POSTED BY John Wait on 16:39 under

Daniël 10

Godsdiens kan veeleisend en uitputtend wees. Lees mens Daniël 10, dan kom mens onder die indruk van die geweldige impak wat hierdie visioen op Daniël gehad het. So anders as wat ons gewoonlik van Sondag tot Sondag beleef. Vir ons is die erediens nou nie juis veeleisend of dalk uitputtend nie.

Die erediens waarvan in Daniël 10 sprake is, is vooraf gegaan deur lang en ernstige  voorbereidings. Daniel het vir drie weke gevas, hy het niks lekkers geëet nie, hy het nie vleis geëet of wyn gedrink nie. Hy het hom ook weerhou van die daaglikse gebruik van reukolie. Hy sonder homself  af en rig hom volledig op die Here. Word dit nie hier vertel om ons te wys dat ons ook miskien heelwat meer tyd behoort te spandeer aan ons voorbereidings vir ons ontmoetings met die Here nie? Storm ons nie maar Sondag na Sondag die kerk in en hardloop uit sonder dat ons ooit eers behoorlik afgeskakel het nie?

Daniel sien dan’n man met ‘n fyn linnekleed aan en met ‘n gordel van die allerbeste goud om sy lyf. ‘n Netjiese en selfs spoggerig geklede persooon van hoë aansien, maar meer, sy liggaam het geskitter soos ‘n edelsteen, sy gesig het gestraal soos weerlig, sy oë het geskyn soos brandende fakkels, sy arms en bobene het geblink soos gepoleerde brons, en sy woorde het geklink soos ‘n harde dreuning.

Aan die begin mag dit gelyk het soos ‘n vername persoon, maar dis gou duidelik dat die persoon nie sommer ‘n mens is nie. Al verwys Daniel na die persoon as ‘n man, blyk dit tog nie ‘n man te wees nie. Waarom nie na hom as ‘n engel verwys word nie, is nie seker nie. Dit blyk tog dat hy waarskynlik ‘n engel moes wees. Hy sê self dat hy alleen teen die engel van Persië moes veg; dat die ander engel hom kom help het en dat hy weer teen die engel van Persië en daarna teen die engel van Griekeland moet gaan veg.

Dit is so dat ons in die Ou-Testament van verskeie hemelse wesens lees, so lees ons van die Serafs en Gerubs; die seuns van God (hemelwesens in die nuwe Afrikaanse vertalin) en engele. Dit is verder so dat ons eintlik net van engele lees in dele van die Ou-Testament wat uit die tyd na die ballingskap dateer. In daardie tyd het die klem in die aanbidding van die Here geval op die Verhewendheid van die Here. Hy is hoog bo die mens verhewe. Hy woon in die hemel, ver bo die mens. Die mens kan hom nie sien nie. Dit het ruimte geskep vir engele wat dan as booodskappers van God dien. Hulle kom na die aarde en na die mens toe om die boodskap van die Here oor te dra.

Voor die ballingskap praat die Here direk met die mens en veral die profete. Na die ballingskap praat die Here nie meer so direk met die mens nie maar lees ons telkens van drome en visioene waardeur die Here Homself openbaar. Ons vind dan ook dat die Here nou engele stuur om Sy boodskap aan die mens oor te dra.

Nog later het van die engele name gekry, soos Gabriël en Migael. Daar is selfs sprake dat elke volk ‘n engel het. Hierdie engele spook sake uit en die uitslag daarvan bepaal wat onder en met die volke gebeur. Hier word byvoorbeeld  verwys na die feit dat die engel van Persië hierdie engel vir een en twintig dae besig gehou het, en dat hierdie engel weer die engel van Persië moet terughou en daarna teen die engel van Griekeland te staan sal kom.

Die klem val egter nie hier op die engel nie, maar op Daniël en veral sy reaksie op die visioen. Dit is trouens die geval dwardeur die Bybel. Ons het nie genoegsaam inligting om ‘n hele leer of baie teorieë oor die engele daar te stel nie. Al wat ons eintlik kan sê, is dat daar verwysings na engele is en dat hulle in diens van God staan.

Net Daniel sien die visioen. Die ander wat saam met hom was, is verskriklik bang, vlug weg en kruip weg. Hulle moes geweet het dat iets gebeur het, maar self nie getuies daarvan nie. Daniel het magteloos en doodsbang geword en het geen krag meer gehad nie. Toe hy die man hoor praat, het hy bewusteloos vooroor op die grond geval. Die visioen was so ingrypend dat hy eenvoudig flou neerval. Dit was te veel vir hom, sy gestel kon dit net eenvoudig nie vat nie.

Soms wonder ek of ons nie ons eredienste te ligtelik opneem nie. Berei ons soos Daniel voor vir die erediens? Het ‘n erediens of openbaring van die Here al op ons so ‘n ingrypende effek gehad? Hiermee wil ek nie sê dat elkeen wat nog nie bewusteloos geval het nie ‘n openbaring gehad het of dat elkeen wat wel flou geword het so ‘n openbaring gehad het nie. Net maar of ons genoeg erns maak met die erns van ons godsdiens.

Die man vat Daniel aan die hand en laat hom op sy knieë en hande staan. Daniel bewe, maar as die man sy hand vat, kom hy bewend orent en staan hy bewend regop om die boodskap te hoor. In daardie tyd het die liggaamshouding nogal ‘n belangrike rol gespeel. As hulle op hulle gesigte gelê het, was dit ‘n teken van onderworpenheid en skuldbelydenis. So smeek hulle om genade. As hulle regop gestaan het,  dan was dit ‘n teken van ‘n opdrag wat sou kom; hulle moes gereed wees om die opdrag te gaan uitvoer. As die man Daniel dan ophelp, dui dit daarop dat dit nie gaan om ‘n oordeelsboodskap nie. Nee, hy moet gaan om iets te doen. Staan regop en wees gereed.

Die man spreek Daniel op ‘n besonderse wyse aan: “Daniel, jy vir wie God liefhet.” Hy stel Daniel op sy gemak deur te sê dat hy nie bang hoef te wees nie want van die eerste oomblik dat jy jou ingespan het om insig te kry en jou voor God te verootmoedig het, is jou gebede verhoor(Dan. 10:12). Luister mooi. Daniel het hom ingespan. Hy het moeite gedoen. Hy het opofferings gemaak. Hy het erns gemaak met sy aanbidding. Aanbidding is nie sommer nie. Dit vra opofferings. Dis belangrik dat ons dit sal verstaan, maar meer belangriker is dat ons Daniel se voorbeeld sal volg.

Die man sê dan dat hy in antwoord op Daniel se gebede gekom het. Hy gee dan ‘n beeldryke oorsig in enkele sinne oor ‘n lang geskiedenis. Die engel van Persië het hom een en twintig dae besig gehou. Volgens die opvattings van destyds, is die stryd tussen die volke voorafgegaan deur ‘n stryd tussen die engele van die volke. Hier is dit duidelik dat daar nie ‘n oorwinnaar was nie, maar wel dat die Israeliete lank onder die beheer van Persië was.

Weer is die openbaring vir Daniel te veel. Hy kan nie praat nie en laat sak sy kop sprakeloos grond toe, so asof hy verslaan of minstens onderworpe is. Die man raak hom dadelik aan en gee hom krag. Hy het die krag nodig vir wat kom. Weer herhaal die man: “Moenie bang wees nie, jy wat vir God liefhet! Dit sal met jou goed gaan. Wees sterk! Wees sterk!” (Dan. 10:19).

Vrees vir die toekoms maak mens lam. Veral as die punt vanwaar jy na die toekoms kyk nie rooskleurig is nie. Dit was ook die geval met Daniel, en dis vandag nogsteeds die geval. Daarom moet ons weet, ons kan nie uit eie krag staande bly nie. Maar aan die ander kant kom die woorde ook na elke gelowige, na elkeen wat vir God liefhet: Dit sal met jou goed gaan. Wees sterk! Wees sterk!

Die man sê dat hy teruggaan om teen die engel van Persië te veg en daarna moet hy nog teen die engel van Griekeland veg. Hy sal nie deur een van hulle oorwin en vernietig word nie. Daar wag stryd en dit sal swaar wees. Maar dit sal nie die finale einde wees nie. As daar een ding is waarvan ons maar seker kan wees, dan is dit dat die toekoms ook vir ons stryd en swarigheid sal inhou. Maar hou moed. Glo. Want God laat ons nie alleen nie. Sy engele stry met ons. Wees sterk, God is met ons...
0 Kommentaar: so far: