POSTED BY Steven Sass on 06:16 under
9 Maart 2014 Patensie
Die Weg, die Waarheid en die Lewe
Johannes 14:1-14
Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Hoe bekend is hierdie woord nie. Ek is seker ons ken dit almal baie goed, maar nou is dit mos ook so dat as iets so bekend is, kan dit wees dat dit sommer uit ons gedagtes uit glip omdat ons dit dan so goed “ken”. Hiervan is die ‘samevatting’ van die Tien Gebooie seker ook die bekendste voorbeeld. Die Jode het vir Jesus gevra wat die grootste gebod is, en as Jesus dit saamvat in die liefde vir God en die naaste, dan haal Hy twee verse aan  wat hulle baie goed geken het. Trouens, hulle het dit elke dag die keer in hulle daaglikse gebede gebruik. Tog het hulle so gewoond geraak daaraan dat dit hulle net nie meer geraak het nie. So hoor ons dit ook so baie en ken ons die woorde so goed, maar sien ons so min daarvan dat mense dalk kan dink dat ons dit glad nie ken nie.

Dit kan ook die geval wees met hierdie bekende woorde van Jesus. En juis daarom moet ons telkens weer daarna luister.

Jesus gebruik ook hierdie woorde as Hy besig is om Sy dissipels voor te berei vir wat op hulle wag. Hy is saam met hullle, en dis kort voor Sy dood, en Hy weet baie goed wat op Hom wag, maar hulle weet van niks nie of het nog nie regtig verstaan wat Hy al soveel keer gesê het nie, en nou spandeer Hy baie tyd om hulle voor te berei, want Hy wil nie hê dat hulle ‘n onbekende toekoms ingaan nie. Hy wil veral ook nie hê dat hulle ontsteld moet wees oor wat gaan gebeur nie. Wat voorlê is inderdaad ontstellend. Tog moet dit hulle nie ontstel nie, want dis net ‘n onstellende trap na iets heerliks wat wag.

Jesus pleit by die dissipels om in God te glo. Dit wat voor die deur lê, is van so ‘n aard dat die wat nie in God en in Hom glo nie, nie staande sal kan bly nie. Net geloof sal hulle staande kan hou. Hierdie oproep van Jesus kom vandag nog na ons. Dis die vertrekpunt. Sonder geloof is alles vergeefs, en sonder geloof kan ons nie anders as om onsteld te word deur alles wat gebeur nie. Sonder geloof kan ons nie lewe nie. Glo in God; glo ook in My. Dit is die oproep wat elke dag tot elkeen kom.

Jesus sê vir hulle dat Hy na Sy Vader gaan, vir hulle plek sal berei en hulle dan kom haal. Met enkele penstrepe skets Hy wat gaan gebeur. Tipies menslik sê Tomas dat hulle nie weet waarheen Jesus gaan nie en dus ook nie die pad ken nie. Dan antwoord Jesus: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Hiermee sluit Jesus aan by en gebruik die wêreldbeeld wat destyds algemeen bekend was. Toe is daar nie net geglo dat die aarde ‘n plat vierkant is wat op pilare rus, met die hemel bo en die see onder die aarde nie, die algmene opvatting was dat die hemel die plek van  volmaaktheid was. Daar was geen duisternis nie, maar net lig. Daar was geen pyn of lyding nie, net oorvloed en vreugde, daar was nie dood nie, net lewe. Dit is waar God gewoon het.

 Verder is daar geglo dat daar geen direkte verbintenis tussen die hemel en die aarde was nie. Dis net af en toe dat God deur tekens of gesante soos die engele met die mens kontak gemaak het. Van die aarde kon geen mens by of in die hemel kom nie. Die hemel was as’t ware ‘n geslote ruimte vir die mens.

In die Evangelie van Johannes, waar hierdie wêreldbeeld sterker is as by die ander evangelies na vore kom, word iets radikaals nuut bely. Jesus kom van die hemel aarde toe, Hy bring die boodskap van God. Hy is egter meer as net ‘n gesant, Hy is een met die Vader. God stuur Sy Seun na die aarde...God trek die dissipels na Jesus na Hom toe.

Nou voltooi Jesus hierdie prentjie. Hy het nie net van die hemel aarde toe gekom nie, Hy gaan nou binnekort terug hemel toe. Dan maak Hy die pad na die hemel toe oop. Met Sy koms het Hy as’t ware die een baan geopen; van die hemel na die aarde. Nou gaan Hy die ander baan voltooi en oopstel: van die aarde na die hemel. Dan is die hemel en die aarde nie meer twee geskeie ruimtes nie, maar een. Dan sal die hemelse na die aarde vloei en kan die mens na God toe gaan. Die hemelse, die lig, lewe, liefde, oorvloed, genade en al die ander wonderlike dinge kan deel van hierdie lewe word. Die gelowige se lewe eindig dan nie in die graf nie, maar gaan voort in die hemel...

Ek is die weg, die weg na die Vader, sê Jesus. Die pad na God is oop. Ons kan God ken, ons kan na Hom toe gaan, nie net na die dood nie, maar ook in  gebed, in ons gesprekke met Hom. Ons kan Hom loof en prys...ons kan by Hom kla, ons kan met ons versoeke na Hom toe gaan. Die pad is oop. God se deur staan oop vir wie in Hom glo. Jesus is die weg en die deur. Hiermee sê Jesus dan dat die aarde nie ons finale eindbestemming is nie. Ons reis met Hom gaan deur Hom na die hemel toe, na God toe. Dit is belangrik dat dit nie of selfs in die eerste plek wys op ons reis na die dood nie. So asof ons hier op aarde leef en  dan na die dood hemel toe gaan nie. Die pad is nou oop. Nou en moet ons hemel toe, na God toe gaan. Daagliks moet ons dit doen. Van Hom moet ons elke dag dit ontvang wat ons nodig het om Sy werk hier te doen. Nou moet ons die hemel aarde toe bring of die aarde in die hemel omskep. Dit kan gebeur as ons soos Jesus leef. In liefde leef... Sy lig laat skyn, Sy werk doen. Dit kan alleen, maar dit moet, as ons voortdurend heen en weer beweeg op die weg....Jesus Christus.

Jesus sê ook dat Hy die Waarheid is. Ons dink aaan waarheid asof dit ‘n objektiewe en feitelike korrekte stel gegewens is. Jesus sê Hy is die waarheid...en die waarheid is nie iets nie, dis ‘n Persoon. In die Bybel word waarheid en lig telkens saam gebruik, geen wonder dat ons ook lees dat Jesus die lig is nie. Waarheid is daarom iets rasioneel. Dit is om in verhouding te staan. In  verhouding met Jesus. Vra ons dan wat die regte ding is om te doen, dan kom die antwoord: wat ons in opregte verhouding met Jesus doen. Saam met Hom en tot eer van God. Dis reg. Dis die waarheid. Leef ons in verhouding met Jesus, dan leef ons in die waarheid.

Jesus sê verder dat Hy die lewe is. Buite Hom is die dood en is daar geen lewe nie. Hiermee word nie bedoel dat mense nie kan asem haal en bestaan sonder Jesus nie, maar dat mens nie sinvol kan bestaan buite Hom nie. Lewe is om aan God gebonde te wees. Om een met Jesus te wees. Elders het Jesus gesê dat die ewige lewe is om aan  God te behoort. Dis lewe. Nie sinlose bestaan nie. Hy is die skepper, en Hy gee aan alles lewe. Deur die verbreking van die band met God, verloor die mens sy lewe, al haal hy nog asem. Jesus sterf om ons weer aan God te bind en so te laat leef. Sonder Jesus kan ons nie lewe nie.

Ek is die weg en die waarheid en die lewe sê Jesus....Niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie. Dit glo ons. Dit is die boodskap wat ons aan almal oordra in die liefde van Christus. Hy wil vir almal die weg en die waarheid en die lewe wees soos Hy vir ons is en wil  wees
0 Kommentaar: so far: