ‘n baie, baie spesiale gas en persoon is. Dis ‘n uitdrukking van respek en agting. U is vir my iemand meer as net spesiaal.

Dit word verder bevestig deur die feit dat sy ‘n half liter kosbare en baie duur olie gebruik om vir Jesus te salf. Nardusolie was destyds dan ook die heel duurste olie. Dit was ingevoer van Indië en het omtrent ‘n plaas se prys gekos! Mens kan dan verwag dat mense spaarsaam met sulke duur olie sou omgaan.

Maar wat doen sy? Sy gebruik dit oorvloedig. Sommer ‘n halwe liter! Byna buitensporig en oorvloedig! So oorvloedig dat die geur die hele huis vul! Haar daad kan nie ongemerk verbygaan nie. Almal dra kennis hiervan. Tog is dit nie ‘n daad van vertoon nie. In nederigheid word dit gedoen. Sy salf die voete van Jesus, terwyl die gebruik was dat die olie oor die kop uitgegooi is.

Hoe navolgingswaardig is haar voorbeeld nie. Ons is so gereserveerd in ons dankbetogings en betoning van respek. Hoe dikwels laat ons mense baie spesiaal voel? Hoe druk ons ons dankbaarheid uit. Is ons bereid om soos Maria groot kostes aan te gaan? Of toon ons ons dankbaarheid  en respek op die heel goedkoopste manier?

Miskien maak ons heeltemal te min daarvan. As ons die voorbeeld van Maria volg dan sal ons mos ook die waarheid en belangrikheid ervaar dat dit belangriker is om ‘n blom te gee terwyl iemand leef as ‘n hele kransblomme op ‘n graf nie.

Ongelukkig lees ons, benewens al hierdie pragtige dinge, hier ook van ‘n lelik negatiewe reaksie. Judas is sommer erg omgekrap. Hy maak beswaar teen die vermorsing. Hy is sterk van mening dat dit nou sommer geldmors is. Sy kon eerder die geld geskenk het sodat dit aan die armes uitgedeel kan word.

Voor ons hom oordeel, moet ons nie vra of ons hierdie argument ook dikwels hoor nie. Sê ons nie soms dat dit geldmors is nie. Kom ons nie ook met argumente oor hoe die geld beter gebruik kan word nie? Laat ons maar eerlik wees, ons redeneer en reageer dikwels netsoos Judas.

Wat egter ontstellend is, is die feit dat Judas ‘n verskuilde agende gehad het. Hy het die beurs gedra en het ongelukkig homself aan die geld gehelp. Johannes noem hom sommer prontuit ‘n dief. Hoe tragies dat daar selfs in die dissipelkringe korrupsie en diefstal was. Het ons nie soms ook verskulde agendas as ons ander se goed bedoelde dade kritiseer nie? Ons is dalk jaloers omdat die ander persoon aan iets gedink het waaraan ons dalk wou dink. Dit wat ander gedoen het, pas dalk nie in by ons opvattings nie of ondermyn ons idees. Soos Judas tree ons ook op.

Die optrede van Judas moes sonder twyfel vir Maria seer gemaak het. Soos ons kritiek ander ook seer maak.

Jesus tree in die bresse vir Maria. Hoe doen Hy dit? Hy sê eers reguit: Laat staan haar. Los haar. Moenie met haar sukkel nie. Moenie haar geodbedoelde daad afkraak nie. Jesus gaan dan voort om Judas te antwoord met ‘n antwoord wat Judas en die ander dissippels nie verstaan het nie. Hy sê dat sy dit gedoen het met die oog op Sy begrafnis. As hulle maar net geweet en verstaan het dat sy dit eintlik net ‘n week te gou gedoen het.

Dit bring die vraag na vore: wat doen ons as iemand se goed bedoelde daad gekritiseer word? Tree ons vir die persoon in die bresse? Of ignoreer ons dit of wil ons nie betrokke raak nie? En as ons optree, hoe doen ons dit? Aggressief? Val ons die persoon aan? Kraak ons hom af? Ontmasker ons die verborge agenda? Verkleineer ons die persoon? As ons dit doen, dan ontlont ons nie die situasie nie, maar steek ons eerder die kruitvat aand ie brand. Lei ons alledagse optrede tot ontlonting of ontploffing? “n Sagte antwoord keer die grimmigheid af.

Tree ons op na die voorbeeld van Jesus?

Lees ons hierdie vertelling, dank an ons nie anders as om ons te identifiseer met die karakters nie. Eintlik sien ons onsself in Maria en Judas. Word ons opgeroep om eerder soos Maria op te tree. Word ons gewaarsku om nie die voorbeeld van judas te volg n