POSTED BY John Wait on 05:24 under

Met die viering vanaand van Hemelvaart is dit net ongelooflik om daaraan te dink oor hoe groot ons God werklik is. Die ongelooflike dinge wat Hy moontlik gemaak het, die absoluut wonderlike en onmoontlik-om-na-te-maak goed wat Hy gedoen het. Dis net wonderlik om daaroor na te kan dink. Daarom wil ek nie vanaand fokus op die dinge daar buite wat maak dat ons nie hierdie dag reg vier, of wat veroorsaak het dat ons regering dit nie meer wil herdenk as ‘n publieke vakansie dag nie. Ek dink dat daar iets verlore gaan as dit ons fokus vanaand gaan wees.

Ek wil veel eerder fokus op die 6 dinge wat die Hemelvaart van Jesus Christus vir ons beteken:

1. Verheerliking:

Die Hemelvaart beklemtoon vir ons die verheerlikking van Jesus. Jesus se werk hier op aarde is nou klaar. Markus sê vir ons in hoofstuk 16:19: “Nadat die Here Jesus dit vir hulle gesê het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit.” Dié toneel kommunikeer aan ons dat Jesus nou in Sy aardse vorm/liggaam die aarde verlaat en teruggaan na Sy plek van verheerlikking (Johanes 17:5).

2. Die einde van Jesus se bedienning op aarde in die vorm van ‘n mens:

Jesus se Hemelvaart het ‘n einde gebring aan Sy bedienning as “God as ‘n mens”, en dit het die begin ingelui as die tyd van Sy bedienning as “God in die mens”. Voortaan sal Jesus/God dan nou Sy bedienning voortsit deur Sy Woord en Sy ampsdraers in die Kerk. Die Kerk wat dan die liggaam van Christus op aarde word (Efesiers 5:30); 4:15-16).

Die hemelvaart word dan verder die punt van voortsetting tussen “alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af tot op die dag van Sy hemelvaart” (Handelinge 1:1), en wat die Apostels en die Kerk voortgegaan het om te leer en oor te vertel na Sy Hemelvaart....

3. Jesus neem Sy plek in as Hoë Priester vir ewig

‘n Verdere kernwaarheid van die Hemelvaart is dat Hy ... “in elke opsig aan Sy broers gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen.” (Hebreërs 2:17).

As Hoëpriester vir ewig, het Hy na die genadetroon toe gegaan, netsoos die Ou-Testamentiese Hoëpriester een keer ‘n jaar ingegaan het na die heiligdom van die tempel om in te tree en voorspraak te maak vir die volk van Israel se sondes, het Jesus dit ook nou eenkeer gedoen...om vir eens en vir altyd ons Voorspraak te wees.

“En as Hoëpriester dien Hy nou in die Verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê, nie tot hierdie wêreld behoort nie. Met Sy eie bloed en nie met die van bokke en kalwers nie, het Hy net eenmaal die heiligdom binnegegaan en ‘n ewige verlossing tot stand gebring.”(Hebreërs 9:11-12).

 Nadat Hy dan ewige vergifnis en vryspraak gekry het vir almal wat in Hom glo, het hy gaan sit op Sy plek langs die Vader. Hy het uiteindelik Sy plek opgeneem as die Gesagvolle, wie se genade troon ons ook nou vanaand kan nader met “vrymoedigheid, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word...” (Hebreërs 4:16).

‘n Nuwe verbond het nou tot stand gekom tussen God en die mens, verseël met die bloed van die Regverdige, God se eie lam....

4. Die belofte van die Heilige Gees

Sy Hemelvaart het beteken dat Hy Sy Heilige Gees sal stuur om op te maak vir die verlies van Sy liggaamlike teenwoordigheid. “Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vader in My Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herhinder aan alles wat Ek vir julle gesê het”(Johannes 11:25). Jesus leef dis nou voort in die harte van die gelowiges en Sy Gees sit die werk van God voort in ons en deur ons!

5. Die belofte van Jesus se terugkeer om ons te kom haal

Jesus se verdwyning in die wolke het dan ook die belofte gebring van Sy wonderlike terugkeer na ons toe. Lukas sê so mooi in Handelinge 1:11: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal netso ook terugkom soos julle Hom na die Hemel toe sien opgaan het.” Paulus verduidelik weer in 1 Tessalonisense 4:16-17: “Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal die wat in Christus gesterf het, uit die dood uit opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons by die Here wees...”

Hierdie geprofeteerde gebeurtenis, ook bekend as die wegraping, sê vir ons, dat ons liggame, ook sal verander om “soos Sy verheerlikte liggaam te wees”. (Filippense 4: 21).

6. Intussen moet ons strewe om meer soos Jesus te word totdat Hy ons kom haal sodat ons soos Jesus sal wees wanneer Hy ons kom haal.

Daarom sien ons met verwagting uit na Sy verskyning, Sy koms, terwyl ons ons lewens al hoe meer leef soos wat Syne was, na Sy voorbeeld toe, sodat ons “soos Hy sal wees” met Sy weerkoms. Ons hou met ons hele lewe vas aan Jesus se eie woorde van Johannes 14:3 : “En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

0 Kommentaar: so far: