POSTED BY Steven Sass on 05:44 under

21 Oktober 2012 Patensie
Skerp woorde in liefde is ook nodig
Matteus 11:20-24; 23:37-39
As ek sou vra: wat is die eerste ding wat by jou opkom wanneer jy aan Jesus dink, dan sal die meeste van ons seker sê: liefde. Ja, Jesus is mos die volmaakte voorbeeld van wat liefde is. Hy is liefde. Hy het vir ons kom wys wat liefde werklik inhou en beteken. Tog is dit nie al wat ons van Jesus in die Bybel leer nie. Ons moet dan ook nie te enkelvoudig oor Jesus dink nie.

Matteus onderstreep ook ‘n ander aspek. Dit loop soos ‘n draad deur die hele Evangelie. Jesus is ook die een wat skerp oordeel. Van die begin tot bykans aan die einde van die Evangelie kry ons verwysings daarna.

Reeds in die Bergrede kom dit baie duidelik na vore. So sê Jesus vir Sy volgelinge dat hulle die sout van die aarde is. Maar as die sout laf word, dan deug dit vir niks. Dan word dit buitekant uit gegooi en word dit deur die mense vertrap. ‘n Christen wat nie sy of haar Christenskap uitleef nie en wat nie die gemeenskap beinvloed sodat dit aangenaam en goed is nie, is niks werd nie. So ‘n persoon word uitgewerp en vertrap.

 Jesus sê: wie dan ook die geringste van hierdie genooides ongeldig maak en mense so leer, sal die minstegeag word in die koninkryk van die hemel. En: “As julle getrouheid nie meer inhou as die van die Skrifgeleerdes en die Fariseers nie, sal julle nooit in die hemel ingaan nie”. Dis erg en skerp!

Die Skrifgeleerdes en die Fariseers was immers die kerkleiers van destyds. Hulle was baie vroom. Hulle het gereeld na die sinagoge toe gegaan, en was uiters getrou in die uitlewing van al hul godsdienstige pligte. Hulle het skynbaar voorbeeldige lewens gelei. Maar Jesus sê as ons nie getrouer is aan die Woord as hulle nie, is die poorte van die hemel vir ons gesluit.

Net ‘n entjie verder sê Jesus dat as jy jou broer uitskel vir ‘n idioot, dit strafbaar is in die helse vuur. Is dit nie iets waaraan so baie van ons ons skuldig maak nie? Dit gebeur so maklik. Tog spreek Jesus ‘n baie skerp oordeel hieroor uit.

In die Bergrede spreek Jesus ook skerp oordele uit oor almal wat nie hulle vyande liefhet nie. Ook oor mense wat pragtige dinge doen en dit aan die groot klok hang. As jy dit wat ons as noodsaaklik sien, soos die versorging van armes en om te bid, in die openbaar doen sodat ander daarvan kennis dra, dan sê Jesus, is dit nutteloos en verkeerd.

Jesus het ook by verskeie geleenthede Sy dissipels en volgelinge skerp aangespreek. So was die dissipels by geleentheid baie bang toe die skuitjie waarin hulle was in ‘n hewige storm wou sink en die golwe oor die dek geslaan het. Maar Jesus raas met hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?”


By ‘n ander geleentheid, toe hulle nie ‘n siek seun kon genees nie, noem Jesus hulle ‘n ongelowige en ontaarde geslag en vra: “Hoe lank moet Ek julle nog verdra?” (17:17). En so kan ons maar aangaan.

In Matteus 11:20-24 lees ons dat Jesus kras oordele uitspreek oor drie stede: Gorasin, Betsaida en Kapernaum. Hy oordeel hierdie stede omdat hulle nie ag geslaan het op dit wat hulle gehoor en gesien het nie. Hulle het Sy wonders gesien, maar dit het nie sodanige indruk op hulle gemaak dat hulle hulle lewens op grond daarvan verander het nie. Hulle wy nie hulle lewens aan Hom nie. Hulle gaan maar aan soos voorheen.

Wat dit nog erger maak, is dat Hy vir ‘n tyd lank in Kapernaum gewoon en gewerk het. Dit was dus nie ‘n eenmalige preek en of ‘n eenmalige optrede waarvan hulle getuies was nie. Jesus het ook talle wonders in Gorasin gedoen. Van die Apostels kom van Betsaida af. Die mense het dus nie goeie verskonings gehad om nie ag te slaan op die woorde en dade van Jesus nie.

In Sy oordeel verwys Jesus na Tirus en Sidon. Hierdie stede was in die Ou-Testamentiese tyd die simbool van goddelose stede buite Israel. Hierdie stede is later heeltemal verwoes en slegs die ruines het oorgebly as teken van die eens beroemde, of liewer berugte stede. Verder verwys Jesus na Sodom... die stad wat simbool was van goddeloosheid binne Israelitiese grondgebied. Die stad wat verwoes is in die tyd van Abraham. Dit sal die lot van hierdie stede wees. Hulle sal verwoes word.

Jesus gaan verder in Sy oordeelswoord. Hy sê dat die verwoesting nie die einde sal wees nie. In die oordeelsdag sal die inwoners van al hierdie stede weer eens veroordeel word. Dan sal dit vir die inwoners van Tirus en Sidon en Sodom verdraagliker wees as vir Gorasin en Betsaida en Kapernaum. Met ander woorde, daar sal nie ‘n erger oordeel wees as dit wat vir hulle wag nie.

Wat hierdie oordeelswoord van Jesus nog erger maak, is die feit dat dit nie gaan oor gruwelike dade wat die mense gepleeg het nie. Hulle het hulle nie skuldig gemaak aan volksmoord of verkragtings of moord of enige sodanige gruwelike sondes nie. Wat hulle wel gedoen het, is om die boodskap van Jesus te ignoreer. Hulle wou nie hulle lewens verander nie. Hulle hoor maar doen nie wat Jesus eis nie.

Is dit nie maar presies wat vandag nogsteeds gebeur nie? Ons hoor en hoor maar gee nie gehoor nie. Ons doen nie wat Hy vra en eis nie. Ons leef nie in liefde teenoor God en ons naaste nie. Ons steur ons nie besonder baie aan Sy Woord in ons daaglikse lewens nie. So min is daar te sien in die praktiese uitlewing van die Boodskap van die Bybel. En as ons dood eerlik is met mekaar, moet ons erken dat ons gemeenskap skokkend baie lyk soos die gemeenskappe van Gorasin, Betsaida en Kapernaum. Die vraag kom dan of ons hierdie woorde en hierdie skerp oordeel van Jesus ter harte neem. Of lees ons maar daaroor of lees dit glad nie, en dink dat hierdie gedeelte net van toepassing was op daardie stede en nie meer betrekking het op ons nie. Nee, hierdie woorde is ook aan ons gerig. As ons nie luister na wat Jesus sê en nie leef in ooreekoms met wat Hy vir ons sê en van ons verwag nie, staan ons onder dieselfde oordeel as Gorasin, en Betsaida en Kapernaum.

Wie in die voetspore van Jesus wil volg, moet hierdie woorde van Jesus baie ernsitg opneem. Dit beteken nie net dat ons ag moet slaan op Jesus se woorde en moet lees volgens Sy woord en liefdesgebod nie, maar ook dat ons hierdie ernstige boodskap moet oordra. Dit beteken ook nie dat ons nou net oordeelsboodskappe moet oordra nie. Dit beteken nie dat ons mense so bang moet maak vir die hel dat hulle op grond van vrees vir die hel die Here moet dien nie. Dit kan nie, want dan gaan dit mos nie om opregte diens aan die Here uit liefde vir Hom nie, maar om “diens” aan die Here sodat ons die hel kan vryspring en dit met ons goed kan gaan in die lewe hierna. Dan het ons ‘n verkeerde motief vir die “diens van die Here”. Nee ons moet Hom dien en leef volgens Sy Woord net omdat Hy ons liefhet en ons verlos het en ons Hom liefhet en Hy ons Vader en Verlosser en Trooster is.

Dit beteken wel dat ons nie alles sal goedpraat en verdra en verkeerde lewenswyses oor die hoof sal sien  of sal maak of ons dit nie sien nie. Ouers mag nie dit wat hulle kinders verkeerd doen goedpraat of maak of hulle dit nie raaksien nie. Sulke “liberale” ouerskap lei altyd tot latere ernsige problem. Kinders kan die spoor byster raak as hulle nie reg gehelp word nie. Hoe baie mense beland nie in ersnstige probleme omdat niemand die moed gehad het om ernstig met hulle te praat toe hulle begin het om verkeerde dinge te doen en nie in ooreenkoms met die Woord van die Here te leef nie. Opvoeding behels ook dat ouers norme en waardes duidelik uitspel en uitleef en eis dat daarvolgens geleef word. Ons behoort in die voetspore van Jesus te volg deur ook van tyd tot tyd en altyd wanneer dit nodig is, reguit en hard te praat en te waarsku. ‘n Harde woord wat ‘n lewe kan red is baie meer woord as ‘n sagte woord wat lei tot lewens vernietiging.

Wie in die voetspore van Jesus wil volg, moet erns maak met die skerp oordeelswoorde wat Jesus uitgespreek het, hulle lewens verander en leef volgens Sy liefdesgebod. Wie in die voetspore van Jesus wil volg, moet ook soos Hy hierdie boodskap oordra, al is dit nie gewild of maklik nie....