POSTED BY Steven Sass on 19:55 under
Peto se begrafnis 9 Augustus 2013 Kwagga
Hebreërs 12:1-3
Met hierdie Skrifgedeelte word ons meegevoer met ‘n bepaalde beeld oor iets wat voor ons oë sou afspeel. Die beeld word geskets deur te verwys na die skare geloofsgetuies rondom ons...

 Met ander woorde ons moenie verwar word met die gedagte dat die beeld dalk verwys na onsself nie. Ons moenie byvoorbeeld dink dat ons wat deel is van vandag se kerkgangers hier in die kerk die skare van geloofsgetuies is nie. Dit verwys eerder na die engele rondom ons wat reeds die goeie wedloop van die lewe suksesvol voltooi het...hulle wat nou in die arena van die hemele sit en afkyk op ons wat besig is met die lewe, tans besig is met die wedloop van die lewe.

Hulle is nie hier om dowe neute nie. Een kommentaar stel dit so mooi: “ They are to be distinguished from the fickle approach of those whose only desire is to be entertained...” Hulle is dus nie hier in ons midde om na ons as spektakels neer te kyk nie. Hulle doel hier is veral nie om dalk hulself te wil vermaak met ons hartseer, of dalk ons onsuksesvolle pogings om ons hartseer te beheer, of ons onsuksesvolle pogings om sin te maak uit hierdie week se hartseer gebeure nie. Hulle is eerder hier om vir ons ‘n voorbeeld te wees van die vreugde van die oorwinning van Jesus wat in hulle is, en verder ook om vir ons tot aanmoediging te wees!

 Hulle blote teenwoordigheid moet ons dus aanmoedig om deur te druk, aan te hou en uit te hou...veral onder bittere moeilike omstandighede soos vandag en veral sedert vroeer die week toe ons die hartseer nuus ontvang het van die heengaan van ons wonderlike vriend, broer, seun Daniël....Dis asof mens die groot skare geloofsgetuies kan hoor hande klap en sing om ons aan te moedig, om ons te bemoedig...

 Ons word dus aangemoedig om ook ons lewenswedloop soos die groot skare geloofsgetuies rondom ons suskesvol te voltooi....

 Maar die groot vraag bly dan steeds: “Hoe doen ‘n mens dit? Hoe voltooi jy die wedloop met suskes?” Eerstens is daar ‘n gewigtige kwessie, ‘n fokus op die negatiewe... die gewig van alles wat ons terughou in die lewe moet afgegooi word. Netsoos ‘n atleet moet sorg neem met sy of haar liggaam, deur ontslae te raak van oortollige vetjies, netso moet ons met ons lewens maak. Ons moet ontslae raak van die dinge, of veral sondes wat ons terughou van die wenstreep. Alles wat ons oog van die oorwinning wat daar aan die kruis op Golgota gemaak is moet uit ons lewens verwyder word....Is daar sulke dinge dalk op die oomblik waarvan jy bewus is in jou lewe? Maak dan ‘n plan....onmiddelik sommer nou hier in die kerk!

 Ons het veral hierdie week weer opnuut besef hoe vreeslik kosbaar tyd is....Ons het dit aan ons velle kom voel dat dit nie ons self is wat bepaal hoeveel tyd ons op hierdie aarde, in hierdie pragtige vallei, mag woon en werk nie....

Die volgende element wat nodig is om ook jou wedloop suksesvol te voltooi is om juis dit te doen wat die gedeelte se opskrif vir ons so duidelik kom sê het... “Die oog moet op Jesus gevestig wees” ....

Ons het nou mos weereens besef dat ons fokus op Jesus moet wees...nie op onsself, ons eie dinge, ons sondes, ons begeertes...die dinge wat ons nog wil of moet of kan doen nie, maar juis op dit wat Jesus reeds vir ons kom doen het... Ons geloof kan nie gerig wees op dinge wat nog moet gebeur nie, wat ons nog persoonlik wil vermag nie, maar juis diepgewortel in dit wat klaar gedoen is...

Ek weet baie van ons voel mos vandag dat Daniël te vroeg van ons weggeneem is... daar was mos nog so baie planne... baie van ons dink ook dalk as ons maar net geweet het, as ek maar net vroeër die gevaartekens kon raaksien, as ....as.....as. Maar as jou oog vanoggend op hierdie klomp asse gerig is, gaan jy nie veel troos kry nie, gaan jy dalk geestelik moeg word,  en gaan jy dalk so mismoedig word dat jy nie eers weet van die groot skare geloofsgetuies rondom ons nie....

Ons geloof moet nie uit “as”...bestaan nie, maar eerder uit OMDAT! Omdat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het, moet ek my oog op Hom hou, Omdat Jesus my Persoonlike Redder en Verlosser is sal ek nie moed verloor nie, want Hy is mos by my. Ek kan hieraan vashou in tye soos hierdie, want my oog is op Jesus.

Ek word vertroos deur die wete dat Jesus vir ons ook ‘n plek in gereedheid gebring het, dat Hy die beste weet, dat Hy in beheer is! Daarom is ek nie bang nie, daarom is geen stadsmuur vir my te hoog nie, en daarom is ek nie eers bang vir die dood nie... Omdat hierdie dinge ook waar is vir jou en vir my, omdat dit veral ook waar was van Daniël, omdat hy Jesus geken het, omdat hy so ‘n saggeaarde liefdevolle vriend van ons almal was, omdat Jesus hom so gemaak het....moet ons oog nie wees op dood en siekte en grafte nie, maar op die nuwe lewe in Jesus. Op die oorwinning wat elkeen van ons ook het in Jesus...die oorwinning wat Daniël op hierdie oomblik in God se troonkamer smaak, en ervaar.


Daarom, maak jou oë oop, maak jou ore oop, Daniel en die groot geloofskare rondom ons is besig om vir ons te cheer! Hulle moedig ons aan om nie moed te verloor nie, om aan te hou en uit te hou! Dis die moeite werd....dis al wat saakmaak...!
POSTED BY Steven Sass on 06:32 under
25 Augustus 2013 Patensie
Dis nie altyd maklik om God te dien nie
Genesis 22:1-9
Dit is nie altyd maklik om die Here te dien nie. Die Here stel baie hoë eise . Soms voel mens jy kan nie voldoen aan die eise wat die Here stel nie. Om die Here te dien, omvat baie meer as om net kerk toe te gaan. Dis meer as om net kerk toe te kom en jou Bybel te lees en te bid. Dis selfs meer as om aktief betrokke te wees by kerklike aktiwiteite. Godsdiens is nie ‘n filisofie nie. Dit is nie iets waaroor net gepraat kan word nie. Dit omvat ons hele lewe en elke liewe aspek van ons lewe. Dit eis dat ons volkome in ooreenstemming met die eise van die Woord van God sal leef.

Dit beteken nie net dat ons alles moet doen wat die Here direk vir ons sê in die Bybel nie. Nie net om die Tien Gebooie en die Groot Gebod van liefde te onderhou nie. Dit eis ook dat ons alles wat in die Bybel oor die Here bely word, in ons daaglikse lewens sigbaar moet wees. Ons moet elke dag en onder alle omstandighede alles wat ons oor die Here bely, uitleef. In kort, dit beteken dat ons so moet leef dat almal wat met ons in aanraking kom, die Here in ons lewens en ons dade moet raaksien. Ander moet die Here hoor praat as ons praat. Moet die Here sien werk in ons werk. Moet die teenwoordigheid van die Here ervaar in ons teenwoordigheid. Om die Here te dien, vra dan volkome toewyding.

Dis nie maklik nie. Om dit nog moeiliker te maak, kan ons nie net wat in die Bybel staan, altyd direk en letterlik van toepassing maak op ons nie. Ons kan ook nie net skere dele uit die Bybel neem en sê dat ons net hierdie dele moet gehoorsaam nie. Nie nabootsing nie, maar toepassing van elke deel op ons eie situasie. Ons is mos maar geneig om sekere dele direk van toepassing te maak en ander dele te lees asof dit net geskiedenis vertel en dus van toepassing was op ander maar nie betrekking het op ons nie. Nee, dit kan ons nie doen nie.

Die Here stel verskriklikke eise. Dit is waaroor dit in Genesis 22 gaan. Dit het ook betrekking op ons. Ons moet as’t ware ons eie name hier inskryf waar ons die naam Abraham lees. Daarom moet ons weer hierdie verhaal lees en vra: wat word hier vertel? Wat word hier oor die Here bely? Wat word van ons verwag? Hoe gaan ons reageer op die eise wat hier gestel word?

Die vertelling begin met die stelling dat die Here Abraham op die proef gestel het. Stel die Here dan mense op die proef? Ja, dit is hier duidelik. Ons kry dit ook in die verhaal van Job. Ons lees ook elders dat die Here die mens nie uitermate beproef nie. God is nie besig om speletjies te speel nie. Maar die Here toets ons. Hy wil seker maak dat ons geloof opreg is. Hiervan kan biae getuig. Trouens , elke gelowige weet dit. By sommige is die toets kwaaier as by ander. Sommiges beleef dit duideliker as ander. Maar dit gebeu,r en sal ook gebeur.

Hoe stel die Here Abraham op die proef? Die Here sê vir Hom: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak, wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys(22:2). Daar kan geen twyfel wees oor wat die Here vra nie. Die feit dat die seun so duidelik aangewys word, beteken dat Abraham ook op geen wyse kan uitkom met die een of ander slim plan nie. Ons onthou mos hoe hy self probeer het om die belofte van die Here te realiseer in sy lewe. Hy het mos eers vir Lot en toe vir Eliëser as seuns aangeneem en toe was Ismael sy volgende seun wat met behulp van Hagar as surrogaatma in die lewe gebring is. Boonop het hy nog sewe seuns by Ketura gehad. Maar hier is dit duidelik. Dis die eersgeborene, die enigste seun van die belofte. Sy naam is Isak en dis die seun wat hy liefhet.

Daar is ook geen onduidelikheid oor waarheen hy moet gaan en wat hy moet doen nie. Die verskriklikke eis wat die Here stel is duidelik. Nou moet ons darem onthou dat dit aansluit by die gebruike van die ander volke in die ou Nabye Ooste. Hulle het die gebruik gehad om die eersgeborene te offer. Dit het hulle gedoen om daarmee hulle dankbaarheid aan hulle gode te erken en in die geloof dat hulle dan juis baie kinders sou hê. Dit word later in die wette in die Ou Testament streng veroordeel en belet. Ons het wel die gebruik en wette in die Ou Testament in verband met die bring van die eerstelinge van die oes as brand-en dankoffer. Die vraag is dus hier of Abraham bereid is om vir die Here te doen wat die ander mense bereid is om vir hulle gode te doen? Is dieselfde toewyding by hom aanwesig of dien hy die Here omdat hierdie verskriklikke eis nie deel is van ons aanbidding van die Here nie?

As ons dan sê dat die Here mense op die proef stel en dat dit vandag nog gebeur, dan moet ons hierdie woorde nie letterlik op ons van toepassing maak nie. Want ons situasie verskil radikaal van daardie tyd. Die moontlikheid dat die Here ons sal toets deur vir ons te sê dat ons van ons kinders as brandoffer moet offer op ‘n berg, is sekerlik nul. Wat wel waar is, is dat die Here ook vra dat ons moet bewys dat ons bereid is om vir Hom te doen wat ander ook vir hulle gode doen. Is ons bereid om te wys dat ons ons so toewy aan die Here as wat ander hulle aan hulle godsdiens of iets anders toewy?

Wat was die reaksie van Abraham toe die Here hierdie verskriklikke eis aan hom gestel het? Gaan hy die toets slag? Dit word eers in verse 3-9 uitgespel. Hy vat sy seun, en hy maak hom klaar  vir die reis na die landstreek Moria. Daar laat hy die slawe en die donkie, en net hy en Isak gaan verder. Hy bou ‘n altaar, vat sy seun, bind hom vas en is gereed en bereid om hom te offer. Abraham slaag die toets. Hy doen wat die Here hom beveel het, niks meer nie en niks minder nie. Hy probeer nie op allerlei maniere om uit te kom nie. Hy is nou volkome gehoorsaam...anders as vroeer. Toe het hy probeer om die belofte van die Here op allerlei maniere te laat realiseer. Hy het geleer dat die Here volkome vertroue vra. Nie slimmighede of allerlei truuks nie. Net vertroue en gehoorsaamheid.

Hoe reageer ons op die eise wat die Here vir ons stel? Wat doen ons as die Here ons op die proef stel? Kom ons in opstand? Probeer ons daaruit kom? Ignoreer ons die eise? As die Here ons vra om dit wat vir ons die kosbaarste is, aan Hom te wy, wat doen ons? As die Here ons kosbaarste van ons wegneem, wat is ons reaksie? Hoe reageer ons op die beproewing wat die Here oor ons pad stuur? Dit kan op baie verskillende vlakke lê. Is ons bereid om in die geloof die sprong te neem en die Here volkome te vertrou?

As Abraham wys dat hy bereid is om volledig gehoorsaam te wees aan die verskriklikke eis wat die Here stel, dan gryp die Here in. Hy bied ‘n ander uitkoms. Nou gebeur dit nie altyd nie. Job het nie net al sy besittings en sy gesondheid verloor nie, maar het ook al sy kinders verloor. Dit beteken dat ons miskien nie soos Abraham al die ellende en hartseer gespaar sal bly nie. Wat wel waar is, is dat die Here altyd by ons sal wees-ook as ons die hoogste offers moet bring.

Genesis 22 wil dan vir ons sê dat die Here soms verskriklikke eise stel. Eise wat ons nie met Hom assosieer nie. Dinge wat vir ons te erg is. Ons word hier opgeroep om, na die voorbeeld van die vader van alle gelowiges, volkome op die Here te vertrou. Ons moet doen wat Hy vra, al verstaan ons nie waarom so ‘n verskriklikke eis aan ons gestel word nie en al breek dit ons. Dit is geloof. Volkome vertroue op God. Om Hom bo alles te stel. Om dit in die praktyk van ons daaglikse lewe op konkrete wyse te toon.

 Om die Here te dien, is nie aldag maklik nie. Nêrens het die Here dit vir ons beloof nie. Wat die Here ons wel beloof, is dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie. Hy sal altyd by ons wees. As Hy ons beproef of ons deur omstandighede beproef word, staan Hy ons by. Hy sal nie toelaat dat ons bo ons vermoë beproef word nie. Hy vra geloof, volkome vertroue en toewyding. Hy belowe om by ons te wees en ons laste help dra.


Hy sal ons nie in die steek laat nie...
POSTED BY Steven Sass on 05:59 under
18 Augustus 2013 Patensie
Van gesiene gemeenskapslede tot verworpe kluisenaars
Genesis 19:29-38
Die verhaal van Lot is ‘n tragiese verhaal. ‘n Verhaal van ‘n man wat op positiewe noot begin, maar op tragiese wyse eindig. Hierdie verhaal is ingeweef in die Abrahamsverhale omdat dit so nou daarmee verbind is. Dit vorm deel van ‘n groter verhaal: die verhaal van die volk Israel se beginjare wat tydens die ballingskap geskryf is. Die hoofdoel van hierdie omvattende werk, wat die boeke Genesis, Eksodus, Levitikus en Numeri omvat, was om aan die moedelose gemeenskap te sê dat die Here in beheer van sake is.

 Uit liefde skep Hy en hou alles in stand en is op besondere wyse besig met Sy kinders. Wat Hy vra, is dat Sy kinders op Homs al vertrou en na Homs al luister.

Deur die verhale word die verskillende wyses waarop die mense gereageer het op Sy betrokkenheid by hulle lewens belig. Die verhale dien dan as spieëls waarin die lesers hulle eie lewens kon sien en evalueer. Die verhale roep ons op om ons eie lewens onder die soeklig te plaas. Dit is ook die geval met die tragiese verhaal van Lot.

Lot was die broerskind van Abraham. As Abraham wegtrek op bevel van die God, neem hy Lot saam. Dit was meer as wat op die oog af blyk. Abraham neem vir Lot aan as sy seun, dit was in ooreenstemming met die aannemingsgebruike van daardie tyd, en Lot was dus die aangenome seun van Abraham.

Op materiële gebied gaan dit baie goed met Lot. Hy was nie alleen die aangenome seun van ‘n welvarende man nie, maar het self ook gewoeker en ryk geword. Trouens, die gesamentlike besittings van Abraham en Lot het so baie geword dat Abraham gesê het dat die land nie albei se veestapels kon dra nie.

Ongelukkig blyk dit dat daar spanning tussen pa en seun gekom het. Dit het uitgekring na die slawe van die pa en seun en so kom die huishoudings in botsing. Hulle paaie skei. Abraham gee aan Lot die eerste keuse, en hy kies toe die beste deel en stel so sy eie belange voorop. Die streek wat hy kies het so volop water soos die tuin van die Here. Dit bly tragies as pa en seun se paaie skei en as die seun boonop die beste vir homself kies.

Is hierdie verhaal nie iets wat ons ook goed ken nie? Materiële voorspoed bring nie noodwendig geluk nie. Daar kom spanning. Die paaie skei. Die kinders kies die beste en laat die ouers met die res.

Na ‘n rukkie beland Lot saam  met die inwoners van sy nuwe tuiste in die moeilikheid en Abraham snel hom te hulp en help hom. Dit lyk of dit aanvanklik goed gaan met Lot in sy nuwe omgewing. Hy was op ‘n tyd ‘n gesiene inwoner...maar dan verander alles.

 Die Here gryp in en wil die stad vernietig vanweë al die onreg wat gepleeg word en Lot en sy gesin moet vlug. Hy verloor alles wat hy gehad het en gaan vestig hom vir ‘n kort rukkie in Soar. Dan verlaat hy die stad en gaan woon met sy twee dogters in ‘n grot. Van vermoënde man tot grotbewoner. Van gesiene gemeenskapsleier tot kluisenaar. ‘n Tragiese verhaal.

Miskien is die verhaal ‘n herkenbare verhaal. Weet ons nie ook van mense wat amper dieselfde paadjie moes loop nie? Weet ons nie ook van mense wat alles verloor het nie? ....Mense verloor partykeer ook alles....

Die mees tragiese van die verhaal kom egter nog. Lot se dogters sê dat hulle nie op die gewone wyse tot trou sal kom nie. Hulle wil darem ook kinders hê. Dan beraam hulle ‘n plan.. .hulle besluit om hulle pa dronk te maak en gemeenskap met hom te hê. Dit bly nie by praatjies nie, hulle het hom toe dronkgemaak, hom verlei en met hom gemeenskap gehad. Eers die oudste en die volgende nag die jongste. En altwee word swanger en skenk lewe aan twee seuns. Hierdie twee seuns word die voorvaders van die Moabiete en die Ammoniete, twee naburige volke met wie die Israeliete deur die jare heen baie moeilikheid gehad het. Nou is dit so dat hierdie skokkende verhaal ten doel gehad het om die Moabiete en Ammoniete te verkleineer en te dien as verklaring vir die rede vir die ondergang van hierdie volke.

Hierdie verhaal wil ook iets meer belig, naamlik die diep verval in dusfunksionele huishoudings en families en gesinne. Hoe laag het die dogters nie gedaal nie. Om doelbewus bloedskande te pleeg. Om op so ‘n wyse swanger te raak. Hoekom? Het dit nie baie te doen met die feit dat hierdie gesin heeltemal gedisintegreer het nie? Eers het dit met Lot en sy gesin baie goed gegaan. Saam met Abraham het hulle nuwe horisonne verken. Hulle was welvarend. Toe skei hulle paaie en het hulle hulle in Sodom gevestig. Daar het dit aanvanklik nie sleg gegaan nie. Die dogters was amper getroud. Toe verlaat hulle Sodom net voor die stad vernietig is as gevolg van die wanpraktyke en sonde van die inwoners. Nou woon die pa en sy twee dogters in ‘n grot. Hulle het nie meer kontak met die familie nie. Sosiale kontak is daar skynbaar nie meer nie. Soos kluisenaars leef hulle. Lot en sy gesin het disfunksioneel geword. Daarom was daar vir die dogters nie kans om op die normale tradisionele wyse ‘n man te kry, te trou en kinders te hê nie. Dis hierdie desperate situasie wat hulle tot ondenkbare desperate dade dryf.

Hierdie verhaal waarsku oor wat in disfunksionele families kan gebeur. Lot het skynbaar nie meer gewerk nie, die inkomste, indien enige, was maar minimaal. Daar was nie veel sosiale kontak met ander mense gewees  nie, en vrees het oorheers. Respek het ontbreek, die normale sosiale lewe het tot ‘n einde gekom. Hulle het afgesonderd, onbetrokke en gesioleerd geleef. Die familielewe het heeltemal gedisintegreer, en daar was nie ‘n ondersteuningsbasis nie.


Disfunksionele gesinne is nie ‘n onbekende verskynsel in ons dag nie. Is dit nie ons almal se plig om op te let en uit te reik indien die eerste teken van disfunksionaliteit in gesinne na vore tree nie? As mense hulle afsluit, as die bande gebreek word, as isolasie voorkom behoort ons uit te reik. As gesinne uitmekaarval, behoort ons daar te wees. As dinge skeef loop, moet ons help.

Dit is opvallend hoe dikwels drankmisbruik sterk na vore kom in disfunksionele gesinne. Mense gryp na drank om te ontvlug aan die harde werklikheid, en dit kan na allerlei probleme lei. Seksuele wanpraktyke, seksuele misbruik en gesinsgeweld kom dikwels in disfunksionele gesinne voor.

Hierdie verhaal wil ons oproep om na onsself te kyk. Om in die eerste plek seker te maak dat ons nie dalk ook materiële dinge bo alles stel nie. Was dit nie wat gelei het tot die skeiding van Abraham en Lot nie? Moenie op grond van of ter wille van besittings die bande met die ouers en familie breek nie. Al mag dit aanvaklik goed gaan, kan dit uiteindelik tot ondergang lei.

Ons word ook opgeroep om in moeilike tye, as ons drome aan skerwe lê en ons ook alles verloor het, ons nie af te sonder en in diepe depressie te verval nie. Hoe moeilik dit ook al mag wees, draai om en soek hulp. Ek is seker Abrham sou Lot met ope arms ontvang het. So sal, of behoort Christen ouers, nie kinders wat geval het, terug te verwelkom soos die pa van die verlore seun nie?

Ons word hier gewaarsku om nie ons toevlug te soek tot drank en om op allerlei slinkse maniere ons toekoms te probeer verseker of iets te bereik nie. Vir baie, baie jare het die onbesonne optrede van die dogters van Lot baie negatiewe gevolge vir baie mense gehad. Dit kan met ons ook gebeur.


Genesis 19 roep ons op om in geloofsverbondenheid met die Here te leef en Hom te ken in al ons weë dan sal Hy ons paaie gelyk maak...
POSTED BY Steven Sass on 06:15 under
4 Julie 2013 Patensie
Handeinge 9:19b-31
Maak jy ook mense bang?
Ons almal ken mos ‘n bangmaakstorie of twee? Dis deel van ons lewe baie van hierdie bangmaakstories, eintlik van kindsbeen af het hierdie stories deel geword van ons lewens. Bangmaakstories, kan natuurlik ook baie vererger word in jou oorvertellings of selfs net in jou gedagtes. Dis baie keer nie eers gebasseer of iets werkliks of selfs die waarheid nie... Ons gebruik dit baie keer tot ons eie voordeel en dan veral ten koste van iemand anders waneer ons hierdie bangmaakstories sou oorvertel. Dis asof mens partykeer net iets in die oortreffende trap wil stel en iemand dalk wil afsit van iets...

 Soms is dit eenvoudige stories wat vertel word deur byvoorbeeld ‘n ouer wat vir ‘n kind “jok” deur te sê iets is sleg vir die kind terwyl dit eintlik glad nie sleg is nie, die ouer wil net die lekkerding dalk vir homself hou.

Of as ons mekaar wil weghou van sekere plekke af, soos byvoorbeeld ‘n lekker hengelplek dan sal ons mekaar dalk vertel hoe gevaarlik die rotse of seestrome byvoorbeeld in daai area sou wees... Dis alles deel van ons lewens.

 Met hierdie gedeelte wat ons sopas gelees het het ons ook te make met ‘n tipe bangmaakstorie. Dis die storie van Saulus se eerste optrede as gelowige...

Ons lees dat almal in Damaskus eers verbaas was oor wat hy alles sou kwytraak deurdat hy nou eweskielik getuig dat Jesus die Christus en Verlosser is(vers 21). En toe hy eers in Jerusalem begin preek het kort daarna was die mense, ook die volgelinge van Jesus, selfs bang vir hom gewees (vers 21). Dit was vir almal onverstaanbaar dat die groot en wrede Saulus dan nou eweskielik teen sy aard in getuig oor Iemand wat hy sy lewe lank tot nou toe nog vervolg en met geweld verwerp het. Hulle kon nie verstaan hoe hy wat Saulus is dan nou eweskielik sy deuntjie oor Jesus kon vernader het nie.

Die mense in Damaskus het vir mekaar verbaas gevra: “Is dit nie die man wat in Jerusalem die mense wat hierdie Naam aanroep, wou uitroei nie?” Hulle kon net nie mooi die kloutjie by die oor uitkry nie. Dit het net nie gepas by die Saulus wat hulle geken het nie....

 Die volgelinge van Jesus in Jerusalem het hom totaal nie vertrou nie... hulle het nie die vrede waarvan hy getuig het vertrou nie. Hulle was seker dit was als dalk deel van sy plan om hulle vertroue dalk te wen en hulle dan soos soveel ander gelowiges te vang en te vervolg. Hulle kon ook nie, netsoos die mense in Damaskus, die situasie van hierdie nuwe Saulus verstaan nie. Dit het net nie sin gemaak nie.... hulle was steeds bang vir Saulus....en hierin lê baie van ons mense se dilemma...

Mense is ook dalk bang vir jou, en as hulle nie bang is nie is hulle ook dalk versigtig vir jou! Nou wat bedoel ek hiermee?

Wat ek hiermee bedoel is dat baie mense ook maar nie lewens lei wat getuig van hulle verbondenheid aan Liewe Jesus nie. Mense dwaal van die pad af en ander mense sien jou vir wat jy regtig is: ‘n sondaar... hulle weet van jou dinge... hulle hoor van jou (slegte) naam. En waneer jy dan die dag die Here aanneem en daar ‘n ommekeer in jou lewe kom, is mense geneig om ook in jou geval, netsoos met Saulus, nie die vrede te vertrou nie.

 Mense glo jou nie waneer jy begin getuig oor Hom wat ook vir jou kom ontmoet het op jou lewenspad, soos wat die Here ook met Saulus gemaak het op die Damaskus pad nie. Ons ken baie die gevoel van waneer jy jou mond oopmaak, nadat jy lank dalk die moed bymekaar gemaak het (die Bybel sê mos self dat ons almal nie apostels of dominees is nie en is nie almal ewe gemaklik om te praat nie) dat iemand dan vir jou sal sê: “Nou wie’s jy om met my oor God te kom praat? Jy het dan gisteraand nog op die drinkplek se tafels gedans.... of jy vloek dan self...of jy is dan die hoof vloeker onder ons...wie’s jy om my te wil konfronteer.... Ken jy hierdie gevoel? Het dit dalk ook al met jou gebeur? Wel dis presies wat met Saulus gebeur het.

Die mense het nie verwag dat Saulus hulle sal kom vertel van vrede en liefde nie, inteendeel hulle het verwag dat hy veel eerder vir hulle sal kom leed aandoen. Netso ook dink mense dalk van jou ook. Netso is mense dalk ook bang vir jou oor al die onvrede en sonde wat jy dalk oor mense se pad gebring het....En juis omdat jy dalk al weet wat die mense gaan sê, of hoe hulle gaan reageer op jou getuienis is jy bang om jou mond oop te maak en te vertel van wat Jesus met jou kom doen het... Van wat Jesus dalk veral op hierdie einste oobmlik in die kerk kom doen met jou.

 Dis asof jy nie wil wys wat presies in jou hart aangaan nie, dat jou hart nie meer behoort aan hierdie wêreld nie maar aan Jesus self, want jy weet die mense rondom jou, hulle wat jou “ken” se reaksie gaan wees.

Maar weet jy wat? Saulus is vir ons ‘n ongelooflike wonderlike voorbeeld hierin. Kyk mooi wat sy reaksie op die mense was.... “Maar Saulus het al hoe kragtiger gepreek en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is....” En dis presies wat jy moet doen...moenie stilbly nie. Moenie aanhou om versigtig of bang te wees vir wat die mense van jou getuienis gaan dink nie. Fokus op God se wil en plan vir jou. Maak jou mond oop en getuig van Hom wat jou kom ontmoet het hier in herdie Kerk....

Die uiteinde van Saulus se gehoorsaamheid was uiters gesëend gewees omdat hy aanhou doen wat God van hom gevra het. Hyt aanhou praat en getuig en preek ten spyte van die mense... soveel so dat die kerk ‘n tyd van rus en vrede bleef het... en die ledetal het toegeneem .....(vers31). Dis mos wat God hier met jou in hierdie kerk ook wil laat gebeur.... Komaan, staan op en en begin getuig van God se magtige dade in jou lewe. Vergeet van alles wat jy verkeerd gedoen en gesê het en fokus op die toekoms, op die wenstreep, op die erfenis van die ewige lewe!


Moenie dat jou lewens-storie ‘n bangmaakstorie bly nie!