POSTED BY John Wait on 05:37 under

Gen. 2:18 Efesiërs 5:21

Met vanoggend se diens het die Here ‘n baie spesiale plan. Hy wil die moeders, die vroue van ons gemeente vanoggend kom perspektief gee. Ek glo dat die Here vanoggend wil gebruik om vir elke vrou vanoggend duidelike rigtingwysers en opdragte kom gee oor hoe om Sy wil te laat geskied.

Maar onthou, dat die bedoeling van Moedersdag mos eintlik is dat die mans ietsie vir hulle vrouens of moeders moet doen. Dis mos ‘n dag waar die manne moet uithaal en wys of hoe? So wanneer die Here met ons vroue gaan praat dan kan die mans ook maar luister, want uit die aard van die saak gaan hulle ook sekere dinge van nou af anders moet doen.

Uit die gedeelte wat ons uit Genesis 2 gelees het, is dit vir my duidelik dat God die vrou hier in perspektief wil plaas....Sy is die man se helper, aan die een kant maar ook aan die ander kant sy gelyke....

Nou wat behels dit? In die eerste plek het die vrou ‘n opdrag gekry: “Vrou jy moet die man help!” Nou hieruit kan daar mos baie dinge voortvloei.... maar ongelukkig steek baie mans eenvoudig hier vas en vat nie die opdrag ernstig genoeg op om dit reg te verstaan nie.

Baie keer dink mans dit is al hoekom die vrou daar is: Om vir hom te help, om die lewe vir hom makliker te maak, om dinge vir hom lekker te maak....en behoede die arme vrou as sy nie so maak soos wat hy gedink het nie.

Ongelukkig dink vroue ook baie keer nie verder as juis dit nie. Baie vroue dink netsoos die mans dat hulle hul mans se gebruiksartikel is, dat hulle daar is om vir die man die lewe makliker te maak.....

Maar waarmee moet die vrou die man dan juis help? Sy moet die man help om sy roeping as man te vervul. Sy moet hom help om homself voor God te verootmoedig, aan God onderdanig te wees en onbeskaamd voor God te wees....hierin moet sy dit vir hom maklik maak. Sy moet Hom ondersteun in Sy Goddelike opdrag om ‘n Christen-man te wees.... As sy dit doen dan gaan sy reg laat geskied aan haar eie lewe en roeping ten opsigte van die man.

Tweedens is die vrou haar man se gelyke. Sy is dus nie ondergeskik aan hom nie maar op dieselfde vlak. Net omdat sy (na) hom gemaak is beteken nie dat sy vir die res van haar lewe (na) die man moet kom nie. Sy is sy gelyke...uit homself geskep.

Die Hebreeuse woord vir man en vrou klink bitter baie dieselfde: iesh en iesha. Dit sê vir ons dat die Here die vrou gemaak het om by die man te pas.... want sy is dan uit die man gemaak. Daarom moet daar nie ‘n kwessie wees dat die twee saam geroep word om die Here op dieselfde manier te gehoorsaam en te dien nie. Die man en vrou staan op gelyke voet voor die Here wanneer Hy hulle later in die tuin van Eden gaan opsoek, en netso staan die man en vrou vandag nog op gelyke voet voor God.... Daarom dan die opdrag in Efesiërs 5: 21 “om aan mekaar onderdanig te wees” Maar op ‘n spesifieke manier – “uit eerbied vir Christus”.

Hieruit dan die volgende baie belangrike opdrag vir ons vrouens en mans : “Ons moet onderdanig wees aan Christus” Hy moet ons besit neem deur Sy Heilige Gees, Hy moet voorop gestel word en sentraal in ons lewens wees.... Anders leef ons vanuit onsself en nie vanuit God nie. Anders leef ons nie onderdanig aan God en Sy Gees nie, nie onderdanig aan mekaar nie, maar onderdanig aan ons eie dikwels selfsugtige begeertes!

Onderdanigheid aan mekaar herhinnder ons mos ook aan ons visie vir die jaar: die visie van die koringaar, wat sy kop laat sak as hy gereed is om vrugte te dra.

Onderdanigheid aan mekaar dui verder ook op die gebed. Die manier van gebed waar ons mo sons hoofed buig voor ons Skepper. Dit wil dus vir ons kom sê dat ons vir mekaar moet bid. Hierdie is dan juis ook seker een van die mees belangrikste dinge wat ‘n vrou vir haar man kan doen: Om vir hom te bid!

Baie vrouens dink egter dat hulle opdrag is om hulle mans te verander of selfs dalk te “verbeter” en juis hieroor is daar soveel ongelukkigheid tussen ons. Omdat baie van ons dink dat dit ons is wat ander rondom ons moet verander of verbeter. Ons probeer dan ook vreeslik hard en doen baie moeite hiermee, maar ongelukkig is die uiteinde hiervan byna elke keer juis dit: ongelukkig.

Jy kan nie iemand anders sommer so verbeter of verander nie....maar God kan! En juis omdat God dit kan doen moet ons vir mekaar bid. Hier is God se opdrag aan elkeen van ons vrouens....om te bid vir ons mans! Uit die man se eie keuse, wat dikwels op sy eie behoeftes gesentreer word is daar nie juis vrug op hulle arbeid nie. En juis omdat baie mans soveel verkeerde besluite neem is daar soveel ongelukkige huwelike en gebroke verhoudings....Daarom vrouens, begin vandag nog: Bid vir ons mans!

0 Kommentaar: so far: