24 Maart 2013 Patensie
Mense se houding teenoor Jesus
Johannes 18:12-14 en 19-24
In hierdie
gedeelte vind ons die optrede van drie groepe teen Jesus, wat teenoor Jesus
staan. Daar is die owerpriesters en die skrifgeleerdes: die Kerkleiers wat
Jesus na Pilatus neem en Hom aankla. Daar is Pilatus, wat Jesus verhoor. En
daar is die volk wat ‘n keuse oor Jesus moet maak! Kom ons kyk na elk van
hierdie groepe en kyk of ons onsself in elkeen van hierdie groepe raaksien.
Die Skeinheiligheid van die Kerkmense
Die owerstes
van die Jode, die Skrifgeleerdes en die Kerkleiers neem Jesus na Pilatus en
gaan om ‘n aanklag teen Hom te lê. Ja, hulle gaan om te vra dat Jesus doodgemaak
en gekruisig moet word. Ons weet dat hulle Jesus vals beskuldig het en dat die
aanklag teen Hom eintlik net ‘n rookskerm was. Hulle het Jesus gehaat en wou
Hom uit die weg sien, omdat hulle eie populariteit deur Sy optrede in die
gedrang geplaas is. Die mense het eerder na Jesus as na hulle geluister. Deur
die optrede van Jesus het hulle eie valsheid en oppervlakkigheid aan die lig
gekom. Nou soek hulle verskonings om Hom dood te maak. Hulle verdraai Sy woorde
om ‘n klag teen Hom te lê.
Hulle skeinheiligheid
kom na vore in vers 28 waar ons lees: “Hulle het self nie in die ampswoning
ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie”. Hoe absurd. Hulle wil nie
onrein word deur in die huis van ‘n heiden in te gaan nie sodat hulle die aand
vroom die pasga kon vier en tempel toe kan gaan. Maar hulle voel hulleself nie
verontreinig deur hulle optrede waardeur hulle die onskuldige Jesus doodmaak net
om Hom uit die pad uit te kry nie.
Hulle
skeinheiligheid kom ook uit hulle aanklag, naamlik dat Jesus die Koning sou
wees en so hoogverraad sou gepleeg het. Hulle het telkens teen die staat in
opstand gekom. Hulle het die staat gehaat. Nou speel hulle die vroom rol van
die beskermers van die Romeinse staatsbelange.
Hoe dikwels
tref ons hierdie houding nie by die Kerk vandag aan nie. So bekommerd oor klein
dinge, onbelangrike gebruike. Terwyl die werklik essensiële by ons verbygaan.
Dit vind ons by kerkvergaderinge van die hoogste tot die laagste vlak. Dit vind
ons ook in die lewe van tallose Christene. Baie mense klou krampagtig vas aan
ou gebruike terwyl Jesus gekruisig word deur die lewenswyses van dieselfde
mense.
Pilatus tree op teen sy beterwete as
gevolg van druk
Uit hierdie
gedeelte en ook uit Johannes 19:1-16 blyk duidelik dat Pilatus diep bewus was
van die onskuld van Jesus. Hy sê dan ook in 18:38: “Ek vind geen skuld in Hom
nie” en in 19:4 word hierdie woorde weer herhaal. Nie minder nie as drie keer
probeer Pilatus om Jesus vry te laat (18:38, 19:4, 12). Volgens Matteus het
Pialtus dan ook sy hande gewas toe hy Jesus oorgelewer het om gekruisig te word
en gesê: “Ek is onskuldig aan die dood van hierdie man”. Pilatus het geweet: “Jesus
is onskuldig!”
Pilatus was
nie ‘n man wat by sy beginsels kon staan en val nie. Nee. Hy glo een ding: doen
‘n ander. Hy is oortuig van Jesus se onskuld, maar is so bang vir sy onderdane
dat hy nie die moed van sy oortuiging het om dit waarvan hy oortuig is, deur te
voer nie.
Dit is een
van die grootste probleme van ons tyd. Mense en leiers kan skynbaar nie
besluite neem en daarby bly nie. Ons hoor so dikwels dat mense terugdeins. “Ek
glo dit, maar dit kan aanstoot gee.” “Ek wil nie doen wat ek eintlik behoort te
doen nie, omdat ander nie daarvan sal hou nie.” Kan ons nog standpunt inneem?
Of het ons maar ‘n patetiese groep slappelinge geword?
Nou pleit
ons nie vir onversetlike en ongevoelige optrede of hardvogtigheid en
onverdraagsaamheid nie. Nee, maar wel dat ons sal staan by dit waarin ons glo.
Dat ons nie soos riete in die wind rondgeslinger sal word nie, maar standpunt
kan inneem. Hierdie Pilatus gesindheid van gee maar toe voor daar konfrontasie
en opstand is, verwoes daagliks lewens netsoos Pilatuss se optrede Jesus se
lewe op aarde beëindig het.
Die volk kies ‘n verlosser
Pilatus het
die gebruik gehad om met Paasfees een gevangene vry te laat. Nou probeer hy
hierdie gebruik aanwend om Jesus vrygelaat te kry. Hy stel egter ‘n defnitiewe
beperking sodat die volk nie sommer net enigiemand kon kies nie. Die volk moes
juis kies tussen Jesus en Barabbas.
Wie was
hierdie Barabbas? In Matteus vind ons sy volle naam: Jesus Barabbas. Die naam
Barabbas beteken letterlik: “Seun van ‘n vader. Dit is die naam wat soms aan ‘n
buite egtelike kind gegee is. Johannes verwys na hom as ‘n rower. ‘n Ander
tradisie dui daarop dat hy ‘n politieke leiersfiguur was, wat in opstand gekom
het teen die owerheid. Hy was moontlik selfs een van die selfaangestelde messiasse.
Pilatus stel
hulle teenoor mekaar: Jesus Christus teenoor Jesus Barabbas, Jesus Seun van die
Vader, teenoor Jesus seun van ‘n vader. Jesus, die Messias van God teenoor
Jesus, ‘n aardse selfaangestelde messias.
Die volk
moes kies: Jesus Christus, of Jesus Barabbas.
Barabbas
tree met sy gelykheid in benaming en eenheid in strewe te voorskyn as
voorafskaduwing van die antichris.
Die mens
het deur die eeue nog altyd voor ‘n
keuse gestaan. So het Josua die volk voor die keuse gestel: kies nou wie julle
wil dien: die gode van die ander volke of die Here. Elia vra: “Hoe lank hink
julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom.” Jesus sê: “Julle kan nie
twee Here dien nie.”
Ons staan
elke dag voor talle keuses. Ons moet elke dag kies tussen God en die sonde,
Jesus en Barabbas, Christus en die Antichris. Wie kies jy vanoggend?
Hierdie
gedeelte het nie net ten doel om maar net vir ons te sê hoe mense lank gelede
teenoor Jesus opgetree het nie. Natuurlik kom dit hier baie duidelik na vore.
Natuurlik het die kerkleiers van destyds en Pilatus en die volk so opgetree,
daarvan lees ons hier baie duidelik. Dit baat ons egter niks om hierdie
gedeelte net te lees as historiese berig nie.
Hierdie
gedeelte wil onsself oproep tot selfondersoek. Hoe tree ons op en wat is ons
houding teenoor Jesus? Kom ons stel dit duidelik: elkeen van ons het minstens
op een of ander tyd dieselfde gesindheid as die kerkleiers van destyds, of Pilatus
of die volk geopenbaar. Die vraaag is nou: Hoe tree jy nou teenoor Jesus op?
Hoe gaan ons môre teenoor Hom optree? Dis maklik om onsself van hierdie groepe
te distansieer, maar wat gebeur in die praktyk? Kyk ons na wat in die
werklikheid van die daaglikse lewe aangaan, kan ons nie anders as om die
optrede van hierdie groepe weer en weer raak te sien nie.