POSTED BY Steven Sass on 06:31 under
1 Desember 2013 Patensie
Lukas 2:8-20
 Ons gaan voort met ons tema van  VREUGDE. Dis maklik om te dink hoekom. Die wagtyd is nou verby halfpad, en die opgewondenheid oor die naderende Kersfees begin groei. Maar  dit is ’n vreemde vreugde; ’n vreugde te midde van, en ten spyte van, die drama, die spanning, die seer en die afgematheid van die alledaagse lewe.
                      
Daarom het ons vanoggend die verhaal oor die engele en die herders gelees, want dis ook ’n vreemde verhaal, so totaal anders as wat ’n mens sou verwag.

1.
Dink ’n bietjie vir jou in in wat daar gebeur het. God se Seun word gebore, en Hy wil dit bekend maak, die Seun van God is gebore. Vir wie gaan Hy dit vertel? Wie is die mense wat dit heel eerste moet hoor?

Dis nie toevallig dat dit die herders was nie. God doen nie dinge sommer net nie. Hy kies om dit heel eerste aan die herders te vertel om vir ons daarmee te sê wie is die soort mense by wie Hy tuis is, wat Hy sy vriende noem, vir wie Hy wil uitsonder as Hy die geboorte van sy Seun bekend wil maak.

Ons sal seker heelwat kan maak van die feit dat hulle eenvoudige mense was, en dat God nie beïndruk word deur glans en status en posisie en aansien nie. Dit is hoekom ons Jesus later dikwels in die geselskap van die nederiges en die uitgeworpenes van die samelewing sien. Hy het gekom vir hulle wat nie status het nie.

Maar ek dink daar lê meer in. Skaapwagters was mense wat geweet het wat dit beteken om afhanklik van God te leef. Jesus het self by geleentheid gesê: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Dis by húlle waar Hy woning maak. Dís die gees waarin ons die Kerstyd moet vier: in diepe afhanklikheid van God.

2.
Die tweede ding wat my in dié gedeelte opgeval het, is die feit dat daar soveel engele betrokke was by die aankondiging.

 Ek stel my voor God het die engele bymekaargeroep en gevra wie wil saam met Gabriël gaan om die boodskap van sy Seun se geboorte te gaan aankondig. En die engele het almal hand opgesteek. Hulle wou almal by wees, deel wees van hierdie grootse gebeurtenis.

Toe ek dit lees, het ek net weer besef hoe geneig ons is om die evangelie te verskraal tot ’n boodskap vir onsself. Ja, natuurlik is dit ’n boodskap vir ons elkeen persoonlik. Natuurlik het Jesus gekom om jou te red, en my. Natuurlik gaan dit om die mense in wie Hy ’n welbehae het. Maar dit gaan nié net om ons nie.

God se skepping is baie meer as net ons, en hier sien ons so ’n ietsie daarvan. As Jesus gebore word, is dit nie net iets waaroor die mense kan bly wees nie. Dis ook ’n gebeurtenis waaroor die engele bly is. Hulle is óók geraak deur die stukkendheid van die wêreld. Hulle sien óók uit na die verlossing, wanneer God finaal die wêreld vir Hom terugwen. Dis nie net ons wat ly onder die sondeval nie. Die ganse geskape werklikheid ly daaronder.


Paulus skryf so ’n ietsie daarvan in Romeine 8 waar hy sê die hele skepping sug saam met ons in verwagting op die openbaarmaking van die heerlikheid van God. Die hele skepping! Ons is in hierdie dae baie bewus daarvan hoe die natuur al meer ly onder die mens se vergrype. Lukas herinner ons daaraan dat die engele ook geraak word.

Onthou, Christus is nie net ons Verlosser nie. Hy is die Eerste van die hele skepping, en dit sluit die engele in. Gaan lees gerus Paulus se pragtige loflied op die heerlikheid van die Seun in Kol 1:15-20.

Dis die ander ding wat ek dink ons hier moet raaksien: die betekenis van Jesus se koms na die wêreld is baie wyer as ons eie ou klein wêreldjie. Dit het betekenis vir die ganse skepping. Die Bybel wil ons visie op God hiermee so ’n bietjie wyer rek. Hoe sê Joh 3:16? So lief het God die wêreld gehad....

3.
Daar is ’n derde saak wat hierdie gedeelte wat ons nou gelees het, vir ons uitlig. Hierdie gedeelte praat oor die vreugde en verwondering onder die skaapwagters; vers 20 sê hulle het teruggegaan van die stal af terwyl hulle God loof en prys. En Lukas herinner ons aan die opgewondenheid in die hemel; dat die vreugde baie wyer is as wat ons kan verstaan. En as ons nie iewers in hierdie Kerstyd hierdie oorstelpende vreugde in God beleef nie, sal dit baie sleg wees.

Maar dis nie die enigste reaksie wat pas by gelowiges nie. Maria wys vir ons nog ’n weg. Sy het stilweg hierdie dinge in haar hart bewaar en dikwels daaroor nagedink (vers 19). Kerstyd gaan nie net oor vreugde en vrolikheid nie. Kersfees gaan ook oor stil word, nadink, bid. Want net as ons Kersfees só ingaan, sal die vreugde van Jesus se koms na ons toe langer hou as die Kersversierings in ons huise.

Dis mos wat Psalm 1 ons leer oor ’n vrugbare lewe voor God, nie waar nie? Hy sê die mense wat soos bome is wat langs waterstrome geplant is en vrugte dra op die regte tyd, is die mense wat vreugde vind in die woord van die Here en dit dag en nag oordink (Ps 1:2). Soos Maria.


Lukas wil ons met hierdie verhaal daaraan herinner dat God nie soos ons is nie. Hy word nie beïndruk deur status of geld of posisie nie. ’n Eenvoudige herder is vir Hom ook belangrik. Mense wat in afhanklikheid van Hom leef. Jý is vir Hom belangrik.
Ons moet ook raaksien dat Jesus se geboorte in Betlehem baie groter betekenis het as wat ons besef. Daarom strek die vreugde van sy geboorte tot in die hemel self.

Kom dan, kom ons volg Maria se voorbeeld. Kom ons gebruik hierdie tyd van afskaling van ons programme om meer tyd te maak om ons in God te verbly en na te dink oor sy goedheid oor ons.
POSTED BY Steven Sass on 06:15 under
17 November 2013 Patensie

Psalm 118:22-29

Die gawe van vreugde

Die afgelope week het ek  tydens ‘n paar huisbesoeke, het dit my opgeval dat een saak vlak in die harte van baie mense lê: die behoefte aan vreugde...
Ons lidmate, en ook baie ander mense, vra deesdae een vraag al hoe meer: hoe kan ‘n mens, in tye soos hierdie, in omstandighede soos ons deesdae beleef, nog vreugdevol leef. Dit is eintlik nie moontlik nie. Vir baie voel dit net envoudig nie moontlik nie.
Maar die behoefte is duidelik daar.

 Anders sou mense nie hierdie behoefte, op een of ander manier, opgehaal het nie. Mense wil vreugde ervaar, hulle wil blye mense wees, hulle wil hulle lewens sinvol ervaar.
Oor die behoefte om bly te wil wees, om vreugde te wil ervaar, moet ek nou een opmerking maak. Dit is nie maar net ‘n selfsugtige behoefte van mense nie. Nee. Ons is nie in hierdie behoefte besig met ‘n opsionele ekstra in die lewe nie. Inteendeel. Om vreugdevol te leef, is ‘n opdrag van God.
Dit sê Filippense 4:4 baie duidelik: ‘Wees bly’. Asook Psalm 118:24: ‘ dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees!’.
Dit is miskien te sterk gestel, maar ek glo dat ons geskape is om, naas baie ander dinge, gelukkig te wees. En as ons vreugde in die lewe misloop, loop ons daarom een belangrike rede vir ons bestaan mis. Want vreugde, leer God ons, is in ‘n sekere mate een van die grootste geheime van die lewe.

Hoekom, is ons egter baie min kere blye mense? Wat is die probleem? Ons sou seker baie redes kan noem. Maar miskien is die belangrikste rede vir ons gebrek aan vreugde dat ons so dikwels juis nie die dinge doen waarvoor ons geskape (en gered!) is nie. Dit is soos iemand een keer gesê het: ons sluit onsself in ‘n donker hok in die middel van ‘n donker kamer toe, en dan kla ons dat God ons daar hou. In kort: ons weier eintlik om die vreugde van elke dag, van elke dag wat God vir ons geskape het, te ervaar.
Maar kom ons vra eers, voor ons aangaan: as ons van vreugde praat, die vreugde waartoe God ons ‘n opdrag gee, waarvan praat ons? Die vreugde waartoe God ons opdrag gee, is nie oppervlakkige of gewone plesier nie. Gewone plesier is iets wat ons tydelik bly kan maak, kan maak dat ons tydelik van ons sorge en kommer kan vergeet, maar as die soort plesier verby is, is die kommer en sorge maar weer daar.
Die vreugde en blydskap waartoe God ons opdrag gee, is egter nie ‘n vreugde wat ons vir onsself kan skep nie. Ons kan dit net ontvang. As gawe uit God se hand. Vreugde wat ons nie maar net in staat om tydelik van ons kommer en sorge te vergeet nie, maar juis ons kommer, probleme en sorge, elke dag, in elke omstandigheid, blye mense te kan wees.
Ware vreugde, is dankbaarheid. Dankbaarheid vir die feit dat ek vandag, in hierdie dag wat die Here vir my gegee het, nog te kan leef, al is alles in hierdie dag nie reg nie. Want die lewe is mos maar so: ons lewens is hoofsaaklik werk en worsteling. Die meeste van ons bring die meeste van ons tyd deur, deur te wonder, te tas, te sukkel, soms te kruip en soms weer te hardloop, en dit alles teen die getik van die horlosie.
Hoe ervaar ‘n mens vreugde in sulke omstandighede? Wanneer ‘n mens besef: my lewe is ‘n geskenk uit die hand van God. Dit is goed dat ek lewe. Maar selfs meer: my lewe, ek, is ‘n gawe aan hierdie wêreld, en van my vra God nie om net self vreugde te ervaar nie, maar ook om die bron van ander se vreugde te wees. Juis omdat hierdie dag, elke dag, deur God aan my gegee is, en omdat, sê Filippense 4:5, in hierdie dag God naby aan my is.
Maar het ons enige aanspraak op vreugde? Mense vra hierdie vraag baie gereeld. Moet ons nie meer net eerder van hierdie opdrag om bly te wees vergeet en eenvoudig maar net aanvaar dat die lewe net moeite is nie? Nee, is God se antwoord. Julle het ‘n aanspraak op vreugde, want elke dag word deur My gegee. Wees daarom en daaroor bly!
Kom ons kyk na hierdie dag, elke dag, wat God vir ons gegee het in sy eenvoudigste betekenis. Hierdie dag, is elke dag. Daardie bladsy in die dagboek of daardie blokkie op die kalender. Hierdie dag is ook nie ‘n herhaling van gister nie. Hierdie dag is nie gister toe alles nog reg was en ek ongekende sukses beleef het nie. Hierdie dag is ook nie môre nie. Nie die toekoms waarin jy miskien die gejaagdheid van die lewe sal ontkom nie, of wat jy ook al sal bereik nie.
As die Here sê ‘wees bly oor hierdie dag’, dan is dit nie gister of môre nie, dit is vandag. Wat as dag op ‘n keer gelewe moet word.
Hoekom moet ons dit so letterlik verstaan? Omdat vandag die lewe — die ware lewe — is wat God moontlik gemaak het deur te sterf en op te staan en so die God te word wat elke dag by ons is. Wat beteken dat elke nuwe dag nie maar net dag is nie, maar die begin van ‘n nuwe skepping, ‘n nuwe toekoms, met die belofte van hoop wat daarmee saamkom. Die hoop dat môre beter sal wees.
Maar kom ons neem dit nog een stap verder. Wanneer Psalm 118:24 sê dat God hierdie dag gemaak het en dat ons die voorreg het om op hierdie dag te lewe, dan het God nie meer net nog ‘n dag gemaak nie, maar ook aan ons die lewe in nog ‘n dag gegee. Daarom, nie alleen ‘n dag wat aan Hom behoort nie, maar ook lewe wat aan Hom behoort. Lewe waarin ons die vreugde kan ervaar hoe God versorg, troos en help. ‘n Dag waarin ons die vreugde kan ervaar om God by ons te kan hê, en daarom te kan lag en te kan huil, te kniel en te kan bid.
Want ons lewe nog. In ‘n dag wat aan God behoort, terwyl ons in hierdie dag aan God behoort. Nog ‘n dag waarin ons nie alleen is nie, maar ‘n dag waarin die Here naby is. Daarom kan ons vreugde ervaar. Kan ons bly wees.
Want al kan alles in hierdie dag hoe verkeerd wees: God is by ons. Ons is nie alleen nie. En God gee nie alleen elke dag aan ons nie, Hy onderhou dit ook. En daarom kan ons bly wees. Moet ons bly wees. Want in hierdie dag leef ons dan waarvoor ons geskape is: om in God se teenwoordigheid, as God se kinders, onder God se versorging te kan lewe.
Tog, beleef baie mense hulle dae nie so nie. Miskien ons ook nie. Al stem ons saam met alles wat ons vanoggend tot dusver gesê het. Hoekom nie. Ek verwys net na drie moontlike redes.
Sommige mense oordeel dat hulle dit nie verdien om vreugde te kan ervaar nie. Hulle is te sleg daarvoor. En bo alles, vreugde val nie maar net in ‘n mens se skoot nie. Daarom soek hulle daarna. Werk hulle daarvoor. Span hulle hulleself daarvoor met oorgawe in. Maar dit bly hulle ontwyk. Hoekom?
Omdat al die inspanning om vreugde te vind, juis die vreugde uit die lewe neem. Hulle span hulleself so in dat hulle vergeet dat elke dag uit die hand van God kom om te geniet en te beleef.
‘n Tweede rede hoekom sommige mense so vreugdeloos lewe is die illusie dat hulle die verantwoordelikheid dra vir al die ellendes in die wêreld. Dit is ons skuld dat alles so sleg en verkeerd is. Daarom moet ons iets aan alles doen.
God vra dit nie. God vra om te doen wat ons kan. Geniet elke dag, vind vreugde in die lewe as gawe en bring vreugde in ander se lewe. En dit waaraan ons niks kon doen nie, dit is so omdat ons nie anders kon nie.
‘n Derde rede vir ‘n gebrek aan vreugde is ongeloof. Ons maak van niks iets, en van iets rampe wat ons glo vir ons lê en wag. En in plaas daarvan om te glo dat God van ons rampe niks sal maak nie, maak ons van niks rampe. So steel ons ons eie vreugde, en voor ons sien, is ons lewens een stuk paniek.
Ek sluit af. Ware vreugde is nie plesierigheid nie. Dit kan nie self geskep of selfs gevind word nie. Dit is ‘n gawe uit die hand van God. Dit is dankbaarheid vir die gawe van elke dag, en die gawe van lewe in daardie dag.
Dit is om bly te wees dat God nog ‘n lewensdag, spesiaal vir my, aan my gegee het. Dit is om te weet dat in elke dag God naby aan my is. Dit is om te weet dat vreugde nooit sonder pyn en hartseer is nie. Want hierdie dinge is soms deel van elke dag.
Ware vreugde is ook om vir ander ‘n vreugde te wees. Om, soos God naby aan ons is, vir ander naby te wees. Om te doen wat ons hand vind om te doen. En in die aand tevrede te wees met wat ek vandag met my lewe gemaak het. En in die vertroue te gaan slaap dat môre nog beter sal wees.
Ware vreugde is die leef van die lewe, saam met God. Dit is nie om vreugde te gaan soek iewers waar alles in my lewe, volgens my, in plek sal wees nie. ‘n Geloof dat dit moontlik is, steel ons vreugde.
Wat wel moontlik is om elke dag, as gawe van God, uit God se hand, en soos God se hand teenoor ander te gaan lewe. Dan vind ons vreugde in ons bestaan. Dan vind ons vreugde in die wete: ek lewe saam met God
POSTED BY Steven Sass on 05:36 under
Esegiël 37:1-14; Handelinge 2:37

Woorde wat lewe gee 


In Psalm 77 bid Asaf dat die Here hom sal help. Maar dan antwoord die Here nie. En hoe harder Asaf bid, hoe stiller bly God. Totdat Asaf besluit dat hy God liewer maar moet afskryf. Want God wil nie meer help nie, dalk, sê Asaf, kan God nie meer nie.
Ook ons, kom soms in hierdie situasie. Dinge gebeure met ons, goed kom ons oor, probleme of probleempies stap oor ons lewenspad, ons drome word nie bewaarheid nie, wat ons gehoop het gaan met ons in ons lewens gebeur gebeur toe nie so nie, daar kom angs oor ons oor ‘n bepaalde situasie, noem maar op. Almal sake wat maak dat ons by ‘n punt in die lewe kom waar ons voel, soos Asaf, dat God weg is.
Of dalk, ervaar ons God afwesig in ons lewe as gevolg van sonde wat ons gedoen het. Dit is ook moontlik. Waar ons so verwerp in onsself voel dat ons nie meer kans sien vir die lewe nie. Ons almal, ken daardie doodsheid wat soms oor ‘n mens sak, ‘n doodsheid wat ‘n gevoel van nutteloosheid en totale moedeloosheid oor ‘n mens laat kom.
In Esegiël 37 vind ons vir Esegiël in presies dieselfde situasie. Behalwe dat die volk in ballingskap was (dit wil sê, weg van hulle land, hulle tempel en baie van hulle mense), is al wat hulle gehoor het die oordele van God. Lees gerus maar Esegiël so van hoofstuk 12 af deur. Die profete is soos jakkalse, daarom gaan Ek gaan hulle straf, los julle afgode, julle gaan sterf, vuur gaan julle verteer, Jerusalem sal soos ‘n klein boompie platgevee word, die wat sondig gaan sterf, ellende wag op my volk, Ek gaan optree teen die profete. Net oordele. Dit is al wat hulle hoor.
Alles was soos die dood. Daar was niks meer om voor te lewe nie. So het die volk gevoel. Maar ook die profeet Esegiël. Ook hy was maar goed moedeloos. Wat meer is, deur die krag van die Here, lees ons, kom Esegiël in ‘n laagte vol doodsbeendere aan. En wat sien hy? Presies wat hy voel. Baie bene wat droog is, ‘n hele laagte vol. Presies soos sy hart vol dood is. Dus: wat hy voel, is nou maar net wat hy sien. Alles is vir hom en die volk dood, alles is verby.
Maar dan gebeur daar iets. Terwyl Esegiël so tussen die bene rondloop, kom God na hom toe met ‘n vraag. Dink jy, Esegiël, dat daar weer lewe in hierdie bene kan kom? Esegiël se antwoord, broers en susters, dat net die Here weet, beteken eintlik: nee wat Here, daar is nie ‘n kans nie. Menslik gesproke is dit nie moontlik nie. Hoe kan ‘n klomp dooie droë bene weer begin lewe? Maar u sal weet, Here. Maar weet, ek dink nie so nie.
Wat dan gebeur, moes Esegiël seker tot skaamte gebring het. Gaan jy Esegiël, sê die Here, en sê vir hierdie bene: lewe weer. En wat gebeur? Met die hoor van die woord van die profeet beweeg die bene na mekaar toe, word dit met senings oorgetrek, en kom daar ‘n vel oor. En daar lê almal toe, kan ons sê.
Toe kom die Here weer na Esegiël, sien ons, en sê vir hom: sê vir die Gees om in hierdie mense in te gaan. En toe Esegiël dit doen, gaan die Gees in almal in, en hulle staan regop.
Wat, het hier gebeur? Ons kan dit alles eintlik baie eenvoudig en kort saamvat: die volk was dood. Hulle het gevoel God is weg. Daar is nie weer kans tot lewe nie. Toe kom God en gebruik ‘n mens, sy profeet om twee dinge te doen. Sy woord te verkondig dat daar lewe in God is, en God te bid om sy Gees weer uit te stort. Met twee gevolge: God se volk het weer begin lewe, en, baie belangrik, almal het besef dat die Here God is. Dat Hy wel in beheer is, dat Hy lewe wil en kan gee.
Kom ons sê dit nog meer eenvoudig: God gee lewe deur sy Woord en sy Gees. Daar waar sy woord verkondig word, en waar sy Gees hierdie woord op mense se harte laat val, daar kom lewe. So eenvoudig werk God. Baie kerke maak vreeslik baie van die gebeure rondom Pinksterdag soos ons dit in Handelinge 2 raaklees.
Wat het eintlik daar gebeur, as ons dit in sy eenvoudigste boodskap wil raaklees? Soos belowe, het God se Gees uitgestort. Onder leiding van hierdie Gees, soos die geval met Esegiël, verkondig Petrus dat Jesus gesterf het, opgestaan het, opgevaar het, dat Hy lewe, en ons wat dit glo, ook sal lewe. En wat gebeur? Deur die Gees word hierdie woord deur meer as 3000 gehoor, wat tot bekering kom en God se kinders word.
Waar nie lewe was nie, was nou lewe. Hoekom? Omdat iemand, die Woord verkondig het, en God deur sy Gees hierdie Woord op vrugbare grond laat val het. So eenvoudig,dat ons nie meer dink dat dit moontlik is dat God nuwe lewe kan gee nie.
Want ons koppe werk anders. Ons is moderne mense. Ons dink in terme van prosesse. In terme van oorsake en gevolge. Dinge moet vir ons redelik en logies wees. En as ons kan sien wat aan die gebeur is, nog beter. Want dan kan ons dit selfs beskryf, en dalk nog beter verklaar.
God, werk nie so nie. Soveel te meer werk die Gees ook nie so nie. Johannes 3 sê juis die Gees is soos die wind, hy waai wanneer en waar Hy wil. Ons kan Sy werking nie sien nie. Maar beteken dit,omdat ons die werking van die Gees nie kan sien nie, dat die Gees nie werk nie, nie nuut kan maak nie?
Soos Esegiël gedink het. Nee wat Here, hierdie klomp ou dooie en droë bene? Daar is nie ‘n kans nie. En wat gebeur toe? Esegiël moes erken dat die Here God is. Wat meer is, hy moes erken dat deur sy woorde, in opdrag van God, onder leiding van die Gees, lewe gegee het.
Besef ons,dat ons woorde in ons dra wat die lewe kan gee aan ander? En al dink ons dit is nie moontlik nie, is dit so. Hoekom? Want wanneer die Gees in ons lewe, lewe die Woord van God ook in ons. Wat meer is, dit is nie uit eie krag of insig wat ons hierdie Woord moet verkondig nie. Dit is nie op eie stoom nie. Want ook die krag wat ons nodig het om deur ons woorde en dade die woorde en dade van God te word, kom van die Gees.
Ons moet dit net met woord en daad gaan verkondig. Al dink ons dat dit geen effek sal hê nie. Esegiël het vir die Here gesê: nee wat Here, hier kan nie weer lewe in hierdie doodsbeendere kom nie. Maar toe hy gaan doen wat die Here gevra het, het daar lewe gekom. Want, sê vers 14, die Here het dit gesê, die opdrag gegee, en dit deur Esegiël gedoen.
Met Pinkster het die Gees oor mense gekom. Hoekom? Sodat ons in staat sal wees om te gaan verkondig en te gaan leef, en so nuwe lewe te wek.
Kom ons bid, en sê dankie dat God ons so wil gebruik. Kom ons bid dat ons sal raaksien dat dit is hoe God werk. En kom ons bid sat God ons so sal gebruik, dat lewe geskep word waar ons beweeg en werk.
 Esegiël het verkondig, en dooie bene het lewend geword. Petrus het verkondig, en drie duisend mense het tot bekering gekom. Wie verstaan dat God vandag nog sy kinders so gebruik, sal lewe gee.
POSTED BY Steven Sass on 05:40 under
Lukas 18:1-8
Gebed is ‘n uitdrukking van ons geloof
Ek onthou nog goed, toe ek ’n eerstejaar-student in die koshuis op Stellenbosch was, hoe diep beïndruk ek was met een van die seniors in die koshuis. Hy was ’n finalejaar teologie-student, en hy het my vertel hoe hy Saterdae in die berge ingaan dan daar vir ure lank bid. Ek het gewens ek kon ook so bid, vir ure aanmekaar. Ek het gedink dit is die toppunt van vroomheid en geestelike volwassenheid.

Ek het ’n idee baie mense is op een of ander stadium van hulle lewe daar waar ek was: ongemaklik en onseker oor hulle gebedslewe. En dan, as iets in jou lewe gebeur wat jy nie wou gehad het nie, dink jy: ja, dis omdat ek nie genoeg bid nie.

Nou, as ’n mens hierdie gelykenis wat Jesus vir ons vertel, so vinnig lees, versterk dit natuurlik hierdie persepsie. As jy net lank en ernstig genoeg bid, sál God jou hoor. So dink ons. So lyk dit ook uit die gelykenis, want Jesus sê tog self: ons moet altyd aanhou bid sonder om moedeloos te word. Dit kan dan lyk asof ’n mens sal kry wat jy vra as jy net lank genoeg aanhou.

Maar as ons só oor gebed dink, is ek bevrees, is ons nie vreeslik Christelik nie. Die heidene reken ook so. Dink maar aan die verhaal van Elia en die Baälpriesters op die berg Karmel (1 Kon 18). Daar het hulle die hele dag aangehou om tot hulle god Baäl te roep en te dans en later selfs hulleself stukkend te sny, menende dat hulle só Baäl kon oorreed om na hulle te luister. Dit het natuurlik nie gehelp nie, want Baäl is ’n afgod, nie die lewende God nie. Maar dis hoe hulle gedink het: as jy net lank en hard genoeg bid, sal Baäl se hart sag word en hoor.

Is dít hoe jy oor gebed dink? Dat jy God moet oorreed met jou lang en aanhoudende gebede? Dat jy sy hart moet sag maak? Of dalk só moet irriteer met jou aanhoudende gekerm dat Hy maar later ingee? Dalk omdat jy iewers, diep in jou hart, dink God is bietjie soos die hardvogtige regter in die gelykenis? Dat Hy nie sommer ingee nie, en daarom eers bietjie aangepor moet word voordat Hy antwoord? Dat Hy so besig is met ander sake dat jy hard en lank moet kerm voordat dit sy aandag vang? Dis mos wat Elia vir die Baälpriesters gesê het: dalk slaap Baäl. Hulle moet harder roep om hom wakker te maak.

Miskien dink jy: maar dis tog wat hier staan! Jesus moedig ons aan om soos die vrou in die gelykenis aan te hou totdat ons God moeg maak vir ons gesanik. Maar dis nie hoe ons die gelykenis moet verstaan nie. ’n Gelykenis probeer meestal net een punt tuisbring, nie ’n klomp nie, en as ons elke aspek van die gelykenis probeer toepas, gaan ons by die verkeerde gevolgtrekking uitkom. Die gelykenis vra dat ons na die vrou moet kyk, nie na die regter nie. Trouens, Jesus sluit af deur te sê God is juis nié soos die regter nie. Hy is totaal anders. Hy is nie onregverdig en hardvogtig nie. Hy wag nie om oorreed te word nie. Hy sal help, en gou ook (vers 8). Want Hy is ons hemelse Vader wat ons liefhet, wat met sagte, vriendelike oë na ons kyk, wat met gespitste ore na ons gebede luister.

Nee, die punt van die gelykenis is nie die regter nie, maar die vrou en haar volharding om te stry vir wat reg is. Dís waar ons moet aanhaak in die gelykenis. Dis ook hoe Lukas dit verstaan. Hy skryf in vers 1 dat Jesus die gelykenis vertel het om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.

Daar is mense wat sê hulle sê ’n ding net een keer vir God, en dan los hulle dit by Hom, want Hy weet die beste. Maar as ek hierdie gelykenis reg verstaan, sê Jesus ons kan ’n saak maar weer en weer voor God se troon bring. Ek dink altyd só daaroor: ek bid oor ’n saak tot ek ’n antwoord kry, of dit nou ja of nee of later is. Maar ek mag aanhou, nee, ek móét aanhou bid tot ek ’n antwoord kry. Dis wat Jesus hier vir ons sê. Want sien, ons lewe mos in ’n verhouding met God, en net soos ons in ander verhoudings vrymoedigheid neem om iets meer as een keer te vra, kan ons dit in ons verhouding met God ook doen. Partykeer is dit juis in die herhaalde vra dat God ons hart beter leer verstaan, en beter weet hoe ons dink en waar ons passie lê.

Uiteindelik is dít geloof: om in ’n oop, eerlike verhouding, en in afhanklikheid, voor God te leef. ’n Mens wat net een keer bid en dit dan los, doen dit dalk nie omdat hy so ’n diep geloof het nie, maar omdat hy nie regtig oortuig is God sal antwoord nie. Daarom hou hy op voordat hy ’n antwoord kry. Daarom sê Jesus in vers 8: Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind? Want gebed het alles met geloof te make. Gebed is direk verbind aan die innigheid waarmee jy aan God verbonde leef. Sonder hierdie innige verhouding, sonder geloof, droog gebed sommer gou-gou op.

Dis hoe ons hierdie laaste opmerking van Jesus moet verstaan. Hy sê ons dink die fout met gebedsverhoring lê dalk by God, omdat Hy soos die hardvogtige regter is. Maar Jesus sê nee, die fout lê nie by God nie, Hy hoor en verhoor ons gebede. Die fout lê eerder by ons wat nie meer glo nie, en daarom nie genoeg moeite met ons gebede voor God doen nie.

Ek dink nie Jesus wil in dié gelykenis vir ons sê ons moet soos daardie teologie-student ure lank elke dag of week tot Hom bid nie. As dit is hoe jy voor God leef, is dit reg en wonderlik. Maar ons is nie almal dieselfde nie. Dit gaan nie oor hoe lank jy op ’n keer kan bid nie. Dit gaan eerder oor ’n daaglikse oop verhouding met God, om ’n lewe waarin jy jou hart voor God met vrymoedigheid en met vreugde oopmaak, elke dag, omdat Hy jou Here en jou God is.

Mag ek en jy só voor God leef!


Amen.
POSTED BY Steven Sass on 05:42 under
13 Oktober 2013 Patensie
Dankbaarheidsfees 

Psalm 100
Iemand het iewers gesê: “die moeilikste rekenkunde om baas te raak – is dit wat jy nodig het om jou seëninge mee te tel.”
Vandag is dankbaarheidsfees. Vandag gaan oor dankbaarheid teenoor God vir al ons seeninge die afgelope jaar....en veral ten opsigte van ons besaar gister!

 Maar daar is seker baie van ons wat wonder wat ons nou eintlik het om oor dankbaar te wees. Elke dag hoor ons van al die korrupsie en geweld in ons land. Ons hoor van leiers wat onbetroubaar en sonder intergriteit is. Ons hoor van mense wat hulle werk verloor. Ons hoor van sosiale probleme en mense wat siek is.Tussen ons het ons ‘n hele klomp vriende en familie lede vanjaar verloor. Dis makliker om bitter, kwaad en moedeloos te wees as om dankbaar te wees.

Maar daar is ook ‘n ander perspektief. Iemand het gesê: “ons kry nie altyd alles wat ons van God vra nie, maar ons het altyd ‘n rede om vir Hom dankie te sê.” 
Psalm 100 gee vir ons 3 redes om dankbaar te wees. 

Ons moet dankbaar wees omdat God goed is.
Ons almal het mos goed waarvoor ons kan dankie sê. Goed wat ons elke dag van God ontvang en goed wat in ons lewens gebeur. Maar wat die Psalm vir ons leer is dat ons nie net moet dankbaar wees vir dit wat God vir ons gee nie, ons moet dankbaar wees vir wie Hy is. En Hy is goed. Dis wie Hy is, dis sy karakter, Hy kan nie anders as om goed te wees nie. Wees dankbaar omdat God goed is.

Ons moet dankbaar wees, want aan sy liefde is daar geen einde nie.
Ons leef in ‘n wêreld waar liefde ‘n baie goedkoop woord geword het. Liefde het begin gaan oor plesier, dit het voorwaardelik en selfsugtig geword, dit het begin gaan oor liefde die gevoel en nie meer liefde die commitment nie. Mense soek vining groener weivelde omdat hulle nie meer die harde werk van liefde wil doen nie.
Soos die storie van die engelse predikant wat besig was om iemand te trou. Hy kom toe by die belofte: "DO YOU TAKE THIS WOMAN TO BE YOUR WEDDED WIFE, FOR BETTER OR WORSE, FOR RICHER, FOR POORER, IN SICKNESS OR IN ... op daai punt toe stop die bruid die predikant en sê vir hom:
“asseblief ds. Sal jy ophou, jy is besig om hom af te skrik.”  


Teenoor dit sê die psalmdigter: “dank Hom, prys Hom, want aan sy liefde is daar gee einde nie.”
Richard Halverson som dit baie mooi op: “There is nothing you can do to make God love you more! There is nothing you can do to make God love you less! His love is unconditional, impartial, everlasting, infinite and perfect.”  


Ons moet dankbaar wees want sy trou duur vir ewig.
Ons moet dankbaar wees, want God bly getrou, selfs al is ons soms ontrou. Want dis wie Hy is. Hy kan nie anders nie. Wanneer die oppe-en-affe van die lewe ons tref, wanneer ons deur moeilike tye gaan, dan kan ons daar deurkom. Nie omdat ons geloof so sterk is nie, maar omdat God getrou is. 
Ps 100 leer ons om dankbaar te wees omdat God goed is, omdat sy liefde nooit ophou nie en omdat Hy vir altyd getrou sal wees.



Daar is ‘n legende van ‘n man wat eendag by ‘n skuur gekom waar Satan die sade gestoor het wat hy in mense se harte saai. Hy stap so deur die skuur en hy sien dat hoop wat die grootste is, is die saad van moedeloosheid. Hy vra toe vir Satan daaroor. En satan antwoord: dis sade wat omtrent enige plek groei, behalwe een plek. “En waar is dit?” vra die man. En Satan antwoord: “in die hart van ‘n dankbare mens.”  
Gebed 
POSTED BY Steven Sass on 06:04 under
6 Oktober 2013 Patensie
Wees diensbaar
Matteus 12:15-21, 20:28
Wie wil jy wees: Die baas of die werker? Die hoof of die dienaar? Die belangriskte amptenaar of ‘n ondergeskikte onderdaan? Ek dink die keuse is maklik. Kom ons wees eerlik, ons sal almal seker kies om die baas, die hoof of die belangrikste amptenaar te wees. Ons is mos van kleins af geleer om te strewe na die hoogste sport. Ons stel ons daarop om te presteer, om bo uit te kom is mos vir ons belangrik. So maak ons ook ons kinders groot. Prestasie en posisie word belangriker. Dit is seker nie baie verkeerd nie. Of is dit?

Dit was in die geskiedenis nog altyd so gewees. Blaai ons deur die geskiedenisboeke, dan val dit ons op hoe die strewe na mag en status ook baie negatiewe gevolge vir baie gehad het. Ons sien dit vandag nog en baie van ons het dit al beleef...mag maak mense korrup. Mag lei tot nog groter magsbeheptheid. Hoë posisies lei soms, en soms te dikwels, daartoe  dat mense hulle verbeel hulle is die kat se snorbaard. Hulle is so belangrik dat hulle op ander neersien. Dit maak dat mense op mekaar trap en ander vertrap in  die poging om bo uit te kom. Dit lei tot ongelukkigheid en verwoes selfs ander se lewens.

Matteus vertel vir ons dat Jesus uit die belangrikste geslag van Israel gekom het. Hy is uit die geslag van Dawid, uit die mees aristokratiese stam. Bowendien was Hy meer as net uit die geslag van Dawid, Hy was die Messias. Nog meer, Hy was die Seun van God, hoe hoog en belangrik was Hy nie. Geen mens kan met Hom vergelyk word nie. Voor Hom was daar niemand wat Sy gelyke was nie, en na Hom was daar al niemand  wat gelyk is aan Hom nie. Hy staan uit bo alle mense. Sluit die Evangelie nie af met die stelling dat alle mag in die hemel en aarde aan Hom gegee is nie? Oor Sy posisie en Sy mag kan daar nie twyfel wees nie. Sy wysheid ken geen grense nie, en Sy almag ken geen grense nie. Daarvan is Sy wonderwerke bewyse. Sonder vrees en teenspraak kan gesê word dat Jesus sonder gelyke is. Hoog bo alle ander mense verhewe. Dit is mos ook die boodskap wat nie net in die Evangelie van Matteus voorop staan nie, maar dit is ook die sentrale boodskap van al die Evangelies. Dit weerklink ook in al die ander boeke van die Nuwe Testament. Maar nou die keersy van die munt. Matteus teken Jesus ook vir ons as die Dienaar.

Hy haal Jesus aan: “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar ook om te dien en Sy lewe te gee as losprys vir baie mense” (20:28). Hoe radikaal anders is dit nie. Hy wat bo alle mense verhewe is, word ‘n Dienaar. Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar Hy het gekom om te dien. Dit sê Jesus as antwoord op die versoek van die seuns van Sebedeus wat Jesus versoek het om aan hulle ereplekke te gee in sy ryk. Hulle het Hom gevolg en getrou gedien, maar wil darem seker maak dat as Jesus Sy ryk daarstel, hulle elkeen ‘n ereplek sal kry. Hulle wou darem vergoed word vir hulle getroue diens, en hulle wou darem  belangrike plekke inneem. Dis dan dat Jesus hulle skerp aanspreek en sê dat dinge in Sy ryk anders werk. Die belangrikste persone in die koninkryk van die hemel is diegene wat bereid is om die minste te wees. Die dienaars is die belanrikste. Dit gaan nie in Sy ryk om mag en posisie nie, maar om nederigheid en diensbaarheid.

Jesus sê, nie net dit nie, Hy wys hulle op Sy lewe en Sy werk. Hy was nie magsbehep nie, en het nie gestreef na ‘n hoë posisies nie, Hy wou nie regeer nie, en Hy wou nie baasspeel nie, Nee, Hy het gekom om te dien en diensbaar te wees....Maar aan wie was Hy so diensbaar? Hy het Hom diensbaar gestel aan die uitgeworpenes en verwerptes. Aan diegene op wie die gemeenskap neergesien het. Hy het die wat in nood was, gehelp. Die melaatses, die siekes, die uitgeskoptes, die slawe, tollenaars en sondaars. Die heel laagstes op die sosiale orde. Dis hulle wat  Hy dien. Hy dien hulle ook nie van ‘n afstand of uit die hoogte nie, maar Hy staan langs hulle, raak aan hulle, vat aan hulle en trek hulle na Hom toe.

In Matteus 12:15-21 sê Matteus dan ook dat Jesus gekom het om te dien en so die erfporsie van Jesaja te vervul. Hy is die geliefde oor wie God Hom verheug. Hy is die Een op wie die Gees van die Here gekom het. Hy het die wil van God bekend gemaak, Hy het nie getwis en geskreeu nie, Hy het nie die geknakte riet gebreek nie, Hy het nie die dowwe lamppit uitgedoof nie...maar Hy het die liefde en die genade betoon  aan diegene in nood. Hy het in liefde uitgereik na almal wat Hom nodig gehad het. As ons hierdie woorde lees, dan besef ons weer dat die vervulling in Jesus veel groter was as die verwagting wat gekoester is. Jesus het gekom om by elkeen in nood te wees. Hy reik uit na almal wat geval het. Hy rig die geboë hoofde op. Hy gee die vermoeide nuwe krag. Hy maak die stukkendes heel.

Jesus gaan verder en sê dat Hy gekom het om te dien en Sy lewe te gee as losprys vir baie. Hy loop nie net die ekstra myl nie, maar Hy is bereid om alles te gee, ja Sy lewe te gee. Dit het Hy mos ook gedoen. Hy maak nie net praatjies nie, maar voeg die daad by die woord. Aan die kruis van Golgota sterf Hy. Nie omdat Hy die dood so verdien het nie, maar sodat Hy die lewe vir ons elkeen kon verdien. Hy lê Sy lewe vrywillig af as losprys vir baie; ook vir ons. Hy betaal die uiterste prys. Hy dien tot die dood.

Ons het ons lewe te danke aan die feit dat Hy bereid was om te kom en te dien en Sy lewe as losprys vir ons te gee. Hiervoor kan ons maar net in aanbidding voor Hom kniel. Ons verdien dit nie. As Hy dit nie gedoen het nie, sou ons nie verlos kon word en kinders van God kon wees nie. Dan was ons verlore en het ons geen hoop op die ewige lewe gehad nie.

Hoe tragies is dit nie dat die gesindheid van Jesus so min in Sy kinders se lewens gesien word nie. Dit ten spyte van die feit dat Paulus ons ook oproep as hy pleit dat die gesindheid wat in Jesus was, ook in ons moet wees. Hy wat in die gestalte van God was, wat self God was, het dit nie ontsien om mens te word en te dien en Sy lewe as losprys te gee nie. Hoekom is ons dan so vreeslik onwillig om te dien? Hoekom slaan die strewe na mag en status, na ereplekke en posissies nog so sterk by on suit?

Kyk ons na die Kerk, dan sien ons so min wat bereid is om te dien. Om in stilte te dien waar niemand dit sien nie. Om betrokke te raak by hulp aan hulle wat hulp nodig het. Ons raak soms betrokke vir so ‘n kort tydjie...Ek sal eenkeer help, maar wil myself nie verbind nie, en sien darem nie kans om regtig permanenet betrokke te raak nie. Ek sal help, maar wil nie regtig daal tot op die vlak van die mense waarvoor die hulp is nie.... Diensbaarheid na die voorbeeld van Jesus beteken om volledig en oor ‘n lang tyd betrokke te raak en diensbaar te bly.


Die vraag kom dan: Is ek bereid om te dien? Of wil ek net gedien word? Vergeefs sal ons bely dat Jesus ons Verlosser is as Sy gesindheid nie konkrete gestalte in ons vind nie. Jesus het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe as losprys vir baie af te lê. Kan daar van elkeen van ons gesê word dat ons nie gedien wil word nie, maar dat ons dien en bereid is om alles op te offer vir ander?
POSTED BY Steven Sass on 06:16 under
22 September 2013 Patensie
Mede-skepper, besing die Skepper!
Psalm 8
Psalm 8 is een van die mooiste lofliedere in die boek Psalms. Hierdie Psalm is moontlik deur ‘n herder geskryf wat dikwels snags met sy skape in die veld deurgebring het. Dit kon ook net wees dat dit geskryf is deur iemand wat gereeld na die sterrehemel gekyk het of by geleentheid diep aangegryp is deur die grootsheid van die die sterrehemel. Feit bly dat hier nie een of ander grootse ingrype van God in die geskeidenis van die volk of die lewe van die digter is wat dié Psalm ten grondslag lê nie.

Wat wel aanleiding tot die loflied gegee het, was ‘n geloofskyk na iets wat elke dag en nag net eenvoudig daar is. Iets wat ons ook elke aand of nag kan sien en ervaar. Gebeur dit? Of gaan dit by ons verby en het ons te afgestomp geword om te sien? Of is ons so besig dat ons nie tyd maak om ‘n bietjie rondom ons te kyk nie?

As die digter opkyk na die sterre en onder die besef van die grootsheid en die skoonheid van die sterrehemel kom, dan roep hy uit: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde. Hy spreek die Here aan op Sy verbondsnaam (in Hebreeus :Jahweh) en voeg daaraan toe die Hebreeuse woord Adonai: ‘n title vir die koning of heerser. Here, ons Meester.

As mense baie lief is vir mekaar, dan spreek hulle mekaar soms op die naam aan en voeg daaraan ‘n troeteltitel by. Ons sê die naam en my liefling/skat/skapie ensovoorts. Hierdie aanspreekvorm dui op so ‘n intieme liefdesverhouding tot die Here. Hiermee alleen wil die digter dan ook al sê dat hy in ‘n noue verhouding tot die Here staan en dat die Here vir hom baie spesiaal is. Dit is asof hy alreeds hiermee sê dat iets spesiaals en besonders gaan volg. Hy gaan dan voort deur te sê dat die Here se naam wonderbaar is oor die hele aarde. Dit is asof die sterre die naam van die Here uitspel – Sy handtekening is wat oor die hele aarde skyn en sigbaar is. Kyk net op na die sterre en sien hoe groot God se naam oor die hele aarde geskryf is.

Verder sê die digter: “Hoe glansryk is alles wat U aan die hemelruim geplaas het”. Die hemelruim is so anders as die donker en stowwerige aarde. Daar skitter alles. Vir die digter is dit so omdat dit so na aan die woning van God is. Hy gee die glans. Sy heiligheid word weerkaats in die sterrehemel. Dit is dan juis wat die woord heilig beteken: skitterend en stralend, soos die son en die sterre.

Hiermee beklemtoon die digter dat die hemelruim die lof van God verkondig. ‘n Nederlandse digter het by geleentheid gesê dat alles die lof van God verkondig – as die siel maar net wil luister. Psalm 8 wil sê: kyk net na die helemruim en sien hoe alles die lof van God verkondig; Sy Naam is wonderbaar; Sy werke is stralend en glansryk.

Die gevolg hiervan is dat kinders en suigelinge die magtige werk van die Here besing. Selfs die in die gemeenskap wat nog nie tot die volle kennis en insig gekom het nie, kan beleef dat die Here wonderbaar is en Sy werke glansryk.  Hulle prys Hom. Die teenstanders van die Here word tot swye gedwing as hulle Sy magtige werke sien. Wie kan anders as om stil te word by die aanskoue van die magtige skeppingswerke van God? En ons? Besing ons die magtige werk van God? Staan ons in verwondering stil voor Hom?

By die aanskoue van die magtige werk van die Here, vra die digter dan: “wat is die mens dat U aan hom dink en na hom omsien?”. Die aanskoue van die hemelruim en die besef van die grootsheid van die werke van die Here, bring hom tot die diepe besef van sy eie nietigheid. Hoe klein is die mens nie. Ja, die mens is nie eers ‘n spikkeltjie nie. Die mens is eintlik weglaatbaar klein. Nietig en verganklik. So sonder skynsel dof, so amper niks nie. Boonop stel die mens God voortdurend teleur deur sy woorde en dade. Ons is so onbelangrik, so nietig, van so min belang... die besef van die van die grootsheid van God se skepping maak ons diep nederig en stroop ons van alle grootheidswaan. Miskien is dit nodig dat ons almal van tyd tot tyd na die sterrehemel sal kyk en sal besef dat ons nietig en klein is. Dat ons sal stil word en gestroop word van al ons grootheidswaan sodat ons soos die suigelinge en kinders die lof van die Here kan besing.

Maar wat het God met die mens gedoen? God het vir die mens ‘n spesifieke plek gegee in die skepping; ‘n bepaalde status en ‘n duidelike taak. Dit word in die volgende verse omskryf. Die Here het die mens, wat so klein en nietig is: net minders as ‘n hemelse wesen gemaak; met aansien en eer gekroon en hom laat heers oor die werk van die Here.

Die mens beklee ‘n besondere plek in die skepping – net minder as ‘n hemelse wese is die mens. Dit herhinner ons aan Genesis 1 waar gesê word dat die mens na die beeld van God geskep is. Die mens is die skaduwee van God. Die een wat se weerkaatsing hier op aarde is. Onlosmaaklik aan God verbonde. “n Hoë en verhewe posisie beklee die mens. Ons is Koningskinders; God se kinders. As sodanig is die mens met aansien en eer beklee. Ons het nie aansien en eer uit onsself nie; ons verwerf dit nie deur al ons belangrike werk nie. Ons kry dit van die Here af, Hy gee dit aan Sy kinders. Die aansien en eer van die kind van die Here, die almagtige Skepper. Daarom is die mens nie minderwaarig nie. Mag die gelowige nie dink dat hy/sy niks beteken en onbelangrik is nie. In die oë van die Here is die mens baie belangrik, want Hy beklee die mens met aansien en eer. Dit beteken dat ons moet leef ,waardig die aansien en eer wat God aan ons gee. Ons moet ons nie met die semels meng nie. Ons moet nie ons aansien en eer misken en vertrap nie. Elke mens is vir God belangrik, ja so belangrik dat Hy Sy Seun gestuur het om in ons plek te sterf sodat ons deur Hom aangeneem kan word as Sy kinders. Die gelowige kan hieraan vashou, al probeer die wêreld jou afbreek, al het jou selfbeeld ‘n lelike knou gekry, en al wil jy twyfel oor jou vermoë, dan moet jy hieraan vashou: God het aan ons aansien en eer gegee.

Verder sê die Psalm wat die taak van die mens is, naamlik om te heers oor “die werke van U hande”. Die mens het ‘n heersertaak. God het alles aan die mens onderwerp en die mens moet heers oor die skepping. Dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op die mens. Ons mag nie God se skepping verniel of vernietig nie. Die mens is in ‘n besonderse posisie geplaas en mag nie misbruik maak van hierdie posisie nie. Die koning het in die Ou-testamentiese tyd ‘n definitiewe omskrywing van sy heerserstaak gehad. Dit het veral drie dinge behels: hy moes sy onderdane bekerm teen gevare van buite, hy moes omsien na die swakkes in die gemeenskap wat nie na hulle self kon kyk nie en moes sorg dat reg en geregtigheid geskied en die een nie benadeel word deur ‘n ander nie. Dit is wat dit beteken om te heers. Let op, dit gaan nie om ‘n ereposisie en om gedien en geëer te word nie, maar eerder om te dien. Het Jesus nie ook hierin die volmaakte  voorbeeld gestel nie? As ons oor God se skepping moet heers, dan beteken dit dat ons dit moet beskerm, moet omsien na die belange van die swakkes en die wat nie na hulleself kan omsien nie en dat ons moet sorg dra dat reg en geregtigheid geskied.


Die Psalm eindig dan soos dit begin het: die sirkel word voltooi met die bring van die lof en die eer aan die Here: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is U Naam oor die hele aarde!” Nadat die Psalmdigter die grootsheid van die skepping van die Here beleef het, Sy lof besing het, in verwondering besef het wat die plek, posisie en taak van die mens is, besef hy weer eens dat dit alles deur die genade van die Here is. Daarom kan hy nie anders as om weer eens die lof aan die Here te bring nie. So moet die bring van die lof en eer aan die Here ook ons hele lewe omvat en omsluit. 
POSTED BY Steven Sass on 06:29 under
15 September 2013 Patensie
Die Here soek die mens op, al loop alles skeef
Genesis 3
Een skemermiddag, so vertel Genesis 3 vir ons, het die Here God by die mens kom kuier. Die manier waarop dit vertel word, skep die indruk dat dit nie ‘n uitsonderlike kuier was nie. Dit wil klink asof dit die gebruik van die Here was om elke middag as die werk tot ‘n einde gekom het, by die mens te kom kuier. Dit gebeur so laatmiddag. Dis mos daardie besonderse tyd van die dag. Die tyd as die gejaag tot stilstand gekom het. As die sweet van die harde werk afgewas word...as die mens met ‘n lekker koppie koffie kan sit en ontspan. As man en vrou die verloop van die dag met mekaar kan deel. Sommer net saam sit en alles van jou laat afrol.

Die manier waarop dit hier vertel word, laat mens dink aan ‘n pa wat teen skemertyd by sy kinders gaan kuier. Hy wil hoor hoe dit gaan en wil die mooi tyd van die dag saam met hulle geniet en deel in hulle vreugdes.

Helaas, die middag toe die Here God weer kom kuier, het ales skeef geloop. Eintlik het dinge die hele dag gelol en dit het hoe later hoe kwater geword. Die dag was ‘n totale mislukking. Hoe sou hulle nie wens dat die dag anders verloop het nie! Die Here het nie robotte gemaak nie, maar mense. Dit beteken dat hulle ‘n vrye keuse gehad het en kon kies wat hulle wou doen.

Daardie dag het die vrou die slang raakgeloop. Sy leen haar ore uit vir die slang en laat toe dat hy haar ‘n gat in die kop praat. Al sê sy aan die begin vir hom dat hy die woorde van die Here verdraai, begin sy vinnig twyfel en wonder of hy nie dalk reg kan wees nie. Die Here het die vrugte van die bome in die middel van die tuin vir Homself uitgehou, maar sy het nie daaraan gedink dat dit dalk kan wees dat as hulle van die vrugte eet, hulle soos God sal word nie. Hoe lekker sou dit nie wees nie. Dan hoef hulle nie meer namens die Here en tot Sy eer te werk nie, maar kan hulle in Sy plek gaan staan en gelyk wees aan Hom. Dan is hulle nie meer kleimensies nie, nie nietig en verganklik nie, maar groot en ewig. Dit kan net lekker wees. Die gedagte was so aantreklik dat sy van die vrugte gevat en geëet het. Boonop gee sy dan vir haar man daarvan. Hy dink nie eers tweemaal nie, maar eet toe sommer ook.

Kom ons wees eerlik: Is dit nie ook soos baie van ons dae verloop nie? Ons leen ons ore uit. Ons wil so graag groot wees: soos God wees. Ons luister nie aldag na wat die Here sê, en dis dan dat ons presies soos die vrou en haar man optree. Hoe dikwels het dit nie al die afgelope tyd gebeur nie?

Helaas, alles het toe verkeerd uitgewerk en skeef geloop. In plaas dat hulle soos God word, besef hulle skielik dat hulle kaal is. Hulle is skaam vir mekaar. Van skurwe en krapperige vyeblare maak hulle gou iets om hulle mee toe te maak. Daar kom skeiding tussen hulle. As hulle teen die laatmiddag hoor dat die Here God op pad is, kruip hulle weg. Hulle is skaam en bang. Die heerlike oop verhouding met die Here is tot niet.

Die Here God weet dadelik dat iets skeef geloop het. Maar Hy draai nie om en loop weg nie. Hy vererg Hom nie so vir die mens dat Hy daar en dan besluit dat Hy nooit weer iets met die mens te doen wil hê nie. Nee, Hy soek die mens op.Hy roep na die mens: “Waar is jy?” Reeds op die eerste bladsye van die Bybel kom die liefde van die Here sterk na vore. Hy soek na die mens. Hoe maklik kon die Here die mens nie afgeskryf het nie. Hoe maklik kon Hy ons ook nie afgeskryf het nie. Hy is immers nie afhanklik van ons nie. Ons is nie so belangrik dat Hy nie sonder ons kan klaarkom nie. Hy soek ons op ten spyte van die feit dat ons vir Hom wegkruip. Hy roep ons nogsteeds: “Waar is jy?”

Die mens besef dat hy nie vir die Here kan wegkruip nie. Die Here sal hom in elkgeval die een of ander tyd kry. Hy sê dan maar waar hy is en waarom hy daar wegkruip. “Ek het U gehoor wandel in die tuin en het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip”. Hy kom met die hele sak patats uit. Miskien moet ons hierdie voorbeeld meer navolg. Ons kan tog nie vir die Here wegkruip nie. Ons sal een of ander tyd tog vir Hom moet sê waar ons is en hoekom ons daar is.

Die Here tree in gesprek met die mens. Uit die wyse waarop die Here begin praat, is dit duidelik dat Hy dadelik by die kern uitkom. Die mens antwoord deur iemand anders te blameer. Dis die Here se skuld, dis die vrou se skuld...die vrou wat U vir my gegee het, het my verlei...sy het vir my van die vrugte gegee. Dit is so, maar dit neem nie die feit weg dat hy geëet het nie, dit was sy eie keuse. Nee om ander te blameer help niks nie. Ons kan nie die skuld op ander pak en boonop die Here verwyt nie. Die Here wend Hom dan tot die vrou. Dieselfde gesindheid vind ons weer by haar. Sy blameer die slang...en ook dit werk nie. In plaas van ‘n aangename kuier, het ons dan ‘n hartseer storie van verwyte en vrees.

Wat gebeur dan? Gaan die liefdevolle Vader alles oorsien? Gaan Hy sê: ag hoe jammer, miskien het hulle nie van beter geweet nie.Kom Ek sien dit maar oor. Nee, dis glad nie wat ons hier gelees het nie. Die Here straf elkeen wat nie geluister het na wat Hy gesê het nie. As hulle Sy huurooreenkoms verbreek, moet hulle die gevolge dra. Elkeen kry ‘n besondere straf. Dis nie ‘n algemene straf vir almal nie, maar eerder ‘n spesifieke straf vir elkeen. Die slang sal op sy pens seil, wie hom teëkom, sal hom doodmaak. Die vrou sal met pyn en lyding kinders in die lewe bring. Die man sal swoeg en sweet om ‘n bestaan te maak en aan die lewe te bly. Die heerlike onbesorgde lewe is verby. Van nou af sal die lewe ‘n stryd wees. Omdat die mens die huurooreenkoms met die Here verbreek het, word hulle uit die tuin verdryf en moet hulle buite die tuin vir hulle ‘n plekkie onder die son soek waar hulle kan probeer om liggaam en siel aanmekaar te hou.

Nou moet ons ook nie soos die man en sy vrou waarvan ons in Gensis 3 lees, reageer en die blaam op ander plaas nie. Hoe maklik doen ons dit nie? Hoe dikwels hoor mens nie: as Adam en Eva nie gesondig het nie, het ons nog in die paradys gewoon. Dis hulle skuld dat ons so swaarkry. Dis Eva se skuld dat vroue met smart kinders in die lewe bring en die mans oor hulle heers. Dis Adam se skuld dat daar dorings en distels is en ons so bitter swaar kry en sukkel om aan die lewe te bly. Dis alles hulle skuld. As hulle maar net geluister het. Dit is egter nie wat hierdie vertelling wil bereik nie. Dit word mos juis hier afgewys. Dit werk nie. Nee, ons is die mens en sy vrou. Want het ons opgelet: die man en vrou het nog nie hier name nie. Hier word net van die man of mens en sy vrou gepraat. Ons is daardie man, daardie vrou. Dis mos ons wat nie luister nie, ons volg ons eie kop. Ons doen wat teen die wil en bevel van die Here is. Ons kruip weg, ons is bang. As die Here na ons toe kom, dan kruip ons weg uit vrees. Daarom is die straf ons eie straf. Ons persoonlike straf. Ons verdiende loon. Dis eers as ons dit besef en bely, dat daar hoop is.

Genadiglik eindig die Bybel mos nie hier nie. Dit vertel hiervandaan oor en oor vir ons hoe die Here na die mens kom en die mens soek. Hoe die Here die verhouding met Hom weer wil herstel. Dit vertel mos vir ons dat God Sy Seun gestuur het om ons vry te maak. Hy wil in Jesus ons aanneem as Sy kinders. Jesus wil ons volkome vry maak. Hy wil dat alles nuut word, dat ons weer in die tuin van die Here God sal bly. Dat Hy weer elke dag by ons sal wees en by ons sal kom kuier om al die mooi dinge met ons te deel; en ons die ewige lewe met Hom kan deel.

Die Bybel roep ons elke keer weer op om te vra of ons na die voorbeeld van die Here, ons Hemelse Vader leef. Ons bely immers dat ons kinders van God is en die Bybel leer ons dat ons die skaduwees van die Here moet wees. Daarom behoort ons immers na Sy voorbeeld te leef.

Waartoe word ons dan in hierdie verhaal opgeroep? Natuurlik dat ons nie soos die man en die vrou moet leef nie, maar juis dat ons na die voorbeeld van God moet leef. Soos Hy na die man en die vrou in die tuin gekom het, moet ons ook na ander uitreik. Ons moet tyd maak om by ons kinders en ouers uit te kom. Ons moet ons familie en vriende opsoek, ons moet ‘n draai maak by ons bure. Ons moet selfs na vreemdelinge toe uitreik. Ons is so besig en so selfsugtig dat ons so bitter min tyd het om ander op te soek. Nee, dis nie die voorbeeld wat ons Vader hier stel nie...


Die Here het nie omgedraai en Sy rug gedraai op die mense wat Hom teleurgestel en seergemaak het nie. Toe hulle vir Hom weggekruip het, het Hy na hulle geroep totdat Hy hulle gekry het. As daar een ding is wat ons baie maklik doen, is dit om die rug op ander te draai. Ons sê so maklik: hulle het my in die steek gelaat, of hulle het my tena gekom, hulle wil my nie sien nie en daarom loop ek weg en wil niks met hulle te doen hê nie...Maar dis nie wat die vader hier gedoen het nie!
POSTED BY Steven Sass on 06:08 under
9 September 2013 Patensie
Galasiërs 1:6-10 

‘n Dienaar van Christus 


Die tema van vanoggend se preek  is: ’n Dienaar van Christus, en dan wil ek hierdie tema verder belig met ‘n gedeelte uit Efesiërs 2 vers 3: “Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het ...”
Ek wil hê dat julle julleself vir ’n oomblik moet indink as passasiers op een van daardie groot plesierbote. Kom ons sê dat julle op reis is na een of ander bestemming - dit maak nou nie saak waarheen nie - terwyl julle die rustigheid op die oop see geniet. En net soos die flieks baiekeer met die kamera op sekere tonele in fokus, kom ons fokus onsself in op ‘n sekere toneel: Jy sien die kaptein van die skip wat in sy kajuit staan ... hy loop na ’n interkomstelsel toe, en maak die volgende aankondiging: “Aandag alle passasiers... dit is die kaptein hier. Ek wil julle almal uitnooi om nou alles waarmee julle besig is, net so te los, en dan te gaan doen waarvoor julle lus het. Julle hoef nie meer vir enigiets te betaal nie, alles is op die huis (skip). As daar enige persoon is wat lus is om kroeg toe te gaan, gaan drink net soveel as wat jy kan. As daar enige mans is wat wil gebruik maak van ons lieflike ontklee dames, wel, hulle is tot julle beskikking...verniet. En as daar dalk dames is wat ons Chippendales van naderby wil ontdek, hulle is ook tot julle beskikking... teen geen koste nie....”

Kom, sê nou vir my, wat sal julle eerste reaksie wees? Ek is seker dat die meeste mense onmiddellik van hierdie kanse gebruik sal maak ... ja, baie sal nie eers twee keer nadink oor die uitnodiging nie. Ja, hierdie is darem werklik ’n gawe kaptein. Dis mos nou nie my skuld nie, dis op sy boekie so hoekom nie?

Wel, kom ons neem so bietjie die kamera se fokus verder as net die kaptein in sy kajuit. Soos die kameralens groter word, sien jy ander kajuite wat in fokus kom; jy sien mense wat rondskarrel ... elkeen haastig om uit te kom by dít wat hulle die graagste wil doen; uiteindelik sien jy die hele skip soos hy vaar op die groot oseaan. Dan word die kameralens weer in gefokus op die agterkant van die skip ... op die naam ... TITANIC. As jy hierdie naam hoor, dan het jy net een gedagte: Hierdie skip gaan mos sink ... baie mense gaan verdrink! Ja, nou verstaan jy ook hoekom die kaptein so ’n lekker aankondiging gemaak het ... hy is nie gepla oor die passasiers nie ... hy weet die skip is stadig maar seker besig om te sink, maar hy skep ’n valse beeld van sorgeloosheid. Wat die passasiers egter nie weet nie, is dat die skip binne die volgende paar ure op die bodem van die see gaan lê ... met party van hulle nog daar binne-in gevange.

Dit is presies wat ons teksvers vir ons wil vertel. Hierdie verslawing aan die wêreld, of ons sondige begeertes, klink by die eerste oogopslag baie aanloklik en lekker. Sjoe, jy kan doen net wat jy wil ... jy kan kry wat jy begeer. Ja, dit is mos nou hemel op aarde! Máár wat jy egter nie besef nie, is dat hierdie wêreldse plesierrit binnekort in ’n absolute nagmerrie rit gaan verander ... wat jy nie besef nie, is dat hierdie skip sinkende is. Ja, die koninkryk van die duisternis is ’n sinkende skip, en jy is deel van daardie klomp passasiers wat gaan verdrink in hulle sondes.

Gemeente, omdat ons prediking vandag handel oor die feit dat ons niks anders is nie as dienaars van Christus, wil ek hê ons moet luister na wat Paulus vir ons sê. Sommer die eerste woorde waarmee ons vanoggend begroet is in die Skriflesing, was Paulus se verbasing oor hoe maklik ons afvallig word en ’n ander evangelie aanhang. En dan hoor ons hoe hy amper woedend uitskreeu: “Daar is geen ander evangelie nie” (v 7). Wat bedoel hy daarmee? En watter ander evangelie kan ons tog moontlik aanhang?
Om te verstaan wat hy hiermee bedoel wil ek begin met die einde. Paulus sê in vers 10 die volgende: “As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.” Met hierdie woorde wil Paulus eintlik vir ons sê dat ’n gelowige nie optree in jou eie naam nie, maar in opdrag van die Naam van God. Die oorspronklike Griekse woord, wat ons oor vertaal het met “dienaar”, is eintlik slaaf. Met ander woorde, Paulus sê letterlik hier dat hy ’n slaaf van Christus is! En ons glo mos in die kerk dat ons base het, mense wat bo ons aangestel word ... mense soos die dominee, die ouderlinge en die diakens. Nou lees ons dat een van die grootste kerkleiers homself ’n slaaf noem.
Deesdae ken ons nie meer so iets soos ’n slaaf nie. Die naaste wat ons dalk aan so ’n begrip kan kom, is ons bediendes. Gewoonlik werk hulle vaste ure en boonop kry hulle nog ’n salaris ook. Destyds, in die eerste eeu na Christus, was slawe nog ’n realiteit. ’n Slaaf het geen vryheid of regte gehad nie ... daar was nie iets soos ’n vakbond of unie waaraan hy kon behoort om sy regte, as mens, te beskerm nie. Slawe en slavinne is gewoonlik ook op vendusies verkoop teen die hoogste bieër. Die nuwe eienaar het dan hierdie slawe gemerk soos wat ons vandag beeste brandmerk. Omdat hierdie slawe geen regte gehad het nie, kon hulle mishandel en selfs doodgemaak word as hulle nie doen wat hulle base vir hulle beveel het nie. Daarom moes die slawe maar eenvoudig doen wat vir hom of haar gesê is, ja, hulle het nie ’n keuse gehad nie. Soms het hulle darem goeie behandeling gekry as hulle doen wat hulle base sê.
Maar, geliefdes van ons Here Jesus, die Bybel sê iets heeltemal anders. Die beste base, sê die Bybel, is juis dié wat soos slawe is. Wat word daarmee bedoel? Wel, die persoon wat baas wil wees, moet eers weet hoe dit moet voel om slaaf te wees, jy moet ook weet hoe dit voel om agter in die ry te staan sodat jy uiteindelik voor kan kom. ’n Leier is iemand wat help waar hy kan, dit is iemand wat nie omgee om self te werk as dit moet nie, dit is iemand wat praat van “ons” en nie van “ek” of “my” nie. Ja, ’n leier is nie iemand wat die heeltyd sy eie beuel blaas en bevele uitskree nie, dit is nie iemand wat die heeltyd bedien en “aanbid” wil word nie. Om in hierdie boos en donker wêreld te oorleef, het die kerk vandag sulke mense nodig. Christene wat eerder dienaars wil wees, as base.

Dit is nie net Paulus wat homself ’n dienaar, ’n slaaf, van die Here noem nie. Nee, selfs Jesus se eie ma, Maria, het haarself ’n slavin van die Here genoem in Lukas 1 vers 38: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Nou kan die vraag by julle opkom: Hoe kan ek vandag ’n slaaf, ’n dienaar, van Jesus Christus wees? Wat maak van ons slawe? Wel, kom ek probeer dit so verduidelik: die Here Jesus het ons op die markpleine van hierdie sondige wêreld gesien. Hy het die goeie kwaliteite in ons raakgesien en besluit om ons aan te koop. Ja, Hy het vir ons betaal, nie met geld nie, maar met sy lewe, met sy eie bloed. Ons is slawe van Jesus Christus, Hy is ons Here, of te wel “Baas”. Ons behoort aan niemand anders meer nie! Ons is nou die Here se eiendom (vgl Joh 1:11). Voorheen het ons dalk behoort aan ’n ander “baas”. Die Bybel noem hierdie vorige eienaar die sonde, die wêreld of Satan. Maar nou het ons van eienaars verwissel ... ons behoort nie meer aan die sonde nie, maar aan Jesus Christus. Luister maar wat staan in Romeine 6 vers 18: “Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat Sy wil doen.” Paulus het dit baie goed besef toe hy die volgende woorde geskryf het: “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons leef, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons dan sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: Om Here te wees van die dooies en die lewendes” (Rom 14:7-9). Daarom moet ons deeglik besef dat ons nie base in die kerk het nie; nie een van ons is die ander se baas of slaaf nie. In die kerk van Jesus Christus is daar net een Baas, en dit is die Here Jesus sélf. Die res van ons is almal slawe en slavinne, broers en susters, medeslawe van Jesus Christus.
En as jy jouself ’n dienaar van Christus noem, dan móét jy doen wat jou Eienaar van jou vra. En wat is dit wat jou Eienaar, Jesus Christus van jou vra? Net een ding: Wees gehoorsaam! Daarom is dit onontbeerlik dat jy soms op tone sal trap, dat jy soms mense - ja, selfs familie - sal moet aanspreek oor hulle leefwyse. Boonop sal jy jouself ook gereeld moet aanspreek oor jou eie leefwyse! Jy moet nie huiwer om reguit te praat nie.
Dit is eintlik baie voordelig en lekker om ’n slaaf van die Here Jesus te wees ... dit is wonderlik om te weet dat jy ’n Eienaar het wat vir jou lief is, en wat jou nie net sien as ’n besitting nie. As dit nie vir jou ’n lekker gedagte is nie, of as jy nie wil hê dat die Here Jesus jou Eienaar moet wees nie, moet jy besef dat jy iemand of iets anders se slaaf gaan wees. Dit is waarom ek vir julle die voorbeeld van die plesierboot gegee het. Ons teksvers sê mos baie duidelik: “Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het ...”
Ja, dink maar wat vang mense alles in die laaste oomblikke van die koninkryk van die duisternis aan. Dit is ’n gejaag en gewerskaf agter wêreldse dinge aan, agter plesier en genot aan, agter aardse skatte aan. Ja, hulle het behoorlik, soos Paulus sê, “afvallig geraak en ’n ander evangelie aangeneem.” Maar daar is géén ander evangelie nie ... julle moet dit baie deeglik besef! Jy kan nie naas die Here Jesus ook nog vir Mammon dien nie, jy kan nie twee base dien nie, want jy sal “óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep ...” (vgl Mat 6:24). En soos ek vir julle gesê het, is Paulus woedend as hy in hierdie brief met die Galasiërs raas. Nie omdat sy eie eer aangetas of sy persoonlike gesag deur die mense ontken word nie, maar omdat hulle met hulle leefwyse God se eer aantas en die enigste ware evangelie verdraai vir hulle eie selfsugtige begeertes, net omdat die kaptein van die wêreldse skip gesê het hulle mag. En daaroor is Paulus baie reguit as hy sê dat die een wat ’n ander evangelie verkondig as die ware evangelie, deur God se vloek getref sal word. Dit maak nie saak of dit jou ouers, jou man of vrou, jou vriende of wie ook al is nie, ja, Paulus sê selfs hý is ook nie daarvan uitgesluit nie, want iemand wat ’n ander evangelie as die ware een verkondig, soek moeilikheid ... jy speel op AVBOB se stoepe!
Gemeente, dit is waarom ons as Christene, as slawe van Jesus Christus, nie kan toelaat dat die kerk ’n ander evangelie verkondig as die ware een nie. En die ware evangelie is dat nét Jesus Christus vir ons die verlossing kan bring, en dat jy aan Sy kerk móét behoort om deel te hê aan sy genade en liefde. As jy dit nie glo nie, as jy dit nie uitleef en verkondig nie, is jy besig om ’n ander evangelie te verkondig. Dan is jy besig om eerder in die mense se goeie boekies te wil bly. Dit is jou plig as slaaf van die Here Jesus om aan Hom gehoorsaam te wees, en daarom moet jy ook vir ander medeslawe aanspoor tot gehoorsaamheid. Jy móét hulle aanspreek oor hulle swak kerkbywoning, die swak uitleef van hulle Christenskap en hulle swak en flou verskonings. Daarom, as jy besig is om met jou kinders, jou ouers of jou familie te praat oor hulle kerklewe, vra jouself af, soos Paulus: “Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom?” (v 10). Wat gaan jou antwoord hierop wees?
Wel, kom ek probeer dit vir julle uit die Bybel beantwoord. Ons lees in 2 Korintiërs 12 vers 14 die volgende: “Dit is nou die derde keer dat ek gereed is om na julle toe te kom, en ek sal nie vir julle ‘n las wees nie: Ek soek nie julle geld nie, maar vir julle ...” Kyk, die mense op daardie plesierboot besef nie dat hulle besig is om onder te gaan nie, hulle besef nie dat hierdie lekker plesierrit in ’n nagmerrie rit gaan verander nie. Ja, die kaptein van die plesierrit van die wêreld, die eienaar van die koninkryk van die duisternis, ja, Satan, is besig om hulle onder ’n valse voorwendsel te verlei. Luister wat staan in 2 Timoteus 4 verse 4b tot 5: “Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.”

Ek weet dat dit nie maklik is nie. Ek weet dat dit dalk vir jou probleme gaan veroorsaak tussen jou en jou familie of vriende, maar jy moet besluit wat is vir jou die belangrikste: Om in die goeie boekies van mense te bly, of om guns by God te soek? As ’n slaaf van Jesus Christus sal jy partykeer weggejaag word, sal jy dalk leë hande teruggestuur word, sal jy afgemaak word as baasspelerig of beterweterig ... ja, jy sal slae kry ter wille van jou gehoorsaamheid aan die Here Jesus Christus. Verduur maar hierdie houe omdat Jesus in jou plek gespoeg, gegésel en gekruisig is. As jy dit verdra soos ’n slaaf van jou Eienaar, Jesus, al is dit soms nie lekker nie, dan sal jy beloon word. So sal jy nuwe sin en betekenis in jou lewe kry. Jy sal besef dat die Here Jesus se slawe waardigheid het. Ja, hierdie laastes, die slawe van die Here Jesus, sal die eerstes wees in die Koninkryk van God. Maar die eerstes, die slawe van hierdie sondige wêreld, hulle sal die laastes wees op die dag as die Here Jesus weer kom. Dan sal hulle besef dat die kaptein van hierdie wêreldse plesierboot hulle onder valse voorwendsels - verniet, sonder enige betaling - dinge laat geniet het. Dan sal dit te laat wees! Die wêreldse plesierboot sal ondergaan met kaptein en al sy passasiers.
Ek hoop en vertrou dat almal van ons vandag met ’n sekere hart kan sê dat jy ’n dienaar, ’n slaaf, van Jesus Christus wil wees. En as jy dit wil wees, dan moet jy soos Paulus ook kan sê: “As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.”