1 Junie 2014 Patensie
Romeine 8:18-30
JESUS die hoop vir die wêreld
Hemelvaart
was nie as ‘n aparte fees van altyd af in kerk gevier nie. Hemelvaart was vroeër as deel van die vieringe van Paasfees
gesien. Eers in die jaar 386 nC kry ons die eerste voorbeeld van ‘n hemelvaart
erediens, ‘n preek van die kerkvader Chrysostomus. Hy het bepleit dat die
gebruik gevolg word soos wat Lukas verduidelik dat 40 dae na Paasfees vier ons
hemelvaart. In die 5e eeu word hemelvaart vieringe algemene gebruik in die
kerk. Die klem in die prediking toe op hemelvaart het baie gesinspeel op die
simboliek van die getal 40, die aantal dae vanaf Paasfees tot hemelvaart, maar
ook die aantal dae wat die lydingstyd voor Paasfees geduur het. Sommige het
gevoel dat daar ook die 40 dae voor hemelvaart ‘n tyd van vas moet wees soos
voor Paasfees. In die 11e eeu het die kerk ‘n hele week lange fees vir
hemelvaart gevier.
Dinge het so
oor die eeue ontwikkel dat ons vandag hoogstens ‘n erediens op hemelvaart vier
sonder dat dit ‘n godsdienstige vakansiedag meer is. Die hemelvaart van Jesus word verbind met die
Uitstorting van die Heilige Gees op Pinkstersondag asook met die opdrag aan die
kerk om sending te doen (Matt 28). Ek lees, dat in sommige plekke in die vroeëe
kerk het die vieringe van hemelvaart gepaard gegaan met die uitdeel van brood
aan armes op straat om iets van die opstandingsliggaam van Jesus te simboliseer
wat vir die wêreld opgevaar het. Deur eenvoudig vir wildvreemde mense brood te
gee, wou die eerste Christene iets uitbeeld van die hoop wat die hemelvaart van
Jesus vir mense bring.
Ek hoef
jou nie vanoggend op hoogte te bring van die ellende wat op aarde heers nie.
Ons is almal bewus van hoe swaar ons almal gebuk gaan onder: Korrupsie Geweld –
moord en diefstal . Vervolging van mense wat wil glo, leef en in vrede ‘n
bestaan wil maak. Ongeregtigheid van bevooroordeeldheid, diskriminasie,
magsmisbruik . Aarde verniel en vergaan onder besoedeling en uitbuiting . Swak
beeld wat die kerk in die wêreld het agv interne struwelinge en stryery. Hierdie
dinge kan ons maklik moedeloos maak. Dalk help dit om te weet dat dit nog nooit
in die mens se geskiedenis anders gegaan het as nou nie. Die toestand waarin die
wêreld nou is, was nog altyd hoe dinge in die verlede was en die kanse is goed dit
gaan vir lank nog so gaan wees.
Die dilemmas
wat ons vandag beleef is die gevolg van sonde. Nie iemand spesifiek se sonde
nie. Maar die sonde van die mensdom. Sonde breek ons verbintenis met God, breek
ons verbintenis met mekaar en met die skepping. Sonde maak van ons selfsugtige,
liefdelose mense. En die hele skepping gaan onder die gevolge van die sonde
gebuk. Die ganse skepping sug (Rom 8:22). Almal sien uit na ‘n tyd wanneer
dinge sal beter gaan (Rom 8:21). ‘n Tyd waarin ons ‘n sug van verligting kan
gee en weet nou loop dinge reg. Nou leef ons in die heerlikheid wat God vir sy
skepping bedoel (Rom 8:21). Nou het die paradys op aarde aangebreek: geen
swaarkry, geen haat, geen woede, geen korrupsie, moord en doodslag meer. Ons
almal sien uit na daardie tyd wat sal aanbring.
Paulus verwoord hierdie versugting en uitsien
na ‘n tyd van beterskap (Rom 7:24) “Ek ellendige mens. Wie sal ons van hierdie
doodsbestaan verlos?” Wat die wêreld kort, is hoop. Ons het min hoop deesdae.
Almal kan doen met ‘n tikkie hoop dat dinge weer eendag sal beter gaan. Dit is
presies wat gebeur met Jesus Christus se koms na die aarde. Met Jesus se koms,
kom daar hoop vir die ganse skepping. Jesus se koms, Sy lewe, Sy sterwe, Sy opstanding,
Sy hemelvaart, dit alles bring weer hoop aan ’n wêreld wat arm is aan hoop. Met
Jesus se koms, hoor ons die boodskap van: ‘n God wat nie opgee met mense nie ‘n God wat
verlossing en vergifnis van sonde bring ‘n God wat die sonde verslaan ‘n God
wat die dood oorwin ‘n God wat die belofte van die ewige lewe bring ’n God wat
ware hoop bring.
Vir sommige
mense voel die hemelvaart van Jesus soos die anti-klimaks van God se sending
van sy Seun na die aarde: Hier kom Jesus – verlos, red en vergewe. Hy sterf en
deur Sy dood en opstanding kom daar redding. Maar dan vertrek Hy weer terug na
die hemel kort na Sy opstanding uit die dood. Wat beteken die hemelvaart dan?
Beteken dit God wil nie meer hier by ons wees nie? Beteken dit God kon dit nie
meer op aarde uithou tussen hierdie spul ellendige, selfsugtige sondaars nie?
Beteken hemelvaart God onttrek Hom nou soos ‘n goedhartige weldoener wat net
nie meer kans sien om hulp aan ondankbare wesens te skenk nie?
Jesus se
hemelvaart is nie God se onttrekking van die skepping af nie. Die hemelvaart is
nie God se afskeid neem van die mens nie. Inteendeel, die hemelvaart is net nog
‘n teken van God se liefde vir Sy skepping. Wanneer Jesus opvaar na die hemel,
gaan Hy om Sy regmatige plek op die hemeltroon in te neem. Hy gaan om van daar
in Sy almag oor Sy ganse skepping en koninkryk te regeer. Jesus bestyg die
hemeltroon as Oorwinnaar; Oorwinnaar oor die sonde, die dood en alles wat onrein
en onheilig is. Hy is die Regeerder, die Heerser. Hy hou alles in Sy handpalm vas.
Waarom sal ons op aarde bevrees of moedeloos wil wees?
In Jesus se opstanding en hemelvaart hoor ons
waar ons hoop lê om van hierdie ontaarde wêreld verlos te word. Jesus is die
Regeerder oor alles. Oor ruimte en tyd, die verlede, hede en toekoms. Hy gaan
die hemel in om vir ons ‘n beter toekoms voor te berei. Jesus vaar op na die
hemel met die belofte om eendag weer te kom om ons dan saam met Hom te neem sy
hemelse woonplek in.
Intussentyd
belowe Hy om oor ons te regeer vanuit die hemel. Hy sien ons ellende en
swaarkry raak, en ons trane raak Hom aan. Hy sien en weet van ons sug en trane en
hulpkrete. Tot die dag aanbreek wanneer Hy weer kom, belowe Hy om Sy Gees te
gee om by ons te wees. Om ons by te staan en te vertroos. Om ons hoop te gee, totdat
Hy weer kom.
Sy hemelvaart skep hoop. God gee hoop (Rom
8:20). Al is die ganse skepping nou in duisternis gehul as gevolg van die sonde
van die mens. Al is daar nou ellende en swaarkry en ongeregtigheid. Al is moord
en diefstal volop. Al lyk dit of dinge nou net swart, depressief, ellendig en
verlore is. God gee hoop. Al kry ons hoe swaar, alles is nie verlore nie. Al
sien ons dan nie nou hoe die oplossings en uitkomste gaan wees nie, ons het nie
al die antwoorde vir die vrae en probleme van ons tyd nie. Maar ons het hoop.
God gee aan ons hoop om aan te hou lewe. Die feit dat Jesus uit die dood
opstaan en opvaar na die hemel, bring hoop. Sy hemelvaart is ‘n teken van God
se ewige sorg vir ons. Nie net eenmaal lank terug was God geinteresseerd in die
welwese van die mens nie. Tot in ewigheid is God gerig op die bestaan van die
mens. God se liefde vir sy kinders maak dat God tot in alle ewigheid na ons wil
omsien.
Die
hemelvaart van Jesus wys dat God vanuit die hemel oor Sy koninkryk bly regeer. Om
ons tot troos te wees, stuur God sy Gees om vir ewig by ons te wees. Ons kan nie
die hemelvaart sonder die gebeure van Pinkster verstaan nie. Die volgende teken
van God se liefde en versorging na die hemelvaart is wanneer God Sy Gees stuur
om by ons te wees. Ons is nie alleen in ons aardse stryd om oorlewing nie. Al moet
ons nou swaarkry, gebuk gaan onder bekommernisse en vrese en twyfel, ons is nie
alleen nie. God is deur sy Gees by ons, met ons, in ons. Dit bring hoop. God bring
hoop.
Die
kerk het die verantwoordelikheid om hierdie boodskap van hoop met die wêreld te
deel. Hemelvaart en Pinkster kan nie sonder die opdrag aan die kerk om te
getuig van God se liefde, verstaan word nie. Die kerk, ons, is geroep om te getuig
van hierdie hoop wat God gee. Die kerk het die voortdurende taak om die wêreld
te bly vertel dat Jesus die ware antwoord op die eintlike vrae van die mensdom
is. Jesus bring uitkoms, gee vergifnis, herstel liefde, skep geloof en laat ons
met hoop. Hierdie getuienis van die kerk in die wêreld vind plaas onder die
leiding van die Gees. God lei ons om vrymoedig te bly getuig van die hoop wat
in ons lewe (1 Petr 3:15).
Hoe doen die kerk dit? Al moet dit beteken dat
ons brood uitdeel aan ‘n honger wêreld. Al moet ons dan soos die eerste
Christene eenvoudig kos vir armes gee. Hoop moet ons bly gee. Oplossings en
antwoorde het ons dalk nie, maar hoop, daarvan het God ons ‘n oorvloedige
voorraad gegee. Natuurlik is Jesus die
finale antwoord op ons eintlike vrae. Hoe daardie antwoord in my en jou lewe
gestalte vind, dit is die antwoord wat die wêreld raaksien. Hoe Jesus my en jou
lewe verander en maak dat ons die wêreld om ons wil verander, dit is die hoop
wat die wêreld soek.
Al moet ons dan nou nog sug, swaarkry, bewe en
huil, God bly ons hoop. Die feit dat Jesus in die hemel sit en oor Sy koninkryk
regeer, dit gee hoop van nou af totdat Hy eendag weer kom.
Post a Comment