POSTED BY John Wait on 08:13 under

Romeine 8:18-30

Swaarkry is deel van baie mense se lewens. Daar is baie wat diep gebuk gaan onder finansiële laste en sukkel om kop bo water te hou. Daar is die wat ernsitige gesondheidsprobleme het. Daar is die wat worstel met gesinsverhoudinge wat maar net nie wil regkom nie. Daar is die wat ongelukkig is in hulle werkkring of hulle of dalk hulle werk verloor het. En so sou ons kon aangaan.

Die lewe, so het iemand al gesê is nou eenmaal nie regverdig nie. Daarom is daar so baie wat deesdae moedeloos en depressief is.

Dit is nie ‘n moderne verskynsel nie. Blaai ons deur die Bybel, dan vind ons dat die toestand eintlik nog altyd geheers het. Dink maar aan die Israeliete in Egipte en in die tyd van die rigters en die ballingskap. Dink maar net aan Job en Jeremia en so baie ander.

Is die lewe van Jesus nie ook ‘n voorbeeld hiervan nie? Min het begryp wat Hy werklik gesê het, die kerkleiers van Sy dag het Hom vervolg, Hy is verwerp, gevang en gekruisig. Dink maar aan die lewe van Paulus – wat ook sy deel van swaarkry gehad het. Van min kan gesê word dat swaarkry nie deel van hulle lewe was of is nie.

Terselfdertyd is dit so dat daar dikwels darem nog die hoop is dat dit eendag beter sal gaan. Hoop hou mens dikwels staande in tye van swaarkry en ellende. Hoop ons nie almal dat dit beter sal gaan nie? Hoop ons nie dat die wiel sal draai en ons so ‘n bietjie voorspoed en geluk sal ken nie?

Dit is dan wanneer mens besef dat jy nie alleen die mas sal kan opkom nie, en dat jy iemand nodig het om jou by te staan en te help. Soos die man by die bad van Betesda hoor ons die noodkreet van baie: ek het niemand nie. As daar maar iemand was wat my kan help! As daar maar iemand was met wie ek kon praat en wat sal luister. As iemand tog maar net die hand sou uitsteek en my help.

Dit is dan ook die sake wat hier in ons gedeelte aangespreek word. Hierdie gedeelte eindig dan met ‘n loflied. Dit is moontlik omdat Paulus besef dat die huidige lyding nie kan opweeg teen die toekomstige heerlikheid nie; dat die Heilige Gees ons bystaan en dat niks ons daarom kan skei van die liefde van God nie...

Paulus begin deur die lyding wat hulle nou ervaar, as feit te belig. Hy ontken nie dat daar swaarkry en lyding is nie. Hy beoefen geen volstruispolitiek nie. Hy ontken nie die huidige ellende en lyding nie. Hy spel dit uit, en hy wys daarop dat die lyding nie net die mens raak nie, maar ook die hele skepping raak. Die hele skepping ly onder die sonde. Daar is droogtes en oorstromings. Daar is siekte en peste en plae. Soos die mens, ly die hele skepping. Die hele skepping sug in die pyne van verwagting, sê hy.

Paulus staar hom nie blind teen die huidige situasie nie. Hy bly nie vaskyk teen die swaarkry en ellende en lyding nie. Hy sê dat daar wel hoop is. Alles sien uit na die verlossing deur die Here. Daar is hoop ook onder die moeilikste omstandighede. En dit is geen ydele hoop nie, maar ‘n hoop wat begrond is in die lewe van Jesus. Ons hoop omdat Hy gekom, gesterf, opgestaan en na die hemel opgevaar het.

Dit beteken dat ons ten midde van lyding en versugtinge nie moedeloos moet word nie, maar met vaste vertroue kan uitsien na die volle openbaring van die heerlikheid.

Dit beteken dat ons nou daarna moet streef om die situasie ten goede te verander. Ons mag nie die huidige as onbelangrik beskou nie en net verlang na die die eendag toe nie. Nee, ons moet elke dag skouer aan die wiel sit om die minder positiewe situasie te verander. Maar as alles te veel word, mag ons ook nie tou opgooi nie. Ons kan dan vorentoe kyk en uitsien na die heerlikheid wat op ons wag...

Onder hierdie omstandighede kan ons vashou aan die wete dat die Heilige Gees ons Pleitbesorger is. Hy tree namens ons op.

Dit laat mens dink aan ‘n persoon wat in die moeilikheid is en dan ‘n advokaat kry om namens hom in te tree. Die gewone man weet nie mooi wat om onder sulke omstandighede te sê en wat om te doen nie. Dan kry hy iemand wat sy saak behartig: iemand wat weet hoe om op te tree, en wat sal weet wat om te sê.

So tree die Heilige Gees ook op. Hy bepleit ons saak by die Vader. Hy weet wat ons situasie is. Hy weet ook wat ons begeertes is. Hy weet wat ons nodig het. En Hy is nie maar iemand wat gehuur word en nie werklik omgee nie. Hy het ons lief en wil ons belange op die hart dra. Daarom kan ons met vertroue ons saak in Sy hande laat, Hy sal daarvoor sorg.

Ons sou kon sê dat die beeld hier die van ‘n regsaak is waar die Satan die mens aankla, maar die Heilige Gees tree vir ons in en sal sorg dra dat ons nie ons saak verloor nie. Hy doen iets daadwerkliks vir die wat vir Hom lief is. Hy laat ons nie in die steek nie. Hy is daar in die uur van ons nood en sal ons nooit in die steek laat nie. Hy dra ons deur al die krisisse heen. Hy hou ons vas.

Paulus gaan selfs verder en sê: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat vir Hom liefhet.” (Romeine 8:28). Ja, al lyk dit nie nou vir ons goed nie, en al begryp ons nie waarom dinge gebeur nie, al is ons ongelukkig en al wil ons opstandig of moedeloos word oor ons situasie, kan ons maar weet dat alles ten goede meewerk vir die wat God liefhet. Hy het ‘n doel met ons lewens. Hy lei die gelowige tot sy bepaalde eindbestemming...

Wanneer dit gesê is, kan Paulus nie anders as om te sing nie. Hy kom dan tot die gevolgtrekking wat so mooi verwoord word in Romeine 8:31-37. Dit is so treffend dat ons dit maar net kan lees en weer lees..... God het Sy Seun gestuur om ons te red. Niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus is nie. Ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet.

Dit is die boodskap wat vandag tot elke gelowige kom. Die vraag is dan: waar staan ek vandag en elke dag?Kry ons swaar? Gaan ons gebuk onder lyding? Is ek moedeloos oor die situasie? Dan kom die blye boodskap: die Heilige Gees het gekom om my/ons Pleitbesorger te wees. Hy staan ons by en sal ons help en nooit in die steek laat nie.

Daarom kan en moet elke gelowige vandag saam met Paulus tot die gevolgtrekking kom dat God goed is en dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie. Daarom kan ons “anders” teruggaan huis toe – nie meer terneergedruk onder lyding nie, maar singend bly omdat die Heilige Gees ons Pleitbesorger en Helper is!

0 Kommentaar: so far: