POSTED BY Steven Sass on 06:25 under
25 Mei 2014 Patensie
Johannes 14:15-30
Dit het vir ons die afgelope paar weke duidelik geword dat die tyd tussen die  Opstanding en Hemelvaart ‘n oorgangstyd was, waarin Jesus sy dissipels op ‘n nuwe bedeling voorberei het, wat die nuwe bedeling van die Gees genoem word (Rom 7: 6). Kort na Sy Hemelvaart het hierdie bedeling met die uitstorting van die Gees op Pinksterdag dan ook aangebreek.
Die werk wat Christus vir ons verlossing moes kom bewerk het om ons met God te versoen was volbring en afgehandel. Hy het voor Sy kruisdood by verskillende geleenthede duidelik vir Sy disspels gesê dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die Skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word en die derde dag uit die dood opgewek moet word (Matt. 16:21; Mark. 9:21; Mark. 10:33-34), en dat Hy gekom het om Sy lewe as ‘n losprys vir baie te gee (Mark. 10:45).
Hy het het verder ook vir hulle gesê dat Hy van God gekom het en na God toe teruggaan (vgl. Joh. 13-17). Hulle het bedroef en onsteld geraak oor hierdie nuus. Hulle het alles verlaat om Hom te volg en nou hoor hulle dat Hy van hulle af weggeneem sal word! Hulle kon hulle lewe op daardie tydstip nie meer sonder Hom indink nie.
Maar dan belowe Jesus aan hulle dat Hy na Sy hemelvaart weer na hulle toe sal terugkom. Hy sal hulle nie as wese agterlaat nie (Joh. 14:18). Hy het immers ook mos aan hulle belowe dat Hy al die dae tot die voleinding van die wêreld by hulle sal wees (Matt. 28:20). Maar hoe sou Jesus hierdie belofte na sy Hemelvaart vir hulle ‘n werklikheid maak?
Daar is net een antwoord. Hy sou na Sy Hemelvaart op ‘n ander manier by hulle teenwoordig wees en wel op die manier van die Gees. Die Heilige Gees, wat ook die Ander Trooster genoem word, sal Christus se plek tydens Sy liggaamlike afwesigheid by hulle kom volstaan. Dit is waarom Christus in die loop van 40 dae na Sy Opstanding aan Sy dissipels by verskeie geleenthede verskyn en skielik weer uit hulle gesigveld verdwyn het. Hy was besig om hulle daarop voor te berei dat Hy na Sy hemelvaart op die manier van die Gees by hulle en in hulle teenwoordig en werksaam sal wees (Joh. 14:17).
Daar is veral drie dinge wat opval in die tyd tussen die Opstanding en Hemelvaart van Christus.
· Jesus het na sy opstanding met baie onbetwisbare bewyse aan sy dissipels getoon dat Hy lewe. By verskeie geleenthede het Hy aan indiwidue, kleiner groepe, en selfs ‘n groot groep van meer as 500 persone tegelyk verskyn (1 Kor 15:1-5). Hulle het Hom gesien en gehoor en kon aan Hom voel en raak na Sy opstanding (Luk. 24:39-40). Sy volgelinge kon Hom dus herken aan sy woorde, dade en wonde. Hy het selfs ‘n stukkie gebakte vis voor hulle oë geeët om hulle twyfel te bowe te kom. Dié Jesus wat aan die kruis vasgespyker is, en begrawe is, is dieselfde Jesus wat met ‘n verheerlikte liggaam uit die dood opgestaan het. Wie dit nie glo en bely nie staan nie meer by die Christelike geloof nie (1 Kor. 15:1-3). Sy opstandingsliggaam het nuwe eienskappe gehad wat nie aan tyd of ruimte, of enige beperking of aan sonde of verganklikheid onderworpe was nie.
Op die dag van Jesus se Hemelvaart was die dissipels vas oortuig en seker dat Hy lewe. Daarom kon hulle Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggaan en God in die tempel loof en prys.
· Ons sien ook dat Jesus na Sy opstanding die dissipels se verstand geopen het om die Skrifte te verstaan. Wat hulle nie kon verstaan het vóór Sy kruisdood nie, het hulle nou verstaan ná Sy opstanding. Hy het die koninkryk van God aan hulle verkondig en al die Skrifuitsprake in die wet van Moses, in die Psalms en in die profete wat op Hom betrekking gehad het,vir hulle uitgelê en verduidelik. Só lê Jesus self die band van eenheid tussen die Ou en Nuwe Testament geskrifte! Die Ou Testamentiese Skrifte getuig van Hom. Christus het na Sy opstanding die dissipels se harte en gedagtes aan die Skrifte vasgebind. Na sy Hemelvaart tot met sy wederkoms sal die Skrifte dus ‘n wesenlike plek in die kerk se lewe inneem, omrede Christus Sy kerk steeds vandag nog vergader, regeer, versorg, bewaar en instand hou op die manier van Sy Woord en Gees. So is Hy by en in Sy kerk teenwoordig en werksaam tot vandag toe.
· Aan die einde van die 40 dae is die dissipels weer diep getroos met die belofte van die Ander Trooster wat na hulle toe sou kom om die lewe skouer aan skouer met hulle te kom deel. Alles wat Jesus vir Sy dissipels was tydens Sy aardse lewe sou die Gees ook vir hulle wees. Die Gees sal hulle bystaan, innerlik versterk, bemoedig, vertroos, hulle met krag en gawes toerus vir hulle dienswerk en getuienstaak (Hand. 1:8). In elke lewensomstandigheid, in tye van voorspoed, of tye van beproewinge en versoekinge, hoe moeilik ookal, sal Hy hulle help, gerusstel en lei. Verder sal Hy hulle onderrig en herinner aan alles wat Jesus vir hulle geleer het en hulle in die hele waarheid lei (Joh. 14:26 en Joh. 16:13-14). Op hierdie wyse is die vier evangelies en die res van die NT geskrifte onder sy leiding en inspirasie vir ons opgeteken.

Die tyd tussen Christus se opstanding en hemelvaart hou dus in alle opsigte ‘n betekenisvolle en besondere boodskap in vir die kerk van Christus. ‘n Boodskap van hoop, sekerheid en nuwe lewenssin.
POSTED BY Steven Sass on 05:24 under

18 Mei 2014 Patensie

                                                                        Johannes 21: 1-19
In hierdie gedeelte sien ons hoe Jesus vir die derde keer na sy opstanding aan die dissipels verskyn. En ook hoe Hy dan vir die 2de keer Petrus se lewe verander. Dit speel af langs die see van Galilea – dieselfde plek waar Jesus jare tevore die dissipels geroep het om saam met hom te kom en vissers van mense te word. Maar kom ek gaan haal die storie by die begin sodat ons die volle prentjie sal verstaan.

Voor Jesus se kruisiging, toe Hy die dissipels begin voorberei het daarop dat hy gekruisig gaan word, was die dissipels mos baie dapper. Dit was veral Petrus wat met arrogansie en vol selfvertroue gesê het dat hy nooit vir Jesus in die steek sou laat nie. En dit was Petrus wat in die tuin van Getsemande bereid was om 600 soldate man alleen aan te vat, toe hulle gekom het om vir Jesus gevange te neem.

Maar dit was dieselfde Petrus wat by die hoëpriester se huis, langs ‘n koolvuur voor ‘n diensmeisie en ‘n groep slawe vir Jesus verloën het. Drie keer het hulle vir hom gevra: “is jy dan nie een van Jesus se dissipels nie?” En 3 keer het Petrus geantwoord: “Nee, ek ken nie die man nie”.

Hierdie besef dat hy vir Jesus verraai het, het vir Petrus diep geknou. Hy was net nie meer dieselfde voortvarende mens wat hy voorheen was nie. In die proses het hy ook opgegee op sy roeping as ‘n visser van mense. Nie eers Jesus se eerste 2 verskynings ná die opstanding kon hom oortuig om weer ‘n visser van mense te word nie. Daarom het hy maar besluit om na sy ou lewe terug te keer. Hy het maar weer gaan visvang, want dis al wat hy geken het. In die proses het hy ook 6 van die ander dissipels met hom saamgevat. Hulle was waarskynlik ook skaam omdat hulle vir Jesus in die steek gelaat het, toe Hy hulle nodig gehad het.

Maar die visvangery het ook nie te goed gegaan nie. Op die spesifieke nag het hulle die hele nag lank niks gevang nie. Nie ‘n enkele vis nie. En hulle was mismoedig daaroor.

Maar die volgende oggend, met eerste lig het alles verander. Terwyl hulle so mismoedig op hulle boot sit, besig om terug te vaar strand toe, sien hulle ‘n man op die strand staan. En hy roep hulle en vra: “het julle nie iets gevang om te eet nie?”

“Nee”, antwoord hulle hom.

En toe doen hy ‘n snaakse ding: “hy skree vir hulle, gooi die net aan die regterkant van die boot uit, dan sal julle iets vang.”

Hulle besluit toe, wel, ons het niks om te verloor nie en hulle gooi die net uit – en wonder bo wonder vang hulle 153 vissie, sonder dat hulle net skeur.

Toe hulle dit sien, toe onthou hulle ‘n ander geleentheid, 3 jaar gelede toe hulle ook op grond van ‘n man se advies die nette weer ingegooi en ‘n klomp vis gevang het. En in daai oomblik toe besef hulle dat dit Jesus is wat weer met hulle praat.

Toe Petrus dit besef, toe spring hy van opgewondenheid in die water en hy swem na Jesus toe. En op die strand toe kry hy vir Jesus waar Hy besig is met ‘n vreemde ding. Jesus is besig om ontbyt te maak op ‘n vuur. In die oorspronklike Grieks staan daar, dit was ‘n koolvuur wat Jesus gemaak het. In die Bybel is daar net 2 plekke waar ons lees van ‘n koolvuur. Die toneel hier op die strand en die aand by die hoëpriester se huis toe Petrus vir Jesus verloën het. Dis asof Jesus doelbewus vir Petrus wou herinner aan daardie aand voor sy kruisiging. En so kry Petrus ‘n 2de kans om aan Jesus getrou te wees.

Nadat hulle die ontbyt daar op die strand geëet het, nooi Jesus vir Petrus om saam met hom langs die see te gaan stap. En terwyl hulle so stap, vra Jesus die vrae wat Petrus waarskynlik nie wou gehoor het nie. Net soos die vorige keer toe Petrus vir Jesus na 3 vrae verloën het, vra Jesus vir hom ook 3 vrae:

“Petrus, het jy my lief? Petrus het jy my lief? Petrus het jy my lief?”

En al wat Petrus elke keer kan antwoord is:

“U weet dat ek u liefhet. U weet dat ek u liefhet, U weet dat ek u liefhet.”

En na elke antwoord gee Jesus vir hom ‘n opdrag: ‘n Opdrag om vir ander mense te gaan sorg.

Na sy derde antwoord toe praat Jesus oor Petrus se dood – hy profeteer dat Petrus geweldadig sou sterf.

En ten slotte herhaal Jesus die roeping wat Hy 3 jaar tevore, langs dieselfde see aan Petrus gerig het. “Volg My” sê Hy vir hom. En so word Petrus, die dissipel wat vir Jesus verloën het, vergewe en weer herstel as ‘n apostel. Die rots op wie die kerk gebou sal word.

Winston Churchill, die Britse eerste minister in die tyd van die 2de wêreldoorlog, was bekend as iemand wat vinnig kon dink en met kwinkslae vorendag kon kom waarmee hy mense gereeld op hulle plek kon sit. So, gebeur toe eendag dat iemand baie verbaas was om te hoor dat hy in die laerskool ‘n graad gedruip het. Winston Churchill se reaksie hierop was: “I never failed anything in my life. I was given a second opportunity to get it right.”

Dis wat Jesus met Petrus ook doen na die ontbyt daar op die strand. Petrus was gereed om geoordeel te word, maar Jesus gee vir hom nog ‘n kans. En Hy doen dit vandag nog met elkeen van ons. Hy kyk nie na ons mislukkings nie, hy kyk na ons en sien mense wat ‘n tweede kans verdien.

Watchman Nee, ’n wonderlike Chinese gelowige van die twintigste eeu, vertel van ’n nuwe Christen wat hoogs ontsteld na hom gekom het. “Maak nie saak hoe hard ek bid nie, maak nie saak hoe hard ek probeer nie, maar ek kan net nie getrou bly aan Jesus nie. Ek dink dis verby met my!”

Watchman Nee het vir hom rustig gesê: “Sien jy hierdie hond van my? Hy mors nooit in die huis nie, hy is gehoorsaam aan my en hy is een groot vreugde!

Maar binne in die kombuis het ek ’n babaseun. Hy maak ’n gemors, gooi sy kos rond, maak sy klere vuil. Maar wie is my erfgenaam? Nie my hond nie, maar my seun! Jy is Jesus se erfgenaam, omdat Hy vir jou gesterf het. Hy is lief vir jou.”

Dis wat Jesus vir Petrus en vir ons ook wil leer. Ons is God se erfgename, nie omdat ons volmaak is en alles reg doen nie, maar omdat Hy onvoorwaardelik lief is vir ons.

 Dis wat Jesus vir Petrus ook sê: My genade vir jou is genoeg, al is jy nie volmaak nie. Trouens, dit vier ons onvolmaaktheid.

Daardie dag langs die meer sê Jesus vir Petrus: “Dit wat jy gedoen het daar langs die koolvuur by die hoëpriester se huis, dis in die verlede. Fokus liewer van nou af op My liefde en gaan vertel dit vir ander mense.”

So Jesus vergewe hom nie net nie, hy vertrou hom ook met ‘n opdrag. Eintlik bevestig hy maar net die opdrag wat Hy 3 jaar vantevore reeds vir Petrus gegee het. En die opdrag is, die liefde wat ek vir jou het, moet jy ook vir ander mense gaan wys, oral waar jy gaan.

Mag ons ook mense wees wat nie aanhou vaskyk in ons mislukkings nie.

Mag ons mense wees wat die verlede los waar dit hoort - in die verlede.

Mag ons mense wees wat besef dat God ons onvoorwaardelik liefhet.

Mag ons mense wees wat hierdie liefde ook gaan uitleef teenoor ander.
POSTED BY Steven Sass on 05:36 under
11 Mei 2014 Patensie
Lukas 24:36-49
Jesus kom na hulle wat twyfel...
Hierdie klompie Sondae, voor hemelvaart, staan ons bietjie stil rondom die mense aan wie Jesus verskyn het nadat Hy gekruisig is, en nadat Hy uit die dood uit opgestaan het.  Dis baie nodig omdat ons heelwat aflei van presies hoekom Jesus aan elkeen van heirdie mense verskyn het. En watter implikasies dit vir elkeen van ons inhou...

Ons wil hiermee ‘n hele klompie dinge bereik, eintlik baie soos wat God se doel met Jesus se verskyning aan die mense nie net een of twee doele of betekenisse gehad het nie, maar ‘n hele klompie dinge en doele, en betekenisse...

Laasweek het ons gekyk na die reaksie van die twee mense wat oppad was na Emmaus, en hoe hulle gereageer het nadat hulle oë oopgegaan het en hulle vir Jesus herken het. Dit was ‘n wonderlike belewenis wat ons laasweek juis hier rondom gehad het, en as jy die preek laasweek gemis het moet jy onthou om die preek te gaaan opsoek op die web... (waitsoft).

Die feit wat ek graag uit hierdie gedeelte wil uitlig is eerstens die algemene gevoel van versrkikking onder die dissipels.... hulle was versrkik toe hulle Jesus sien.

 Hier staaan nie presies hoekom hulle verskrik was nie, net dat Jesus dit opgemerk het en daarop kommentaar gelewer het. “Waarom is julle so verskrik....?” Mens wonder tog wat die rede sou wees vir hulle verskrikking? Was dit bloot dat hulle maar net nie Sy skielike teenwoordigheid in hulle midde verwag het nie? Dat hulle miskien gedink het dat Hy ‘n spook was omdat Hy so skielik verskyn het? En omdat ons nie lees dat Hy iewers ‘n deur oopgemaak het om in  te kom nie. Ons lees net dat Jesus hulle aangespreek het oor hulle manier van reaksie op Sy skielike verskyning tussen hulle.

Dit laat my nogal wonder oor hoe ons sou reageer as Jesus netso eweskielik in ons midde sou verskyn. Dink vir ‘n oomblik na daaroor, en maak dit vir jou vandag self duidelik oor presies hoe jy sou reageer op Jesus se skeilike besoek aan jóu en jóu vriende?

Dit laat sommige van ons dink oor waarmee ons onsself die afgelope tyd mee besig gou het (laasweek het ons mos gepraat oor dat ons nie iets moet mis wat God in ons lewens gedoen het nie). Einlik moet ons seker maar eerlik met mekaar wees en dit erken dat die dinge wat ons dalk onsself mee besig gehou het gister en eergister en vroëer eintlik alles ‘n invloed kon hê oor hoe ons sou reageer as Jesus in ons midde eweskielik sou verskyn.

Ongelukkig het baie van ons nie sulke mooi en eerbare dinge gehad wat in ons gedagtes en lewens gebeur het nie, en sou ons ook dus met alle sekerheid in vreeslik verksrikking in gegaan het as Jesus skeilik voor jou kom staan...dis seker ongelukkig baie van ons se waarheid vanoggend...

Die dissipels was besig om net voor Jesus se verskyning tussen hulle, te praat oor “al die dinge” (vers 36). Hieruit kan ons ook nie veel aflei nie, net dat ons vermoed dat hulle oor alles gepraat het wat die afgelope tyd gebeur het spesifiek ook die kruisiging van Jesus en dan ook Sy “verskynings” aan sekere van hulle.

Ons lees nie dat hulle in ‘n staat van opgewondenheid daaroor was en dat hulle besig was om God  te loof en te prys vir al Sy wonderdade nie, al wat ons lees is dat hulle daaroor gepraat het... Daarom kan ons dalk ook die afleiding maak dat hierdie wonderdade van Jesus nog nie regtig by hulle ingeskink het nie, en dat hulle tien teen een ook nog nie die wonderlike implikasies daarvan besef nie! Geen wonder dat hulle dan so versrkik was toe hulle Jesus sien nie, want hulle het nie besef hoe naby Jesus se oorwinning aan hulle self gekom het nie.

Die vraag is of jy dit dan nou vanoggend besef...veral na alles wat jy ook die afgelope tyd dalk ervaar het of gedoen of gesê het of dalk soos ons laasweek oor gepraat het ‘gemis’ het. Besef jy hoe vreeslik naby Jesus vanoggend aan jou is.... Die dissipels het Hom gesien soos wat Hy aan hulle verksyn het, in vlees en bloed... Hy het seker gemaak dat hulle Hom sien, en oplet hoe Hy met hulle praat en aan hulle raak en saam met en voor hulle oë geëet het. Hy wou seker maak hulle weet sonder om te twyfel dat Hy die dood oorwin het.

Daarom spreek Hy hulle aan dat hulle nie so versrkik moet wees nie, want Sy teenwoordigheid is een van vrede.... en liefde.... kyk maar net hoe het Hy hulle dan gegroet aan die begin van die geldeelte: “Vrede vir julle...”(vers 36).

 Besef jy dat Jesus ook vanoggend wel hier tussen ons is, eintlik baie meer as dit, besef jy dat Jesus IN jou vanoggend is...baie nader as net bloot voor jou besig om voor jou oë ‘n stukkie brood te eet, maar IN jou! Wat ‘n wonderlike gedagte, wat ‘n wonderlike versekering en troos is dit nie veronderstel om vir jou te wees nie. Hoor jy hoe kom sê Jesus ook vanoggend vir jou.... vrede vir jou. Hoor jy hoe Hy ook vir jou kom sê, moenie so versrkik wees nie, Ek het jou sondes vir jou vergewe, Ek het daarvoor gesterf aan die kruis, en Ek het die dood vir jou onthalwe en redding ook oorwin.

 Jesus kom verseker ons verder dat ons nie aan Sy oorwinning verder moet twyfel nie. Maar dat alles nou vir ons ook IN Hom moontlik is. Ja alles is moontlik in Jesus. Veral as jy dalk bang is, en onseker is oor jou eie vermoëns en oor jou toekoms en jou kinders en familie se toekoms, veral as jy dalk wonder of ons ook deur hierdie of daardie uitdaging of krisis sal kan kom...amper soos die vrouens/ ma’s in die video.... 


Ja, Jesus wil vanoggend vir jou ook kom gerus stel en vir jou ook kom verseker van Sy wonderllike oorwinnende teenwoordigheid in jou lewe en jou huidige situasie.... 
POSTED BY Steven Sass on 05:43 under
4 Mei 2014 Patensie
Lukas 24:13-35
Alles is moontlik in Jesus
Ek wil hê dat ons vanoggend net so bietjie weer in ons gedagtes na dink oor presies wat ons as gemeente(s) die afgelope tyd deurgemaak en ook wat ons saam gevier het. Dis nodig sodat ons nie dalk iets sal mis wat met ons fisies en veral op geestelike vlak gebeur het nie. Dis nodig sodat ons nie dalk iets spesifiek sal mis wat God met ons gedoen het nie.

Ek dink dat dit maar te dikwels gebeur dat ons baie goed mis. Dis asof ons iets sien en hoor, en voel maar tog mis ons dit nogsteeds. Ek wil dit waag om te sê dat ons partykeer net eenvoudig te eenvoudig is in ons denke, asof ons partymaal bloot onverstandig en traag van hart is om te besef waarmee God besig is met ons en in ons lewens.

  Dit gebeur gelukkig ook egter dat ons partykeer kan terugdink en dan besef ons skielik: “Dit het so met my gebeur!” Of partykeer kan ons nadat tyd verloop het van waar God met ons besig was kan uiter : “Wow, ja nou verstaan ek hoekom dinge juis só met my/ons moes gebeur het!” En dis juis wat ek hier met julle wil bereik vanoggend in die kerk.... Ek wil saam met elkeen van julle op daai punt kom in ons denke en gedagtes waar ons elkeen regtig kan saamstem en sê: “Nou maak dinge vir my sin!”

In die teks wat ons gelees het word die Griekse woord epegnosan gebruik om te vertel van die twee se oë wat oopgegaan het toe hulle Jesus herken het...mag jy ook vanoggend ‘n epegnosan, ‘n Emmaus-oomblik beleef.

Dink net saam met my na oor ons gesamentlike Paasfees-vieringe. Wat presies het gebeur? Wat het ons nou eintlik gevier? Het ons tot ‘n dieper begrip en/of belwenis van Jesus en God gekom? Of het ons vanjaar alweer iets gemis? Waar was jy en wat het jy ervaar/ beleef/gevier?

Hier in die Kerk was ek baie gespanne gewees. Ek het Donderdagaand se program so mooi uitgewerk en ek wou graag dat dinge seepglad moes verloop, maar baie dinge wou maar net nie mooi verloop nie. Ek was byvoorbeeld geweldig bekommerd dat ons “leen projektor” nie reg sou werk nie en dat julle wat hier was nie mooi sou kon volg op die skerm nie, en die hele diens het eintlik gedraai om dit wat op die skerm gebeur het. Wonder bo wonder het alles mooi verloop...ons het saam nagmaaal gevier en na aanleiding van ‘n hele klomp gemeentelede se reaksies was die diens besonders spesiaal en roerend gewees... ons was getref deur die leiding wat Jesus vir elkeen van ons moes deurmaak... Ons het die kerk in stilte verlaat, en ons was saam besig om te besef dat ons sondes so groot en oorweldigend kan wees dat ons nie waardig voel van Jesus en God se liefde en genade nie.

Vrydag oggend het ons mos nie ‘n diens gehad nie, maar ek en ‘n paar van ons mannebybelstudie lede het ‘n baie besonderse belewenis gehad in die kerk. Ons het saam die kruisgebeure gelees uit die vier Evangelies uit en het gedagtes en gevoelens hier gesit en uitruil. Watter wonderlike afspraak was dit nie veral vir my gewees nie! En Sondag! Ons Heer het opgestaan! Die dood oorwin! Ons het vir klein Jani gedoop, en saam die wonderlike feit gevier dat Jesus, die dood en die hel vir ons oorwin het! Wat ‘n wonderlike vreugde, wat ‘n getuienis! Ons God het gewen!!

Intussen het Kwagga nog ‘n basaar gehad ook wat die Here netso wonderlik geseen het. Dis asof dit vir julle as gemeente net so ekstra boodskap ingehou het, asof God vir julle ook net wou kom wys en sê het: “Sien julle, dit is moontlik!” Fantasties....

Maar wat nou? Wat wil God nog verder vir ons kom sê? Kom ons besef en beleef net saam wat Hy in die gelese gedeelte vir ons wou  kom sê...

Ek dink as ek die pragtige gedeelte in een gedagte moet opsom dan is dit eenvoudig God wat aan die een kant baie duidelik kom bewys dat Hy leef! Hyt opgestaan, Hy verskyn aan die mense, Hy gesels met hulle, en Hy eet tot saam met hulle! God wil dus nie dat Sy kinders twyfel aan Sy oorwinning oor die dood nie. Hy wil nie hê ons moet weer iets mis wat Hy gedoen het nie. Daar kom “vertoon” Hy Homself so in die gebeure oppad Emmaus toe! Dis asof God Sy mag oor die wette van die natuur, oor die magte en kragte van hierdie wêreld wil kom vertoon, dit kom bewys. Sodat ons kan sien! Kan ervaar, kan beleef!

Maar kan dit al wees? Dit klink vir my so vermakerig? Dit klink vir my so asof God half met respek gesê wil spog met Sy oorwinning? Of hoe? Dit kan mos nie wees nie? Dit gaan oor baie meer as dit!! Ons God is mos nie ‘n eenvoudige skepsel nie. Nee inteendeel, Hy is die Gansandere, Die Koning van die konings, die Heerser oor hemel en aarde. Hy het nie nodig om te spog nie!

Wat wel gebeur, is dat God juis Sy oorwinning op so ‘n praktiese wyse met ons Sy kinders wil kom deel en Sy heerskappy so wil kom demonstreer, sodat ons as Sy erfgename kan deel in Sy oorwinning! Hy wil ons dus op ‘n baie besonderse en intieme manier kom deel maak van dit wat Hy reggekry het. Met hierdie dinge wil God dat elkeen van ons moet besef: Hy het dit alles klaar gedoen...dit is volbring. Hy het al hierdie dinge deurgemaak sodat, ons, wanneer ons ook hierdie selfde dinge deurmaak sal besef, en weet God is in beheer! Hy weet hoe dit voel! Hy was ook daar gewees.

So waneer die twee Emmausgangers met mekaar gesels op hulle reis na Emmaus, kom ons agter dat hulle eintlik moed verloor het...dat hulle eintlik verward was oor al die gebeure na Paasnaweek. Hulle is eintlik op ‘n baie slegte plek in hulle geestelike lewe... juis omdat hulle iets gemis het wat God gedoen en steeds nou met hulle gedoen het. Hulle mis so erg die punt, dat hulle nie eers in hulle moedeloosheid besef dat God hulle nie so wil los nie. Dat Hy vir hulle wil blootstel aan Sy oorwinning en heerlikheid!

So wanneer jy dalk ook op so ‘n slegte plek in jou geestelike lewe kom, wanneer jy dalk ook verward is en vra hoekom sekere goed dan nou met jou moes gebeur, al daai hoekom en waarom tipe vrae wil vra, wanneer jy dalk moed verloor het, wil Jesus juis ook saam met jou kom loop, en met jou praat en selfs met jou kom eet! Hy wil saggies in jou oor fluister en sê: “My kind, moenie moed verloor nie, moenie verward wees nie! Kyk Ek is by jou, Ek weet hoe jy voel...Ek verstaan.”


Jesus wil ten diepste vir ons vanoggend kom sê: “Alles is moontlik vir ons! Alles, omdat Hy dit alles klaar gedoen het!!!!”