POSTED BY John Wait on 06:36 under ,
Lukas 2: 25-40

Kerstyd is ‘n tyd van vreugde, want ons onthou dat die Verlosser gekom het om ook in ons wêreld 2000 jaar na die geboorte, ‘n verskil te maak. Die Verlosser het gekom om in  hierdie moderne dae elkeen van ons se lewe in te kom en ‘n effek op ons te hê.

Jesus se effek op die wêreld en lewens van mense in Sy tyd was nie altyd vir die mense aangenaam nie. Hulle het beslis nie almal met blydskap gereageer op Sy teenwoordigheid en op alles wat Hy gesê en gedoen het nie. As ons die Nuwe Testament lees, kom ons onder die indruk dat Hy eintlik ‘n kontroversiële figuur was. Hy het soveel probleme gehad en moeilikheid ervaar dat Hy op die ou end Sy lewe verloor het. Mense was so gesteurd oor wie Hy was en waarvoor Hy gestaan het, dat hulle dit nodig gevind het om Hom dood te maak. En Hy was die Verlosser wat van God af kom!

Nou kan ons seker nie verwag dat die Verlosser wat van God af kom in ons tyd net vreugde en blydskap bring vir almal nie. Ons mense het die manier om soms vas te klou aan dinge wat nie vir ons goed is nie, wat ons self vernietig, en dan weer iets wat vir ons die beste is van die hand te wys.

Ja die Verlosser van God het gekom. Ook na ons toe. Maar hoe reageer ons op Hom? Met blydskap, sou jy miskien sê want kyk hoe vrolik word sy geboorte dwarsdeur die wêreld gevier. Ja, op die oog af is daar heelwat blydskap oor Kersfees. Maar waar is Jesus in hierdie Kersfees? Gaan dit werklik in ons feesvierings oor die Verlosser wat van God af gekom het, of gaan dit eintlik oor vakansie hou, geskenke, versierings, partytjies en sentimentele liedjies oor ‘n baba van lank gelede?

Die Verlosser wat van God af gekom het, is nie altyd teenwoordig in Kersvierings soos ons dit ken nie. Die Verlosser wat van God af kom, is ‘n ongemaklike figuur. Hy bring die beste en wonderlikse nuus en moontlikheid vir ons as mense, maar Sy manier van doen is anders en vreemd aan ons wêreld. Dit is nie altyd so maklik om hierdie goeie nuus bly te aanvaar nie. In Simeon se lied sien ons hierdie twee kante van die saak baie duidelik.

Simeon is baie bly oor die koms van die Verlosser. Hy het sy lewe lank naby God gelewe en het uitgesien na die dag wanneer God se belofte van lank tevore vervul sou word en daar vir sy volk verlossing sou kom. So naby het hy aan God gelewe dat hy selfs ‘n belofte ontvang het dat hy nie sou sterf voordat die gebeurtenis nie plaasgevind het en hy ‘n getuie daarvan kon wees nie.

Sowel hy as Anna se lewens was so op God en God se werk ingestel dat God se daad van verlossing vir hulle net blydskap gebring het. Simeon was vol met die Heilige Gees. So het hy die belofte gekry dat hy die Verlosser self sou sien. So het hy op die regte tyd by die tempel uitgekom, juis toe Josef en Maria daar was met hulle Kindjie om alles wat die wet voorskryf ten opsigte van pasgebore babas, uit te voer. En deur die Heilige Gees kon hy ook herken wat voor sy oë was: nie net ‘n gewone nuwe baba soos soveel ander wat in die tempel gekom het nie, maar die verlossingswerk van God wat nou voor sy oë waar word.

Simeon het naby God geleef en God was aan Simeon getrou. God het albei sy beloftes uitgevoer. God het die Messias gestuur en God het Simeon in die lewe laat bly totdat hy dit met sy eie oë kon sien.

Simeon reageer op die wonder wat hy mag beleef deur God te prys. Nou is hy tevrede om te gaan, want waarvoor hy gewag het, het gebeur. Sy taak om geduldig te wag is nou afgehandel. Hy het met sy eie oë die verlossing van God sien waar word.

Hy is so totaal afhanklik van God en met die hulp van God se Gees kan hy nie hierdie teken miskyk , of hierdie baba se koms verkeerd interpreteer nie.

Die verlossing wat nou waar geword het voor Simeon, kom al van ver af. God het dit belowe en gereed gemaak. Die hele Israel het daarop gewag en uitgesien na die dag dat hulle Messias sou kom soos God beloof het….God is waarlik groot, besef Simeon. Vandaar sy lofprysing en gebed om dankie te sê dat hy kon deel wees van hierdie gebeurtenis waar dit alles werklikheid word. Die lig van die nasies en die eer van Israel word saamgetrek in die Messias…

Josef en Maria se reaksie op wat Simeon sê, is verwondering. Verwondering is die reaksie wat gepaard gaan met ‘n wonderwerk of ‘n openbaring. Tot dusver is daar nog net vreugde, blydskap en verwondering oor wat God gedoen het. Maar profeteer Simeon onder dieselfde leiding van die Heilige Gees, dit gaan nie altyd so wees nie. In Israel sal die Kindjie nie net met blydkap ontvang word nie. Hy sal ‘n val en ‘n opstanding wees vir baie en ‘n teken wat weerspreek sal word. Die teken van God word nie sonder meer aanvaar nie. Hoe vreemd dit ook al mag klink, nie almal is bly oor die koms van die Verlosser nie. Hy is daar, maar hulle sien net die mens raak, nie die Verlosser en teken van God nie. En in die tweede plek hou hulle nie van wat Hy sê en doen nie, want dit pas nie by hoe hulle dinge sien en wil hê nie.

Hierdie Kindjie is nie net ‘n bron van blydskap nie. Hy is ook nie ‘n skadelose vreugde wat niemand se lewens omkrap nie. Die Verlosser wat van God af kom, het ‘n effek op mense se lewe. Hy krap terdeë om. Sy teenwoordigheid konfronteer ons met ons eie lewe, met ons maniere van dinge dink en doen. En in die lig van Sy teewoordigheidis dinge soos hulle is, nie meer goed en reg nie. Daar moet verandering kom. Verandering is ongemaklik Mense het altyd ‘n mate van weerstand teen verandering. Om met God te lewe, verg buitendien nie net ‘n bietjie verandering nie. Die omkeer is radikaal. Nie almal wil daarvan weet nie. Sommige mense voel so bedreig daardeur dat hulle die bron wil vernietig.

Die mense van Jesus se tyd het die bron van bedreiging vernietig deur Hom dood te maak. In ons tyd vier ons Sy geboorte op so ‘n manier dat Hy kragteloos geword het. ‘n Babatjie in ‘n krip, hulpeloos terwyl almal mooi en sentimentele dinge sê, doen en sing.

En as die Kerstyd verby is, dan vergeet ons heeltemal van die Jesus-kind. Ons wêreld laat Hom nie toe om groot te word sodat Hy ‘n ongemaklike teenwoordigheid in ons lewens kan word wat ons voor ‘n keuse stel, en as ons Hom kies, van ons ‘n radikale verandering van denke en optrde verwag nie. So, sê Simeon, sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom…Ja Sy koms het ‘n baie bepaalde effek op ons lewens. Hy laat ons nie onaangeraak nie. Ons aanvaar Hom en gee onsself oor aan God, of ons verwerp Hom.

Kersfees bring ons voor daardie beslissing te staan. Dit is nie net ‘n prettige vrolike partytjie nie. Maar elkeen wat met die hulp van die Heilige Gees God se verlossing herken en daaroor bly is, soos Simeon en Anna, se blydskap sal so diep en sterk wees dat dit sal duur tot lank nadat die paar weke van vakansie en fees verby is.

Dit is ‘n blydskap  wat ‘n mens steun en dra deur alles wat met jou gebeur, goed of sleg, lekker of swaar. Want niks wat gebeur hier op aarde kan ons verloste-wees van ons wegneem nie. God se beloftes van lank gelede het ook vir ons vandag en elke dag van ons lewe waar geword. Kom laat ons bly wees- Hy het gekom!