POSTED BY Steven Sass on 06:25 under
25 Mei 2014 Patensie
Johannes 14:15-30
Dit het vir ons die afgelope paar weke duidelik geword dat die tyd tussen die  Opstanding en Hemelvaart ‘n oorgangstyd was, waarin Jesus sy dissipels op ‘n nuwe bedeling voorberei het, wat die nuwe bedeling van die Gees genoem word (Rom 7: 6). Kort na Sy Hemelvaart het hierdie bedeling met die uitstorting van die Gees op Pinksterdag dan ook aangebreek.
Die werk wat Christus vir ons verlossing moes kom bewerk het om ons met God te versoen was volbring en afgehandel. Hy het voor Sy kruisdood by verskillende geleenthede duidelik vir Sy disspels gesê dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die Skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word en die derde dag uit die dood opgewek moet word (Matt. 16:21; Mark. 9:21; Mark. 10:33-34), en dat Hy gekom het om Sy lewe as ‘n losprys vir baie te gee (Mark. 10:45).
Hy het het verder ook vir hulle gesê dat Hy van God gekom het en na God toe teruggaan (vgl. Joh. 13-17). Hulle het bedroef en onsteld geraak oor hierdie nuus. Hulle het alles verlaat om Hom te volg en nou hoor hulle dat Hy van hulle af weggeneem sal word! Hulle kon hulle lewe op daardie tydstip nie meer sonder Hom indink nie.
Maar dan belowe Jesus aan hulle dat Hy na Sy hemelvaart weer na hulle toe sal terugkom. Hy sal hulle nie as wese agterlaat nie (Joh. 14:18). Hy het immers ook mos aan hulle belowe dat Hy al die dae tot die voleinding van die wêreld by hulle sal wees (Matt. 28:20). Maar hoe sou Jesus hierdie belofte na sy Hemelvaart vir hulle ‘n werklikheid maak?
Daar is net een antwoord. Hy sou na Sy Hemelvaart op ‘n ander manier by hulle teenwoordig wees en wel op die manier van die Gees. Die Heilige Gees, wat ook die Ander Trooster genoem word, sal Christus se plek tydens Sy liggaamlike afwesigheid by hulle kom volstaan. Dit is waarom Christus in die loop van 40 dae na Sy Opstanding aan Sy dissipels by verskeie geleenthede verskyn en skielik weer uit hulle gesigveld verdwyn het. Hy was besig om hulle daarop voor te berei dat Hy na Sy hemelvaart op die manier van die Gees by hulle en in hulle teenwoordig en werksaam sal wees (Joh. 14:17).
Daar is veral drie dinge wat opval in die tyd tussen die Opstanding en Hemelvaart van Christus.
· Jesus het na sy opstanding met baie onbetwisbare bewyse aan sy dissipels getoon dat Hy lewe. By verskeie geleenthede het Hy aan indiwidue, kleiner groepe, en selfs ‘n groot groep van meer as 500 persone tegelyk verskyn (1 Kor 15:1-5). Hulle het Hom gesien en gehoor en kon aan Hom voel en raak na Sy opstanding (Luk. 24:39-40). Sy volgelinge kon Hom dus herken aan sy woorde, dade en wonde. Hy het selfs ‘n stukkie gebakte vis voor hulle oë geeët om hulle twyfel te bowe te kom. Dié Jesus wat aan die kruis vasgespyker is, en begrawe is, is dieselfde Jesus wat met ‘n verheerlikte liggaam uit die dood opgestaan het. Wie dit nie glo en bely nie staan nie meer by die Christelike geloof nie (1 Kor. 15:1-3). Sy opstandingsliggaam het nuwe eienskappe gehad wat nie aan tyd of ruimte, of enige beperking of aan sonde of verganklikheid onderworpe was nie.
Op die dag van Jesus se Hemelvaart was die dissipels vas oortuig en seker dat Hy lewe. Daarom kon hulle Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggaan en God in die tempel loof en prys.
· Ons sien ook dat Jesus na Sy opstanding die dissipels se verstand geopen het om die Skrifte te verstaan. Wat hulle nie kon verstaan het vóór Sy kruisdood nie, het hulle nou verstaan ná Sy opstanding. Hy het die koninkryk van God aan hulle verkondig en al die Skrifuitsprake in die wet van Moses, in die Psalms en in die profete wat op Hom betrekking gehad het,vir hulle uitgelê en verduidelik. Só lê Jesus self die band van eenheid tussen die Ou en Nuwe Testament geskrifte! Die Ou Testamentiese Skrifte getuig van Hom. Christus het na Sy opstanding die dissipels se harte en gedagtes aan die Skrifte vasgebind. Na sy Hemelvaart tot met sy wederkoms sal die Skrifte dus ‘n wesenlike plek in die kerk se lewe inneem, omrede Christus Sy kerk steeds vandag nog vergader, regeer, versorg, bewaar en instand hou op die manier van Sy Woord en Gees. So is Hy by en in Sy kerk teenwoordig en werksaam tot vandag toe.
· Aan die einde van die 40 dae is die dissipels weer diep getroos met die belofte van die Ander Trooster wat na hulle toe sou kom om die lewe skouer aan skouer met hulle te kom deel. Alles wat Jesus vir Sy dissipels was tydens Sy aardse lewe sou die Gees ook vir hulle wees. Die Gees sal hulle bystaan, innerlik versterk, bemoedig, vertroos, hulle met krag en gawes toerus vir hulle dienswerk en getuienstaak (Hand. 1:8). In elke lewensomstandigheid, in tye van voorspoed, of tye van beproewinge en versoekinge, hoe moeilik ookal, sal Hy hulle help, gerusstel en lei. Verder sal Hy hulle onderrig en herinner aan alles wat Jesus vir hulle geleer het en hulle in die hele waarheid lei (Joh. 14:26 en Joh. 16:13-14). Op hierdie wyse is die vier evangelies en die res van die NT geskrifte onder sy leiding en inspirasie vir ons opgeteken.

Die tyd tussen Christus se opstanding en hemelvaart hou dus in alle opsigte ‘n betekenisvolle en besondere boodskap in vir die kerk van Christus. ‘n Boodskap van hoop, sekerheid en nuwe lewenssin.
0 Kommentaar: so far: