POSTED BY Steven Sass on 06:24 under
30 Junie 2013 Patensie
Die Here is by ons te midde van eensaamheid
Psalm 102
Psalm 102 is die gebed van ‘n eensame persoon toe dit met hom sleg gegaan het en sy hart uitgestort het. Dit is ‘n aangrypende en hartroerende Psalm. Dit is ‘n Psalm waarmee baie van ons kan identifiseer. Hierdie Psalm het vir elkeen van ons ‘n dudielike boodskap.

In verse 2-3 vind ons die noodkreet van iemand wat swaar gely het. “Here, luister tog na my gebed, hoor tog my geroep om hulp! Moet U tog nie afsydig van my hou noudat ek in nood is nie. Luister tog na my wanneer ek U aanroep, verhoor tog gou my gebed.” Hoor ons die dringendheid in hierdie noodkreet? Waarom smeek die digter so ernstig dat die Here op hom ag sal gee?

In verse 4-12 gee hy beskrywing van sy situasie. Hy is ernstig siek. Hy is seker daarvan dat sy einde baie naby is. Sy dae is besig om te verdwyn soos rook. Ons weet mos hoe gou rook in die lug verdwyn en mens dit nie meer kan sien nie. So is sy lewe ook besig om vinnig te verdwyn en dan sal daar niks meer sigbaar wees van sy lewe nie. Alle tekens dat hy hier was, sal dan weg wees. Is dit nie soos ons ook soms voel nie? Nie meer lank nie, dan is ek nie meer hier nie en sal ek vergeet word en sal niks oorbly van my lewe nie. Soos rook in die lug, sal my lewe en die herhinnering aan my bestaan verdwyn.

Die digter sê dit omdat hy ernstig siek was. Hy het hoë koors gehad. Sy liggam het gebrand soos vuur. Hy was uitgedroog soos gras. Sy eetlus het verdwyn en hy kon nie meer eet nie. Kos het vir hom soos as geproe. Hy het uitgeteer en was nog net vel en been. Daarby het hy verskriklikke pyn gehad. As hy iets wou drink het, het sy trane in die beker geval, en het dit wat hy gedrink  het na trane geproe. Sy fisiese lyding was baie erg. As gevolg van sy siekte, was hy eensaam. Sy emosionele lyding was net so erg gewees. Hy was baie eensaam. Hy voel soos ‘n pelikaan in die woestyn en soos ‘n uil tussen murasies. Nou is ‘n woestyn en murasie nie van die mooiste plekke op aarde nie. Dit versimboliseer mos dood en verwoesting, en dis juis daar waar die digter homself sien, en dan nog as’n eensame pelikaan en uil. Of as hy wakker word, voel hy soos ‘n eensmae voël op ‘n huis se dak. Is dit nie soms die ergste ervaring nie: om juis in tye van ernstige siekte nog eensaam ook te wees nie? In die Bybelse tyd is siekte soms gesien as die straf van die Here op sonde. Daarom is siektes dikwels verwerp.

In ons tyd met die suksessindroom wat so sterk is, word siekte soms gesien as mislukking en word siektes vermy. Baie siekes word eensaam omdat hulle mense se programme so vol gejaag na wind is dat hulle nie tyd het vir hulle wat siek is nie. Of ons weet nie wat om te sê of wat om te doen nie en voel selfbewus en vermy die siekes. Laat ons dit maar erken: baie mense wat siek is bitter eensaam. Die ervaring word versterk deur die feit dat die ernstige sieke se lewensruimte beperk word tot die siekbed en sy horisonne tot die kamer se mure. Uit die gejaag van die lewe, ervaar baie siekes ook tyd veel anders; minute voel soos ure en die dae baie lank. Vir die ernstig sieke is die emosionele lyding wat deur die afwesigheid van sy geliefdes veroorsaak word, soms net so erg as die fisiese lyding.

Geloof in die Here is geen warborg dat jy nie ook eensaam sal wees nie. Hoe baie mense is daar nie in die Kerk wat ook eensaam is nie? Die eensaamheid van die mense wat tussen ander is, is veel groter as die eensaamheid van iemand wat alleen is. Hoeveel is daar nie wat vandag moet uitroep: “Ek het niemand nie! Daar is niemand wat vir my omgee nie. Vriende het ek nie, my familie is te besig en het my eenkant toe geskuif. My bure wil my nie ken nie!” Dink maar aan al die eensames in ons gemeenskap: bejaardes, enkelouers, alleenlopers, kinders in kinderhuise, mense wat deur ‘n trauma in hulle dop gekruip het en so baie ander. Daar is mense wat eensaam is as gevolg van omstandighede soos die verlies van ‘n lewensmaat of egskeiding. Daar is eensames wat in eensaamheid verval het vanweë hulle persoonlikheid of hulle persepsie oor hullself. Mense wat nie maklik kommunikeer nie. Mense wat dink hulle is nie mooi of goed genoeg nie. Mense wat bang is om seer te kry. Mense wat hulle vertroue in ander verloor het. Mense wat deur ander verstoot en verwerp is. Daar is so baie mense in ons gemeenskap!

Die Psalmdigter ervaar nog ‘n dieper lyding: en dit op geestelike vlak. Hy voel dat God hom verwerp en weggegooi het. Dit is die dieptepunt van lyding. Hoe baie siekes voel nie ook so nie? Die Here het sy rug op my gedraai. Hy stel nie meer in my belang nie. Hy het my afgeskryf. Namate my kragte afneem en mense my verwerp, lyk dit mos asof die Here my verwerp en weggooi. Dit is ‘n verskriklikke belewenis!

Die Psalmis sê dat sy dae verdwyn soos rook. Sy dae is sinloos en leeg, en dit gaan sommer net verby. Hy sê ook dat die einde van sy lewe naby is, soos ‘n sakduwee wat lank geword het. Ons weet mos as skaduwees lank word, is dit ‘n teken van die naderende einde van die dag, en so voel hy ook. Hy is lewensmoeg, en sy lewe voel leeg en sinloos. Waarom lewe hy nog? Kan dit nie maar tot ‘n einde kom nie?

Is dit nie soos eensames baie keer voel nie? Waarom lewe ek? Wat is die sin en betekenis van my lewe? Ja, eensames sny hulle dikwels af van ander en onttrek hulself. Dit lei nie net tot ‘n verlies aan selfvertroue en ‘n negatiewe selfbeeld nie, maar ook tot apatie. Die eensame word apaties en het nie meer die drang om te leef en dinge te doen nie. Die eensame word passief en wil nie betrokke raak nie. Dit kan lei tot erge depressie.

Dit gebeur dat sommige eensames uit hulle eensaamheid probeer ontvlug deur hulle toevlug tot drank of dwelms te neem of deur losbandige verhoudings aan te knoop. Daar is ook ander wat dit probeer ontkom deur die najaag van sukses. Hulle werp hulle hart en siel in hulle werk en wil ten alle koste presteer om so hulle eensaamheid te oorbrug. Daar is ander wat altyd tussen mense wil wees om maar net te vind dat ook dit nie werk nie. Hulle woon al wat ‘n partytjie is by en jaag van die een plek na nie ander om maar net nie alleen te wil wees nie. Dit werk nie, maar vererger net die eensaamheid.

Wat kan ek doen? Die eerste stap wat geneem kan word, is om jou eensaamheid as gegewe te aanvaar. Maak vrede met jou eensaamheid. Nie in die sin dat jy dit as permanente gegewe aanvaar nie, maar dat jy aanvaar dat dit nou so is en dat jy iets daaraan kan doen. Jy bly tog in beheer en kan die situasie verander. Reik dan uit na ander. Werk aan jou kommunikasie vaardighede, kommunikeer met ander. Praat met mense. Dit mag aan die begin moeilik wees, maar met tyd word dit beter en makliker. Reik uit, nie om iets te kry nie, maar om iets te gee. Raak betrokke by ‘n groep. Hoe minder aktief mens is, hoe meer eensaam word jy.


Die Psalmis het in sy eensaamheid hom tot die Here gewend. Hy praat met die Here. Hy vestig sy hoop op die Here. Opvallend is dat die Psalmis sy hoop op die Here plaas vir die toekoms. Hy glo die Here het ‘n toekoms vir Sy volk en alle mense. Hierin stel hy vir ons ‘n voorbeeld: wend jou tot die Here in jou eensaamheid. Praat met Hom, Hy sal jou nooit alleen laat nie. Was Jesus dan nie van God verlate en totaal eensaam sodat ons tot God geneem om  nooit deur Hom verlaat te word nie? Eintlik is die gelowige nooit heeltemal eensaam nie. Die Here is altyd by ons. Met Hom kan ons die toekoms ingaan met vertroue. Dan het ons ‘n toekomsperspektief. Hy is by ons en sal altyd by ons wees. Omdat ons aan Hom behoort, en deel is van Sy kerk, is ons saam met ander. Ons het baie broers en susters. Ons is deel van ‘n wêreldwye skare van gelowiges wat almal die Here aanbid. Eintlik behoort daar dan mos nie eensames onder ons te wees nie...
POSTED BY Steven Sass on 06:12 under
16 Junie 2013 Patensie
Huishoudelike pligte
Psalm 128 en Kollosense 3:18-21
Gesonde gesinsverhoudings is van die allergrootste belang. In die gesin word die grondslag van alle verhoudings wat die kind later sal aangaan, gelê. Sielkundiges en sosioloë dink dat latere wanverhoudings en talle euwels hulle grondslag vind in swak gesinsverhoudings. So kan jeugmisdaad en euwels soos drank en dwelmmisbruik hulle oorsprong in swak gesinsverhoudings vind. En so sou ons kon voortgaan.

Ons kla dikwels oor die hoë misdaadsyfer...ondersoeke het getoon dat die oorgrote meerderheid persone in ons korrektiewe sentrums, of misdadigers in ons tronke, uit gebroke of disfunksionele huise kom. As ons dus iets wil doen om die misdaadvlaag om te keer of te verminder, moet ons nie alleen aandag gee aan die rehabilitasie van oortreders nie, maar veral aandag gee aan die heropbou van die gesinslewe in ons breë gemeenskap.

Nou is dit so dat die gesin, en elke gesinslid in ons tyd aan geweldige spanning onderworpe is. Die pa verkeer onder druk by sy werk; die ma by die huis of werk, die kinders by die skool en al die buitemuurse aktiwiteite. Almal kan so besig wees dat hulle nie meer bymekaar uitkom nie. Elkeen kan so in sy eie web vasgevang wees dat gesinsverhoudings verbrokkel.

In Psalm 128word die voorvereistes vir gesonde gesinsverhoudings uitgestippel. “Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien en Sy wil doen” (v1). “Jou seuns is rondom jou tafel soos olyfboompies”(v3b).

 Ten gronde van ‘n gelukkige gesin lê geloof in God en diens aan die Here. Die gesin wat saam bid bly saamgebind.Geloof in God is die fondament van ‘n huis. Waar dit sterk is, is die huis stewig en kan die huis staande bly te midde van storms. Wee die ouers wat hulle kinders wil grootmaak sonder geloof.

 Nou is dit ook so dat nêrens in die Bybel ‘n belofte het dat dit altyd sal goedgaan met gelowiges en dus ook gelowige gesinne nie. Wat wel beloof word, is dat gelowiges te midde van storms kan weet dat die Here ons nooit oooit alleen sal laat nie. Hy is by ons selfs in tye van die grootste aanvegtings en storms. Hy dra ons deur krisis tye.

In Psalm 128 word die kinders van gelowiges vergelyk met olyfboompies. In die barre Palestina was ‘n olyfboom ‘n teken van seën. So is die kind ‘n seën van God: ‘n Kosbare genadegawe van die Here. Die olyfboom het gesorg vir olie wat in lampe gebruik is om lig te gee. So bring die kind lig en warmte. Verder was die olyfolie gebruik as medisyne; om verligting te bring waar wonde geslaan is. So is die kind salwend vir die geslane gees. Die olyfboom het bo-al olie voorsien wat by die offers van die Here gebruik is. So is die kind ‘n genadegawe van God tot diens aan God. Geseënd is die ouers wat die Here ken en dien en vir wie hulle kinders soos olyfboompies is.

Maar wat sê die Bybel oor die ouer-kind verhouding? Kom ons lig net drie aspekte uit. Die eerste aspek wat beklemtoon moet word is dat ouers tyd moet maak vir hulle kinders. Dit is alleen die ouer wat tyd maak vir sy kind wat sy kind kan lei en help in sy selfontdekking, in sy selfidentifisering en in sy eksperimentering. Markus 10:13-16 is aan ons welbekend. Toe ‘n klompie ma’s hulle kindertjies na Jesus gebring het, het die dissipels hulle probeer wegkeer. Waarskynlik was Jesus op hierdie tydstip baie moeg en uitgeput. Die dissipels het gedink hulle doen hulle plig deur die ma’s met hulle kindertjies van Jesus weg te hou, maar Jesus het hulle berispe. Hy maak tyd vir die kinders. Hy seën hulle. Hy maak tyd om Sy liefde vir hulle te toon en op hulle uit te giet.

Een van die grootste probleme van ons tyd is dat ouers nie tyd maak vir hulle kinders nie. So baie kinders kla dat hulle ouers so besig is en nooit genoeg tyd vir hulle het nie. Soms tree tieners op snaakse maniere op, juis omdat hulle op soek is na die aandag van hulle ouers. Hoeveel tyd spandeer ons daagliks met ons kinders? En as ons tyd met ons kinders spandeer, het hulle ons volle aandag en luister ons regtig na hulle? As kinders van die Here moet ons na die voorbeeld van Jesus tyd maak vir ons kinders. Al is ons moeg, al is ons besig. Ongeag die omstandighede waaronder ons ons bevind. Daar is bitter min dinge, indien enige, wat ‘n belangriker aanspraak op ons tyd het as ons kinders. Kom ons beklemtoon dit weer: ouers moet tyd maak vir hulle kinders. Dis nie iets wat sommer net gebeur nie. Ons moet aktief tyd skep en maak en tyd inruim in ons programme wat al te dikwels te oorlaai word.

‘n Tweede aspek wat sterk beklemtoon word in die Bybel is dat ouers hulle kinders moet lei en onderrig. In Deuteronomium 6:4-7 lees ons: “Hoor Israel, die Here onse God is die enige Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit op jou kinders inskerp en daaroor praat as jy in jou huis sit en as jy oppad is en as jy gaan lê en as jy gaan opstaan.”

Die belangrikste opvoedingstaak van die ouer is om sy kind te leer om die Here lief te hê met sy hele wese. Ons mag dit nie maar aan die skool of kerk oorlaat om die kind te leer en te onderrig nie. Dit is ons voorreg as ouers. Die ander instansies kan eerder aanvullend en versterkend onderstreep en vaslê wat ons as ouers hulle leer. Die ouer moet sy kind met woord en daad; leer en lewe leer om te leef uit die krag van God tot eer van God. Wie dit nalaat, laat die kind struikel en van hulle het Jesus gesê dit sou beter wees dat ‘n meulsteen om hulle nekke gehang en hulle in die see gegooi word. Is ons elke dag besig om ons kinders te lei en te leer om die here te doen met hulle hele lewe?

‘n Derde aspek wat veral deur Paulus beklemtoon is, is dat ouers nie voortdurend negatief moet wees oor hulle kinders en hulle doen en late nie. In Efesiërs 6:4 lees ons: “Moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie” en in Kolossense 3:21, “moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie”.


Die ouers wat vanuit sy geloof in die Here, in die geloof die beginsels uitleef, sal ervaar dat hulle kinders hulle eer, soos die gebod van die Here eis. Ja, sal ervaar dat hulle kinders respek vir hulle het; hulle gehoorsaam en bo-al hulle oordeel met hulle kinderliefde. So sal gesinsverhoudings nie alleen verstewig nie, maar sal die Here bo-al gedien en verheerlik word...
POSTED BY Steven Sass on 17:45 under
9 Junie 2013 Patensie
Lukas 1:39-66
In hierdie gedeelte het ons te make met ‘n hele aantal dinge wat met twee swanger vroue gebeur het. Die een was die moeder van Johannes doper, Elisabet, en die ander is die moeder van Jesus Christus, Maria. Die dinge wat gebeur het wat in hierdie gedeelte beskryf is, vertel vir ons iets van die verwagting van hierdie vrouens en mense in hulle onmiddelike omgewing.

Nie net is die vrouens verwagtend met die babas in hulle moederskote nie maar daar is ook die realitieit in hulle van die feit dat daar groot dinge aan die gebeur is, nie net met hulle twee nie maar ook veral met die twee kinders wat hulle verwag. Nog voordat Elisabet vir Maria gesien het, gebeur daar ‘n ongewone ding met haar, naaamlik dat  toe sy die groet van Maria hoor, “het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul....” Elisabet het dus bewus geword van die Here se teenwoordigheid en Sy heerlikheid wat aan die kom was. Sy, en haar ongebore babatjie was onmiddelik aangeraak deur hierdie opgewonde verwagting. Dis dan ook baie besonders dat Johannes die Doper juis die een was wat Jesus vooruitgegaan het en mense vertel het van die Messias, Jesus Christus wat aan die kom was na hierdie wêreld. Dit was dus amper asof hy reeds in sy moeder se skoot nie kon stilbly nie , maar toe reeds beging “beweeg” het. Dit is asof hy toe reeds voor sy eie geboorte wou begin om te vertel van Jesus!

In ons moderne tyd maak baie ma’s nogal baie daarvan dat hulle hul babas positief kan beinvloed deur byvoorbeeld sagte of klassieke musiek te speel. Daarmee glo baie dat deur sulke dinge doelbewus te doen, hulle kan help om gesonde en byvoorbeeld slim babas in die wêreld in te bring. Ek wonder of dit amper iets soortgelyks was toe Elisabet ook hierdie  lofprysing oor Maria en die vrug van haar skoot, Jesus uitgeroep het....amper sodat Johannes dit toe al kon hoor.

 Wat ‘n wonderlike lofprysing is dit dan ook: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot. Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom? Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my beweeg. Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het.”(Lukas 1:42-45)

 Maria se antwoord op hierdie loflied is besonders. Beide die vrouens het besef dat die kinders wat hulle sou baar besonders sou wees. Dat hierdie kinders anders as ander vrouens se kinders sou wees...

Maria besing die lof en die grootheid van die Here: “ Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser omdat Hy na my in my geringheid omgesien het....” Sy besef en erken dit ook so hier in haar loflied, dat die Here na haar omgesien het in haar geringheid. Sy haal die fokus bietjie van haarself af en skuif dit na daar waar dit hoort... op God.

Sy besef dat God iets groot in haar laat gebeur het. En tereg ook so, want die fokus in al ons danksegging moet mos op God wees, inteendeel, al ons fokus moet op God wees. Die wonderlike wete en besef dat Hy na ons ook omgesien het in ons geringheid....

In Elisabet se skoot was die groot Johannes die Doper, die een wat ‘n profeet van die Allerhoogste genoem sou word, want hy sou voor die Here uit gaan om Sy pad gereed te maak....” (Lukas 1:76). Rondom Elisabet en veral rondom Joahnnes se geboorte het daar verder wonderlike dinge gebeur...

 Nadat hulle hom besny het en al die ander dinge wat gepaard gegaan het met die nakoming van die godsdienstige vereistes wat gepaard gaan met die geboorte van ‘n gelowige, het Johannes se vader Sagaria sy spraak teruggekry, en hy het onmiddelik begin om vir God te loof en te prys. Ook Sagaria was bewus van die groot dinge waarmee God besig was in hulle lewens...

“Amal wat rondom hulle gewoon het, is met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea is daar baie gepraat oor al hierdie dinge....” Netso het dit ook met julle twee gebeur Liesl en Eddie. Netso ook het mense rondom julle agtergekom dat die Here ook na julle omgesien het in julle geringheid. Netso ook is ons almal met ontsag vervul saam met julle oor dit wat God in julle lewens laat gebeur het. Dit wat onmoontlik was, dit wat nooit ooit kon gebeur het nie, het toe weel gebeur. Liesl het swanger geword en God het vir julle ‘n pragtige gesonde kindjie gegee.

 Na ‘n geweldige tyd vol beproewing het God ons gebede geantwoord, en ‘n wonderwerk, ‘n besonderse kind aan julle kom gee... daarom is ons saam met julle ook vanoggend gevul met onstag, daarom is ons opnuut ook bewus van God wat vandag nog wonderwerke laat gebeur. Ons kan maar na mekaar toe draai en vir mekaar sê dat hierdie doopgeleentheid ‘n sigbare bewys is dat God nogsteeds in ons tyd wonderwerke laat gebeur.... en  verseker ons versugitnge van ons harte nie ongehoor laat verbygaan nie. Dat God genadig is, is ons belydenis vanoggend.

Netsoos ek netnou genoem het dat seker ma’s daarin glo om hul ongebore fetusse bloot te stel aan allerhande strelende klanke om hulle positief te beinvloed... is daar ook altyd grootmense wat partykeer ook wonder oor ‘n kleintjie of pasgebore babatjie. Ons hoor gereeld hoe mense ook vir mekaar se: “Foitog, ek wonder wat met die outjie eendag gaan gebeur”. So asof ons ons eie onsekerheid wil uitspreek oor die arme bloeitjie.

Dit klink ook baie soos die woorde van Lukas 1 :66b “Wat sal hierdie kindjie eendag word”. Hoe wonderlik is dit nie in die geval van ons Skrifgedeelte dat die kindjie op die ou ent groot en volwasse geword het en ‘n wonderlike getuie en profeet van God geword het...iemand wat sy lewe gegee het om Jesus te verkondig....

Dit herhinner my aan my eie doopteks Markus 3:31-35: “Sy moeder en Sy broers het toe gekom. Hulle het buite bly staan en ‘n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep. ‘n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk u moeder en u broers en u susters daar buite soek U. Maar Hy sê vir hulle: “ Wie is my moeder en my broers?” Hy het die mense aangekyk wat in’n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

Met hierdie teks op my doop, het die predikant mos nie geweet wat van my sou word nie. Hoe kon hy ooit raai dat ek vandag hier sou staan  en met julle so oor God en Sy liefde sou praat. Niemand sou dit kon weet dat dit my lewe sou wees tot vandag toe nie! Netso in die geval van klein Edward Dawson... weet ons niks van sy toekomsplanne af nie. Ons kan maar net wonder oor waar hy homself byvoorbeeld oor 36 jaar sal bevind. Maar een ding is seker in my lewe...dieselfde ding wat seker is van elkeen van ons lewens, dieselfde is veral ook seker van klein Edward Dawson Ferreira.... die laaste woorde van Lukas 1:66 is van toepassing: “Dit was duidelik dat die Here by hom was.”

Of hy nou ‘n doper, predikant, of boer gaan word soos sy pa, dit weet ons nie. Maar ons almal kan vanoggend met ontsag na die doopouers kyk, en ons kan weet dat God se genade onbeskryflik is...ons kan net weer ook besef dat God doen wanneer Hy wil, net wat Hy wil...en dit is goed. Alle eer aan Hom wat vir ons lief is, en dit op soveel ontelbare manier vir ons kom wys. Prys God in die hoogste hemele! Laat ons nie onaangeraak hierdeur wees nie... Amen
POSTED BY Steven Sass on 06:32 under
2 Junie 2013 Patensie
Leef tog ‘n bietjie meer beskeie
Lukas 12:13-21
Gierigheid en hebsug is sonde. Ons leef in ‘n meterialistiese en tot ‘n mate in ‘n hebsugtige wêreld. Baie mense se lewens word oorheers  deur die smag na rykdom. Miskien neem hebsug in ons tyd groter afmetings aan as tevore. Oral word besittings voorgehou as dit wat die lewe die moeite werd maak. Dis asof baie mense  ook daartoe neig om ‘n al te groot waarde aan materiële besittings toe te ken. Dikwels word mense beoordeel aan die hand van hulle besittings.

In hierdie gedeelte waarsku Jesus teen hebsug: “Pasop en wees op julle hoede vir gierigheid, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.”

Soos met alle gedeeltes in die Bybel, is dit nodig om ook hierdie woorde in konteks te verstaan. Die gedeelte kom uit die Evangelie van Lukas. Daar kan aanvaar word dat die skrywer van hierdie Evangelie ‘n medikus was. Dit is dan geen wonder dat hy ‘n besondere belangstelling toon in mense wat siek was en dat ons in hierdie Evangelie meer lees van genesings as in enige van die ander Evangelies nie. Verder toon hy besondere empatie met die mense wat op die kantlyn gestaan het en dalk deur die gemeenskap eenkant toe gestoot en geminag is, soos vroue, weduwees en weeskinders, slawe en so aan.

 Die Evangelie van Lukas is in die eerste plek gerig aan Christene uit die Romeinse Ryk wat nie tradisioneel tot die volk van die Here behoort het nie. Daarom word besondere klem gelê op die feit dat Jesus vir alle mense gekom het en dat Sy verlossing vir almal, ongeag hulle herkoms is. Dit is verder so dat die Christene vir wie Lukas sy Evangelie skryf, nie baie welvarend was nie. Trouens, hulle was arm en het geworstel om kop bo water te hou. Tog was daar ook mense in die kerk met wie dit beter gegaan het en soos dit nou maar eenmaal gaan, het daar spanning in die kerk ontstaan tussen rykes en die armes. Hierby moet ons onthou dat daar ‘n siening was dat rykdom ‘n teken van die seën van die Here was, en dat armoede en teenspeod aanduidings van die straf van die Here was.  In die Lukas Evangelie lees ons ook meer oor geluk, dankbaarheid en lofprysing as in enige van die ander Evangelies.

In Lukas 12 lees ons van ‘n man wat in verband met sy erfenis deur sy gierige broer bedreig is. Volgens die gebruike van daardie tyd kon hy ‘n skrifgeleerde inroep om as regter of boedelberedder op te tree. Noudat hy van Jesus gehoor het, wend die man hom tot Jesus en lê hy sy probleem voor Jesus. Jesus weier egter om as regter of boedelberederaar in die saak op te tree. Maar Hy rig ‘n baie duidelike waarskuwing waardeur beide die broers tot selfondersoek opgeroep word en opgeroep word om die saak reg te stel.

Jesus waarsku teen gierigheid. Dit doen Hy op dubbelsinnige wyse: Pas op vir gierigheid: wees op julle hoede vir hebsug. Daarmee sê Jesus dat hebsug ‘n gevaar is wat as’tware steeds latent aanwesig is; iets is waarvoor die mens moet oppas en op sy hoede wees. Want die mens kan so maklik in hebsug verval en daarin verstrengel raak. Hebsug is vir die mens soos ‘n spinnerak vir ‘n insek, as hy nie oppas en op sy hoede is nie, word hy vasgevang en in die geworstel en geskarrel word hy al hoe vaster vasgevang totdat hy sterwe.

Jesus motiveer Sy waarskuwing as Hy sê: want iemand se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie. Ware rykdom kan nie verkry word deur die bymekaarmaak van aardse skatte en besittings en rykdom nie. Wie in die waan leef dat dit die geval is, het nog nooit ware rykdom leer ken nie. Om dit te illustreer het Jesus ‘n gelykenis vertel, die verhaal van ‘n man wie se grond goeie oeste opgelewer het. Op grond hiervan besluit die man om sy ou skure af te breek en groter skure te bou.

Dit lyk op die oog af na goeie voorsorg. Maar ons vind in hierdie man geen dankbaarheid teenoor die Here nie. Hy bely nie dankbaar dat die Here reën en vrugbaarheid geskenk het nie. Nee, hy sien die goeie oes en inkomste as die gevolg van sy eie prestasie, en daarom vind ons by hom ook geen mededeelsaamheid nie. Hy is nie bereid om ook iets te gee vir hulle wat nie het nie...by hom vind ons slegs selfverheffing en selfsugtigheid. Die motief vir sy daad is dan ook selfgenot, want hy sê vir homself: mens, jy het baie goed weggesit vir baie jare, hou op met werk: eet, drink en leef lekker. Hierdie man wou ryk wees en het daarin geslaag, sodat hy dit in sy selfsug kon geniet.

Teenoor hierdie selfgesprek staan die spreke van God. Daardeur kom ‘n enorme fout in hierdie man se redenasie na vore. Want God sê: Jou dwaas, vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het? Juis Hy met wie geen rekening gehou is nie, heers oor alles, ook oor die lewe van die dwaas ryk man. Hy was ‘n dwaas, nie omdat hy nie genoeg verstand het nie, maar omdat hy sy verstand verkeerd gebruik het. Hy kón boer, hy kón skure bou, hy kón geld maak. Maar hy het God vergeet. Dit laat mens dink aan die Woord van Openbaring 3:17: “Julle sê ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie, en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal.”

Dwaas is die mens wat reken dat die rykdom van die lewe geleë is in die materiële besittings. Daarom sluit Jesus Sy gelykenis af met die ernstige woorde: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie. Ware rykdom is geleë in rykdom by God.

Wat beteken dit om ryk by God te wees? Dit beteken om te deel in die rykdom van God. En God is ryk. Die ganse skepping is Sy ryk, die son die maan en die sterre behoort aan hom, die hele aarde die plante en al die diere behoort alles aan Hom. Dit is Syne en Hy het dit alles gemaak... en nou leen Hy hierdie koninkryk aan die mens sodat die mens in die koninkryk van God sy lewensruimte kan vind. Behoort ons dan nie veel meer rondom ons te kyk en die Here te dank vir die skepping en die natuur nie? Is ons nie ryklik bevoorreg om in hierdie wonderlike heelal te kan leef nie?

God se rykdom omvat veel meer as net die skepping en die heelal. Want God is ook in Sy wese ryk, want Hy is die liefdevolle, die genadige, die barmhartige, die Een wat vergewe en verlos; wat help en gee. Hy is die Lig en die wysheid en die Lewe; Hy is die liefde! Hoe wonderlik bevoorreg is ons nie om in ‘n lewende verhouding met die lewende Here te kan leef nie. Ons verhouding met ons hemelse vader maak ons oneindig ryk...ongeag van wat ons besit...

Om in God ryk te wees beteken om te deel in die rykdom van God. Maar hoe? Van nature is die mens op homself en sy eie behoeftes gerig, soos hierdie ryk man. Maar Jesus het gekom om ons te verlos en te herskep. En deur Jesus word ons deur die Vader aangeneem as Sy kinders. So word ons erfgename van Sy koninkryk. In Jesus begryp ons ons plek in hierdie wêreld van God. Maar Jesus herskep ook die beeld van God in ons as Hy ons Sy liefde en Sy genade skenk, sodat ons ook kan vergewe, ook kan help en ook kan gee...


En dan as ons sterf, sal gesê kan word dat die belangrikste vir ons nie was om vir onsself ‘n koninkryk te bou nie, maar om betrokke te wees in die koninkryk van God. Nie om ons te verheug in eie rykdom of om ons aardse plesier te kon geniet nie. Maar om ons te verheug in die onbegryplike rykdom van God’s genade....