POSTED BY John Wait on 17:41 under

Eksodus 20:8-11 en Deuteronomium 5:13-15

Sondag is ‘n besonderse dag. Dis eintlik ‘n feesdag. ‘n Dag van grote dinge. Dis veel meer as net ‘n dag waarop ons nie werk nie. Veel meer as net ‘n rusdag. Dis tog so jammer dat ons soms die werklike waarde van Sondag mis omdat ons vergeet waarom dit op hierdie dag gaan.

Die Sondag is nie om humanistiese redes ingestel nie. Dit mag so wees dat geen mens net kan aanhou en aanhou werk nie. Mens het ook rus nodig. Sielkundiges en medici het dan ook al baie studies onderneem en die belangrikheid van rus vir die menslike liggaam en gees is dan ook al duidelik aangetoon. Ons weet almal uit eie ondervinding dat ‘n rusdag wonders doen vir ons. Tog is die Sabbat nie ingestel sodat die mens kan rus of omdat die mens rus nodig het nie.

In die twee gedeeltes wat ons gelees het, die twee weergawes van die Tien Gebooie, vind ons twee verklarings vir die instelling van die Sabbat. In Eksodus 20 lees ons dat die mens nie op die Sabbat moet werk nie omdat die Here die hemel en die aarde in ses dae geskep het en op die sewende dag gerus het.

In Deut. 5 lees ons dat die Sabbat ingestel is sodat die gelowiges daaraan moet dink dat die Here hulle uit Egipte, uit die slawehuis verlos het. Die Sabbat is dan ingestel op grond van die groot handelinge van God: Sy skeppingswerk en Sy verlossingswerk. Die Sabbat is daarom ‘n heilige dag: God se dag. Dit is waaroor dit gaan. Nie net sodat die mens kan rus nie, maar juis omdat God geskep en verlos het. Dit gaan nie net om op te hou werk nie, maar juis om die groot dade van God te herdenk. Die Sabbat is daargestel op grond van God se werk en is daar vir Hom.

In die Nuwe Testament het die dag verskuif van die laaste dag van die herdenking en viering van die groot verlossingsdaad van God; die opwekking van Jesus uit die dood en daarmee die oorwinning oor die dood en volkome redding en saligheid.

Reeds in die Ou-Testament was die Sabbat ‘n feesdag. ‘n Dag van vreugde en blydskap waarop fees gevier is. Daarop kon die Psalmdigters uitroep: “Dit is die dag van die Here, laat ons daaroor juig en bly wees” (Psalm 118:24); “Kom laat ons jubel tot eer van die Here; laat ons juig oor die rots van ons heil! Laat ons Sy aangesig tegemoetgaan met lof, met lofsange Hom toejuig”(Ps. 95:1,2) en “Ek was bly toe hulle vir my gesê het dit is die dag van die Here, laat ons opgaan na die huis van die Here.”

Die Sabbat was verder ‘n dag van nadenke oor die groot dade van God waarop hulle nagedink het oor alles wat die Here vir hulle gedoen het. Die dag waarop die groot dade van God oorvertel is.

Die Sabbat was veral die dag van herbelewenis van die groot dade van God. Die Israeliete het tydens feeste, en dit sluit die Sabbat in, nie net teruggedink nie, maar opnuut beleef in hulle feeste. So het hulle op die Sabbat vroeg opgestaan, as alles nog piknagdonker was en gesien hoe die lig en duisternis skei, hoe die uitspansel en die aarde onderskeibaar word; hoe die land en die see onderskei kan word. Hulle het die son sien opkom, die voëls en diere en ander mense gesien. So het hulle opnuut getuies geword van die skepping van God soos beskryf in Genesis 1.

In die latere Jodendom het die vreugde-element verdwyn en is dit vervang met talle bepalinge...294 om presies te wees. Hierdie bepalinge het gehandel oor wat hulle op die Sabbat mag doen en wat hulle nie mag doen nie. So is die Sabbat gestroop van sy wese om maar net nog ‘n uiterlike vorm te word.

Jesus het die Sabbat weer herstel. Na Sy opstanding word die rusdag weer ‘n dag van vreugde waarop die Christene die verlossing in Christus gevier het. So het hulle mekaar op hierdie dag gegroet met die woorde: die Here het opgestaan!

Wat beteken dit vir ons? Ons moet onthou dat die rusdag nie in die eerste plek ingestel is en daar gestel is sodat ons kan rus nie. Dit is in die eerste plek God se dag. Dit is ‘n dag aan God gewy. Dit is ‘n heilige dag.

Nou is daar twee standpunte oor die betekenis van die woord heilig. Daar is diegene wat sê dat dit afgesonderd beteken. Daar is ook diegene wat op baie goeie gronde aangedui het dat dit eerder gesien moet word as stralend. Miskien is dit goed, die rusdag moet spesiaal afgesonder word vir God. Vir Hom opsy gesit word.

Dit is ongelukkig so dat ons dikwels ons lewens in kompartemente indeel en dat ons dan gedurende die week so besig is met ons eie dinge, dat ons ons “gewone” lewens nie sien as deel van die uitlewing  van ons verhouding met die Here en dus deel van ons godsdiensuitlewing nie. Daarom kan dit belangrik wees om te onthou dat dit belangrik is dat een dag opsy gesit moet word vir God. Nie dat Hy nie die res van die week die eerste prioriteit moet beklee nie, maar hierdie dag is spesiaal syne. Maar Sondag moet mos ook ‘n stralende feesdag wees, ‘n dag waarop alles skitter en glansend is. ‘n Dag wat uitstaan bo die ander.

Die rusdag is dan die dag waarop ons stil word voor God en nadink oor Sy groot dade in die verlede en in ons lewens. Ons is so besig met ons eie dinge, so besig om dinge te doen, so besig om te skarrel en te jaag. Dan verloor ons so maklik perspektief. Daarom is dit nodig om stil te word en weg te kyk van onsself en te kyk na die groot dade van God. Het ons al vandag daaraan gedink? Hoe dikwels dink ons aan alles wat God vir ons doen?

Die rusdag is verder ‘n dag van nadenke. Nadenke oor die Here, nadenke oor Sy Woord. Maar nie net nadenke nie, ‘n dag van herbelewenis. Het ons vandag opnuut die wonder van die skepping van die Here herbeleef? Het ons vroeg genoeg opgestaan om die skepping en die skeppingsorde soos ons dit in Genesis 1 vind, te beleef? Het ons vandag opnuut by die leë graf gestaan? Het ons opnuut ons toegewy aan die Here? Dit is die doel van die rusdag. As dit ons belewenis van die rusdag is, sal ons nie net liggaamlik uitrus nie, maar sal ons geestelik versterk word. Dan kan ons die week ingaan om met volle krag, in volle toewyding aan die Here te leef.

Dit is belangrik dat hierdie gebod ook ‘n spesifieke bevel bevat: ses dae moet ons werk. Hiermee begin die gebod. Miskien het die Vader dit juis so laat stel omdat Hy maar al te goed weet hoe lui ons eintlik is. Werk is belangrik. Reeds van die begin af het God aan die mens die opdrag gegee om te werk.

As beelddraers van God en as Sy kinders moet ons namens Hom en tot Sy eer werk. Werk is nie ‘n straf nie, ons doen dit na die voorbeeld van ons Vader. Hy het geskep, Hy onderhou en bestuur alles, Hy regeer. God het mos Sy koninkryk, die ganse kosmos aan ons verhuur of geleen en dit aan ons toevertrou sodat ons dit moet bewerk en bewaak. Dit is eintlik eers nadat ons ‘n week se eerlike harde werk gedoen het, dat ons die rusdag kan vier. As ons dan saam met die Here kan rus en saam kan terugkyk op ons klein bydraetjie aan die bou van Sy koninkryk, dan kan ons met blydskap nadink oor die groot dade van God. Dan kan die groot heilsdade van God opnuut ‘n werklikheid word in ons...

0 Kommentaar: so far: