POSTED BY Steven Sass on 06:17 under

28April 2013 Patensie
Johannes 21:15-19
Jesus kom na mense wat Hom in die steek gelaat het
Ons hoor so dikwels van die belangrikheid van kommunikasie.  Miskien is dit nodig in die lig van die feit dat kommunikasiegapings so dikwels voorkom en kan lei tot allerlei spanning en skeuringe en verbreking van verhoudings. Selfs in pogins om verhoudinge te herstel, kom kommunikasiegapings voor. Mense, en dit is almal van ons, hoor net wat hulle wil. Geen wonder dat daar dikwels soveel misverstand en verwarring is nie. Dit lyk my dat ons teksgedeelte en die interpretasie daarvan ‘n voorbeeld is...

Na die opstanding het Jesus mos verskeie kere aan mense verskyn. Maar dit wil egter voorkom asof Hy veral uitgereik het na mense wat of gering geskat was (soos die vroue en die Emmausganger) of na mense wat met probleme geworstel het (soos Tomas en Petrus). Soos Jesus voor Sy kruisiging in die besonder uitgereik het na die wat Hom baie nodig gehad het, doen Hy dit ook na Sy opstanding.

Hierdie keer verskyn Jesus aan Petrus en knoop ‘n gesprek met hom aan. Opvallend is dat Jesus dieselfde vraag driemaal aan Petrus vra. Dit laat mens onwillekeurig dink aan die feit dat Petrus Jesus driemaal verloën het. Driemaal het hy toe presies dieselfde gesê: ek ken Jesus nie. Nou antwoord hy driemaal dat hy Jesus liefhet.

Jesus vra drie keer dieselfde vraag: “Het jy My lief?” Nou is dit so dat hier in die Grieks verskillende woorde gebruik word. Die eerste twee keer gebruik Jesus die woord “agape” en die laaste keer die woord “phileo”, die woord wat Petrus deurgans gebruik. Hiervan is al baie gemaak en daar is al selfs onderskei tussen goddelike en menslike leifde. Dit blyk egter uit talle studies en vergelykings dat die woorde eintlik presies dieselfde beteken. Ons mis die punt waaroor dit gaan as ons hier verskille wil raaksien, netsoos Petrus die punt waaroor diet gegaan het gemis het.

 Dit lyk my dat dit nie net om die vraag en die antwoord daarop gaan nie, maar dat die klem moet val op die opdrag wat op die vraag en antwoord volg. Jesus vra eers, dan antwoord Petrus en op grond van die vraag en antwoord, volg ‘n opdrag. Dit gaan dan in hierdie gedeelte om die herstel van die verhouding tussen Jesus en Petrus en die gevolge van die herstelde verhouding.

Petrus se verloening van Jesus het sekerlik tot gevolg gehad dat daar ten minste innerlike spanning oor hulle verhouding by Petrus was. Dit het nogsteeds soos ‘n donker wolk oor hom gehang. Nou reik Jesus uit en wil die verhouding herstel. Daarom vra Hy driekeer: “Het jy my lief?” Die enigste grond waarop die verhouding kon herstel kon word is liefde. As die liefde ontbreek is daar geen moontlikheid dat die verhouding herstel akn word nie.Waar daar egter ware liefde is, is daar geen gronde waarom die verhouding nie volkome herstel kan word nie.

Die feit dat dieselfde vraag driemaal gevra word, dui op volkomenheid – Jesus wil 100% seker maak dat Petrus Hom liefhet. Dit word versterk deur die toevoeging by die eerste vraag: “meer as hulle hier” (Joh. 21:15). In die Grieks is dit dubbelsinnig. Dit kan of dui op die ander dissipels of dit kan dui op die ander dinge, met ander woorde sy vroeëre beroep(visvang). Pas vantevore het ons gelees dat Petrus die leiding geneem het toe hulle weer die ou beroep begin beoefen het en gaan visvang het. Jesus wil dus weet of Petrus se liefde vir Hom groter is as die van ander mense en groter is as sy liefde vir sy beroep. Dit laat mens dink aan die groot gebod: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand (Matt. 22:37). Dit gaan dus om dieselfde beginsel as die samevatting van die hele tien gebooie.


Elke keer as Petrus Jesus antwoord, gee Jesus aan hom ‘n opdrag. Daarmee word gesê: “As jy my liefhet, dan is daar iets wat jy moet doen. Die verklaring van liefde kan nie tot woorde beperk bly nie. Dit moet uitloop op dade. Wat is dit wat Jesus van Petrus verwag? Hy sê: “Laat my lammers wei, pas my skape op en laat my lammers wei.” Toe Jesus Petrus geroep het, het Hy vir hom gesê om Hom te volg en dat hy van nou af ‘n visser van menses al wees. Hier word die metafoor verander: hy sal nie meer ‘n visser wees nie maar ‘n herder. Dui dit op die radikale verandering wat daar sal wees?

Die metafoor van ‘n herder word baie dikwels in die Bybel gebruik. So word dan ook gesê dat God die Herder is(vgl. Bv Ps 23) en sê Jesus dat Hy die goeie Herder is (vgl. Joh. 10:11). Hier word dus gesê dat Petrus in die voetspore van Jesus moet volg. Die lammers kan dui op die jonges of kleintjies, maar dit kan ook dui op die swakkes en die wat sorg nodig het. Dit lyk my of dit waarskynlik hier die geval kan wees omdat Jesus juis vir die swakkes ‘n besondere plek het. Hulle staan bo-aan die prioriteitslys.

Eerstens moes voorsien word in die behoeftes van hulle wat nie instaat is om an hulself om te sien nie. Dan volg die opdrag om die ander op te pas. Hy moet dus beskermend optree teenoor die kudde van die Here. Laastens kom die algemene opdrag om te voorsien in die behoeftes van almal. Ons sou hier dan ook nie te veel skeiding probeer maak tussen die behoeftes op geestelike en materiële vlak nie. Pas vantevore het Jesus voorsien in die basiese behoefte aan kos (Joh. 21:12-13). Versorging is ‘n omvattende begrip. Lees ons dan ook dat Jesus so dikwels die klem op dade geplaas het nie en gesê het dat geloof vergeefs is as dit nie vergesel is van werk nie?

Die opdrag aan Petrus, so lyk dit vir my, is om na die gelowiges om te sien en hulle op alle vlakke te dien en te ondersteun. Dit is ‘n enorme taak. Geen wonder dat Jesus absoluut seker wou maak dat die basis hiervoor reg is nie. As liefde ontbreek, kan dit nie gebeur nie.

Jesus draai ook geen doekies om nie en sê vir Petrus dat die uitvoering van dié opdragte geen maklike taak sal wees nie en selfs sal leit tot lyding en ‘n marteldood. Petrus moes besef: die antwoord op die vrae van Jesus sal alles van my verg, ja dit sal my lewe vra. Was hy bereid om alles, selfs sy lewe te gee omdat hy Jesus liefhet?

Aan die begin van Jesus se openbare optrede het die dissipels alles prysgegee en Jesus gevolg. Tog was daar by hulle die idee dat Jesus ‘n radikale verandering aan hulle huidige situasie te weeg sou bring en dat dit daartoe sou lei dat hulle ereposisies sou beklee. Nou gaan dit nie om ereposisies nie, maar om diensbaarheid en bereidwilligheid om alles prys te gee ter wille van Jesus.

Ongelukkig lyk dit asof Petrus nie mooi gehoor het wat Jesus gesê het nie, want ons lees dat Petrus bedroef geword het toe Jesus dieselfde vraag drie keer gevra het. Hy het die vraag gehoor en daarop geantwoord, maar skynbaar nie besef dat dit gaan om die opdragte wat gevolg het nie. Hy het gedink dat dit maar voldoende is as hy sê dat hy Jesus liefhet. Maar dit is nie, dit gaan juis daarom dat die antwoord lei tot ‘n opdrag wat uitgevoer moes word.

Hier sê Jesus aan Petrus dat as hy nie omsien na sy kudde nie, dit ‘n aanduiding sal wees dat hy Hom nie liefhet nie; of andersom: as Petrus na die kudde omsien; sal dit daarop dui dat hy Jesus liefhet. Sy liefdesverklaring moes dus konkrete gestalte in dade, wat sy hele lewe moes omspan, vind.

Wat is die betekenis en relevansie van die gedeelte vir ons? Dit lyk my dat dit weer eens wil beklemtoons dat Jesus uitreik na diegene wat onder spanning verkeer. Hulle wat worstel met gebeure en dade in die verlede. Elkeen oor wie daar ‘n donker wolk hang. Elkeen wat diep binne ‘n las het om te dra. Wat van tyd tot tyd depressief word en wonder of dit wat gebeur het, ooit sal verbygaan. En let op: Hy kom nie met verwyte nie, maar vra net: “Het jy My lief? Het jy My meer lief as enigiets of enigiemand anders?.....  
POSTED BY Steven Sass on 14:56 under

21 April 2013 Patensie
Jesus kom na mense wat swaarkry
Johannes 21:1-14
Ons het nogal ‘n paar baie interessante visstories in die Bybel. Vissermanne kan nogal sulke stories vertel, maar dan is dit dikwels van die grote wat weggekom het of ‘n storie wat regtig nie geglo kan word nie.

 Hier is dit egter nie ‘n vissermanstorie nie. Dit gaan ook om baie meer as ‘n wonderlike visvangs. Dit gaan om Jesus  wat as die Onbekende kom, die onmoontlike moontlik maak en voorsien in die basiese behoeftes van mense.

Hier lees ons hoe die lewe, na die opstanding van Jesus stadig maar seker begin terugkeer het na die normale. Petrus neem, soos so dikwels, die leiding en sê dat hy gaan visvang. So keer hy terug na sy ou beroep; doen dit wat hy gedoen het voor Jesus hom geroep het om Hom te volg. Die ander besluit om hom te volg. Dit wil amper voorkom asof alles verby is en die lewe nou weer sy verloop gaan neem soos voor Jesus op die toneel verskyn het. Ongelukkig verloop alles nie so vlot nie. Hulle probeer die hele nag, maar vang nie ‘n enkele vis nie. Miskien het hulle al te veel van hulle ou beroep verleer. In elk geval, hulle arbeid is vergeefs.

Maar dan verskyn Jesus inderdaad weer op die toneel, die keer as ‘n Onbekende. Terwyl hulle nog aan die roei is, vra Hy of hulle iets gevang het. As hulle neagtief antwoord, gee Hy vir hulle ‘n snaakse opdrag: Hy sê hulle moet die net aan die regterkant van die boot uitgooi. Nou klink dit nie na ‘n baie aanloklike oplossing vir hulle probleem nie. Die vissersbootjie was nie baie groot nie en wat sou dit tog in elk geval verskil maak as die net net aan die ander kant van die bootje gegooi word.  Hulle gehoorsaam egter en is verbaas as die onmoontlike moontlik gemaak word en hulle verskriklik baie vis vang – meer as wat hulle in hulle skuit kan kry.

Jesus maak nie net die onmootlike moontlik nie, maar voed hulle ook. As hulle op die strand kom, het Hy die vuur gereed en is daar ook brood sodat hulle spoedig kan aansit vir ‘n heerlike maal. Hoe vinnig het alles nie verander nie. Nou-nou nog het hulle met leë hande gestaan, nou het hulle baie kos. Net-nou het hulle nie geweet wat hulle sal eet nie en nou is ‘n koningsmaal gereed.

Hiermee word egter besonder baie gesê. Laat dit ons nie dink aan Genesis 18 nie? Op ‘n dag het Abraham onder die groot bome by Mamre gesit. Toe hy opkyk, sien hy drie mans daar staan. Abrham nooi hulle vir ete en tydens die gesprek oor sy nakomeling ontdek hy dat dit die Here is wat na hom gekom en saam met hom ge-eet het. Wat ‘n ontdekking het hy gemaak: die Here was hier! Hierdie belydenis kom dwarsdeur die Bybel na vore: “God is hier teenwoordig.” Dit is die blye boodskap ook vir ons: God is hier. En dan nie net in die kerk nie, maar juis daarbuite in die alledaagse lewe.

In die Ou testament word ook beklemtoon dat niks vir God onmoontlik is nie. Dit word dikwels beklemtoon dat God dan ook die onmoontlike moontlik gemaak het. So kan mens net dink  aan die uittog en die intog. Profete soos Jesaja het beklemtoon dat geloof is om te glo dat God die onmoontlik moontlik kan maak. As dieselfde nou van Jesus gesê word, dan word daarmee ook gesê dat Jesus God is. Dit word versterk deur die feit dat Jesus die dissipels voed. Soos Hy ook voor Sy kruisiging die skare gevoed het en in die basiese behoefte van mense voorsien het. So sê die Ou-testament ook dat God voorsien in die behoeftes van sy kinders. So het Hy die volk op pad van Egipte na die beloofde land gevoed met kwartels en manna. Hy het vir hulle gegee wat nodig was. Soos ‘n vader sorg vir sy kinders, sorg God vir Sy volk en Jesus vir die wat Hom volg.

Dit is dan volkome in lyn met die prediking van Johannes. Van die begin tot die einde van sy Evangelie bely hy dat Jesus waarlik God is wat mens geword het. Hy beklemtoon dat Jesus  God by ons is, al gebruik hy nie die naam Immanuel nie. Geloof, so sê Johannes, is om Jesus te herken as die teenwoordige God.

Tog bly dit interessant dat die ou tipiese optrede van die dissipels nog steeds na vore kom. Johannes is die eerste wat vermoed dat die Onbekende Jesus is, as daar iets wonderliks gebeur. Petrus bly die wispelturige wat sommer uit die skuit spring as hy hoor wat Johannes sê, om dan weer in die skuit te klim en die net strand toe te sleep.


Is dit nie wat vandag nog gebeur nie? In tye van verandering raak mens nogal gou gewoond aan veranderinge. En word daar nie gesê hoe meer dinge verander hoe meer bly dinge maar dieselfde nie? Aanvanklink is almal verbaas en bang, maar gou gou keer alles terug soos wat dit maar vroeër was. Dan gaan mense maar weer aan met hulle werk en tree hulle maar weer op soos vroeër. Dit lyk my dit is ook soos dit nou hier by ons gaan. En dit nie net op sosiopolitieke vlak nie, maar ook in die kerklike lewe. Wat vir my ‘n knelpunt is, is die feit  dat ons ook so deur die kerklike jaarprogram gaan en eintlik nie diep daardeur geraak word nie. Dit was nie lank gelede dat ons die kruisiging en die opstanding herdenk het nie en tog lyk dit nie asof mense nou anders leef as voor die tyd nie. Ons gaan maar net aan en aan...

Kom Jesus nie vandag nog na ons toe as die Onbekende wat ons pad kruis nie? Het Hy nie eenmaal  gesê dat dit wat ons aan ander doen ons aan Hom doen nie? Moet ons nie weer ‘n keer die bekende Matteus 25:31-46 rustig en aandagtig lees nie? Dit was tog sekerlik nie waar net vir daardie tyd nie? Kom Jesus nie ook vandag na ons as die Onbekende nie? Sien ons Hom in die vreemdeling wat ons pad kruis, in die bedelaar, in die verworpene, in die kollega en noem maar op?

Jesus kan die onmoontlike moontlik maak. Tog is dit opvallend dat Jesus hier van die dissipels verwag het om self iets te doen. Hulle moes die net uitgooi en visvang. Jesus verwag ook van ons om iets te doen. Ons mag nie maar net sit en wag nie.

Het ons nie ook verskriklik rasioneel geword nie? Ons wil alles met ons verstand uitredeneer en verklaar. Ons glo tot sover as wat dit strook met ons denke. En nie veel meer nie. Ons dink ook dat wondertekens iets is wat sonder ons wete of verwagting of handeling gebeur. Dit mag so wees, maar hier lees ons dat die dissipels ook iets moet doen. Hulle gewone optrede het gelei tot die buitengewone, tot die wonder. God kan vandag nog die onmoontlike moontlik maak. Ook vir ons in ons gesinslewe, in ons beroepslewe of besigheid of watter terrein ook al.

Hierdie deel wil ook vir ons sê dat God in ons daaglikse behoeftes wil voorsien. Vertrou ons Hom hiervoor of dink ons dat ons self kan en Hy kan of wil nie? As ons werklik glo in die opgestane Jesus sal ons ook vertrou dat Hy in al ons behoeftes sal voorsien. Natuurlik beteken dit nie dat ons niks hoef te doen nie. Maar dit wil diegene in moeilike situasies troos en ons bemoedig: God voorsien vandag nog. 
POSTED BY Steven Sass on 06:11 under


Jesus kom na mense wat twyfel en onseker is
Johannes 20:19-31
As mens die inleidingswoorde van hierdie gedeelte lees, wil mens amper wonder of die kerk nie maar van die begin af altyd agter geslote deure geleef het nie. Die dissipels het op hierdie  tyd alreeds kennis gedra van die opstanding van Jesus. Die vroue het dit aan hulle vertel; die Emmausgangers het dit bevestig en sommige van die dissipels het ook vertel dat hulle by die graf was en dat dit leeg is. Hulle het dit nog nie mooi verwerk nie, en sommige van hulle het nog nie geglo dat Jesus uit die dood uit opgestaan het nie.

Om dinge selfs nog meer te problematiseer, het hulle begin kennis neem van gerugte dat iemand van hulle die liggaam van Jesus gesteel het. Indien hierdie gerugte die ore van die owerheid sou bereik, kon dit groot probleme veroorsaak het. Hulle kon maklik van poging tot opstand en omverwerping van die regering beskuldig word. Hulle was dus in ‘n baie moeilike situasie. Aan die een kant was daar hulle eie onsekerheid en aan die ander kant die vrees vir die Jode en die owerheid oor hulle aandeel in die verdwyning van die liggaam van Jesus. Geen wonder dat dat hulle vreesbevange en verward was en die deure gesluit het nie.

Die geslote deure het egter nie verhinder dat Jesus aan hulle verskyn het nie. Toe hulle weer sien, staan Jesus tussen hulle. Hy groet hulle en stel Homself dadelik aan hulle bekend deur aan hulle Sy hande en Sy sy te wys. Dit is opvallend dat Jesus Homself elke keer op ‘n ander wyse aan mense na die kruisiging bekend gestel het. Maria Magdalena herken Hom as Hy die brood breek by die maaltyd. Hier wys Hy Sy hande en hulle herken Hom.

Die wyse waarop Jesus Hom bekend stel, mag verskil, maar die reaksie daarop bly dieselfde: hulle was bly toe hulle Hom sien. Blydskap is die eerste en oorweldigende reaksie as Jesus herken word. Sy teenwoordigheid bring vreugde – ware lewensvreugde.

Jesus blaas dan op hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees!” (Johannes 20:22). Hierdie simboliese handeling laat mens dadelik dink aan Genesis 2:7 waar ons lees dat God lewensasem in die mens se neus ingeblaas het. Soos die Here aan die begin dit moontlik gemaak het dat die mens kan lewe deur asem in sy neus te blaas, maak Jesus die nuwe lewe moontlik deur op hulle te blaas en hulle so die Heilige Gees ontvang wat die nuwe lewe moontlik maak...


Die nuwe lewe, so lyk dit vir my, word veral gekenmerk deur sondevergifnis. Jesus verwys naamlik hier, pas na die simboliese handeling van die ontvangs van die Heilige Gees, na die feit dat hulle die mense hulle oortredinge moet vergewe. Dit sou dan as die vrug van die Heilige Gees en die kenmerk by uitnemendheid van die lewe van die gelowige bestempel kan word.

Een van die dissipels, Tomas, was egter nie teenwoordig nie. As hulle hom vertel wat gebeur het, maak hy dit baie duidelik dat hy nie sal glo nie tensy dat hy nie alleen sien nie, maar ook aan Jesus vat. Hy wil sigbare en tasbare getuienis hê voor hy glo. Nou moet ons hom nie te maklik veroordeel nie. Die ander dissipels het eintlik ook dieselfde pad geloop alhoewel hulle dit nie so duidelik verwoord het nie. Toe die vroue aan hulle vertel het dat Jesus opgestaan het, het hulle nie geglo nie en dit het vir hulle na onsinnige praatjies geklink.

‘n Week later verskyn Jesus weer aan die dissipels as Tomas saam met hulle is. Dit lyk vir my asof Jesus spesiaal na Tomas toe gekom het. Hy skryf hom nie af as hy nie dadelik glo nie. Inteendeel, Hy maak besondere moeite met en vir hom. Jesus nooi Tomas uit om sy vingers in sy hand en sy hand in Sy sy te steek en hom so te oortuig dat dit wel Jesus is wat met hom praat. Tomas antwoord egter dat dit nie nodig is nie. Hy is nou oortuig, al het hy nog net sigbare en hoorbare getuienis.

Tomas uiter hier dan sy bekende en seker een van die diepste belydenisse: “My Here en my God!” (Joh. 20.28).

Die eerste deel van die belydenis sluit nou aan by die van Maria (Raboeni) maar dan gaan hy veel verder, ja as die belydenis van Petrus. Dit is dan ook een van die min geleenthede in die Nuwe Testament dat Jesus direk Here en God genoem word. Hiermee erken en bely Tomas die wesenseenheid tussen die Vader en die Seun en vat hy die kern van ons belydenisse saam. Hierdie belyedenis van Tomas vorm die dieptepunt in die belydenisse oor Jesus in die Johannesevangelie soos die belydenis van Petrus die dieptepunt in die Lukasevangelie vorm.

Tomas was die vorige week op dieselfde vlak as alle ander Christene, die eerste dissipels uitgesonderd. Net hulle het die opgestane Jesus gesien. Die ander, en Tomas aan die begin, het net gehoor dat Jesus opgestaan het. So word Tomas die voorbeeld van alle ander Christene. Daarom sê Jesus, en wel in die vorm van ‘n saligspreking, dat almal gelukkig is wat Hom nie gesien het nie en tog wel glo. Gelukkig is die wat nie sigbare getuienis het nie, maar tog tot geloofsaanvaarding kom. Johannes sê dan dat dit juis die doel van die Evangelie is: om te vertel sodat ander kan glo dat Jesus die Christus is en sodat hulle deur te glo, in Sy Naam die lewe kan hê.

Wat is die betekenis van hierdie gedeelte vir ons? Dit lyk my hier word ‘n paar sake aangespreek. Eerstens word beklemtoon dat die teenwoordigheid van die opgestane Here Jesus blydskap bring. Dit is so ten spyte van  haglike omstandighede. Al lyk ons situasie hoe moeilik, as ons besef dat Jesus leef en dat Hy teenwoordig is, dan moet dit mos die ellende tot ‘n mate verdryf. Nou moet ons nie dink dat alle probleme dadelik sal verdwyn en dat alles voor die wind sal gaan nie. Dit word glad nie belowe nie. Dit beteken egter dat dat die lewe nie heeltemal sy sin en betekenis sal verloor nie. Jesus is by ons. Hy sal ons in die donkerste uur nie in die steek laat nie. Ons leef en niks en niemand kan ons uit Sy hand uit ruk nie. Dit bring tog, ten spyte van alles vreugde en blydskap.

Verder is daar ‘n direkte verband tussen die teenwoordigheid van die opgestane Jesus en die Heilge Gees. Dit versterk die gedagtes van die vorige paragraaf. Al sou ons Jesus dan  nie altyd kan sien nie, is die Heilige Gees met ons. Ondersteun en versterk Hy ons in alle opsigte. Hy lei ons om in vertroue te leef en te werk.

Hierby word die teenwoordigheid van die opgestane Jesus en die ontvangs van die Heilige Gees direk verbind met sondevergifnis. Die ou dinge het verbygegaan en alles het nuut geword. Ons kan lewe in die wete dat die breuk tussen ons en die Vader herstel is. Met geloof en vertroue kan ons nou voortgaan: die sondes is vergewe.

Hierdie gedeelte beklemtoon verder dat Jesus nie die wat dadelik glo nie, afskryf nie. Inteendeel, soos tydens Sy hele aardse optrede, skenk Hy besonderse aandag aan die swakkes en die uitgeworpenes. Jesus doen moeite vir hulle wat Hom nodig het. Die gedeelte wil ook beklemtoon dat daar min was wat die voorreg gehad het om die opgestane Jesus persoonlik  te sien, maar dat dit alles beskryf is sodat almal kan glo en dat die wat glo al was hulle nie ooggetuies nie, gelukkig is.

Twyfel is nie ‘n onvergeeflike sonde nie. Inteendeel, hoe dikwels lees ons nie van mense wat getwyfel en met God geworstel het nie. Om sekerheid te soek en vrae te vra, is nie verkeerd en sondig nie. God het baie simpatie met die twyfelendes. Jesus reik juis na hulle uit en wil sekerheid bied. By Hom vind ons die antwoorde en rus en vrede. Sy teenwoordigheid bring ons by die punt van belydenis: “My Here en my God!”
POSTED BY Steven Sass on 20:44 under

7 April 2013 Patensie
Die Bruid van Christus: My verantwoordelikheid?
Hosea 5:15- 6:1-11
Die laaste woorde van die 5 de hoofstuk gee ons hoop! Dit gee ons hoop dat God en Sy mense, ek en jy, kan weer na alles, tog met mekaar versoen word, desnieteenstaande ons sonde en ongehoorsaamheid en God se toorn. Dat ons Sy aangesig sal opsoek en dat Hy weer in ons lewens gereflekteer sal word...


Verse 1-3:  Die woorde van hierdie verse kan gesien word as die woorde van die profeet aan die volk, waarin hy hulle aanmoedig en oproep om hulleself te verootmoedig voor God, of as die woorde van die mense aan mekaar om weer terug te keer na God toe en hulself te verootmoedig voor Hom en Sy genade  op te soek waarin hulle mekaar opgewonde maak en aanmoedig....

God het gesê dat : “In hulle nood sal hulle my hulp kom vra.” En nou terwyl die yster warm is en God dit gesê het wil die profeet en die goeie gelowiges juis mekaar en veral hulle bure wat tans onder die toorn van God swaarkry, mekaar aanmoedig om hulle rug op die wêreld te draai en die aangesig van God op te soek! En hulle wat wel besig is om dit juis te doen, wil nou mekaar opgewonde maak en aanmoedig en “opbou” om saam met hulle Sy genade op te soek!

Hulle wat die besluit gemaak het om terug te draai na God toe en Hom weer te gaan opsoek, dis juis hulle wat opgewonde ook hulle vriende, familie, kennisse en sommer vreemdelinge ook moet aanmoedig in opgewondenheid, om dieselfde te doen...

Die vraag is nou of ons, nou wel besig is hiermee? Waarmee is jy besig op hieride oomblik in jou gedagtes? Waarmee is jy besig in jou lewe?

Ons het mos laas Sondag die feit gevier dat die graf van Jesus leeg is. Dat die moeder van Jesus Hom gaan opsoek het en gevind het dat  die graf leeg is! Hulle het toe mos die dissipels gaan roep om te bevestig dat dit wat hulle (op die tweede dag) met hulle eie oë gesien het waar is. En dit was waar, en ja daar heers nou vandag nog steeds nog ‘n opgewondenheid want ons Here het die dood oorwin en ons hoef niks meer te vrees nie! Niks meer nie want dit wat seker die ergste is in die lewe, die mees vreesaanjaende ding wat met jou kan gebeur, die dood... dié dood se angel is nou deur ons Jesus uitgehaal.

 Hoofstuk 6 vers 1 praat van ‘n opgewondende aanmoediging om terug te keer na die Here toe, dat Hy ons weer kan gesond maak. Maar jy kan dalk vanoggend hier sit en dink dat jy nie siek is nie: “Ek hoef nie gesond gemaak te word nie, ek is nie siek nie”.

 Jy is dalk nie eers bewus van hoe siek jy regtig is nie... Nie siek van verkoue of griep of so iets nie, maar siek in jou denke! Jou fokus is verkeerd. Jy het al so oortuig geword van jou manier van dink dat jy die punt heeltemal mis. Dat jy in ‘n groot mate eintlik die hele opstanding van Jesus mis!

Jy soek die Here, maar kry Hom nie! Jy soek Hom in ons kerk, maar jy kry Hom nie, jy soek Hom in ‘n ander kerk, of op die televisie, maar  jy kry Hom nie, jy soek Hom soos Sy moeder en die dissipels in die graf en jy kry Hom nie! Jy mis die punt! Christus is hier!!!!! Hy is by ons! Hy is by jou hart en klop aan jou hart se deur! Dis die rede hoekom jy nie opgewonde is nie, hoekom jy teneergedruk is, hoekom jy ongelukkig is met ons kerk met jouself met die mense wat rondom jou sit, want jy mis Jesus.

Jy is so vol van die wêreld, so vol van allerhande leerstellings dat jy Jesus hier by jou, by ons mis! Daarom ontbreek die opgewondenheid van vers 1 in hoostul 6 van Hosea in jou lewe, in jou geestelike lewe! Daarom ontbreek die toekomsvisie van ves 3 ook in jou lewe: “Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom ....Hy sal ons verkwik....” Dis omdat jy te besig ius om Hom op allerhande plekke te wil soek.

Dalk is jy ook soos so baie mense uitgelewer aan die wêreld se gedagte om te gaan waar dit lekker is, om te soek na ‘n “kick”, na waar almal mooi gesigte opsit en mooi koekies vir mekaar bak. Jy sal God nie daaar kry nie! Hier in ons kerk gaan dit rof, hier volgens die pers weet ons kerk nie meer wat sonde is en wat die waarheid is nie. As ons alles moet glo wat in die koerante en Time magazine staan dan moet ons maar ons kerk se deure sluit en almal maar oorloop na een of ander kerk of instelling waar daar nie so baie sogenaamde onsekerhede is nie.

Maar vir wie wil jy dan nou glo? Hoor jy dan nie wat God vanoggend vir jou hier in die NGkerk kom sê nie? Hoor jy dan nie Sy stem nie? Vers 4en5: “Wat moet Ek met jou doen Efraim? Wat moet Ek met jou doen, Juda? Julle liefde is soos ‘n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou, Dit is waarom Ek julle met my profete gestriem het, julle met My woorde vernietig het.... want Ek verwag liefde eerder as offers....” God kom sê dit vir jou vanoggend.

Ek wil dit vergelyk met die verhouding tussen ‘n man en sy vrou. Ek glo dat as jy eendag voor God gaan staan gaan Hy vir jou vra wat jy met jou vrou gemaak het op aarde. Die vrou wat Hy vir jou gegee het, die een wat net reg vir jou en by jou pas. Hy gaan by jou wil weet wat jy met daai vrou wat hy vir jou gegeee het gemaak het.  En as ons die Bybel reg verstaan dan vergelyk God dan ook die kerk met Sy Bruid (die kerk....in ons geval die NGKerk) met wie ons getroud is, in ‘n verhoudinbg is.... Hy gaaan vir jou vra wat jy met  Sy bruid  gemaak het. Wat gaan jy vir God antwoord? Wat gaan jy sê?

Gaan jy jou kop in skaamte laat sak en sê Here, ek het daai vrou gelos, ek het my rug op U Bruid gedraai, ek het Haar versaak, ek het gaan soek na ander plekke! Na ander dinge. Ek het sommer net weggebly.

Of gaan jy steeds opgewonde en uitasem vir die Here kan vertel dat jy met groot opgewondenheid steeds besig is om jou mede broers en susters aan te moedig om terug te draai na God toe en Sy aangesig opnuut op te soek! Dat jy jou hart steeds na alles oop het vir Sy werk en tot Sy beskikking!

Dis  jou besluit... Die Here ken jou hart, Hy ken alles van jou. Hy ken jou sonde, ook die sonde van onvergenoegsaamheid, van “i couldn’t care less”-houding teenoor ons kerk! Hy ken dit... maar steeds klop Hy aan jou hart se deur en hoop dat jy jou hart vir Hom sal oopmaak met vreugde, en liefde, sodat jou vreugde en liefde werklik Hom sal weerspieël en aansteeklik sal wees vir mekaar!