POSTED BY Steven Sass on 18:12 under
29 Junie 2014 Patensie
Tweede kanse (Ons moet vir mekaar tweede kanse gee)

Skrifgedeelte: Die brief aan Filemon

Die Bybelse brief aan Filemon verteenwoordig ‘n onverbloemde oproep aan die kerk, en by name die kerkleiding, om beskikbaar te wees om genade te betoon. Paulus doen naamlik ‘n beroep op Filemon op grond van die liefde (vers 9) en later in belang van my kind Onesimus (vers 10) om aan hierdie drosterslaaf, wat boonop dalk van sy eienaar gesteel het (vers 18), ‘n tweede kans te gee.

Weinig waarborge

Kyk, dit bly ‘n yslike risiko om aan mense ‘n tweede kans te gee. Die moontlikheid  (sommige sal sê “waarskynlikheid”) van ‘n teleurstelling, is groot. “Ek het jou mos gesê!” hoor ‘n mens dan ook dikwels mense sê wanneer hulle teleurgestel word in die gee van tweede kanse. Paulus kon ook nie aan Filemon enige versekerings gee nie. Al wat hy doen, is om te bevestig wat Filemon reeds weet, naamlik dat Onesimus ‘n nikswerd was (vers 11). Maar, benadruk Paulus, hy is daarvan oortuig dit is nou iets van die verlede; die dinge van voorheen  (vers 11) is verby en nou het dinge anders geword.  
Sê Paulus!

Nou stuur hy hom maar terug, vol vertroue in die volhoubaarheid van Onesimus se rehabilitasie, én in die genade van Filemon.

‘n Voorspelbare reaksie, amper soos ‘n refleks.
Daar ís helaas geen waarborge nie. Daar was ook nie vir Filemon en die gemeente wat in sy huis byeengekom het nie. Verbaas dit dus enigiemand as die oproep “Gee hom/haar nog ‘n kans!” met skeptisisme begroet word en dikwels sinies afgelag word? Afrikaans het selfs ‘n spreekwoord wat pas by hierdie voorafkennis: “’n Jakkals verander (dalk!) van hare, maar (beslis!) nie van streke nie.”

Wat sou ons suster Affia (vers 2) se reaksie wees op Paulus se brief wat deur die gewese tronkvoël by Filemon aangebring is? Hoe was Filemon se reaksie? En wat het die gemeente gesê? Ons weet nie. Net so min as wat hardwerkende en verontregte dagloners aan die laatkommers gesê (of gedoen!) het in Matteus 20. Of Jona se verweer op die Here se hartseer vraag aan die einde van sy en Nineve se verhaal.

Oor die eeue van die kerk se geskiedenis heen, laat hierdie en ander Bybelverhale steeds ‘n stippellyn oop, waar die kerk en die kerk se leiers ‘n respons moet invul. En die vraag bly immers dieselfde: Glo jy/julle werklik dat ‘n jakkals nie van streke verander nie? Oftewel: wát weet jy van die Wind wat waai waar hy wil (Johannes 3:8)? Van sy krag om te herskep, totaal óór te maak, soos ‘n nuwe geboorte?

‘n Beloning?
Welwetend dus dat daar geen waarborge verskaf kan word nie, en terwyl die reaksie van mense goed voorspelbaar is, kan Filemon straks vir homself afvra: is daar dan iets vir mý hierin; sal my opoffering en die kans wat ek gevat het, darem iewers dividende bring? Buiten nou die vae maar kortstondige “feelgood” wat goeie werke darem meestal tot gevolg het? Buiten iets soos Matteus 25:31-46, wat in elk geval heeltemal te veel na ééndag klink?

Nee, na alle waarskynlikheid is daar geen kitsklaar beloning vir die genade wat jy uitgedeel het nie. Behalwe as jy Paulus se aanvanklike groet, en die seën aan die einde, ter harte neem: genade en vrede … van God ons Vader en die Here Jesus Christus, en weer: Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees.  Tweemaal genade, Filemon en gemeente, genade van begin tot einde – aan julle wat geroep is om genade te bewys!

Nee, ek weet nie van nóg belonings nie. Dalk is ‘n geseënde, begenadigde lewe tóg genoeg!
Wat dan nou? Hoe maak die kerk en die kerk se leiers en die kerk se mense met die verhaal van Filemon en Onesimus? Want ons word sondermeer in sulke verhale ingetrek, alhoewel dikwels (meestal?) teen ons sin. Trouens, dit is per definisie “kerkstories” dié, dit word in die eerste instansie aan óns vertel!

En die “verteller” maak dit nie juis maklik nie. Dit word só vertel dat die hoorders nie kan misverstaan nie: “genade” is geen leë begrip nie; om aan iemand ‘n tweede kans te gee, vra van Filemon om die droster te ontvang … as ‘n geliefde broer.

En nee, die stem van die Verteller word nie met klinkende metale of galmende simbale stilgemaak nie, nie deur noukeurig genotuleerde besluite of breedsprakige kommissies nie. Ten minste Paulus weet: dit is ‘n saak van die hart (vers 12).


Daar is ‘n  mooi beeld van Dirkie Smit (Geloof sien in die donker: die “uitkomkans” vir albasterspelers na ‘n vrotterige skoot  - “oors!” (Ek het dit geken vir “overs!”) Onmiddellik na die swak poging roep die speler: “oors/overs!” Indien hy sy medespelers kan oortuig, wen hy met hierdie uitroep die geleentheid om weer ‘n kans te kry. Lê ‘n prinsipiële roeping van die kerk nie juis hier nie; die verlening van “overs” aan iemand wat daarom roep nie?
0 Kommentaar: so far: