POSTED BY John Wait on 23:35 under

Johannes 6:35, 8:12, 10:7en 11, 11:25, 14:6 en 15:1

Dit is baie duidelik dat ons, in ons belydenis oor die Heilige Gees, moet onthou dat ons eintlik altyd in dieselfde asem oor die Heilige Gees en Jesus praat. Ons kan eintlik nie anders as om telkens oor die Drie-Enige God te praat nie. Die Heilige Gees het gekom om van Jesus te getuig, Hy sit die werk van Jesus voort.

Dit is in dié lig dat ons wil let op die implikasies van die werk van die Heilige Gees in ons. Die lewe van “n Christen, van iemand wat sy/haar lewe aan Christus toegewy het, is ‘n lewe deur die Heilige Gees. Ons kan nie Christene wees as dit nie vir die Heilige Gees is nie. Hy werk geloof in ons. Hy werk in ons en help ons om as Christene te leef.

As ons kyk na wat, dit beteken en veral na wat Johannes hieroor bely, sien ons dat die kern daarvan saamgevat word volgens die sewe “Ek is...” uitsprake in Johannes.

Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe( Joh. 14:6). Hiermee wil Jesus beklemtoon dat daar ‘n moontlikheid is om die weg na die hemel, na die Vader, te kan vind. Hy het gekom sodat ons toegang kan kry tot die Vader. In daardie tyd is mos gedink dat God in die hemel ver bo die mens is en dat die mens nie by God kon uitkom nie. Dit kan ons nie uit onsself doen nie. Nou sê Jesus dat dit tog wel moontlik is. Hy is die weg. Die Heilige Gees kom om ons te leer en die pad na die Vader vir ons aan te wys.

As navolgers van Jesus moet ons ook dus nou die weg vir ander aantoon. In die Griekse wêreld het die slaaf met die lamp voorgeloop en die pad aangewys. Dit het ook vroeg die oggend gebeur as dit nog donker was en hy die kinders na die skool moes lei. Ons moet ook so die weg aantoon vir ons kinders, ons moet ook voorloop soos die slaaf van ouds. Lig gee vir die donker pad. Ons moet getuies wees – in wat ons doen en sê, netsoos die slaaf, nie vanuit die hoogte nie, maar diensbaar. Hiertoe wil die Gees ons in staat stel. Christene gelei deur die Heilige Gees, leer ander en dui die weg na die Vader aan.

Jesus het gesê dat Hy die brood van die lewe is(Joh. 6:35). Die Heilige Gees het gekom om ons te voed met die brood van die lewe. Wat ons nodig het om te leef, sal Hy vir ons gee. Jesus het ook verder gesê dat die mens nie van brood alleen sal lewe, maar van elke woord wat uit Sy mond uitgaan. Om sinvol te kan leef, het ons nie fisiese brood nodig nie, maar veral geestelike kos, en God wil in al ons behoeftes voorsien...daarom moet ons Hom daarom vra...

Die vraag is of ons as Christene dan ook aan ander brood gee? Is ons selfgerig en sorg ons net vir onsself? Of is ons bereid om te deel? Is ons bereid om meer as net die materiele met ander te deel? So het ons die verantwoordelikheid om ons eie gesinne en ander te voed en te versorg.

Maar dit geld ook van die brood van die lewe wat ons moet deel. Ons kan ons kinders nie net met kos grootmaak nie, ons moet hulle die brood van die lewe gee. Norme en waardes oordra, lei na geestelike volwassebheid, die sin van die lewe met hulle deel.

By ‘n ander geleentheid het Jesus gese dat Hy die goeie herder is (Joh. 10:11). Die taak van die herder was om voor die skape te te loop en hulle in veiligheid te lei na die weivelde. Die herder moes sy skape ken, weet wat hulle behoeftes is. Hy moes hulle versorg en beskerm. Die Heilige Gees sit ook hierdie werk van Jesus voort. Hy lei ons, ken ons by die naam en weet wat ons behoeftes is.

‘n Lewe in die Gees beteken dat ons herders is. Het Jesus dan nie na Sy opstanding aan Petrus verskyn en dieselfde beeld gebruik toe Hy Sy opdrag aan Petrus gegee het nie. Nie minder as driemaal het Jesus vir Petrus gesê dat hy die skape en lammers moet versorg en oppas nie (Johannes 21:15-19).

Ons is aangestel as herders, ons moet voorloop, en ons moet Sy skape by die naam ken, ons moet vir ander sorg en omsien na die wat aan ons toevertrou is. Soos God ons Herder is (Ps23), en Jesus die Goeie Herder is, moet onsook goeie herder wees.

Hierby voeg Jesus dat Hy die ingang, die deur of hek is. Hiermee word veral twee aspekte beklemtoon. Aan die een kant sê Hy dat niemand sommer net kan inkom in die koninkryk van God nie....slegs deur Hom kan dit gebeur. Aan die ander kant beskerm Hy die wat binne is. Indringers word nie toegelaat nie, diewe en moordenaars word buite gehou, en so beskerm Hy Sy kudde.

As Christene moet ons dan  juis ook hekwagters wees. Ons moet die wat aan ons toevertrou is, beskerm teen gevare van buite...keer dat die wat kwaad wil doen, nie sommer inkom en steel en moor nie. Doen ons dit? Want ook hiertoe wil die Heilige Gees ons help.

In die Evangelie van Johannes speel lig ‘n baie belangrike rol. Die aarde is donker en die mens leef in duisternis. By God is lig want Hy is die Lig. Jesus sê dan ook dat Hy die Lig van die wêreld is (Joh. 8:12). Hy verdryf die duisternis. Duisternis het verband gehou met doelloosheid en dood. Lig met lewe en sinvloheid.

As Jesus dan sê dat Hy die Lig van die wêreld is, sê Hy dat Hy doelloosheid en dood verdryf het en lewe en spesifiek dan sinvolheid gebring het.... So verlig die Heilige Gees ons lewens. Jesus het dan ook gesê dat ons ons lig so moet laat skyn dat die mense God sal verheerlik. Hoe skyn jou lig? Is dit in ons lewens sigbaar dat ons nie doelloos lewe nie maar sinvol? Is dit sigbaar in ons lewens dat ons lewe gevind het in Christus?

By ‘n ander geleentheid het Jesus gesê dat Hy die ware wingerdstok en ons die lote is (Joh. 15:1). Dat ons nie vrugte kan dra sonder Hom nie. Dat die wat nie vrugte dra nie uitgesny word. Hierby sluit die werk van die Heilige Gees aan. Dit is juis deur ons verbondenheid aan Christus en die werking van die Gees dat ons vrug kan dra. Sonder Hom is die lewe sinloos, want dan beantwoord ons nie aan ons doel nie. In Hom is lewe en oorvloed. Onthou dat Jesus ook gesê het dat ‘n vyeboom tog nie druiwe kan dra nie en dat ‘n boom aan sy vrugte geken word. Hoe lyk jou lewe?

Jesus het ook gesê: “Ek is die opstanding en lewe” (Joh. 11:25). Hiermee beklemtoon Jesus dat Hy die weg tot die lewe geopen het. Nou is die dood nie meer die finale nie, maar die lewe. Hy leef, en ons kan deur Hom leef. Hy het dit aangetoon deur Sy opstanding uit die dood. Sy opstanding is die waarborg van ons opstanding. Ons sal met Hom optsaan in ‘n nuwe lewe. Het ons die ewige lewe? Die Heilige Gees is die waarborg va die lewe. Ook dit moet ons deel en uitstraal. Dit moet sigbaar wees.

Jesus het vir ons gesê wie Hy is. Die Heilige Gees het gekom om ons te leer en te help. As ons Sy kinders is, dan moet ons na Sy voorbeeld leef.
0 Kommentaar: so far: