POSTED BY John Wait on 05:43 under ,

Prediker 2:4-11, 12:13

As ons Prediker 2:4-10 lees, is die meeste van ons se reaksie seker: hoe wonderlik! Ons kan ons met hierdie man identifiseer. Ons sou ook graag so wou leef. Hoe wonderlik sou dit nie kon wees as ons so kon leef nie! Dit klink so idillies en heerlik. Ag, as my lewe maar soos hierdie man s’n kon wees.

Die man was ‘n ondernemende en uiters suksesvolle sakeman. Hy vertel self: “Ek het groot ondernemings aangepak: ek het vir my huise gebou en wingerde geplant. Ek het vir my tuine en parke aangelê en allerlei vrugtebome daarin geplant. Ek het vir my damme gemaak om die lappe jong bome nat te lei. Ek het slawe en slavinne aangeskaf, en hulle het kinders gekry wat ook my slawe was. Ek het baie beeste en kleinvee gehad, meer as almal voor my in Jerusalem. Ek het vir my silwer en goud opgegaar wat ek gekry het van konings en provinsies. Ek het vir my sangers en sangeresse gewerf, talle mooi meisies met wie ek die lewe kon geniet. Ek was magtiger en ryker as almal voor my in Jerusalem. My wysheid het my goed te staan gekom. Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het myself geen plesier ontsê nie. Alles waarmee ek my besig gehou het, het my plesier verskaf. Dit was my beloning vir al my inspanning” (Pred. 2:4-10).

Dit klink mos nou soos ‘n suksesverhaal. Die man het dit in hom gehad. Hy het ondernemingsgees gehad. Hy pak groot ondernemings aan. Hy deins nie terug vir uitdagings nie.

Hy wag nie dat dinge gebeur nie, maar laat dinge gebeur. Hy rol sy moue op en sit skouer aan die wiel. Hy bou huise. Hy bou ‘n groot boerdery op. Hy plant wingerde. Hy lê tuine aan. Nie sommer net ‘n klein tuintjie nie. Nee, dis parke wat hy aanlê. Hy plant boorde met alle moontlike vrugtebome. Hy bou ‘n groot kudde beeste en kleinvee op.

Daarby het hy vir sy tyd revolusionêre boerdery metodes gevolg. Hy bou besproeiingsdamme, wat destyds eintlik onbekend was. Hy het hard gewerk. Hy is ‘n toonbeeld van ‘n man met gediversifiseerde belange in onder andere eiendomme en gemengde boerderye. Hy was ‘n entrepreneur en sakeman van formaat.

Die meeste van ons steek maar sleg af teen hom. Ons sou trouens kon vra of die meeste van ons hom nie beny of as rolmodel sou kies nie. As ons en ons kinders maar sy dryfkrag en insig en werksvermoë gehad het.

Die man skaf ook vir hom baie slavinne an. Destyds was slawerny algemeen en die welvarendes het ‘n groot werkmag van slawe en slavinne gehad. In vandag se terme sou ons eerder kon sê dat die man ‘n groot arbeidsmag gehad het. Hy het baie mense in diens geneem. Hoe groter die personeel, hoe welvarender is die baas mos. Daar is baie om vir hom te werk en wat spring as hy net sy vingers klap. Hoe lekker sou dit nie gewees het as ons so ‘n klomp werkers kon gehad het nie. Dit kon dinge mos sommer lekker maklik gemaak het. So ‘n groot personeel wat vir ons ‘n heerlike gemaksone sou kon skep sodat ons nie so hoef af te sloof en alles self te doen nie.

Die man was ook ‘n belgger van formaat. Hy het silwer en goud opgegaar. Sy reserwes was besonder groot. Hy het nie ‘n kontantvloei probleem gehad nie en het nie op lenings staat gemaak nie. Wat ‘n ideale situasie.

Daar begin so ‘n skaduweetjie oor die man val as ons die volgende paar verse lees. Dit lyk of hy ‘n gekultiveerde mens was. Hy werf vir hom talle sangers en sangeresse. Maar ai tog, hy werf vir hom ook talle mooi meisies met wie hy die lewe kon geniet. En dan kry hy grootkop en word verwaand en arrogant as hy spog met die feit dat hy magtiger en ryker as almal voor hom in Jerusalem was. Hy spog ook met sy wysheid. Miskien was dit waar, maar om dit so uit te blaker klink nogal arrogant en nie na die woorde van ‘n wyse man nie.

Helaas is dit nog altyd dat oorvloed te veel mense laat vervlak. Daar is niks verkeerd met die genieting van goeie musiek nie. Inteendeel. Gekultiveerdheid en die genieting van musiek, kuns en kultuur is wonderlik en aanbeveelingswaardig. Die probleme begin kopuitsteek as mense vervlak en die lewe begin geniet met talle mooi meisies! Om dan nog te loop en spog met jou mag en jou rykdom en wysheid wat die van ander oorskrei, is darem net te erg.

Dit laat mens dink aan iemand wat aan niks gewoond is nie en skeilik net alles in die lewe kry. Maar is dit nie dikwels wat gebeur as mense hulle net toelê op die materiële nie? Is dit nie wat ons te dikwels sien en hoor nie? Mense word skatryk en vervlak in so baie opsigte. Dan word dit alles net klinkende simbale en holle lawaai.

Die man vertel dat hy homself alles veroorloof het. Hy het homself geen plesier ontsê nie. Sy leuse was skynbaar om hard te werk en hard te speel. Die belonging vir sy harde werk het vir hom in plesier gelê. Is dit dan nie ook die geval by so baie van ons nie? Kom ons erken dit maar: hierdie man is die tekening van wat die meeste van ons as droomman sien. Ons sou so graag so wou leef.
POSTED BY John Wait on 07:30 under ,

Romeine 8:31-39

God is vir ons. Daarom kan niks ons skei van die liefde van God nie. Daarom is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Met hierdie oorinningslied sluit Paulus die deel wat in Romeine5:1 begin en handel oor die nuwe lewe in Christus, af. In hierdie deel toon hy aan dat ons as vrygekooptes nuwe mense is. Dit is daarom gepas dat hy hierdie deel afsluit met ‘n oorwinningslied.

Waaroor gaan dit in hierdie oorwinningslied?

God is vir ons! Dit is wat Paulus hier beklemtoon. Dit is die tema van die hele lied. Dit is vir hom die fondament van sy hele lewe. God is vir ons. God het gewys dat Hy vir ons is deurdat Hy Sy Seun nie gespaar het nie, maar Hom oorgelewer het om ons almal te red. Hierdie woorde herhinder sterk aan Johannes 3:16 “God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Dit gaan ons verstand te bowe. Hoe kan ons ooit begryp? Hoe kan ons begryp dat die ewige Here, wat so oneindig verbo die mens verhewe is, wat heilig is en geen onheiligheid duld nie, wat sonde nie kan duld nie, ons so lief het? Hoe kan ons begryp dat Hy Sy Seun in ons plek laat sterf het sodat ons die ewige lewe kan hê? Nee, ons kan die liefde van God nie verstaan nie. Sy liefde vir ons is onverdiende liefde. Ons kan dit nie verstaan nie. Ons kan dit maar net in dankbaarheid en in geloof aanneem.

God is vir ons. Hy het ons lief. Dit het ons op Kersdag gedenk, toe ons stilgestaan het by die krip in Betlehem en by die moeder en haar Kindjie. Aan die begin van die jaar kan ons maar net terugkyk en stil word voor die grootsheid van die liefde van God. Ons kan vandag maar net getuig: ons verdien dit nie, maar ons weet: God is vir ons!

Warom huiwer ons dan oor die jaar wat voorlê?Ons mag nie bang wees vir die jaar wat voorlê nie. Ons mag die toekoms nie met vrees en bewing ingaan nie. Ons mag nie hoop verloor nie. As Hy Sy Seun gegee het, sal Hy dan nie al die ander dinge vir ons gee nie, vra Paulus. Dis ‘n retoriese vraag.

Die antwoord daarop is natuurlik: ja, Hy sal al die ander dinge vir ons gee.

Nou speisfiseer Paulus nie hierdie ander dinge nie. Dit verwys na alles wat ons nodig het volgens die wil en oordeel van God. Daarvan kan ons mos aan die begin van die jaar getuig. Die Here het laasjaar voorsien. Wat nodig was, het Hy gegee. Nie net in die eerste plek materiele dinge nie, maar veral innerlike krag en geloof en hoop. Wat het Hy nie alles vir ons gegee in ons verhoudingslewens nie. Kom ons gaan die nuwe jaar in en tegemoet met die sekere wete: God is vir ons, Hy sal ons weereens alles gee wat nodig is vir dit wat vir ons voorlê.

God is vir ons – wie kan ons van die liefde van Christus skei? Paulus maak dan ‘n lysie van alle denkbare gevare en bedreiginge: lyding, benoudheid, vervolging, honger, naaktheid, gevaar, swaard. Dis alles dinge wat ons bang maak. Dit breek sommer ons moed. Dit knak ons lewens. Maar Paulus sê dat selfs dit waarvoor ons die bangste is, kan ons nie skei van die liefde van Christus nie. Trouens, niks kan ons van Sy liefde skei nie.

Nou sê Paulus nie hier dat hierdie dinge in 2011 nie oor ons pad sal kom nie. Nêrens in die Bybel word beloof dat die kind van God gevrywaar is teen gevaar nie. Ons lees trouens baie keer van gelowiges wat vreeslike lyding moes deurstaan. En uit eie ondervinding weet ons ook self dat lyding nou eenmaal ook deel uit maak van ons lewens. Die jaar wat verby is het dan ook sy kwota swaarkry en lyding gehad. Vir sommiges selfs meer as net ‘n normale kwota. In die toekoms sal dit weer die geval wees. Daar mag selfs tye kom dat dit piknagdonker word en die lyding ons wil laat knak.

Wat die Here wel oor en oor vir ons beloof, is dat Hy by ons is. God is vir ons. Niks, heeltemal niks kan ons skei van die liefde van Christus nie. Daarom kan ons die toekoms en die nuwe jaar met hoop en geloof ingaan. God is vir ons. Hy is by ons. Niks kan ons uit Sy hand ruk nie.

Paulus het geweet dat ons dinge maar swaar begryp en nie maklik hoor en aanvaar nie. Daarom herhaal hy dit. Hierdie keer is die lysie net erger. Ook hierdie dinge kan ons nie skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie. Nie dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of magte, of hoogte of diepte of enigiets anders uit die skepping nie. Niks op aarde nie! Niks uit die hemel nie! Niks uit die doderyk nie! Niks nie! Absoluut niks kan ons skei van die liefde van God nie. Hoor jy Paulus se pleit vanoggend? Glo dit asseblief! Niks kan ons skei van die liefde vna God nie.

God is vir ons, daarom is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons krag gee. Ons hoef nie bang te wees nie. Mag nie vrees vir alles wat ons bedreig nie. Ons mag nie moedeloos sit nie. Ons moet die toekoms blymoedig ingaan, wetende dat ons meer as oorwinnaars is deur Christus wat ons krag gee, Hoekom is ons so bang? Hoekom huiwer ons? Gaan die toekoms in met krag en moed. Elke gelowige is ‘n oorwinnaar. Elke kind van God is meer as ‘n oorwinnaar. Maar nie net uit eie krag nie. Dit is so deur die krag van Jesus. Deur Hom wat ons liefhet is ons meer as oorwinnaars.

So het Jesus mos vir ons kom wys hoe daar oorwin kan word deur Hom wat ons liefhet. Hy het  deur Sy liefde oorwin oor graf en dood en hel. Deur Sy liefde het en sal ons ook oorwin oor sonde. Deur Sy liefde sal ons as oorwinnaars kan leef. Deur Sy liefde sal ons as oorwinnaars kan leef in 2011! Sonder om bang te wees, sonder om terug te hou! Moenie terug hou nie!

Kom ons sing hierdie lied terwyl ons die nuwe jaar inloop. Kom ons sing dit elke liewe dag. God is vir ons! Wie kan teen ons wees? Niks kan ons skei van die liefde van Christus nie. Ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet!