POSTED BY Steven Sass on 06:41 under

12 Mei 2013 Patensie
Vriendelikheid
Galasiërs 5:16-26
Vriendelikheid. Dit is iets waaroor ons so baie praat en dink. Meet en beoordeel ons nie mense aan die vraag: is hy/sy vriendelik of onvriendelik nie? Dit is byna die eerste oordeel wat ons oor ‘n mens vel.
Ons teks sê: vriendelikheid is ‘n vrug van die Heilige Gees.
Maar is vriendelikheid dan nie so algemeen menslik nie? Is alle gelowiges vriedelike mense en alle ongelowiges onvriendelike mense? Lees ons dan nie in 2 Konings 25:28 dat Ewil-Merodak, die Babiloniese koning en ongelowige, vriendelik opgetree het teenoor Jojajim die koning van Juda tydens die ballingskap nie? En in Handelinge 28:7 lees ons dat Publius, die hoof van die eiland Malta, waar Paulus as gevangene gestrand was, Paulus drie dae lank vriendelik ontvang het. En sien ons dit nie daagliks dat ongelowiges ook vriendelik is nie? Ag jy ken mos die vriendelike sakeman wat niks met die Here te doen wil hê nie, die vriendelike mense wat dalk saam met jou werk, maar nie in die Here glo nie. Hoe kan die Bybel dan sê: “Vriendelikheid is ‘n vrug van die Gees?” Is vriendelikheid dan meer as ‘n verbygaande glimlag of gulhartige behandeling? Moet ons nie miskien tussen soorte vriendelikheid onderskei nie?

Die vriendelikheid van ‘n ongelowige is tog ten diepste ‘n selfgesentreerde vriendelikheid. Iets wat die ongelowige wys of openbaar om self iets daaruit te verkry. So is die ongelowige handelaar of sakeman vriendelik met sy kliënte omdat hy geld wil maak. ‘n Man is vriendelik met ‘n vrou omdat hy ‘n verhouding met haar wil aanknoop. Is die ongelowige buurman vriendelik omdat hy in aanganame omstandighede wil leef, maar hierdie vriendelikheid is nie blywend nie. Dit is ‘n middel tot ‘n doel...

Die vriendelikheid as vrug van die Heilige Gees is veel dieper. Dit is nie ‘n middel tot ‘n doel nie. Dit is die uitvloeisel van die gesindheid van die hart. Daarom is die vriendelikheid van die gelowige gegrond in die mens se beskouing. Wie sy medemens beskou as ‘n bedreiging, ‘n gevaar, wat sy medemens op ‘n afstand hou, behandel hom onvriendelik. Wil as’t ware ‘n skans rondom hom bou. Die gelowige weet: die mede mens is geskep na die beeld van God; is deur God geskep met ‘n besondere doel. Ja Jesus Christus het elkeen so lief dat Hy vir elkeen gesterf het. Daarom: betoon die Christen vriendelikheid. Soos Jesus dit so mooi in Matteus 25 gestel het sal dit uit die vriendelike behandeling van die een wat honger en dors was; die vreemdeling; die persoon in die gevangenis, die arme, die sieke blyk of ons in Hom glo.

 Hier is die toets van geloof en van vriendelikheid: of ons ook vriendelik is teenoor die persoon wat nie instaat is om jou te vergoed vir jou vriendelikheid nie.

 Maar vriendelikheid is nie alleen ‘n uitvloeisel van die mensbeskouing nie. Dit is ook die kenmerk van die liefde. Want in 1Korintiërs13:4 lees ons: die liefde is lankmoedig en  vriendelik. Vriendelikheid en liefde kan nie geskei word nie. Jy kan alleen vriendelik wees as jy liefhet. Man en vrou; ouers en kinders; vriende is vriendelik teenoor mekaar omdat hulle mekaar liefhet. Liefhet met die liefde van Jesus: wil gee en nie wil ontvang nie. Wil opoffer en nie ontvang nie. Liefde ten spyte van en nie ter wille van nie. Hierdie liefde het alleen die gelowige – want dit is die liefde wat God skenk. Daarom: hierdie vriendelikheid het alleen die gelowige.

 Daarom word vriendelikheid juis gekenmerk van die lewe van die gelowige. In 1 Petrus 3:8 roep die gelowiges op met die woorde: “wees almal eensgesind, vol broederliefde en ontferming, vriendelik”. En in 2 Timoteus 2:2 sê Paulus : “ ‘n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal”. En natuurlik in Filippense 4:4-5 lees ons die bekende: “Verbly julle altyd in die Here. Ek herhaal, verbly julle. Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby”.

 Ja: vriendelikheid teenoor mense is die uitvloeisels van blydskap in die Here. Terwyl dit so is dat ongelowiges ook vriendelik kon wees, al is dit gegrond in die situasie en met die verkeerde doel voor oë, is dit deel van die algemen genade van God. Maar die gelowige, die kind van God kon nie anders as om vriendelik te wees nie.  ‘n Onvriendelike Christen is dus nie moontlik nie!

Want vriendelikheid is ‘n vrug van die Gees as die mens sy lewe aan die Here oorgegee het en die Heilige Gees ons lewens betree en bewoon – dan en dan alleen vloei die vrugte van die Heilige Gees en ook vriendelikheid uit ons lewens uit. Die gelowige is soos ‘n spons wat in water gedompel is. En as dit uit die water uitgehaal word, dan drup die water mos daaruit. Nie omdat die spons water maak nie. Maar omdat hy nie instaat is om vir homself te hou, dit wat hy ontvang het nie. So is die kind van God. Die Heilige Gees voed ons: en die vrugte van die Gees drup uit ons lewe: ons kan nie anders nie. Ons kan dit nie vir onsself hou nie. Dit is nie ons nie. Dit is die Heilige Gees in ons!

Daarom kon die gelowige nie anders as om vriendelik te wees nie. So word die vrugte van die Gees die norme waaraan ons ons eie lewe kon evalueer en vra: het ek ruimte vir die Heilige Gees in my en by Hom gepleit om my lewe ook vol te maak? Of wil ek nog uit my eie krag leef?

Die vriendelikheid as vrug van die Heilige Gees behels dan veel meer as net ‘n glimlag. Ja, natuurlik dit ook. Maar dit is meer. Dit is die vriendelikheid wat deurskemer in ons manier van praat met mense. Maar word ook hoorbaar in my gesprekke oor ander mense. In 1 Timoteus 3 word die vriendelike mense gestel teenoor die rusiemaker, die een wat skinder en deel aan vuil praatjies! Die vriendelike persoon is geen rugsteker wat ander beskinder en beswadder nie. Die vriendelikheid moet ook deurskyn in die werke. Ja die benadering tot die werk; die vreugde waarmee gewerk word-nie vol verskonings en al klaende nie. Maar een vriendelikheid terwyl ‘n glimlag om die mond en ‘n lied in die hart is! So moet die vriendelikheid uit jou hele lewe uitstraal; die vreugde om te leef; omdat die lewe die moeite werd is; ja omdat die Heilige Gees dit die moeite werd gemaak het.  Omdat Hy ons lewe vul.

Daarom vra ons onsself: Hoe lyk my lewe? Word dit gekenmerk deur die vriendelikheid as een van die vrugte van die Heilige Gees en daarom word dit ken merkend van ‘n lewe in die Heilige Gees?
0 Kommentaar: so far: