POSTED BY Steven Sass on 14:55 under

Pinksterreeks 2013 patensie Dinsdagaand
Die vervulling met die Heilige Gees, kan ek seker daaroor wees?
Ons “hooflig” die Bybel beveel ons : “ Word vervul met die Heilige Gees.” Kom ons lees Efesiërs 5:18 en Galasiërs 5:16 en probeer vasstel wat dit dan beteken om vervul te wees met die Heilige Gees.  Watter opdragte gee Paulus in hierdie twee gedeeltes aan die gelowiges?...Die vraag kan dus nou gevra word of hierdie vervulling met die Gees iets is wat net eenkeer  in jou lewe gebeur? (Handelinge 2:4).....Maak die vervulling met die Heilige Gees jou ‘n volmaakte mens? (Dink bv. aan Petrus, vgl. Hand. 2:4 en 4:8 met Galassiërs 2:11 en 14)
Wat beteken dit dan om met die Heilige Gees vervul te wees?
Paulus het dit vir ons in Efesiërs 5:18 verduidelik deur die beeld van ‘n dronk mens te gebruik. Hoe is ‘n dronk mens? Dit is ‘n mens wat onder beheer (onder die invloed) van ‘n sekere mag staan. Jy kan dit hoor aan sy/haar praat en sien aan sy/haar manier van loop. Die persoon se hele persoonlikheid verander. Sommige mense word die vriendelikste mense onder die son. Ander sien weer kans om ‘n swaargewigbokskampioen ‘n drag slae te gee. Om met die Gees vervul te wees beteken dat jou lewe onder die beheer (onder die invloed) van die Heilige Gees staan.

Die vervulling (party mense noem dit die salwing) met die Heilige Gees is ‘n voortgaande gebeurtenis. Dit gaan oor ‘n proses  van groter toewyding en oorgawe waarin jy jou al hoe meer vir die  Here beskikbaar stel. Ons is nie altyd ewe begeester nie, en die vrugte wat ons dra, wissel ook geweldig...ook goed so omdat ons mos gemaak is om mekaar aan tevul, die bedoeling is nie dat ons mekaar moet oortref/uitstof nie!

Soek jy elke dag in alles die Gees se wil en leiding? Doen jy wat die Heilige Gees in die Bybel vir jou sê om te doen? Dan is jy ‘n geesvervulde kind van God.

Wanneer ons mooi gaan kyk na hierdie Bybelgedeeltes van vanaand, sien ons dat die vervulling met die Heilige Gees ook nie van jou ‘n volmaakte mense maak nie. Ons lees dat Petrus vervul is, en dan  lees ons ook in Galasiërs dat hy van die regte pad afgewyk en verkeerd opgetree het...As dit met hom dan gebeur het kan dit mos netso maklik met jou gebeur, of hoe?

Nou is daar baie mense wat wil weet of hulle die Heilige Gees het. Kom ons lees saam uit Romeine 8:1-9 en soek antwoorde op ons vrae, ook wat gebeur dan as Die Gees in ons woon en natuurlik wat gebeur as Hy nie in jou woon nie? Miskien moes die vraag nie gewees het “Hoe kan mens weet of jy die Heilige Gees het” nie, maar eerder “Hoe ontvang ‘n mens die Gees?
Jy ontvang die Heilige Gees netsoos enige ander geskenk van God- uit genade. Heeltemal sonder dat jy dit verdien. Jý hoef nie iets te doen nie. Jy kry die Gees verniet! Netso min as wat dit nodig is om vir Christus iets te betaal om ook jou sonde aan die kruis te dra, netso min is dit nodig dat jy betaal om die Gees van God te ontvang. OMDAT Jesus aan die kruis vir jou gesterf het, gee Hy ook Sy Gees aan jou. Die Gees kom maak Sy woning by elkeen wat aan Jesus behoort....

Daarom kan ons nie Die Gees van Jesus of van die Vader af skei nie. Jy kan byvoorbeeld nie vir Jesus ontvang sonder die Heilige Gees nie. God is ‘n Persoon en jy kan Hom nie in “paaiemente” ontvang nie.

Om dit doodeenvoudig te stel: Wanneer jy in jou hart regtig glo dat Jesus jou van jou sonde verlos het, dat Hy jou Here is, kan jy maar weet dat jy die Heilige Gees ontvang het. Dis juis omdat die Gees in jou hart werk dat jy instaat is om in Jesus te glo. Dis wat in 1 Korintiërs 12:13 staan. Onthou dit asseblief vir altyd: Wie by Christus is, is by Sy Gees. Wie in Christus glo, het Sy Gees ontvang...

Hoekom gebeur dit?
Die vervulling van die Heilige Gees is nie maar ‘n persoonlike gebeurtenis om ons lekker en trots te laat voel nie... Ek wil hier twee sake vir julle uitlig:
1)                  Die eerste bedoeling van die vervulling van die Heilige Gees is dat ons as God se kinders al hoe meer die beeld van Jesus sal vertoon. Wanneer ons sê dat ons aan God behoort, moet ons lewe soos wat Jesus gelewe het (Joh. 2:6). Die vervulling van die Heilige Gees wil ons juis daartoe instaat stel (2Kor3:18). Dis miskien een van die grootste aanklagte teen ons kerk se lidmate – dat ons juis nie elke dag soos Christene leef nie. Ek wonder wat sal ons hoor by mense wat nie die Here ken nie as ons hulle sou vra wat hulle dink van ons as Christene.
2)                  Die vervulling van die Heilige Gees gebeur ook nie los van die liggaam van die Here, ons gemeente nie. Ons word ter wille van die liggaam met die Gees vervul, sodat ons nog meer bruikbaar kan wees om die liggaam van die Here op te bou. Die Here het ‘n wonderlike plan met elkeen van ons!
Die Bybel leer ons dat ons as kinders van die Here elke dag die vervulling van die Heilige Gees moet soek en daarvoor moet bid (Luk. 11:13). Ons moet met groter entosiasme en toewyding aan die Here lewe....

Baie van julle is seker van julle verhouding met die Here omdat julle saak met Hom lank gelede of selfs dalk ook onlangs uitgemaak het. Ander van julle het nog nie by daardie punt gekom nie. As jy dit nog nie gedoen het nie en jy wil graag die redding wat die Here aanbied, aanvaar wil ek jou kans gee om dit te doen. Dit is moontlik dat jy die Here Jesus nou aan die deur van jou hart kan hoor klop.
Wat moet jy doen as jy Hom hoor klop?

 Jy kan weet dat Hy reeds by jou doop met jou besig was. Hy wag dat jy moet reageer. JY ontvang God se verlossing wat Hy in jou doop aan jou toegesê het deur hierdie gesindheid wat nou in jou hart is, te laat uitkom in woorde, in gebed. Want gebed is ‘n gesprek met God. Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6).

‘n Mens word uit genade gered. Nie deur goeie werke nie. Al is jy die beste persoon in ons gemeente kan jy nie gered word deur jou goeie dade nie. Jy word uit genade gered. En die feit dat ek nou met julle praat, is nie om God se genade te manupuleer nie, want ek glo dis uit genade dat julle nou hier in die kerk sit vanaand. Die feit dat jy nou hier is is genade. God het julle daartoe gelei omdat Sy genade in julle lewe so groot is.

Die gebed wat jy kan bid is ‘n eenvoudige gebed. Praat nou met God en sê vir Hom dat jy Hom in beheer van jou lewe plaas. En waneer jy hierdie gebed in jou hart saam met my bid en jy bedoel dit, sal sy verlossing ook vir jou ‘n werklikheid wees. Nie omdat ek so sê nie, maar omdat God dit so gesê het. Nie omdat jy so gaan voel nie, maar omdat God dit belowe het. Kom ons buig ons hoofde en bid saam:

“Here Jesus, ek het U nodig. Ek self is in beheer van my lewe. U het oor die afgelope paar aande vir my oortuig van my tekortkominge en sondes. En daar is niks wat ek kan doen om gered te kan word nie, anders as om u genade aan te neem. Ek maak nou my lewe wyd oop en nooi U om op die troon van my lewe te kom sit en my van hierdie oomblik af die mens te maak wat U wil hê ek moet wees, sodat die Naam van Jesus ook in my lewe verheerlik kan word. En omdat U in U Woord belowe dat wanneer ek die deur oopmaak, U sal inkom, sê ek nou vir u dankie dat U ingekom het. In die Naam van Jesus. Amen!
As jy nou opnuut of vir die eerste keer die sekerheid het dat die Here in jou lewe is, kan jy ook seker wees dat jy die Heilige Gees het!
0 Kommentaar: so far: