POSTED BY Steven Sass on 07:38 under
31 Augustus 2014 Patensie
Ag nee!
Nehemia 5:1-13
Bedreigings van buite kan ernstig en onstellend wees, maar bedreigings van binne is egter gewoonlik baie meer skokkend. So kan korrupsie en uitbuiting deur “ander” maklik veroordeel word. Ons almal lewer maklik ernstige kritiek op sodanige optrede. Maar wanneer korrupsie en uitbuiting in eie geledere voorkom, is dit ingrypender en ontlok dit nog hewiger emosionele reaksies.

In Nehemia 4 het ons gelees van bedreigings wat van buite gekom het. Sanballat en sy handlanger Tobija het die bouwerk bedreig met hulle smalende spotpraatjies en beplande aanval. In Nehemia 5 lees ons van ‘n bedreiging wat eintlik erger of ernstiger was.

Sekere mense en hulle vrouens het ‘n ernstige klag teen hulle Judese volksgenote ingebring. Wat het die klagtes behels? Hulle kla dat hulle nie kos het nie. Party moes vanweë hongersnood hulle land, wingerde en huise verpand om kos in die hande te kry. Ander moes geld leen om aan die koning belasting te betaal. Hulle moes hulle kinders as slawe verkoop vanweë die benarde finansiële posisie waarin hulle verkeer het. Uitbuiting was aan die orde van die dag. Armes is op groot skaal uitgebuit. Die rykes het van die moeilike omstandighede gebruik gemaak om hulle persoonlike posisie te verbeter ten koste van die armes.

Ons moet onthou dat die Jode pas teruggekeer het uit die Babiloniese ballingskap. Hulle moes van voor af begin het om ‘n lewe te maak, om huise te bou, landerye en wingerde aan te lê en ‘n bestaan te maak. Sommiges het bitter min gehad en het baie swaar gekry. Toe daar nog droogte en plae kom, het hulle gevou. Hulle kon net nie voorsien in hulle eie behoeftes nie, wat nog te sê belasting betaal. Die enigste uitkoms was om hulle landerye, wingerde en huise te verpand en selfs om hulle kinders as slawe te verkoop.

Kan ons ons in hulle situasie indink? Hulle kom terug in geloof en vol hoop op ‘n wonderlike nuwe lewe in hulle vaderland wat hulle baie lank gelede as ballinge moes verlaat. Nou lê al hulle drome aan skerwe. En dit deur omstandighede buite hulle beheer en die toedoen van medevolksgenote en geloofsgenote. Hulle eie mense, die wat week vir week saam met hulle aanbid en die Here geprys het, het die finale spyker in hulle doodskis geslaan!

Geen wonder dat Nehemia hewig ontsteld was toe hy dit gehoor het nie. Ons voel seker maar almal soos hy: kwaad vir die mense wat ander uitbuit, ander se teenspoed misbruik en hulle verryk ten koste van ander. Mens doen mos nie sulke dinge nie, maar laat ons nie te vinnig oordeel nie. Dit was nie net destyds dat sulke dinge gebeur het nie, want dit gebeur mos vandag nogsteeds. Daar is vandag talle mense wat vanweë omstandighede buite hulle beheer in die knyp is, sommige het hulle werk verloor, ander moes sien dat hulle besighede vou vanweë droogte of brande of ander rampe. Daar is so baie wat swaarkry. En dis ‘n tragiese werklikheid dat baie wat swaarkry, deur ander uitgebuit word...

Nehemia was hewig ontsteld . Hy oordink die saak deeglik en tree nie sommer onnadenkend of emosioneel of impulsief op nie. Hy roep ‘n volksvergadering byeen. Dit doen hy sodat hy die saak openlik kan hanteer. Nehemia sê dan: “Ons het ons Judese volksgenote wat aan heidene verkoop was, teruggekoop vir sover dit moontlik was” (Nehemia5:8). Hy sê eers wat hy en ander gelowiges gedoen het. Daarna spreek hy die uitbuiters direk en reguit aan: “Nou verkoop julle julle volksgenote en moet ons hulle ook uiteindelik terugkoop!” (5:8). Hy draai nie doekies om nie. Moet ons nie ook meer reguit en op die man af praat en die sonde wat teen ander mense gepleeg word, uitwys nie? Die kerk behoort die onreg wat gepleeg word netso hard aan te spreek. Dit beteken ook dat elke gelowige die onreg wat teen die ander gepleeg word, sonder huiwering en sonder om doekies om te draai aan te spreek.

Soos so dikwels gebeur, bly die beskuldigdes doodstil...Nehemia kon nie ‘n woord uit hulle uitkry nie. Toe al het die mense hulle swygreg gebruik. Toe al wou mense nie sommer hulle skuld erken nie...netsoos vandag nog.

Dis dan dat Nehemia sê “Dit is nie ‘n goeie ding wat julle besig is om te doen nie. Julle moet tog eerbied vir ons God hê in julle optrede en ons vyande, die heidene, minagting vir ons laat kry nie! (5:9). Wat Nehemia hier sê is verskriklik belangrik. Julle moet eerbied vir God hê in julle optrede teenoor ander mense. Wat ons teen ander mense doen reflekteer ons verhouding met die Here. Hoe kan ons sê dat ons God liefhet as ons nie ons naaste liefhet nie? Meer nog: is dit nie wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat sover ons dit aan die geringste van ons medemens gedoen het, of nie gedoen het nie, ons dit ook aan Hom gedoen het, of nie gedoen het nie? Dit help net mooi niks om baie vroom in ‘n kerk te sit, terwyl ons ander mense uitbuit of selfs net ander in nood nie help nie maar in hulle nood die geleentheid sien om ons eie posisies te verbeter.

Nehemia stel ‘n duidelike eis: gee terug wat julle as pand gevat het en skeld hulle een persent van die geld wat hulle geskuld het, vry. Jy sien, godsdiens het praktiese implikasies. Godsdiens is nie iets waaroor mens maar net kan praat nie, maar dit is iets wat gelééf moet word, ook op materiële terrein. Jy moenie ander mense uitbuit nie, maar eerder die ekstra myl loop. Help die wat in nood is. As jy sê dat jy glo en as kind van God leef, moet jy bereid wees om op te offer om ander te help. Ja, om selfs self seer te kry om ander te help. Iemand het eenmaal gesê dat hulp wat jou nie seer maak nie, nie hulp is nie. Om ietsie af te knyp waarsonder jyself kan klaarkom, is geen gawe nie. Ware hulp is om te gee waarsonder jyself sal sukkel. Hulpverlening moet swaar aan eie lyf gevoel word.

Hoe gaan ons reageer? Die mense het na Nehemia geluister! Is ons bereid om hierdie ekstra myl te loop om ander wat in nood is, te help? Ek is nie seker of ons daartoe bereid sal wees nie...maar ons leer hier in die Bybel dat dit is wat gelowiges doen. Dra mekaar se laste en gee so uitvoering aan die Wet van God. Het God nie Sy eie Seun gestuur om ons skuld te betaal nie? Het Jesus Homself nie as offer aangebied en Sy lewe prysgegee ter wille van ons nie? As God ons so liefhet en so alles gee om ons skuld te vergewe en ons vry te spreek, behoort ons dan nie ook iets van so liefde te reflekteer in ons optrede teenoor ander nie? Behels liefde nie dat ons ook op materiële terrein bereid sal wees om mense in nood prakties by te staan en te gee sonder om terug te verwag nie?


 Behoort ons geloof nie ook sigbaar te wees in dit wat ons prakties doen vir mense in nood nie? Wat kan hiervan in ons lewens gesien word?
POSTED BY Steven Sass on 06:07 under
24 Augustus 2014 Patensie
Nehemia 4: 1-14

“Oorwin Ontmoediging”
“Die Bybel leer ons om ons bure sowel as ons vyande lief te hê”, het G.K. Chesterton gesê, “waarskynlik omdat hulle gewoonlik dieselfde mense is!” Dit was in die geval van die Jode, waar hulle die muur van Jerusalem herbou het, verseker waar...

Hoe ons teëspoed hanteer, sê meer van ons karakter as enigiets anders. Wil jy regtig weet hoe iemand is/van watter stoffasie? Hou hom dop wanneer dinge skeep loop; wanneer hy onder druk verkeer; wanneer hy moet wag; wanneer iemand hom afsny in die verkeer; wanneer hy moeg en seer is. Sommige sal treur en ander sal floreer. Sommige sal leer uit die situasie terwyl ander boosaardig kwaad sal word. Ons kan sommer baie by Nehemia leer oor hoe om ontmoediging te verwerk.

Bronne van Ontmoediging:

1)    Bespotting: v 1-3
Sanballat is regtig kwaad. Onthou net dat hy ‘n goewerneur van ‘n nabygeleë gebied was wat die potensiaal van ‘n sterk Jerusalem gevrees het, wat ‘n bedreiging vir sy gebied ingehou het. Nou is dit duidelik dat hierdie Jode ernstig was oor die projek, en dit het vir Sanballat ontstel. Hy neem gevolglik sy toevlug tot die wapen van ‘n verloorder: bespotting!

Thomas Carlyle het gesê, “Bespotting is die taal van die duiwel”, inderdaad, die Bybel dui aan dat Satan ‘n leuenaar en ‘n beskuldiger van broeders is. Dit is sy besigheid om te bedrieg en te ontmoedig, en, moenie ‘n fout maak nie: terwyl Sanballat en Tobija sy mondstukke was, was Satan die een agter die hele besigheid! En soms werk bespotting! Dit kan baie effektief wees. Dieselfde mense wat braaf sal staan wanneer daar op hulle geskiet word, vekrummel wanneer mense vir hulle lag. En dit is wat daardie vyande van God doen, en wel binne hoorafstand vanaf die werkers aan die muur:
Dan maak Tobija nog in vers 3 ‘n grap wat impliseer dat selfs die ligte sprong van ‘n jakkals die muur sal laat omval. Ek is seker sy boesemvriende het lekker gelag, maar my advies aan Tobija sou wees om nie nou al sy werk op te gee vir ‘n werk as komediant nie!

Kom ons kyk na ander bronne van ontmoediging:

2)    Dreigemente: 7-8
Hierdie boelies was gedetermineerd om verder te gaan as net spot; hulle gebruik magsvertoon. Ons is nie seker of dit net ‘n magspel was en of hulle regtig planne gemaak het om aan te val nie. Wat ons egter wel weet, is dat daar reg rondom Jerusalem vyande was.

3)    Uitbranding: 10-12
Soos wat ons bewus raak van al die opwinding in hoofstuk 2, en van almal se verbintenis tot harde werk in hoofstuk 3, sien ons die realitiet van die situasie in hoofstuk 4. Een van die dinge wat waar is in enige werk wat ons vir God onderneem, is dat ons naïef is as ons dink dat alles altyd voor die wind sal gaan. Die bediening is soms harde werk met baie frustrasie. God se mense kan maklik uitgebrand raak as ons toelaat dat die natuurlike brooshede van ons menslike natuur sterker na vore kom as ons daaglikse vertroue op God.
Let op die dinge wat ons sien gebeur in verse 10-12:

A.           Uitputting
“Die draers se kragte gee in.” Weereens is dit ‘n realiteit. Romeine 15:4-5 is hier vir ons ‘n riglyn. As hierdie projek vir ons opgeteken was asof hulle dit afgehandel het sonder terugslae of probleme, sou ons in die versoeking gewees het om dit as onrealisties af te maak – juis omdat ons weet dat daar met enige projek probleme opduik. Maar die Woord is geskryf vir ons gewone mense om te leer hoe om gehoorsaam aan God te leef in werklike-lewe situasies, selfs al is ons doodmoeg.
B.           Frustrasie
“Ons gaan dit nie regkry om die muur klaar te bou nie.” Ek wonder of die dinge wat hulle Sanballat hoor sê het, begin trek het om so ‘n lafhartige effek op hulle te hê, soos juis bedoel deur Satan en sy lakei. By die halfpadmerk het hulle moed begin sak. Baie van hulle het die glas gesien as half-leeg! Dit is vir ons so maklik om op die negatiewe te fokus. Dit is so maklik vir ons om op ons swakhede te fokus eerder as op God se krag! Dit is al gesê dat, in die kerk se geskiedenis, pessimisme ‘n groter struikelblok was om die werk van God te doen as ateïsme! Sou Nehemia se bouers swig onder die druk van negatiwiteit?

Die mense van Jerusalem was moeg en gefrustreerd. Wat sou nou gebeur? Sou hulle huis toe gaan en sê, ”Wel, ons het probeer – maar die werk was vir ons te groot. Ons kon dit net nie doen nie!” “Op die vlakte van aarseling verblyk die bene van talle miljoene wat, op die rand van oorwinning, gaan sit het, en al sittende, gesterf het.”

C.           Vrees
Hulle was nie net doodmoeg met ‘n groeiende twyfel in hul vermoë nie, maar wat meer is, is dat hulle angstig begin raak het. Na aanleiding van verse 11-12 het die Judeërs wat naby die vyand gewoon het, keer op keer die mense van Jerusalem teen hulle gewaarsku. Dit het hulle bang gemaak. Nie alleen kon die werkers mense in militêre uniforms met vyandige intensies sien nie, maar daar het selfs van hulle eie families na hulle in Jerusalem gekom en gesê, “Hulle gaan ons en julle aanval. Julle beter huis toe gaan om julleself en julle families te beskerm!”
Vrees is verlammend, maar vrees is ook aansteeklik! En daar was genoeg daarvan om die vordering aan die bouwerk van die muur te bedreig. ‘n Brousel van uitputting, frustrasie en vrees is genoeg om enige projek in die wiele te ry!

Reaksies op Ontmoediging:
Nehemia staan voor die grootste toets van sy leierskap; indien hy faal om beslissend, wys en effektief op te tree, mag hy dalk die titel van goewerneur behou, maar sy leierskap oor die mense sou sneuwel; die muur sou nie herbou word nie; en die glorie van God sou daaronder lei. Maar wat hy toe doen, grens aan geniale leierskap!

1)            Gebed: 4-5.9a
Dit sou op ‘n ramp afstuur as daar niks gedoen word nie, maar Nehemia, soos ons teen hierdie tyd kan verwag, begin sy reaksie op sy knieë! Hy roep God op tot vergelding! Daar is ‘n brutale eerlikheid in sy gebed, soveel so dat jy verstom staan daardeur. In die algemeen, in die lig van die kruis en ons verstaan van God se begeerte dat alle mense na hom toe moet kom, bid ons nie so nie – en ek is nie so seker dat ons verkeerd is nie. Terselfdertyd is ek nie so seker of Nehemia verkeerd was om so te bid nie; juis omdat hy gedink het dat hierdie mense God se werk teenstaan. Hulle het nie alleen die planne om die muur te herbou, teengestaan nie, maar hulle het God teengestaan, en dit het in Nehemia ‘n verontwaardiging wakker gemaak wat gewortel was in sy vurige begeerte om God te verheerlik.
Nehemia gaan dus na God met sy woede; hierdie mense probeer om God se mense in God se werk te ontmoedig en Nehemia reken dus dat dit God se probleem is! Dit is goeie raad en dit is presies wat Nehemia doen.
Hy bid weer voor hy tot aksie oorgaan in ver 9; dit is duidelik dat Nehemia die belangrike belans tussen bid en beplan verstaan. Let op die volgende twee dinge: een, Nehemia besef dat hy moet doen wat hy kan, maar dat hy God moet toelaat om te werk waar net God kan. Twee – dwarsdeur die boek is daar ‘n konstante volgorde: ons het gebid, en toe het ons ...”
2)            Volharding: 6,15
Let op die volgende belangrike verse: “die mense se hart was in die werk.” Ja, hulle is sielkundig aangeval deur meedoënlose bespotting; hulle liggame moes fisies die effek van uitputting hanteer. Vrees het speletjies met hulle gemoedere gespeel, en hulle het gestoei met die grootsheid van die taak. Maar hulle hart was in die werk! Waarvoor het jy ‘n hart? Daar is ongelukkig mense wat ‘n hart het om te kritiseer, te verdoem en te kla...
Vers 6 sê, “Die mense se hart was in die werk.” Vers 15 sê,”ons kon almal teruggaan muur toe, elkeen na sy werk toe.” Vers 21 sê:” Ons het met die werk aangegaan ... van dagbreek af tot die sterre uitgekom het.” Uitvaltyd sou normaalweg sonsondergang wees, maar hulle het tot later gewerk; hulle het ‘n begeerte gehad om die werk af te handel! Daar was ‘n dringendheid om te werk. ‘n Bekende ou Halleluja lied wat lui: ”Werk want die nag kom nader”, herinner ons aan die dringendheid van God se werk. Ons het ‘n ewigheid voor ons om te rus! ‘n Ou Engelse gesegde lui: “Only one life, ’twill soon be past; only what’s done for Christ will last!”
Het ontmoediging hulle in die gesig gestaar? Ja. Maar hulle het in vasberade volharding ‘n deel van die antwoord gevind. Hierdie tema strek dwarsdeur die boek – en die mense het daarby gehou...
Beplanning: 13, 16-20
Nehemia het die bekommernisse en vrese van die mense in ag geneem; hy het hulle nie in die ding in geboelie nie. Nehemia het deeglik beplan aan die ontplooiing van sy mense. Hiermee saam het hy sy magte so geposisioneer dat hulle sigbaar was by die mees kwesbare plekke by die muur; ‘n sisteem daargestel om die mense bymekaar te maak in geval van ‘n aanval; en die mense in ‘n mag georganiseer wat paraat was. Nehemia het vertroue ingeboesem omdat hy so gesteld was op deeglike beplanning en organisering. Dit het God behaag dat Nehemia sy tyd geneem het om dinge goed georganiseerd te doen.
3)            Positiewe Versterking: 14
“Veg” is Nehemia se tweede opdrag aan sy mense. Hy moedig hulle aan om, indien nodig, te veg vir hulle geliefdes. Hierdie is elemente van ‘n geveg waarby ons vandag betrokke is in ons kultuur, en ons as gelowiges moet waak teen kulturele oorgawe. Ek sê dat ons moet waak daarteen; ek is bevrees dat ons reeds baie prysgegee het.

4)            Paraatheid: 9b, 21-23
Die werkers was tegelykertyd gewapen met bougereedskap sowel as wapens. Spurgeon het sy tydskrif The Sword and the Trowel genoem na aanleiding van Nehemia 4 waar ons lees van “’n geveg teen sonde en arbeid vir God”. Hierdie mense was so ernstig oor hulle paraatheid dat hulle selfs nie hulle klere uitgetrek het nie. Die bouers en hulle handlangers was as individue, maar ook as maatskappy, gereed vir werk sowel as vir oorlog.

Ons kan vir ‘n lang tyd hierby stilstaan, maar ek gaan nie. Ek wil dit tog noem dat daar plek is vir balans tussen die twee belange in die bou van God se kerk. Ons moet soms aanvallend optree en bou – en terselfdertyd word ons deur God opgeroep om te verdedig. Paulus doen ‘n beroep op ons om die hele “wapenrusting van God” op te neem, waarvan die meeste vir verdediging is; om die waarheid te sê, die enigste duidelike aanvallende wapen is die Swaard van die Gees, oftewel die Woord van God! Jesus noem ons die “sout van die aarde”, en ons moet onthou dat in die ou dae was een van diete speel in die stryd teen die bose, en, nou meer as ooit tevore, kan ons ‘n positiewe verskil maak in ‘n siek samelewing....


POSTED BY Steven Sass on 20:48 under
10 Augustus 2014 Patensie
Nehemia 3
Wat die 10 poort vir jou en my beteken!
Kan dit wees dat die planne van die Here, en hoe Hy dit destyds aan Nehemia gegee het om  Jerusalem te herbou ook vir jou en my ingesluit het. Dat God eintlik toe al ook aan ons, aan jou en my gedink het! Hoe moet ’n mens dit verstaan?

Wanneer ’n mens Nehemia 3 van naderby gaan bekyk, maak jy die ontdekking dat die 10 poorte in ou-Jerusalem se mure, ’n prentjiesbeeld is van die kernmomente van die Here God se werk in elke gelowige se lewe.

 Dié poorte was nie sommer maar net gewone stadspoorte soos wat enige ander stad in daardie tyd gehad het nie. Dit was só deur die Here gegee en daarom – nadat die volk uit die ballingskap na Jerusalem teruggekeer het – moes die poorte weer herstel word soos dit voorheen was. Dit was wat Nehemia gedoen het. Maar, wanneer ons na hierdie 10 poorte gaan kyk binne die raamwerk van die hele Bybel, sien ’n mens dat dit ’n wonderlike tekening is van die manier waarop die Here in ’n gelowige se lewe werk – deur alle eeue. Die poorte vorm ’n prentebeeld van Jesus en Sy werk in ons lewens.

1. SKAAPSPOORT
Die eerste poort. Dit was die poort waardeur die offerdiere na die tempel geneem is. Let op die tempel se posisie digby die Skaapspoort. Waarom is die offerdiere na die tempel geneem? Hulle was geoffer. Waarom geoffer? Die Here het daardeur versoening bewerkstellig. Lees Lev. 16. Vergifnis en vryspraak deur plaasvervangende dood. Hebr. 9:22 – sonder bloedvergieting geen vergifnis OF TE WEL: deur bloedvergieting besliste vergifnis. Die offerdiere het gesterf in die plek van die ménse sodat die mense versoend met die Here kon lewe.

Dit is waar die Here Sy werk in ’n gelowige se lewe begin. Dit begin by die offer. Dit begin by die versoening/vryspraak wat ons in Jesus se offer ontvang. Dit begin by ons ewige redding wat op die offerkruis bewerk is. Dit begin by ’n oorplasing van die hel/dood na die hemel/lewe – deur offerbloed. Die mens wat dít persoonlik glo, IS volledig versoen met God – tot in ewigheid. Rom. 5:1

2. VISPOORT
Die poort wat ná die Skaapspoort herstel is. Die poort waardeur vis vanaf die See van Galilea gebring is. Ná die Skaapspoort, die Vispoort. Nádat ’n mens deur die geloof in die plaasvervangende offer van Jesus, vrede by God ontvang het, word jy ’n visser van mense. Matteus 4:18: “Ek sal julle vissers van mense maak.” ’n Mens wat versoening met God ontvang het, IS ’n sendeling. ’n Visser van mense. Sien jy die onlosmaaklike koppeling tussen die versoening-deur-die-offerbloed en sendeling-wees. Om ’n hart te hê vir ’n verloregaande wêreld. Dit is ’n koppeling wat God self maak. Dit is nie ’n “sendingvisie” wat ek moontlik sal ontvang nadat ek ’n naweekseminaar deurloop het nie. Nee, ek IS ’n visser van mense. En dit bring nie altyd vir ’n gelowige medaljes in die sak nie. Let op die naam van die persoon wat hierdie poort herstel het: “Senaä” – dit beteken “veragte”. Die mens wat deur die geloof in Jesus se offer met God versoen is EN ’n visser van mense geword het, kry nie ’n klop op die skouer nie, maar kry teenstand en vervolging. Dit is soms ’n moeilike pad. Geen wonder dat die Griekse woord vir “getuie” letterlike “martelaar” beteken nie (marturos).

3. OU POORT
Die 3de poort was die poort wat tussen die ou en nuwe muur geposisioneer was. Sien die kaart: die Oupoort was geleë presies op die aansluiting van Salomo en Manasse se mure. Dit is werklik ’n prentjiesbeeld van die magtige werk van God in ons lewens waarvan Paulus praat in 2 Kor 5:17…. Wie in Christus is, is ’n NUWE skepsel. Die OU dinge het verbygegaan, die NUWE het gekom.

4. DALPOORT
Die 4de poort was geografies die laagste geleë. Geleë in ’n laagtetjie. Die groot kenmerk van ’n gelowige se lewe: nederigheid/ootmoed/gebrokenheid. Lewe net uit genade. ’n Mens wat geleer het wat God se genade beteken EN geleer het om uit die genade te lewe, word ’n nederige mens. NIKS OM OP TE ROEM NIE. Rom 3:27. Die roem is uitgesluit. Die man wat hierdie poort herstel het se naam: Hanun – beteken “begunstigde”.

5. VULLISPOORT
Die 5de poort was die poort waardeur die stad se vullis en afval uitgedra en verwyder is. Dit strook met Johannes die Doper se woorde in Matt 3: 11-12: “Die Gees doop met vuur en maak die dorsvloer skoon en verbrand die kaf.” Reinigingswerk waarmee die Gees voortgaande in ’n gelowige se lewe besig is. Voortdurend is Hy besig om die vullis en puin uit die gelowige se lewe uit wys en uit te roei. Proses van heiligmaking. MALKIA: Die Here is my Koning.

6. FONTEINPOORT
Hierdie poort was geleë digby die Bad van Siloam. Die stad se drinkwater is deur hierdie poort vervoer. Dit was by hierdie bad wat Jesus gestaan het en die woorde van Joh. 7: 37-39 uitgespreek het. “Strome lewende water sal vloei uit die binneste van die mens wat in My glo. Daarmee het Hy na die Gees verwys.” Fontein van die Gees in ons lewens. Die absolute WONDER van die Heilige Gees se direkte werk in die gelowige se lewe. Die primêre manier waarop die Gees in ons lewens werk is deur die Woord. Dit sien ons by die volgende Poort.

7. WATERPOORT
Deur hierdie poort was die water na die tempel gedra vir gebruik in die wassingsrituele by die koperwaskom. Die betekenis van hierdie waterwassinge is baie duidelik uit die res van die Bybel. Dit dui nie op die doop nie, maar op die reinigende wassende effek wat voortgaande omgang met die WOORD v GOD op ons lewens het. Efesiërs 5:26: Gereinig deur die waterbad van die Woord. Johannes 15:3: Julle is rein deur die Woord wat Ek tot julle gespreek het. Daar is geen plaasvervanger vir die behoorlike lees en studie van die Woord nie. Dit is ’n dinamietkrag van God. Ons behoort geen steen onaangeroer te laat om te sorg dát daar ’n geleentheid in die gemeente geskep word waar die Woord stelselmatig uitgelê word. Dit is die kern van gesonde kerkwees.

8. PERDEPOORT
Die poort waardeur die soldate uitgegaan het vir oorlog. Stryd is deel van ’n lewe met die Here. Nie omdat daar groot fout met jou en my is nie, maar omdat stryd ’n Godgegewe déél is van ’n lewe met Hom. Lees: Matteus 10:34, Galas 5:17, Rom 7: 15-24, Efes 6: 10ev. Wees dankbaar indien u iets van hierdie stryd ken. Dit is ’n teken van lewe.

9. OOSPOORT
Die poort was geleë digby die Olyfberg. Die mooiste poort. Die Jode het altyd geglo dat die Messias die stad deur die Oospoort sal binnekom. Toe messel die Turke hom toe in die 16e eeu. Opvallend egter: dat Sag. 14 sê dat Jesus se voet op die Olyfberg sal staan tydens Sy wederkoms. Dieselfde berg vanwaar Hy opgevaar het. Die Olyfberg en die Oospoort is die simbool van ’n VERWAGTING. ’n Uitsien na Jesus se koms. Dus: Al bestaan die poort nie meer nie, was dit ’n profesie van Christus se finale koms na die wêreld. Dit is die poort van VERWAGTING/ AFWAGTING. Die HOOP wat die Gees altyd lewend hou in die gelowige se lewe. Die hoop van Sy koms wat ’n mens drá deur moeilike tye. “Miskien vandag.” “Maranata”. (1 Kor 16:22)

10. INSPEKSIEPOORT
Wanneer die soldate teruggekeer het ná die oorlog, het hulle deur hierdie poort ingekom en is hulle hier geïnspekteer en het hulle loon of bestraffing ontvang. Dit is die laaste poort. Dit is ook die finale verwagting wat die kind vd Here het – om vrygespreek te word op die groot Gradedag. Gelowiges sal nie veroordeel word en in die vervloeking van God val nie – Rom 8:1, Joh 5:24. Geen veroordeling. Jesus is voor Pontius Pilatus veroordeel. Openb 20:12 - Voor alle mense wat ooit gelewe het, sal die kind vd Here se naam uitgelees word. Naam staan in Boek vd Lewe. DIT is ons lewende HOOP. Ons hoop is nie beperk slegs tot hierdie lewe nie, maar ons het die SEKERE verwagting dat miljarde mense sal sien hoe ons vrygespreek word omdat ons hoop op Jesus was, wat in ons plek veroordeel is.

Ná die inspeksiepoort – weer die Skaapspoort. Terug by die offer. By die kruis. Die versoeningswerk van Christus OMRAAM letterlik die totale lewe van die gelowige. 
POSTED BY Steven Sass on 06:33 under
DIE SKINKER SE WYN EN DIE BAKKER SE BROOD

Genesis 40

DROOM EN WERKLIKHEID
Drome is ‘n uiters boeiende verskynsel. Sigmund Freud het ‘n boek geskryf met die titel, Die Traumdeutung (Die verklaring van Drome) wat hom wêreldberoemd gemaak het. Ek is self geen droomdeskundige nie. Tog wil dit voorkom of daar iets soos beroepsdrome bestaan. Skinkers droom van druiwe; bakkers van brood. Droom en werklikheid is klaarblyklik op ‘n wonderlike, soms verwarrende, wyse met mekaar verweef.

Ongetwyfeld bestaan daar iets soos dominee-drome. In ‘n tipiese dominee-droom bevind jy jou in wat die Hollanders noem jou “houte-broek” d w s die preekstoel. Hoe jy daar gekom het, weet jy nie. Wat jy moet sê, weet jy nog minder. Waarom jy in jou pajamas is, weet jy nog die minste. Word jy wakker voel jy, soos die skinker en die bakker na hulle drome, ietwat bedruk.

In die Ou Ooste is drome dikwels as goddelike openbarings beskou. In die Bybel gebeur dit nie so dikwels nie, maar daar is wel uitsonderings. In die ou Statevertaling se weergawe van Genesis 37: 19 bestempel Josef se broers hom spottend as die “meesterdromer”. Ook Josef die vader van Jesus, is nog ‘n voorbeeld. Maar eintlik is openbarings in drome in die Bybel meer uitsondering as reël. Die “Bewaarder van Israel wat nie sluimer of slaap nie”, word eerder ge-assosieer met ‘n toestand van wakker-wees as met die droomwêreld waar jou onderbewuste jou allerlei parte mag speel.

Miskien kan ons sê dat die skepping uit verskillende grade van wakkerwees bestaan. Die grootste deel van die skepping verkeer altyd so min of meer in ‘n droomtoestand. Ook ons mense, die wakkerste deel van die skepping, slaap glo omtrent ‘n derde van ons lewe. Sommige meen selfs dat ons wakkerwees, ons wêreldbewussyn en selfbewussyn, ‘n siektesimptoom, ‘n patologiese afwyking is. Hulle verlang terug na die diereryk. Op ‘n wandeling kom die digter Vasalis ‘n droomverlore eseltjie teë wat haar laat wens dit was moontlik om weer terug te keer tot die droomtoestand. Dit herinner aan die woorde van Van Wyk Louw: “Waarom is ons nie toegeseël /teen pyn, teen al die bitter lig/ Die gryswit senuwee gesluit/ en al die hart se luike dig?”

In die Bybel is die rigting van ons verlange egter nie rugwaarts na die diereryk nie, maar vooruit na die Godsryk. Dan eers sal ons werklik wawyd wakker wees. Dit is daardie werklikheid waarna God se Gees, die Gees van die Toekoms wat uitgestort is anderkant kruis en opstanding, ons nou reeds roep met die woorde (Efesiërs 5:14): “Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.” Want ook ons wakkerwees kan soms so verwarrend wees, byna asof ons lewe self ‘n droom is wat ‘n verdere verklaring nodig het.



Josef lê nou wel die skinker en die bakker se drome uit, maar hoe moet ‘n mens die skrille kontras in die twee se lewenslot verklaar? Waarom word die skinker vrygestel en die bakker tereggestel? As iemand tog net hierdie raaisel vir ons kan oplos; hierdie geheimenis kan verklaar. Besonder pynlik word van beide letterlik in die Hebreeus gesê dat hulle hoof verhoog sal word. In die skinker se geval het dit ‘n figuurlike betekenis en dui op sy verhoging uit die tronk tot die koninklike paleis. Vir die bakker beteken dit letterlik dat dat hy aan ‘n paal, ‘n vloekhout, verhoog (opgehang) sal word waar die voëls van die hemel sy vlees sal vreet. Waarom word die een verhef en die ander getref? Wat kan tog die verklaring daarvan kan wees?

Dit is hierdie soort “waaroms” wat dikwels dreig om alle lewensvreugde te laat verdamp. Soms het jy die onrustige suspisie dat jou voorspoed die gevolg is van ander se leed; dat ander ly sodat jy gelukkig kan wees. Jy het meermale die vermoede dat die een se verkiesing die ander se kruis is. In ons gelese gedeelte wil dit voorkom of die bakker se dood, die skinker se brood is. Dit laat mens wonder of die skinker toe daarin kon slaag om op die farao se fees die bakker se brood deur sy kake te kry.

As jy tog net ‘n verstaanbare patroon kan ontdek. As jy net met sekerheid kan vasstel dat dit met goeie mense goed, en met slegte mense sleg gaan. Job se vriende het gereken dit is die wyse waarop die wêreld in mekaar sit. Die boek Job is egter geskryf om alle Jobstroosters van hierdie illusie te verlos. Was die 18 mense (Lukas 13) op wie die toring van Siloam geval het skuldiger as al die ander inwoners van Jerusalem? Nee, sê Jesus.

In Genesis 40 is geen spoor daarvan te vind dat die skinker onskuldig en die bakker ‘n skurk was nie. Van albei lees ons in vs. 1 dat hulle verkeerd opgetree het teenoor hulle koning. As die een skuldig was, geld dit ook die ander. Die skandalige wyse waarop die skinker na sy verhoging aan die koninklike hof skoon van Josef vergeet het, tel ook nie juis in sy guns nie. Dit staan in skrille kontras met wat ons lees in Lukas 23: 42, 43 waar die medeveroordeelde misdadiger aan die kruis vir Jesus vra: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom”, en dan uit Jesus se mond verneem: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”. In Genesis 40: 14 vra Josef uitdruklik vir die skinker: “Maar wanneer dit goed gaan met jou, moet jy aan my dink en moet jy my ‘n guns bewys.” In vs 23 lees ons egter: “Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet.”

Dit is hierdie soort verhaal waarvan die lewe vol is, wat jou natuurlike sedelike besef soms geheel en al in verwarring bring. Net soos die arbeiders wat volgens Matteus 20 reeds vroeg die oggend gehuur is (“Gelykenis van die arbeiders op verskille ure gehuur”), suur is omdat die laatkommers dieselfde loon ontvang, skryf ons natuurlike besef van sedelikheid voor dat mense hulle verdiende loon moet kry. Wat sake selfs nog slegter maak vir ons natuurlike sedelike voorkeure, is die feit dat die skinker en die bakker miskien ewe sleg was, maar hulle was beslis nie ewe belangrik nie. In Egipte korrespondeer iemand se sosiale stand en status met ‘n vaste natuurlike orde wat ooreenkomste vertoon met die diereryk. Soos in laasgenoemde geld ook in Egipte die wet van die “survival of the fittest”. Ook in ons menslike samelewing is dit nog steeds die magtiges en belangrikes wat die toon aangee. Dit is net so natuurlik soos die stand van die sterre. En uiteraard skyn die een ster helderder as die ander. In Egipte is ‘n bakker byvoorbeeld, baie blinker as ‘n skinker. Jy kan dit ook goed begryp: brood is belangriker as brandewyn. Laasgenoemde is ‘n luukse; brood is broodnodig. Brood is vir die werksdag; wyn is vir die feesdag. “In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood eet”. Dit is natuurlik, dood-natuurlik!

VOORKEUR VIR DIE FEES

In hierdie verhaal vind egter ‘n vreemde omkering van die natuurlike orde plaas. Dit hou waarskynlik verband met die feit dat die farao verjaar het. Op hierdie fees gee die farao voorkeur aan die skinker bo die bakker. Sou dit dalk die rede wees waarom hierdie vreemde verhaal sy pad gevind het na die Bybel?

In die Skrif heers daar ‘n vreemde voorkeur vir die fees. Die Kerkhervorming het begin toe die Reformatore dit ontdek het. Dit gaan lynreg in teen ons prestasiegedrewe en suksesbesete samelewing. In die Bybel is die mens se bestemming nie die werksdag nie, maar die feesdag, die rusdag, die Sabbatdag. Wyn is in die Bybel meer maal die simbool van die feesdag waarheen die ganse skepping oppad is. Die Reformatore het besef dat by daardie fees die toegang gratis is of glad nie. Vir hierdie fees is belangrikheid ‘n belemmering. Wat dit juis so feestelik maak is die feit dat ons dit nie verdien nie. Geen wonder nie dat in die Evangelie volgens Johannes die eerste teken van Jesus die wynwonder is tydens die bruilof te Kana waartydens die Seun van God die groot Skinker was. Dit laat mens vermoed dat Johannes dit verstaan as ‘n voorteken van die bruilofsfees van die Lam waarvan ons lees in die Openbaring 19: 7. By daardie fees sal tallose aansit wat belangrike mense normaalweg vermy. Soos die Fariseërs en Skrifgeleerdes wat aanstoot neem omdat Jesus saam eet met die semels. Indien jy nie deel wil wees van hierdie gulhartige fees nie, moet jy jouself uitsluit. Jesus se etes, soos die laaste Avondmaal, soos elke nagmaal, is tekens, sakramente van die groot fees waarheen skepping en geskiedenis oppad is.

Het dit u al opgeval watter vreemde voorkeur in die Bybel heers vir diegene wat van nature minder belangrik is, diegene wat die sosiale en godsdienstige elite minderwaardig vind? Dink byvoorbeeld aan die voorkeur in die Skrif vir die jonger seun, d w s die een wat “van nature” minder belangrik is – mense soos Abel, Jakob, Josef, Gideon, Dawid, Salomo. Meer nog: het die vreemde voorkeur vir die verlorenes u al aan die dink gesit? Dink aan die verlore tollenaar, die verlore Lasarus (bedelaar), die verlore penning, die verlore skaap, die verlore seun. Op die byna uitspattige fees van sy vader vir laasgenoemde mislukking, stel die jonger seun deur sy verlorenheid sy voorbeeldige ouer broer in die skadu (Noordmans).


DIE BROOD VAN ELLENDE

Naas die skinker se beker vind ons op die nagmaalstafel ook die bakker se brood. Tydens die Joodse paasfees het brood en wyn verskillende funksies gehad. Die moment waarop Jesus die woorde: “Dit is my liggaam, wat ter wille van julle gebreek word” uitgespreek het, was op die stadium dat die volk op paasfees die ongesuurde brode gebreek het met die woorde: “Dit is die brood van ellende wat ons vaders in Egipte geëet het.” Anders as by die beker van blydskap, val die aksent by die nagmaalsbrood op die sonde en ellende, die nood en dood waarvan die Lam van God ons verlos het (Joh 1: 29).

Van die bakker loop net so ‘n duidelike lyn na die nagmaalstafel as van die skinker. Nou is dit egter nie die bakker as ‘n belangrike man nie, maar as ter dood veroordeelde aan ‘n vloekhout. Die Joodse hang aan ‘n paal, soos die Romeinse hang aan ‘n kruis, en die Germaanse hang aan ‘n galg, beteken dat jy hang tussen hemel en aarde. Nêrens is daar vir jou plek nie. Nóg die hemel, nóg die aarde is in jou geïnteresseerd. Soos die bakker se teregstelling word ook Jesus se kruisdood meermale in die Evangelie volgens Johannes beskryf as sy “verhoging” aan ‘n vloekhout. Byvoorbeeld Johannes 12: 32, 33: ‘“As Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.’ Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe”.

Daar is soveel wanhopige “waaroms?” in die wêreld. In die kruisroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” word alle “waaroms?” in die wêreld saamgepers. Alle lyding in skepping en geskiedenis van die een namens die ander, is deelname aan Christus se lyding ter wille van die wêreld in sy nood. Dit geld van die diere-offers namens die volk in die Ou Testament; van Josef namens sy broers; van die bakker namens die skinker; van die agtien op wie die toring van Siloam geval het, namens die ander inwoners van Jerusulem. Die geheim van die lewe is plaasbekleding. “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie” (Romeine 14:7). In sigself het die lewe geen sin nie, maar dit ontvang sin deur Gods genade. Want “as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword; om Here te wees van die dooies en die lewendes” (Romeine 14:8-9). “Drie dae” na die dood gee God self die antwoord op alle “waaroms?”. Op Pinksterfees sê die Heilige Gees deur die verkondiging van die apostels: “Daarom!”. Dan word alle vraagtekens uitroeptekens.

DIE BEKER VAN BLYDSKAP

Soos die brood verwys ook die beker na Jesus se dood, maar die aksent lê anders. Die moment waarop die Seun van God die woorde: “Hierdie is die nuwe testament in my bloed wat vir julle vergiet word” uitgespreek het, was op die tydstip tydens paasfees waarop die sogenaamde “beker van danksegging” of “ die beker van lofprysing” gedrink is. By die drink van hierdie beker het die vreugde oor die verlossing uit die slawehuis van Egipte deurgebreek. Die “nuwe testament” (verbond) waarna Jesus verwys is die heilsbedeling waaraan elkeen deel het wat nie aanstoot neem aan die geselskap van sondaars en sukkelaars nie. By hierdie beker val die aksent nie op die nood waarvan ons verlos is nie, maar op die vreugde waartoe ons verlos is, die vreugde en vrede van die Sabbatsrus wat die Heilige Gees deur Woord en sakrament aan ons toesê. Dit is roep tot die rus van ons eie werke, in die volbragte werk wat God in Christus op Golgota volbring het.

Vir hierdie fees geld nie die reël van die “survival of the fittest” nie, maar is die “revival of the unfittest” (Bram van de Beek) naamlik die opstanding uit die dood, deurslaggewend. Die Heilige Gees is die “eerstelinggawe” van die groot Toekoms wat ons nou reeds in die tyd laat deel aan die bruilofsfees van die Lam. Geen wonder nie dat die vreugde op Pinkster oor “die groot dade van God” (Handelinge 2: 11) so oorweldigend was dat sommige gedink het die deelnemers was vol soetwyn (Handelinge 2: 13 – 1953-vertaling). Dit was reeds ‘n voorsmaak van die fees van die voleinding wanneer Jesus saam met sy dissipels, die vrug van die wynstok nuut sal drink in die Koninkryk van sy Vader (Matt 26: 29).

Van hierdie uitbundige fees lees ons reeds in Jesaja 25: 6-8 (1953-vertaling): “En die Here van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ‘n maaltyd van vetspyse, ‘n maaltyd van ou wyn en vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn. En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here Here sal die trane van alle aangesigte afvee…”. Dit klink soos ‘n vader of moeder wat ‘n huilende kind wat pas wakker geword het styf vashou en verseker: “Toemaar, toemaar, die nagmerrie is verby. Jy is nou wakker. Jy is veilig by die huis”.

TUSSEN GELOOF EN AANSKOUING

Sover is ons nou nog nie. Ons situasie tussen Christus se oorwinning en ons opstanding uit sonde en dood in die voleinding, herinner aan ‘n drama wat afgespeel het tydens die 50-tiger jare in die myndorp Lengede in Duitsland. Dit was as gevolg van ‘n mynramp waartydens ‘n aantal mynwerkers lewend begrawe was in ‘n mynskag. Aangesien die reddingspoging destyds wêredlwyd op TV uitgesaai is, het dit ‘n besondere indruk gemaak.

Eers is vanaf die oppervlakte ‘n gat deurgeboor tot by die vasgekeerdes in hulle “graf”. Daarna het ‘n uiters spanningsvolle moment aangebreek toe ‘n mikrofoon in die gat laat sak is. Die hele wêreld het met ingehoue asem gewag terwyl die name van die vasgekeerdes afgelees is om vas te stel wie nog lewe. Aangrypend was dit om die mense uit die diepte (Psalm 130) te hoor roep. Die aflees van die name het een teoloog laat dink aan aflees van die dopelinge se name tydens Doopsondag. Die Bybel praat immers van die doop as die “bad van die wedergeboorte” (Titus 3: 5, 1953-vertaling). Maar ‘n mens sou ook aan die nagmaal kon dink.

Deur hierdie opening in die dood kon met hulle gepraat word, kon noodvoorraad soos medisyne en voedsel neergelaat word om die vasgekeerdes aan die lewe te hou totdat die reddingspoging voltooi was. Enersyds was hulle dus reeds gered; andersyds sou dit nog ‘n rukkie duur voordat hulle redding ondubbelsinnig duidelik aan die lig sou tree, of in Bybelse taal, geopenbaar sou word. Intussen kon hulle egter reeds asemhaal deur hierdie gat in hulle graf, kon hulle oorleef van die noodvoorraad, kon hulle kommunikeer na bo.

Paasfees beteken dat God in Christus ingeboor het tot by ons waar ons vasgeval was in sonde en dood. Sy opstanding impliseer dat daar ‘n gat in die dood is waardeur ons nou reeds in die geloof die skoon blou lug van God se Koninkryk kan aanskou. Sedert Pinkster waai die wind van die Gees deur hierdie opening in die dood sodat ons nie geestelik versmoor nie. Die tekens van brood en wyn is noodvoorraad wat God uit die hemel neerlaat om ons geestelik te laat oorleef. In vergelyking met wat wag by die “Bruilof van Lam” is die tekens van brood en wyn maar skamel. Tog verkondig dit reeds by voorbaat: netnou is ons Bo!

Nou is die tyd om te volhard in die geloof. Eers by die finale tuiskoms by God, sal ons werklik “op en wakker” wees.