POSTED BY Steven Sass on 06:19 under
 16 Maart 2014 Patensie
Psalm 66
Aanskou die dade van God en wees bly in Hom!
Elke dag hou baie bekommernisse in. Elke dag hou baie vreugde in. Jy moet dit egter regkry om deur die seestrome van bekommernisse en vreugdes te kom. Om die rede verkondig God vandag aan die hand van Psalm 66:5 en 6 aan jou:
KOM HOOR WAT GOD GEDOEN HET EN WEES BLY IN HOM !
Die fisiese gebeurtenis van waar Israel deur die Rooi See getrek het, word beskryf in Eksodus 14. In Eks.12:29 lees ons dat die Here om middernag elke eersgeborene (oudste kind) van Egipte met die dood laat sterf het. Slegs Israel se mense wat bloed aan die deurkosyn gesmeer het en so gehoorsaam was aan die opdrag van die Here God, se eersgeborenes was gespaar. Die ramp het Egipte geskud en so het die Here vir Farao die Israeliete sommer laat wegjaag.
Na 430 jaar se ballingskap is die Israeliete bevry en dit deur die uitvoering van die voorskrifte vir die Pasga. Telkens was daar ook in die toekoms herrinnering deur God dat Hy hulle uit Egipte uitgely het op die pad van bevryding, veral ook in die 10 gebooie. Deut. 5:6 “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.”
In Eks 13 word beskryf dat elke eersgeborene van Israel aan die Here gewy moes word, dus vir God in die tempel moes werk. Dit het gegeld vir die eersgeborenes van mens en dier. Terselfdertyd word daar ook in Eks.13 beskryf dat die Here die volk met ‘n ompad laat trek het. Die Here het hiermee ‘n doel gehad. Hy het hulle met die lang pad omgestuur sodat die volk nie koue voete sou kry om terug te gaan na die vleispotte van Egipte nie, maar in besonder omdat Hy hulle deur die Rooisee op ‘n wonderbaarlike wyse wou laat deurtrek. So wou Hy Israel finaal verlos van Egipte.
Intussen het die Farao sy wonde klaar gelek en spyt gekry dat hy Israel weggejaag het. Al daardie hordes werkers is nou weg en wie moet nou die werk doen? Dit was ook onder beskikking van God dat Farao so opgetree het sodat God weer ‘n keer Sy almag kon betoon. Farao het met sy 600 beste strydwaens met bemanning en leermag en al die pad gevat en die Israeliete ingehaal.
Nogtans het die Here God vir Israel onder Sy beskerming verder laat trek. Ja, die Israeliete was doodbang en beangs en het vir Moses en die Here verwyt. Moses se antwoord was eenvoudig : “Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. 14 Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees. ” (Eks.14:13,14)
Hierna het Moses die opdrag van die Here ontvang om met die staf in die hand sy hand oor die see uit te steek sodat die volk Israel op droeë grond daardeur kon trek. Die Here het ook die harte van die Egiptenaars verhard sodat hulle verblindend en bloeddorstig deur die droëe pad van die see wou kom.
Helaas, God se wonderwerk, Sy ingrype, Sy stry vir die volk, Sy geveg namens die volk, het Sy tol geeis. Net toe die volk deur die see getrek het op die droeë grond, het Moses weer in opdrag van die Here sy hand oor die see uitgesteek sodat die pad toegemaak het. Op daardie oomblik het die Egitenaars besef dat die Here vir die Israeliete veg en hulle wou wegvlug. Toe was dit te laat vir mens en dier! Die water het elkeen oordek en hulle het soos ‘n stuk lood gesink en verdrink. Die Here het die geveg gewen vir Sy volk, net soos Hy belowe het.
So het die Here Sy volk Israel ongedeerd en veilig verder geneem tot anderkant van die Rooisee. Daarom is die uitroep al vir eeue en ook vandag: AANSKOU DIE DADE VAN GOD EN WEES BLY IN HOM!
En vir ons,  vir ons is daar nog meer rede om God se dade in aanskouing te neem en in Hom bly te wees. Elkeen van ons, klein en groot, is ook in die groef van die sonde en sal blootgestel wees daaraan vir die res van ons aardse lewe. Die sonde is dus ons ballingskap en die see van versoeking.
Die aanhitser en aanvoerder van die sonde, soos wat die Farao die aanvoerder van Egipte was, is die Satan. Satan is die owerste van die duisternis en sonde.
Hy is die Vader van die leuen en hy is elke sekonde van ons lewe besig om ons gedagtes, woorde en dade weg te prober lei van God en Sy wil. Nou moet jy erken, net soos wat die Israeliete beangs was en met verwyte God wil aankla, en net soos wat hulle nie geweet het wat die roete was om anderkant die Rooisee te kom nie, net so weet jy ook nie hoe jy uit eie krag deur die pad van sonde en versoekings gaan kom nie.
Jy raak ook benoud en beangs as jy die lewe en die toekoms in die oë kyk. Jy raak jaloers as jy kyk na geleendhede wat ander mense kry en nie jy nie. Ons raak lelike mense wat in eiewilligheid en wêreldse genot verval. Ons is nie bereid om voluit gebind te word aan God Self en Sy Woord nie.
Vandag verkondig die Enigste Ware God aan ons dat daar net een manier is om bevry te word van die aanslag van Satan en die val en volharding in sonde:
in en deur Jesus Christus. Jesus Christus het Self die straf, pyn en Godverlatenheid vir ons aan die kruis gedra. Jesus Christus is die enigste Verlosser en ons moet eenvoudig net afhanklik wees en weet dat Jesus die geveg klaar gewen het.
Staan stil, kyk om jou, sien raak wat God doen, wees getuie van Sy groot werke! Dieselfde God wat Israel bevry het deur die Rooisee, is ons God en Hy sal ons deur ons rooisee en bedreigings neem. Moenie self die pad op eie stoom probeer loop nie. Moenie self veg nie. Ons Here God stry en veg vir ons en ons moet stil wees. Bid en wees afhanklik en sien wat God doen. Volg Jesus Christus as jou Enigste Verlosser en Saligmaker.
Wee egter die een wat teen God werk. Help waar jy kan en laat so een tot bekering gelei word voordat dit te laat is. Vir die Egiptenare was dit te laat daar in die Rooisee. Vir die een wat volhard in sonde en die eie pad teen God se pad en Sy wil, vir hom en haar sal die oordeel tref, ‘n lewe sonder God tot in ewigheid. Aanskou jy nog die wonderdade van God?
Net soos wat hier in Ps. 66 die grootheid van God besing word, so moet ons ook die grootheid van God in Christus besing. Staan stil en moenie self deur die lewenssee probeer swem nie, jy kan nie. Laat God vir jou stry en lewe jy net gewillig en gehoorsaam binne Sy wil en volg in Christus se spore.

 AANSKOU DIE DADE VAN GOD EN WEES BLY IN HOM! 
0 Kommentaar: so far: