POSTED BY Steven Sass on 07:10 under
13 Julie 2014 Patensie
Volharding/Deursettingsvermoë

Skrifgedeelte: Genesis 37:1-11

'n Jong man vol drome
In Genesis 37 lees ons van 'n jong man wat verskeie drome gedroom het. Elkeen van hierdie jong man Josef, se drome, het met die toekoms te make gehad. En sy drome het oor dieselfde saak gegaan: Josef, die agterkleinkind van die aartsvader Abraham, is gebore om 'n leier te wees, en selfs sy eie familie sou hulself aan dié leierskap moes onderwerp.

Josef besluit om sy drome met sy broers te deel, wat nie so 'n goeie plan blyk te gewees het nie, aangesien hulle jaloers op hom was en nie baie van hom gehou het nie. Die skrywer van Genesis vertel vir ons dat hulle, nadat hy die drome vir hulle vertel het, hom net nog meer gehaat het. Hulle was só jaloers op sy selfvertroue en drome, dat hulle 'n slim plan uitgewerk het, gemaak het asof hy gesterf het, en hom daarna as slaaf verkoop het aan handelaars wat op pad was na Egipte toe.

Hindernis op hindernis
Ons ken die verdere verloop van die verhaal - hoedat hy in Potifar se huishouding opgang gemaak het. Maar net toe dit begin lyk of sy loopbaan besig was om momentum te kry, sy selfvertroue besig was om te herstel en hy 'n gesonde lewe begin leef het, tref die teenspoed hom 'n tweede keer.

Potifar se vrou het gesien dat Josef baie aantreklik was en het probeer om hom te verlei. Dit het ongelukkig nie gewerk nie aangesien hy aan sy oortuigings bly vashou het. Die gevolg was dat sy hom van verkragting by haar man aangekla het. En vir 'n tweede keer is hy onregverdig behandel deur dié mense wat die mag in die hand gehad het. Hy eindig in die tronk en sit daar vir 'n baie lang tyd.

Droomvernietigers
Ons ken dié soort ervaring - struikelblokke wat in die pad staan na die vervulling van ons drome. As Suid-Afrikaners kan ons 'n lang lys van hierdie struikelblokke opnoem: werkloosheid, onderwys, opvoedings-probleme, misdaad, geweld en korrupsie.

Die vraag is: Wat is daar wat in die pad staan van die vervulling van jóú drome? En kan daar enigiets aan gedoen word?

Want, uit ervaring weet ons dat dié tipe hindernisse nie net drome vernietig nie, maar maklik die lewe in 'n sinlose geploeter kan verander. En wanneer ons sin verloor het, is ons energie en motivering om iets te doen, gewoonlik ook verlore.

Josef se deursettingsvermoë
In dié verband kan ons dalk juis by Josef gaan kers opsteek. Ons is nie seker hoe lank dit vir Josef geneem het om saam met die slawehandelaars in Egipte aan te kom nie, en ons weet nie hoe lank hy as dienskneg vir Potifar se vrou gewerk het nie. Wat ons wel weet, is dat hy geruime tyd in die gevangenis was en dat 'n tronk in daardie dae geen grap was nie. Dit was 'n plek vol siektes en uiters haglike lewensomstandighede. Josef het dus alle rede gehad om in totale wanhoop te verval. Om die waarheid te sê, dié omstandighede het 'n hele paar jaar geduur.

Maar uiteindelik, op die ouderdom van 30 jaar, 13 jaar nadat hy as slaaf verkoop is, het Josef die soet smaak van verlossing ervaar. Deur 'n wonderbare sameloop van omstandighede, bevind hy homself voor die Farao en kry hy kans om sy vermoë om drome uit te lê, vir almal te illustreer.

Die feit is, en dit is waar 'n mens besondere respek vir Josef ontwikkel, is dat hy in al die jare wat hy in die gevangenis was, nie opgehou het om vir God te eer nie. En dit het duidelik geraak in die manier waarop hy teenoor sy medemens opgetree en hulle gedien het. In kort: sy deursettingsvermoë het al die verskil gemaak.

Trouens, die Farao was so beïndruk dat hy vir Josef tweede in bevel van sy hof gemaak het, en aan hom al die administratiewe mag in sy ganse ryk toevertrou het. Dit was veral belangrik in die lig van die hongersnood wat aan die kom was. En dan lees ons hoedat Josef se eie familie, soos wat hy gedroom het, uiteindelik na Egipte toe kom om kos te koop. En dan is dit niemand anders as Josef wat vir hulle sorg nie!

God se krag agter Josef se deursettingsvermoë
Die belangrike vraag is egter: Wat sit ágter dié optrede van Josef? Wat het dit moontlik gemaak? En dit is hier waar ons tot die verrassende besef kom: dit was danksy die lewende God dat Josef dit kon regkry. Reeds die drome wat Josef gehad het, was God-gegewe. Hulle was nie maar net sy eie tiener-ambisies nie, hy was op daardie stadium maar 'n skamele 17 jaar oud. Gód het vir hom 'n visie van sy toekoms as gesiene leier gegee.

Op 'n betekenisvolle manier het God vir Josef laat verstaan hoedat sy verlossingswerk deur al sy terugslae 'n werklikheid geword het. En hoedat Josef se deursettingsvermoë bygedra het tot God se verlossingsplan.

Wat droom jý?
Die vraag waarby dit óns bring, is: Watter drome het God in jóú hart geplaas? Hoe wil Hy vir jou deel maak van sý verhaal met die mens?

Want, sulke drome kan ongelooflik kragtig wees. Hulle gee vir ons 'n doelgerigtheid en hoop in die lewe, iets om voor te leef. Net soos Josef, bly vashou daaraan dat 'n beter lewe moontlik is, dat ons met hoop kan en moet leef. Hieruit leer ons dat deursettingsvermoë nie alleen vir óns verlossing bring nie, maar soos wat met Josef die geval was, ook vir ander.



Die dieper krag
Deursettingsvermoë is nie geleë in ons persoonlike krag of vermoë om uit te hou nie, omdat ons almal maar swak is en dikwels foute maak. Dit is ook nie geleë in ons families of vriendskappe nie, aangesien families kan sterf, vriendskappe verbreek kan word en sommige ons selfs kan verraai.

Deursettingsvermoë is slegs moontlik op grond van ons hoop in God. Gedurende al die jare wat Josef gely het, het Josef bly glo dat God se doel vir hom waar en goed was en daarom het hy vasgebyt, deurgedruk.

As Christene het ons nog 'n groter rede om vas te byt en aan te hou, en dit is omdat ons eintlike hoop in Christus geleë is op grond van wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het. Dit was Christus wat die hindernisse van verraad en die dood oorwin het wat dit ook vir óns moontlik maak om daaraan te bly vashou, dat daar geen hindernis op ons pad is wat nie oorwin kan word nie; geen struikelblok wat nie oorkom kan word nie. Of dit nou iets is wat ons self gedoen het, of iets wat aan ons gedoen is.

Geen maklike oplossing
Wat ons wel in gedagte moet hou, is dat daar ongelukkig nie 'n sogenaamde "quick-fix" manier is waarop Christus se oorwinning oor sonde en dood in ons lewe werk nie. Verlossing neem ons dikwels op 'n pynvolle reis deur slegte ervarings van trauma, verlies, hartseer en moeilike tye. Wat wel belangrik is, is die manier waarop ons dié hindernisse hanteer. Want ons optrede kan 'n kragtige stuk getuienis wees waardeur Christus se krag om te oorwin, sigbaar raak waar die menslike oog slegs wanhoop sien.

Ons geloof in Christus is geanker in die feit dat Hy ter wille van ons, deursettingsvermoë gehad het. Soveel so dat Hy met sy eie lewe daarvoor betaal het.


0 Kommentaar: so far: