POSTED BY Steven Sass on 19:51 under

22 Junie 2014 Patensie

Vergifnis

Matteus 6:5-15


Om te kan vergewe, is ‘n wonderwerk. Dis vir die meeste mense ontsettend moeilik om iemand wat hom/haar (intens) seergemaak of tenagekom het, te behandel asof dit nooit gebeur het nie. Elke mens weet wat dit is om seergemaak te word, net soos elkeen van ons weet wat dit is om ander seer te maak. En soos wat jy vergewe wil word, moet jy ook bereid wees om ander te vergewe!
In Matteus 6:14-15 sê Jesus: As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.

Om te vergewe, is een van die mees wesenlike sake van ons geloof. Dis waarvoor Christus gesterf het. God verwag van mense om stukkende, gebroke verhoudings heel te maak. Hy wil hê ons moet in versoening, vrede en liefde met mekaar leef.

Christus leer vir ons dat as iemand teen jou gesondig het, jý alles in jou vermoë moet doen om die saak reg te stel. Jý moet die inisiatief neem! Vergifnis begin by jóú! Jý moet uitreik. Jý moet daardie persoon wat jou tenagekom het, verseker van jou vriendskap ten spyte van … (Mat 5: 23-24)

Vergifnis is om nuut te begin met iemand wat jou intens seergemaak het. Dis om tyd vir hom/haar te maak en liefde te betoon aan ‘n persoon wat dit eintlik nie verdien nie. Vergifnis is om die onvergeeflike te vergeef. En hoe moeilik is dit nie! Alexander Pope het by geleentheid gesê: To err is human, to forgive divine.

Vergifnis werk nie soos ‘n skakelaar wat jy aan- of afsit nie. Dis ‘n proses. Dis om seergemaak te word, daarna verbitterd en hatig te wees, en dan uiteindelik om genees te word.

Heel eerste moet jy egter besluit jy wíl die seer wat jou aangedoen is, begrawe. Eers wanneer jy dít gedoen het, kan jy die pad van herstel, vergifnis en uiteindelik bevryding begin stap. Om so ‘n besluit te kan neem, moet jy ingelig wees. Jy moet bewus wees van die vernietigende gevolge van negatiewe gedrag in ‘n mens se lewe, soos om nie te kan vergewe nie. Jy móét op die een of ander tydstip besluit om die boek van seer en haat toe te maak, vóórdat bevryding en genesing enigsins kan begin. Indien jy dít nie gaan regkry nie, gaan jy deur die destruktiewe gebind bly!

Baie keer hoor ‘n mens iemand sê: Ek sal die persoon nog vergeef, maar vergeet – nooit nie!  Nou is daar mense wat sê dís nie ware vergifnis nie. Jy moet ook kan vergeet. Maar dis nie waar nie. Eintlik is dit onmoontlik om te vergeet. Jy sal altyd onthou, want sekere gebeure sny net te diep in ‘n mens se gemoed.

Jy moet egter, wanneer jy aan daardie seer wat iemand jou aangedoen het, dink, dit doelbewus uit jou gedagtes weer. Jy moet jou bes doen om daardie insident nie met dieselfde negatiewe emosies as vroeër te herleef nie. Moenie van voor af verbitterd en hatig word nie. Reinig jou gedagtes voortdurend. Dit bring kalmte en vrede.

Vergifnis is ‘n positiewe geloofsbesluit. Dis suiwer op genade gebaseer.  Hiervoor moet ‘n mens bly bid!

‘n Mens sou maklik kon sê dat jy nie kan vergewe nie, in elk geval nie soos God nie, of dan soos Hy vra nie, want jy ís nie God nie! Tog herinner Paulus ons in Kolossense 2:9-10 daaraan dat as ons ín Christus is, God se volheid in ons leef en ons daarom inderdaad die kapasiteit het om te kan vergewe.

Ek het iewers die volgende gelees: Vengeance may break a man’s spirit, but kindness will break his heart!

Wraak en woede vernietig verhoudings. Dit is in stryd met God se wil. Vergelding bind. Vergifnis bevry! Net soos God jóú die versekering gee dat Hy jou oortredinge vergewe, moet jy ook die persoon wat teen jou oortree het, verseker van jou vergifnis. Gaan sê dit vir hom/haar. Gaan erken dit. Gaan steek jou hand uit. Dis die eerste bevrydende tree vir jou en vir die persoon aan wie jy vergifnis skenk. Dit stel lewensenergie en liefde vry en wek vertroue wat woede, agterdog en haat stelselmatig uit die weg ruim. Om liefdevol te handel, om aan ander te doen wat jy graag wil hê hulle aan jou moet doen, om die kwaad met die goeie te oorwin, is om nuwe lewensmoontlikhede oop te sluit.

God begin elke dag nuut met my en jou. Hy verwag ook van óns om nuut te begin met daardie persone wat ons seergemaak het en teenoor wie ons hatig is. Onthou: Wraak maak die telling gelyk (‘n oog vir ‘n oog). Vergifnis maak van jou ‘n wenner!

Deur ander te vergewe, wys jy dat jy God se vergifnis vir jou verstaan. Die kruis bly ‘n prototipe van vergifnis. Wanneer ‘n mens dit regkry om soos Christus te vergewe (Lukas 23:34), ervaar jy die edelste oomblikke van jou lewe. Dáár ontstaan vrede, geluk en ‘n nuutgevonde entoesiasme vir die lewe wat alle verstand te bowe gaan. Dáár begin jy oorwinnend leef. Daar breek die lentebloeisels en die geur van God se komende koninkryk deur.


 Leonardo Da Vinci se skildery, Die laaste avondmaal. Die skildery het 21 jaar geneem om te voltooi. Hy het vir elkeen van die persone wat hy geskilder het, ‘n lewende model gebruik. Toe hy by die middelste persoon in die skildery gekom het, dis nou Jesus, het hy amper ‘n jaar lank na die geskikte persoon gesoek. Op ‘n dag het hy iemand in die strate van Napels raakgeloop wat hy geweet het uitgeknip hiervoor was. Nege jaar later moes hy die laaste figuur skilder … Judas Iskariot! Hy het ‘n jaar en ‘n half na die regte persoon gesoek … totdat hy eendag in die agterstrate van Rome, ‘n muntstuk in ‘n bedelaar se hand gesit het. Hy het geweet dít was die regte persoon. Die bedrog, die leuens, die verbittering op sy gesig, was waarna Leonardo gesoek het! Omdat hierdie man die geld nodig gehad het, het hy ingewillig om geskilder te word. Toe Da Vinci hierdie man klaar geskilder het, het hy omgedraai en vir hom gesê: Hierdie skildery gaan een van die grootstes wees. Stem jy saam? Maar hierdie man het nie opgekyk nie. Uiteindelik, toe Da Vinci hierdie man so ver kry om op te kyk, het die trane oor sy wange gerol en toe sê hy: Meneer Da Vinci, weet u wie ek is? Ek is dieselfde jongman wat 9 jaar gelede hier vir jou gesit het toe jy Jesus geskilder het. Ja, dis dieselfde mens, maar as gevolg van ‘n grief wat ek teenoor ‘n naaste familielid in my hart gedra het oor iets wat hy aan my gedoen het, het my voorkoms só verander dat jy my nou gebruik het om Judas te skilder.



Griewe, onvergewensgesindheid, haat en allerlei wraakgedagtes maak ‘n mens stadig dood van binne!
1 Kommentaar: so far:
    Anonymous 6/23/2014 04:49:00 pm , said...

    Ds. se preek was regtig pragtig gister en hoe lekker is dit nie om in vrede met almal te leef,mense is maar geneig om gevoelig te wys vir die kleinste aanmerking,maar ek het geleer om alles positief te draai en dit maak 'n groot verskil in my lewe,geluk van binne en deur God se genade en liefde is dit moontlik.Ek het nou al baie opgemerk as ander sien hoe gelukkig en positief mens is,is dit aansteeklik.Voorspoed met Ds. se werk in die vallei.
    Una