POSTED BY John Wait on 08:05 under , ,
Josua 24

Josua 24 is een van die kerngedeeltes van die Ou-Testament. Nie alleen word die ontstaan van die volk Israel as Godsvolk hierin gereflekteer nie, maar dit vorm ook die basis vir die oud-Israelietiese nuwejaarsfees en die hoogtepunt in die boodskap van die boek Josua.

Die gedeelte begin met ‘n situasie-skildering. Josua laat al die stamme van Israel wat tot op die tyd as losstaande stamme geleef het, elk in sy eie gebied met sy eie leiers, by Sigem bymekaar kom. Maar dis meer as ‘n voksvergadering, want hy laat hulle plekke inneem in die teenwoordigheid van die Here (dit is rondom die ark van die Here). Dit gaan dus om ‘n godsdienstige byeenkoms en het dus ook primêr ‘n godsdientige doel.

In verse 2-24 spreek Josua die volk toe. Hierin vind ons vier redevoeringe van Josua waarop die volk elke keer antwoord.

Josua se eerste gesprek word as ‘n profetiese woord ingelei: “So sê die Here, die God van Israel”(Jos. 24:2). In die profetiese uitspraak wys die Here die mens op wat Hy vanaf die vroegste jare gedoen het. Hoe hulle voorvaders ander gode gedien het totdat Hy Abraham geroep het en hom gelei en geseën het. Hoe Hy ingegryp het om die wat in Egipte gely het, te verlos. Hoe hy aan hulle ‘n land gegee het om in te woon; stede om te bewoon, landerye om te bewerk.

Ja, vanaf die vroegste jare het die Here Hom aan hulle geopenbaar as die God van liefde wat naby Sy kinders is; wat red en lewe gee; wat lewensruimte en lewensmoontlikhede bied; as die lewende Here wat in ‘n lewende verhouding met Sy kinders staan in die konkrete werklikheid waarin hulle leef.

Op grond hiervan roep Josua dan hulle wat teenwoordig was, op : “Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom in opregtheid en trou” (Jos 24:14) en : “Kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle nou woon” (Jos24:15). Maar hy gee nie alleen aan die volk die keuse nie. Hy gaan die volk voor en stel die voorbeeld as hy sê: “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien”(Jos. 24:15).

Die keuse raak nie net ander nie, dit raak elkeen en is ‘n oproep tot selfondersoek en beslissing. Die volk neem dit dan ook so op en antwoord dat hulle dit nie eers oorweeg om die Here te verlaat en ander gode te dien nie. Want hulle besef en bely wat die Here vir hulle gedoen het. Daarom kies en bely hulle: “Ook ons sal die Here dien”(Jos. 24:16).

Maar hiermee is die saak nie afgehandel nie. In verse 19-20 lees ons dat Josua die erns van die keuse uitspel. Die keuse hou geweldige implikasies in, want die Here is ‘n heilige God wat onverdeelde trou eis. Die mens kan nie maar onder groepsdruk of druk van omstandighede net sê:ek sal die Here dien nie. Die mens moet besef wat die konsekwensies van sy keuse is.

Wie vir die Here kies, moet weet dat Hy heilig is en daarom geen onheiligheid in hulle lewens sal duld nie. Hulle moet ook weet dat Hy onverdeelde trou en lojalitiet eis. Hulle moet Hom onvoorwaardelik liefhê en dien, onder alle omstandighede. Wie kies om die Here te dien, moet Hom alleen dien en wel met hulle hele lewe. En let op hoe Josua  beklemtoon dat wie kies om die Here te dien, en nie hulle keuse uitleef nie, nie alleen rampe sal belewe nie, maar sal sterwe(Jos. 24:20). Die keuse om die Here te dien, is dus ‘n dood ernstige saak. As die volk dit hoor, hou hulle nogtans voet by stuk: ons sal die Here dien(Jos. 24:21).

Nog is Josua nie tevrede nie. Hy maak die keuse ‘n regsgeding waarin hulleself getuies is. Weer eens beaam die volk (vgl. Jos. 24:22).

Dan roep Josua hulle op om daadwerklik op te tree om hulle keuse te bekragtig. Die oproep behels ‘n dubbele daad. Enersyds moet hulle die vreemde gode verwyder. Dit het nie alleen die verwydering van afgodsbeelde en die vernietiging van altare vir afgodsdiens behels nie, maar het ook behels dat hulle die gode uit hulle denk- en verwysingsraamwerk moes verwyder; hulle moes nie eers meer aan die afgode dink nie.

Andersyds behels dit die volkome toewyding aan die Here. Dit wil sê ‘n lewe volgens die wil van God, in verbondenheid aan die Here en tot eer van God. Ook hierop antwoord die volk bevestigend (vlg Jos. 24:23-24).

Selfs dan is die saak nie afgehandel nie. Josua sluit namens die Here ‘n verbond met die volk en rig ‘n groot klip op as verbondsteken. Nou vind ons dwarsdeur die boek Josua dat daar telkens klipstapels opgerig is as tekens om hulle te herhinder aan die groot dade van God. Die klippe is eweneens herhindering aan God se groot genade: sy verbondsluiting, maar ook van hulle keuse om volk van God te wees.

Die gebeure by Sigem het jaarliks tydens die nuwejaarsfees ‘n weerklank gevind. Elke jaar het Israel die verbond met God hernieu. Drie dae voor die aanbreek van die nuwe jaar is al die voorwerpe uit die tempel geneem en buite die stad neergesit. Dan is die verbond met God beëindig.

Op die oujaarsdag het die volk dan by die tempelvoorwerpe buite die stad byeengekom. Daar is hulle herhinder aan alles wat God in die verlede gedoen het. Dan is hulle voor die keuse gestel: kies dan wie julle wil dien. As hulle kies om die Here te dien, dan is die tempelvoorwerpe teruggeneem na die gereinigde tempel, is die verbond met God opnuut gesluit en het hulle hulself opnuut vir die nuwe jaar aan God gewy om in verbondenheidaan God en tot Sy eer te leef en te werk. So word die tempel dan die simbool en sigbare teken wat hulle moes herhinder aan die verbond  met God en die implikasies daarvan.

Die boodskap van Josua 24 is aktueel vir ons dag en tyd. Dit wil ons opnuut herhinder aan alles wat God vir ons gedoen het. As ons terugdink aan die jare wat verby is, kan ons nie anders as om te besef dat God ook vir ons groot dinge gedoen het nie.

Ook ons het ander gode gedien. Ja ons het ook ander dinge op ‘n tyd bo God geplaas; die najaging van geld of eer en toe die Here weinig plek in ons lewens beklee het. Maar Goddank, dit het voortgeduur totdat die Here ons geroep het. Hy het ons by die naam geroep en vir ons kom sê: jy is Myne. En alhoewel ons dikwels –en soms ook met reg- kla oor swaarkry, moet ons bely: die Here het ons gelei en geseën.

Soms was die pad waarop Hy ons gelei het, swaar en steil, maar tog weet ons: Hy was met ons ook op die woestynpad en toe ons deur diep waters moes gaan, was Hy daar. Ja die Here het ons verlos. Toe alles nag was, het Sy lig deurgebreek. Toe ons geen hoop gehad het nie, het Hy aan ons nuwe lewe gegee.

Ook ons moet vandag bely: die Here het vir elkeen van ons ‘n plekkie in die son gegee, ‘n lewensruimte waar ons kan leef en werk. Die Here het ook op materiële gebied vir ons onderneem en gesorg. Soos Hy vir Israel gedoen het en vir die gelowiges deur die eeue , het Hy ook vir ons.

Is dit nie die boodskap van die Nuwe Testament nie: God is by ons!!

Maar die Here herhinder ons aan wat Hy vir ons gedoen het, dan kom die oproep tot ons. En let op, die oproep kom tot ons almal…Kies dan vandag wie julle dien…

Maar hoe gaan ons kies? Kies in die lig van die erns van die keuse. In Josua 24 vind ons die uitgemaakte weg: ons dink nie daaraan om die Here te verlaat nie. Nee ons sal die Here dien…Mag dit ook nou jou keuse wees. Mag ons ook soos Israel elke jaar hier aan die einde so duidelik en onomwonde kies om die Here te dien. En as ons so kies, dan word ons opgeroep om al die vreemde gode te verwyder, die haat en die jaloesie, die geraamte in die kas, die eer en die roem die materialisme, en noem maar op.

Want eers as ons dit verwyder het, is daar ruimte vir God in ons lewens. As ons dit doen, sal Hy ons vul met Sy liefde en kan Sy liefde en vrede uit lewens uit straal. Dan sluit Hy opnuut Sy verbond met ons en kan ons as geroepe, verlsote verbondskinders die pad loop met hoop en in verbondenheid aan God om tot Sy eer te leef en te werk.

Is dit nie ons kosbaarste erfenis nie: om te kom uit ‘n huis wat die Here dien? Ja, dit is die kosbaarste erfenis wat ons ons kinders kan nalaat: ‘n huis wat die Here dien.