POSTED BY Steven Sass on 23:46 under
23 Maart 2014 Patensie
DIE DOOP VERTEL ‘N WONDERLIKE STORIE/ nie soos ons president se storie nie!
Gal 3:21-29 (:26,27)
Ben Hooper was ‘n buite-egtelike kind. Hy is as gevolg daarvan deur ander gespot en verstoot. Daar is baie geskinder oor wie sy pa was. Niemand by die skool wou met hom maats wees nie en pouses het hy maar eenkant bly staan...
Toe kom daar ‘n nuwe predikant en Ben het ‘n paar van sy dienste gaan bywoon. Die dominee het hom opgemerk en hom die vraag wat hy altyd gevrees het, gevra: “Wie se kind is jy?” Toe die dominee agterkom dat die vraag hom ongemaklik maak, het hy geglimlag en gesê: “Ek weet wie se kind jy is. Die familietrekke is duidelik. Jy is ‘n kind van God! Sorg dat jy daarvolgens leef.” En Ben het. Hy het later die goewerneur van die Amerikaanse staat Tennessee geword
(1911-1915).
1. DIE SUIGELINGDOOP VERTEL VAN GOD SE GENADE
Ons het vanoggend ‘n klein ou babatjie van net ‘n paar maande oud gedoop. Daar is mense wat sê dis onsinnig om babas te doop, want die kind verstaan nie wat aangaan nie. Die kinderdoop vertel egter net so ‘n mooi en nog mooier storie as Ben Hooper s’n. Dit vertel dat toe ek ‘n niemand (nobody) – ‘n baba – was, was daar Iemand wat
gedink het ek is ‘n iemand(somebody). Toe ek ‘n baba was en niks verstaan het en niks verdien het en niks eers kon belowe nie, het God na my gekom en gesê: “Ek wil vir jou ‘n God wees, wees jy vir My ‘n kind.” Ek kon eers heelwat later daarop antwoord, maar VOOR ek dit gedoen het, het God al gedink ek is spesiaal. Voor ek
vir God kon kies, het God al vir my gekies. Dis GENADE – onbeskryflik groot. Soos ons gesing het:
“In genade, groot en ryk,
Bou U, Heer, u konininkryk.
Voordat ek kon kies, kon vra,
Het u Seun my vloek gedra.
Ek kon vind: U’t my gekry
Voor ek nog my skuld bely.” (Lied 190:2)
Dis die storie van die kinderdoop. Sê dan maar dis onsinnig, want genade maak nie sin nie. God se liefde vir sondaars maak nie sin nie. Niemand kan dit verstaan of verklaar nie. Ons kan dit maar net glo, net aanneem!
Het JY dit al gedoen? God se genade en liefde aangeneem?
2. DIT VERTEL WIE GOD Sê DAT ONS IS
Sommige van ons het dalk die fliek The Cider House Rules gesien. Dit speel af in St Cloud, ‘n hospitaal en kinderhuis. Die dokter wat daar in beheer staan, het die kinders
elke aand gegroet met die woorde: “Good night, you princes of Maine, you kings of New England.” Al het hulle nie mooi verstaan wat dit beteken nie, het dit hulle ‘n identiteit, ‘n gevoel van belangrikheid gegee. Hulle is nie weggooikinders nie. Nee, hulle is “princes of Maine” en “kings of New England”. By die doop sê God: “Jy is nie sommer maar net jy nie. Jy is ‘n prins … prinses …die kind van ‘n Koning.” Hoe sing Jan de Wet en die Loflaaities: “My Pa is ‘n Koning en ek is sy kind…!” Wanneer een van die kinders – sê nou maar sy naam was Homer Wells – die kinderhuis verlaat het, het die dokter en sy personeel daardie aand by die kinders ‘n
slaaptydgesegde gehad: “Let us be happy for Homer Wells. Homer has found a family. Good night Homer.” Homer het ‘n tuiste gevind. Laat ons saam met hom bly wees, want dit was die behoefte van al daardie kinders – om deel van ‘n gesin te wees.
Met die doop het ons deel van ‘n ander gesin geword… God s’n. “Let us be happy for (Edith vander Watt). (Edith) has found a new family.”
3. DIT VERTEL VAN GOD SE VERGIFFENIS
Die doop vertel ons ook die storie dat God ons sondes vergewe. Ja, ook babas het vergiffenis nodig! Dit sê vir ons daar is vergiffenis beskikbaar. Soos wat water jou van buite skoon was, net so herinner die doopwater jou aan God wat jou wil en kan skoon was van binne. 1 Joh 1:6,7 “As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons
lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. Maar as ons in in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.” Die water by
die doop is die teken van die bloed.
4. DIT IS ‘N TROOSVOLLE STORIE
Die doop is ook ‘n troos in tye van moeilikheid en twyfel. Ons sing “Dit is my troos dat ek gedoop is …” (Lied 290) Wanneer hy deur ‘n moeilike tyd gegaan het, het Martin Luther die gewoonte gehad om iewers neer te skryf: “Ek is gedoop.” Met ander woorde God het Hom aan my verbind, Hy het my gemerk as SYNE.
Die doop verseker ons: God het ons ook so ‘n liefdesmerk gegee. Hy sal ons nooit in die steek laat nie. Soos in Jes 43 staan: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.” Romeine 8 verseker ons dat niks ons ooit weer
van God se liefde kan skei nie (:35).
5. DIT IS ‘N VERHAAL MET ‘N OPROEP
Die dominee het vir Ben Hooper gesê: “Jy is ‘n kind van God. Sorg dat jy so lewe.” Dit is ook die boodskap van die doop. Dit is waaraan ons gereeld ons kinders moet herinner: Gedoopte mense is baie spesiale mense en leef op ‘n spesiale manier .Daar is ‘n verhaal wat vertel word oor die beginjare van Henry Ford en die Fordmaatskappy. ‘n Sekere werker het oor die jare gereedskap en motoronderdele uit die fabriek uit huis toe geneem en nooit weer teruggebring nie. Dit was teen die reëls, maar almal het dit gedoen.
Toe kom die werker tot bekering en omdat hy nooit as baba gedoop was nie, is hy toe ook gedoop. Die dag daarna het hy alles wat aan die fabriek behoort het, weer teruggeneem en aan die voorman oorhandig. Hy het sy hele storie aan hom vertel en hom om vergiffenis gevra. Die voorman was so getref deur die man se eerlikheid, dat hy aan Henry Ford wat toe iewers met vakansie was, ‘n telegram met die nuus gestuur het. Ford se antwoord was soos volg: “Dam up the Detroit river and baptize the entire plant!”
Hierdie werker het besef: As gedoopte behoort ek anders te lewe. Dis soos wat in vers 27 staan: “… want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, moet lewe soos mense wat aan Christus behoort.”
Dat ons gedoop is, moet as’t ware op ons voorkoppe geskrywe staan! (Open 22:5) ‘n Tyd gelede verskyn daar ‘n artikel in “The Times” met die titel “As an atheist, I truly believe Africa needs God”. Dis geskryf deur Matthew Parris wat Suid Afrikaans gebore is, in die ou Rhodesië grootgeword het, later in die Britse Parlement gedien het en wat deesdae ‘n joernalis is. Hierdie artikel het vroeër vanjaar ook in die BY
verskyn. Matthew Parris vertel daarin hoe hy as ateïs van oortuiging is dat Christenskap die antwoord is op Afrika se nood. Nie sekulêre welsynsorganisasies nie. Nie regeringsprojekte nie. Nie Internasionale opheffingsprojekte nie. Maar Christenskap. Sy rede? Omdat Christenskap mense se harte verander. Hy noem dit ‘n verandering
wat “real” en goed is. Die Christene met wie hy in Afrika te doen gekry het, was eerlik, toegewyd, optimisties en bowenal “real”. Hulle was mense wat die nood rondom hulle raak gesien het. Dink julle nie ook dat as gedoopte mense in Suid-Afrika net soos gedooptes lewe, dit ‘n groot verskil sal maak nie!
SAMEVATTING
Die doop vertel vir ons ‘n wonderlike verhaal van God se genade en ons kindskap, van vergifnis en troos. Dit rig ook ‘n appél tot ons, dit roep ons op tot ‘n gehoorsame lewe.
As die versoeking kom of die geleentheid daar is, as jy wil twyfel, afdwaal, depressief of bang is, sê vir jouself: “Ek is gedoop!”

Amen
0 Kommentaar: so far: