2 Maart 2014 Patensie
Matteus 23:1-36 en
25:31-46
Mooi praatjies het
nie veel waarde nie
As daar nou een ding is wat godsdienstige mense goed kan
doen, dan is dit om mooi woordjies te gebruik. Hoe mooi kan ons dinge nie
formuleer nie, hoe mooi word daar nie in die kerk gepraat nie, hoe suiwer en
netjies kan ons tog nie dinge stel nie. So anders as wat die geval soms buite
die kerk en die godsdiens is.
Dit was eintlik nog altyd die geval gewees. Dit was ook so
in Jesus se tyd, maar dan die skokkende...Matteus sê vir ons dat Jesus nie erg
het aan mooi praatjies nie. Moet dit nou nie verkeerd verstaan nie, Jesus het
niks teen mooi praatjies as sodanig nie, dit gaan hier dan beslis nie daarom
dat mense lelik moet praat nie! Maar die mooi praatjies alleen is nie genoeg
nie. Jesus, so leer Matteus ons, soek meer as net mooi praatjies.
Na Jesus se intog in Jerusalem is Sy botsing met die
kerkleiers op die spits gedryf, die spanning wat al van die begin af daar was
en met die verloop van tyd al groter geword het, gaan nou tot ‘n finale punt
gedryf word. Nie alleen gaan hulle binnekort direk vir Sy gevangeneming,
verhoor en dood verantwoordelik wees nie, maar Jesus waarsku hier Sy volgelinge
direk en duidelik teen hulle.
Wat het Jesus teen die Skrifgeleerdes, die Farisieërs en die
Sadduseërs gehad? As Hy die skare wat om
Hom vergader het en die dissipels toespreek, begin Hy deur te sê: “Die
Skrifgeleerdes en die Farisieërs het die gesag om die wet van Moses te
vertolk”. Dis hulle werk, hulle het die kennis, hulle het die roeping, dis als
goed en reg. Meer nog, Jesus sê: “Julle moet alles doen en onderhou wat hulle
vir julle sê”. Jesus pleit dus nie vir die verwerping van hulle gesag nie, Hy
veroordeel nie wat hulle leer en sê nie, Hy vind nie fout met hulle dogmas en
kerkleer nie. Dit mag miskien oppervlakkig en onvoldoende gewees het, hulle mag
dalk te veel klem gelê het op die uiterlike...ons het miskien meer kritiek op
hulle as wat Jesus gehad het.
Nou wat het Jesus dan teen die kerkleiers van Sy tyd gehad?
Dit klink mos asof Hy hulle prys en ondersteun. Jesus het dit teen hulle dat
hulle net mooi praatjies maak. Hulle woorde is mooi, maar hulle dade rym nie
met hulle woorde nie. Tussen hulle woorde en hulle dade is ‘n onoorbrugbare
kloof. Hulle eis van hulle volgelinge om dinge te doen wat hulleself nie doen
nie. Hulle bak mooi broodjies sodat hulle aansien verhoog kan word en hulle as
belangrike mense gesien en geëer kan word. Dit mag nie. Ons val mos ook soms in
hierdie slaggat. Ons sê sulke mooi dinge, soms met die onuitgesproke hoop dat
mense ons sal respekteer en hoog sal ag.
Hulle het allerlei tradisies en bepalinge voorop gestel en
dit vir die mense moeilik gemaak om die Here te aanbid. Soos ons ook soms
moeilike eise stel en allerlei reëltjies het waaraan ander moet voldoen om in
te wees. Hulle het soos ons, verstrengel geraak in beuselagtighede en
onbelangrike dinge tot kernsake verhef. Hulle het ‘n vroom front voorgehou
terwyl hulle agteraf hoegenaamd nie so geleef het nie. As die mense hulle nie
gesien het nie, het hulle heel anders opgetree as wat hulle die mense geleer en
van die mense verwag het. Hulle het so op die uiterlike gekonsentreer dat hulle
die mense vergeet het, en so het hulle hard en onmenslik geword. Kortom, hulle
het nie geleef in ‘n lewende verhouding met die lewende Here in die konkrete
daaglikse lewe nie. Dan word godsdiens ‘n formele spel wat niks met die lewe en
die werklikheid te doen het nie. Helaas is dit die tragiese werklikheid wat ons
vandag nogsteeds raaksien...ons bely dat ons Christene is, maar in die
daaglikse lewe sien ons so min van Christus raak. Ons het wonderlike
leerstellings maar in die praktyk sien ons min liefde en genade en vergifnis
raak.
Jesus het nie erg aan mooi praatjies nie. Hy het van Sy
felste uitsprake juis hierteen gemaak. Skerp veroordeel Hy diegene wat hulle
hieraan skuldig maak...Hy is skerper in Sy oordeel oor die wat mooi praatjies
maak en anders lees as oor enigiets anders.
Dit vind ons weer en op ‘n ander wyse in Sy laaste onderrig (Matteus 24-25), die sogenaamde
profetiese rede. Hier praat Jesus as profeet oor die toekoms en die eindtyd. Hy
sê hierin dat moeilike tye vir die gelowiges wag, en Hy wys hulle daarop dat
niemand weet wanneer die eindtyd sal aanbreek nie. Hy roep Sy volgelinge op om
getrou te wees en gereed te wees vir Sy wederkoms. Dan sluit Hy Sy profetiese
rede af met ‘n verwysing na wat op die dag van Sy wederkoms sal gebeur. Dit sal
‘n dag van oordeel en skeiding wees (Matt. 25:31-46). Maar wat sê Jesus nou
eintlik hier? Hy vertel op ‘n aangrypende manier dat almal op die oordeelsdag
voor Hom sal staan. Dan sal daar skeiding gemaak word. Die skape sal van die
bokke geskei word, die een groep sal aan Sy regterkant en die ander aan Sy
linkerkant staan. Vir die een groep sal Hy sê: “gaan weg van My.” Vir die ander
groep sal Hy sê: “Kom na My toe, kom in die koninkryk wat vir julle berei is.”
Nou op grond waarvan sal hierdie skeiding plaaasvind? Op grond waarvan sal ons
beoordeel word? Miskien moet ons eers kyk wat hier nie gesê word nie. Jesus vra
nie aan watter kerk hulle behoort nie. Hy vra nie wat hulle belydenis is nie.
Hy vra hulle nie wat hulle geleer of wat hulle gesê het nie, dis nie eers ter
sprake nie, maar wat wel ter sprake kom, is wat hulle en ons gedoen het. Nie
mooi praatjies nie, maar ons dade word onder die loep geneem. Maar let op: nie
ons betrokkenheid by die kerk nie, nie hoeveel kerke jy al in jou lewe besoek
het en wat wat jy al alles daar gendoen of gegee het nie. Ook dit tel skynbaar
nie. Nou moet ons mooi verstaan, dis nie dat ons belydenis onbelangrik is en
ons kerklike betrokkenheid van geen betekenis is nie, hoegenaamd nie. Waaroor
dit wel vir Jesus gaan is of ons belydenis en ons lewe met mekaar rym. Of ons
mooi praatjies gestalte vind ins ons optrede in die daaglikse lewe.
Jesus oordeel op grond van wat mense gedoen het aan die wat
honger en dors was, aan die vreemdelinge en die armes, aan die siekes en
diegene in tronke. Dit was die mense wat destyds, soos vandag ook nog maar, nie
aansien gehad het nie. Mense op wie neergesien is. Mense van wie dikwels gesê
is dat dit hulle verdiende loon op hulle sonde is. Mense wat darem nie ons klas
is nie. Mense met wie ons ons nie wil assosieer nie. Hoe het julle teenoor
hulle opgetree, vra Jesus? Hoe tree ons teen hulle op?
Jesus sê hier duidelik...ons optrede teenoor diegene op wie
die gemeenskap neersien en wat ons ook maar soms vermy, weerspieël ons optrede
teenoor Hom. Dis Hy wat honger of dors is, dis Hy wat ‘n vreemdeling of arm is,
dis Hy wat siek of in die tronk is. Die toets van ons geloof lê daarin of ons
dade teenoor die minste in die gemeenskap in ooreenstemming met ons belydenis
is. Oo ons liefde en geloof, die voorbeeld van Jesus sigbaar is in ons daaglikse
omgang met die uitgeworpenes uit ons samelewing....dis die finale toets.
Jesus het nie erg aan mooi praatjies nie...
Post a Comment