POSTED BY Steven Sass on 20:30 under

1 Maart 2015 Patensie
“Laat jou lewe aan die Here oor
 Psalm 37: 1 - 11
 Wat is daar in ons land waaroor jy op die oomblik baie ongelukkig is? Wat is daar wat jou bloeddruk opjaag en jou kwaad maak? Ek verwys nou na die goed wat baie keer in ons gesprekke na vore kom. Die goed wat die afgelope tyd die koerante gehaal het. Berigte oor korrupsie en oneerlikheid, oor politici wat baie keer meer oor hulle eie sak as enigiets anders bekommerd is. Oor mense wat in magsposisies is wat dit misbruik.

Ongelukkig is dit sake wat almal in hierdie land raak. Selfs ons wat Christene is, kan nie maak asof dit nie daar is nie. Waarvan ons seker kan wees, is dat die koerante sal sorg dat ons die soort goed gereeld onder oë kry. Dit dra weer daartoe by dat dit deel van ons gesprekke met mekaar word. Soms kan dit selfs ons gesprekke oorheers. Daar is egter ‘n gevaar waarop ons as gelowiges bedag moet wees. Ons kan so teen hierdie negatiewe dinge vaskyk, so met ons hele wese daarteen in opstand kom, dat ons ons uitsig op God verloor. Ons emosies hieroor kan so die oorhand kry, dat ons God uit die prentjie skuif.
Kom ons lees eers uit ps 37:

Het jy gehoor watter 2 moontlikhede sommer in die begin van die psalm genoem word? Die psalm begin met die woorde: moet jou nie nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie. Wat moet jy dan doen? Luister mooi wat sê die psalm: vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. ‘n Endjie verder sê hy: vind jou vreugde in die Here. ‘n Versie verder: laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

In vers7 laat hy nog ‘n keer hoor: daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ‘n skelm nie.

Wat ons hier het, kom in nog ander psalms ook voor. Die spesifieke groep psalms word die wysheidspsalms genoem. Ps 37 is bv so ‘n wysheidspsalm. Wat word daarmee bedoel? ‘n Wysheidspsalm is ‘n psalm waarin die digter dit oor die regte lewenshouding het. Die psalmdigter wil sy lesers help om reg te kan kies. Om die kuns om reg te lewe te bemeester.

Murray Janson het ‘n boek geskrywe wat na sy dood verskyn het: My nalatenskap - die kuns om gelukkig te kan lewe. Dis dieselfde tema wat ons ook in die sg wysheidsboeke van die OT - Job, Spreuke en Prediker aantref. Dit gaan oor die lewe en die keuse waarvoor ons as mense te staan kom. Die keuse om die Here te vertrou. Of die keuse om sonder die Here te lewe.

Kom ek noem nog ‘n voorbeeld van so ‘n wysheidspsalm, een wat die meeste van ons so goed ken, psalm 1. Onthou jy hoe  die psalm begin? Gelukkig is die mense wat nie optree volgens die raad van die goddeloses of rondstaan op die pad van die sondaars of sit in die vergadering van die spotters nie, maar vreugde vind in die gebooie van die Here en sy voorskrifte dag en nag oordink. Die psalm gaan dan voort met die beeld van ‘n  boom wat langs ‘n rivier geplant is, blare verwelk nie, vrugte op sy tyd .. Hierteenoor word die goddelose vergelyk met kaf wat deur die wind weggewaai word. Ons hoor dit duidelik: vir die psalm digter is daar ‘n regte en ‘n verkeerde opsie.

Daar is die moontlikheid om saam met die Here te lewe. Om die Here vir jou lewe te vertrou soos wat ons herhaaldelik in psalm 37 gehoor het. Daar is ook die ander moontlikheid: dat jy met die Here nie rekening hou nie. Dat jy jou eie planne maak. Dat jyself besluit hoe jy gaan lewe. Dat jy nie op enige manier vir jou gaan laat voorskryf hoe en wat jy wil doen nie.

In psalm 37 wil die psalmdigter dan vir mense wat gelowiges is, help. Hy wil hulle sê hoe om te lewe in ‘n wêreld waarin ongelowiges dikwels die botoon voer. Agter die psalm se woorde is daar ‘n oortuiging dat God ‘n orde in die wêreld ingebou het, ‘n manier hoe dinge werk. As jy daarby hou, werk dinge vir jou reg uit. Gaan jy teen hierdie orde in, loop jy jou uiteindelik vas.

 Die wêreldbekende CS Lewis het van God se ‘gebruiksaanwysings’ gepraat wat Hy vir ons laat kry het, om die menslike masjien glad te laat verloop.

Wat sê die psdigter dan: hoe leef God se mense? Nie as mense wat krom loop vanweë kommer oor dinge wat nie reg is nie. Nie as mense wat van ontsteltenis oor wat om hulle aan die gebeur is, nie met hulle lewe kan aangaan nie. Moenie kwaad word nie, laat staan die woede. Moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende, sê v8.

 Ons weet mos hoe dat sulke goed ons ongelukkige mense maak en boonop sleg vir ons gesondheid is - bloeddruk en maagsere en wat nie alles nie. Nee, sê die psalmdigter, vir God se kinders : die oplossing in ‘n ander rigting. Ons moet ons fokus nie verloor nie. Mense wat hulle vertroue in die Here stel, hulle vreugde in die Here vind, hulle lewe aan die Here oorlaat, die Here in stilte vertrou, is mense wat die Here nooit uit die oog verloor nie. Of dit nou bepaalde gebeurtenisse in die land is en of dit persoonlike omstandighede is, God se mense weet waar hulle hulp vandaan kom.

Eintlik sê die psalmdigter dit nogal op ‘n besondere manier. In vers3 staan daar: woon en werk rustig voort. God se kinders kan met hulle lewens aangaan, kan rustig wees omdat hulle weet dat dit God is wat die laaste sê het. Selfs al is daar soveel dinge wat gebeur waarvoor ons nie ‘n bevredigende antwoord kan gee nie, grawe dit nie die vastigheid waarop ons staan, onder ons uit nie.

Het Jesus dan nie die mense geseënd genoem wat weet hoe afhanklik hulle van God is nie? (Mat 5:3) Om rustig met ons lewe aan te gaan omdat ons vertroue nie in mense gesetel is nie.

 Daar’s nog iets wat ons vanmôre vir mekaar moet sê. Almal van ons wanneer ons by die kerk gebou uitgaan, weet hoe die wêreld om ons lyk. Dis ‘n wêreld waarin daar mooi dinge is, waar baie dinge ons aan weelde en voorspoed herinner. Maar daar’s ook ‘n ander kant. Daar is ook lelike dinge waarvoor ons ons oë nie kan sluit nie. Dinge wat van armoede en ellende getuig. God se mense word deur Hom gewillig gemaak om dit nie maar te ignoreer nie. Die psalmdigter het dit op sy OT manier gesê: doen wat goed is (v3).

In die NT het Jesus vir ons die voorbeeld kom stel. Hy het sy hart oopgemaak vir mense met allerhande soorte van nood. As kerke, as gemeentes roep Hy ons om met daardie werk van Hom voort te sit. Maar ook as individue gebruik die Here ons op verskillende maniere om die lewe vir iemand anders net bietjie beter te maak. God se mense se se lewensuitkyk is anders. Ons lewe ook anders. Ons kan nie soos almal rondom ons net kerm en kla nie. Die Here help ons om van die wêreld ‘n beter plek te maak.



POSTED BY Steven Sass on 21:33 under
15 Februarie 2015 Patensie
Matteus 13:24-43
“Geduld om nie nou al dinge ‘reg te ruk’ nie!”
Hierdie is ‘n teks wat my begin help het met my worstelinge en frustrasies in ons SA konteks.  Want ek soek die helse vuur oor renosterstropers en korrupte amptenare!
Maar eers op ligter noot:
So word daar destyds deur ’n dame op die radioprogram ingebel. Haar probleem is: sy het in ’n nuwe huis ingetrek. Die erf is verwaarloos en oorgroei. Sy soek raad. Hoe onderskei jy tussen die blomme en die onkruid in hierdie oorgroeidheid?Die raad is eenvoudig: Skoffel alles uit. Dit wat weer opkom is die onkruid!

Dit is klink amper soos hierdie gelykenis van die Here Jesus.Die gelykenis is deel van ’n hele reeks gelykenisse oor die Koninkryk van God.

Die tema “Koninkryk van God” sou die sentrale tema van Jesus se prediking genoem kon word.
Wat word dan bedoel met Jesus se leer oor die Koninkryk van God/hemel?Dit gaan oor die omvattende nuwe bedeling waar God se koningskap op alle terreine van mense se lewens duidelik sal word.Jesus se koms sou hierdie nuwe bedeling inlei.Die tema van die koms van God se Koninkryk is nog net so relevant vir ons vandag.Ons almal verlang seker op ’n manier na die koms van die Koninkryk en dat God erken en gedien sal word op alle lewensterreine. Die manier waarop die Koninkryk moet kom is die saak waaroor die lering van Jesus handel.Dit is interessant hoe Matteus vir ons die verhaal vertel. Eers handel hy oor die rede waarom Jesus die stylvorm van die gelykenisse gebruik. Sodat ook die outjies wat stadig van begrip is, die groot geestelike waarhede kan verstaan. Dan vertel Jesus die gelykenisse van die saaier, die onkruid (ons fokusteks), die mosterdsaadjie en die suurdeeg. Eers na ’n verdere opmerking oor die gebruik van gelykenisse, kom Matteus terug na die gelykenis oor die onkruid. Die dissipels kom vra uit oor die gelykenis. Hulle verstaan dit nie so lekker nie. Oënskynlik is hulle nie so vlug van begrip nie, of die saak is ’n bietjie meer kompleks as wat hulle gedink het. Miskien is hier ’n groter verkondigingsmoment as wat ook ons sou verwag. Ek sou ook nie die teks gepreek het as dit nie vir my self ’n verrassende moment ingehou het nie! Daarom moet ons vanoggend bietjie langer by hierdie verduideliking stilstaan.

Die saak op die tafel is baie aktueel, want dit gaan oor God se karakter, dit gaan oor ons verwagtinge oor hoe die Koninkryk kom en dit raak self die heel praktiese bediening in die gemeente. Mense sê partykeer vir my: “Dominee, kap hulle ’n bietjie!” Dit beteken: wees ’n bietjie kwaai en VERTEL hulle! Agter so ’n opmerking lê daar nie net ’n passie vir die koms van die Koninkryk nie, maar ook ’n bepaalde Godsberip. Daar agter lê ’n idee van hoe die bediening behoort te geskied. Dit is iets van ‘n “zero tolerance” en ongeduld met die huidige bedeling en sy sondigheid. Interessant dat Johannes die Doper hierdie styl van bediening gehad het. Sy terminologie is dié van “slange”, “die byl lê al teen die stam” en die vuur wat wag vir die kaf. Daar was ’n verwagting dat Jesus die Koninkryk sal laat kom met magsvertoon en ’n onmiddellike omkering van sake. Hy moes sommer gou die moeilikheid en moeilikheidmakers uitsorteer. Dit was ’n persepsie wat ook by die dissipels geheers het, tot laat in Jesus se bediening. Net voor sy hemelvaart vra hulle vir Jesus:
 “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” (Hand 1:6)
Die gelykenis van die onkruid tussen die koring is egter ’n lering oor Goddelike geduld. Dit lyk my of geduld en genade deel is van God se karakter. Die staatsgreep-tipe styl van magsvertoon pas nie by God nie.

Die vyande het gekom en in die nag onkruidsaad tussen die koring gesaai. Dit was nie ’n vreemde sabotasiestrategie tussen vyande nie. Hulle saai onkruidsaad tussen die koring.Die onkruid is nie sommer enige onkruid nie. Dis ’n tipe onkruid wat aan ons heel onbekend is in SA. Dit kom in die Midde-Ooste en Noord-Afrika voor. In Afrikaans word dit “drabok” genoem. (Eng: darnell grass, Wetenskaplike naam: Lolium temulentum.)

Die probleem is dat dit as jong plante amper net soos gewone koring lyk. Daarom is dit nie wenslik om die geel koring op jong ouderdom te probeer uittrek nie. Eers as hul sade gevorm word, word die verskille duideliker. Draboksaad is donkerder tot swart, terwyl koring heuning-kleurig is. ’n Verskil wat nie met die oog sigbaar is nie, is dat die draboksaad matig giftig is.Geen wonder dat dit as Satan se saaisels beskryf word nie. Die klem val egter nie hier op Satan en sy strategieë nie, maar op God en sy geduld. Die skeiding sal eers kom by die eindoordeel. Tot dan is dit genadetyd.

As ons hierdie gelykenis lees, dan bring dit ons by ’n eerlike ondersoek oor hoe ons oor die Koninkryk van God dink. Wil jy nie heimlik ook ’n magsvertoon hê nie? Wil jy nie ook hê dat God die onkruid met mening moet uitkap en uitroei nie? Daaragter skuil dikwels dat ons so ongeduldig is met die onkruid en sondaars omdat ons nie bereid is om te sukkel tussen die sonde en onkruid nie. Miskien moet ons meer ruimte maak vir God se plan. Al verdruk die draboksaad en sonde ons in ons rustige bestaan. Dit is ’n plan met ’n groot skep geduld.

“Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”   (2 Pet 3:9)
God se geduld het niks te make met verdraagsaamheid van die sonde nie. Dit is God se uitdeel van genadetyd vir die sondaar om tot bekering te kom. Die afsnypunt en oordeel sal beslis kom. Die verhaal vertel vir ons van die moeite waarmee tussen die draboksaad en die koring onderskei word. Nou is dit nie so vanselfsprekend dat ons die koring is en die sondaars die draboksaad nie. Die skeiding tussen koring en onkruid loop ongelukkig reg deur ons eie harte. In elkeen van ons se harte skuil daar ’n klomp drabok.

Ek vertel eers vir julle van ‘n Russiese Nobelpryswenner vir letterkunde. Alexander Solzhenitzyn. Hy was kritikus van die Russiese kommunistiese regime. So het hy met daardie regering gebots. Hy is gevange geneem en het jare lank in ’n interneringskamp moes deurbring waar hy ook dwangarbeid moes verrig. Hy het uiteindelik politieke asiel by die VSA gekry en het daarheen kon vlug. In die interneringskampe kon hy genoeg van die menslike natuur gesien om te kon onderskei tussen “goed” en “sleg”, of dan, tussen drabok en koring. Hy skryf aangrypend daaroor: “If only there were evil people somewhere insidiously (verraderlik) committing evil deeds, and it were necessary only to seperate them from the rest of us and destroy them. But the line deviding good and evil cuts through the heart of every human being. And who is willing to destroy a piece of his own heart?”

Jy sien, dit is die moeilikheid: nie die boosheid van ander mense nie, maar die boosheid in my eie hart. Wanneer ons dit verstaan, dan kry ons nuwe waardering vir God se geduld met die saailand. Dan hou ons op om saam te skree met die koor van stemme wat God aanpor om dinge nou dadelik reg te ruk en sy vuur los te laat. Daardie vuur kan vir my en jou baie seer skroei. Nou kom ons by die wonderlikste stukkie evangelie. In die natuur kan drabok nie in koring verander nie. In God se Koninkryk is dit egter moontlik! God kan drabok-harte in koring-harte verander. God het hoop vir drabok. God nooi drabok om in te kom na sy Heilige Gees se laboratorium dat hy die metamorfose kan doen. Hy kan nuwe Goddelike gene oorplant in drabok-harte. Die Here Jesus praat van wedergeboorte en Hy praat van bekering.Waar begin hierdie proses? Dit begin by die laaste vers van die verduideliking: “Wie ore het, moet luister.” Luister na God se genade-hart. Luister ook na die oordeelsaankondiging en neem dit ernstig. Maar kom dan in na die laboratorium van die Heilige Gees. Waar dit gebeur, lees ons die wonderlike woorde:
“Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.” (:43)

 Hoe reageer ons as sy kerk nou op hierdie verhaal van die koring en die drabok? Daar kan meer maniere wees om te reageer.

1.       Leer om meer met God se geduld te wag vir die wonders om te gebeur.
As dit nou van my en jou afgehang het, het ons in hierdie Suid-Afrika al ‘n paar groot vuuroonde gehad. En dit is nie privaat braaivleisvure nie!
Miskien moet ons meer vir God vertrou dat Hy besig is met ‘n oesplan wat meer vrugte gaan dra as wat ons verwag.

2.       Raak maar weer bewus van die drabok in jou eie hart. Omarm die wonderlike liefde geduld en genade van Jesus.
Hy droom oor jou dat jy geheel en al ‘n koringhart sal kry.Hy droom dat jy sal skitter soos die son. (:43)

3.       Begin om medewerker te wees in Jesus se saailand.
Nie om die onkruid rondom jou uit te trek nie. Want dan gee jy hulle nie kans om te verander nie!As jy wil onkruid uittrek en die wêreld wil regruk, doen dit in jou eie hart. Daar is egter grond wat geploeg moet word.Daar is saad wat gesaai moet word.Daar is water wat gelei moet word. So kom die Koninkryk van God...Genadiglik, veranderend, stelselmatig, verrassend nuut, maar ook met geloofsvolharding en gehoorsaamheid.


POSTED BY Steven Sass on 06:03 under
8 Februarie 2015 Patensie
Matteus 13: 1-9
Die gelykenis van die saaier/grond
HOE KAN EK DUS SORG DAT EK GOEIE GROND IS?
Hoe kan ek dus sorg dat ek goeie grond is?
1.    Wel, jy moet rekening hou met die Bose deur met diep denke te leef.
2.    Jy moet leer om met die verdrukkings en vervolgings van die lewe saam te lewe, op God te vertrou, en nie net te verwag dat alles mooiweer in jou lewe sal wees nie.
3.    Jy moet leer om die bekommernisse en die begeerlikheid van die lewe op hulle plek te sit, sodat dit nie jou lewe beheer nie, en op God te fokus.
4.    En jy moet in die Here se teenwoordigheid lewe, elke dag, elke uur, elke oomblik.
Daar is nie ’n ander pad nie.  Daar is nie ’n ander manier nie.  En dit geld almal van ons, die ellendiges en die elite, die rykes en die armes, die oues en die jonges.
HOE KAN EK SORG DAT ANDER GOEIE GROND IS?
Maar, ons moet mekaar natuurlik ook daarmee help.  Ons kan ’n rol speel in mekaar se lewe om die grond voor te berei, om sorg te dra dat die verdrukkings en verleidings nie die botoon speel in ander se lewens nie.
Ons moet dus rekening hou met die Bose se impak in ander se lewens, met die impak van verdrukkings en vervolgings van die lewe, en met die impak van die bekommernisse en begeerlikheid waaraan mense blootgestel word.
Ons word geroep om mekaar se laste te dra. Ons word geroep om mekaar te vermaan. Ons word geroep om mekaar te bemoedig.  Ons word geroep om mekaar te begelei.  Ons is deel van dieselfde kudde.  Ons is mekaar se hoeders.
GOD GEE ONTVANKLIKHEID VIR WIE HY WIL
Maar, daar is ook ’n ander kant hiervan.  Die reaksie op die boodskap van Jesus het ook ’n misterieus kant.
Hoekom sê ek so?
Want, God gee ontvanklikheid vir wie Hy wil.   Goeie grond leef immers uit God se genade.  Genade is per definisie onverdiend en afhanklik van God se besluit.  Maar, die ander kant is ook waar.  Goeie grond is grond wat sorg dat die woord wortel skiet, wat fokus op God, wat sorg dat Hy nommer Een bly.
Wat my bring by die belangrike slotsom.  Ons moet altyd twee goed sê:
·         Alles hang van jou af.
·         Alles hang van God af.
Dit is ’n misterie.
PRAKTIES
Wat beteken dit nou prakties? Dit lê volgens die gelykenis op minstens vier plekke. Jy kan jouself die volgende vrae vra:
·         Skep ruimtes waarin jy tot verhaal kan kom in jou lewe.  Dit sal keer dat die voëls die saad van God se woord wegpik nog voor dit kans het om grond te vat in jou lewe. Ons bestaan nie net uit ’n een-dimensionele behoefte aan prestasie nie.  Ons het ook opwinding nodig.  Ons het ook rus nodig.  Die geleerdes noem dit ekstase en enstase.  Dit moet ons prestasie aanvul.  As jy dus te haastig begin lewe, nie tyd kry om tot rus te kom om te reflekteer en te geniet nie, sal jy noodgedwonge al hoe meer oppervlakkig begin lewe.  Jy sal so dun soos ’n lekseltjie Marmite op ’n roosterbroodjie word.  Jy het dus ritmes nodig.  Jy het ruimtes van opwinding EN afskakel nodig.  Jy het avontuur nodig, en jy het stiltye nodig, tye waarin jy “unplugged” is.  “Wie ore het, moet luister.”

·         Skep ruimtes waarin die Woord kan wortel skiet in jou lewe deur doelbewus te doen wat dit vra.  Dit sal keer dat jou lewe so min oplewer soos die grond oor klipbanke, en jy dinge beloof wat jy nie kan lewer nie.

Daar moet die stiltye wees, die tye van refleksie.  Maar, daar moet ook die tye wees van dienslewering.  Luister en Leef.  Miskien is dit die een ding wat die Here vandag vir jou wil sê, dat jy moet begin doen wat jy lees, begin leef wat jy hoor.  Dit kan wees dat jy net nie so ver kom om iets te doen aan wat die Here al só lank op jou hart druk nie.  Dit beteken dat die Woord nie kans kry om wortel te skiet in jou lewe nie.  Jy doen niks met dít wat jy hoor nie.  Jy het dus kwaliteit tyd nodig met die Bybel.  Maar, jy het ook “first steps” van gehoorsaamheid nodig aan wat jy daarin hoor.  Begin met iets eenvoudig – kleingroep, bediening, erediens, huisgodsdiens – dit kan jou lewe verander!  “Wie ore het, moet luister.”
·         Doen iets aan jou bekommernisse en begeertes.  Dit is dinge wat jou verbintenis aan die Here kan verstik.  Dit kan wees dat jy nodig het om saam met iemand te bid oor dié dinge wat jou lewe hel maak, dinge waaroor jy só bekommerd is, dat jy net nie op die Here kan fokus nie.  Doen dit so gou as moontlik.  Dit kan ook wees dat jou lewe so wentel om wat jy kan doen en bereik in die lewe dat jy net nie meer tyd vir die Here en die dinge van die Here het nie.  Dan het jy nodig om jou greep op sukses te laat skiet – gee iets weg, doen iets vir iemand anders – en die Here die fokus van jou lewe te maak.  “Wie ore het, moet luister.”
·         Luister en Leef bewustelik in die teenwoordigheid van die Here.  Daar is eintlik niks meer belangrik as dit nie.  Reg deur die eeue is dit die ding wat die grootste dividende oplewer.  Jy hoef nie geleerd te wees hiervoor nie.  Jy hoef selfs nie baie beweeglik te wees nie.  Jy doen dit deur bewustelik alles wat jy doen en dink vir die Here te doen en dink.  Dit sal uiteraard altyd iets te doene hê met die geloofsgemeenskap  – kleingroepe, eredienste – die gemeenskap – bedieninge – maar die belangrikste is om dit as deel van jou eie persoonlike geestelike lewe te doen.  Dit is ook ’n lewenslange reis.  Dit is iets waarvoor jy jouself moet gee: daagliks, volledig, voluit.  “Wie ore het, moet luister.”
Só kom die woord van God in my lewe te lande.  Op dié manier val die saad op vrugbare grond.  Op dié manier dra dit vrug.

Wie ore het, moet luister.”