POSTED BY Steven Sass on 06:31 under
23 Februarie 2014 Patensie
In botsing met die kerk en kermense
Matteus 16:1-12
In die Evangelie van Matteus lees ons dikwels van die botsing tussen Jesus en die Farisieers en Sadduseers. Dit is trouens een van die sentrale lyne wat dwarsdeur die Evangelie loop, en ons kan dit nie sommer so afmaak as niks nie. Dit gaan om ‘n ernstige botsing in en met die kerk. Dit sluit aan by wat ons alreeds in die Ou-Testament aantref en wat ons sedertdien nog altyd in die geskiedenis gevind het en wat vandag nog kop uit steek.

Die stryd tussen Jesus en die kerkleiers van Sy tyd, is tekenend van botsende teologiese standpunte, ons lees mos byna daagliks van die debatte oor die Bybel en die teologie.

As Jesus in botsing is met die kerkleiers van destyds, dan is dit mos ‘n botsing tussen God en Sy kerk. In die Ou-Testament lees ons nogal heelwat van botsings wat die profete bv. met die kerkleiers gehad het. So is Amos belet om verder te profeteer, Jeremia was skerp in botsing nie net met die politieke leiers nie, maar ook in botsing met die godsdiesntige leiers. Jesus het ook verwys na die feit dat die profete in Jerusalem vervolg is en die boodskappers van God daar gestenig is.

Afgesien hiervan vind ons selfs Ou-Testamentiese boeke wat geskryf is as kritiek teen sekere teologiese standpunte wat gehuldig is. Hier kan ons veral dink aan die boek van Job, wat primêr ‘n polimiek is teen die vergeldingsleer. Hulle het geglo dat as teenspoed mens tref en jy siek word, dan kan dit toegeskryf word aan jou sonde. Dit word baie skerp afgewys in die boek Job. Habakuk het ook geworstel met die heersende teologie van sy tyd, wat tot ‘n mate as voorspoedsteologie bestempel kan word en waarin bely is dat dit met gelowiges goed sal gaan terwyl ongelowiges teenspoed sal beleef. Dit wat hy in die praktyk beleef het, het egter nie gerym met die teologie en wat die kerk vir hom vrtel het nie.

In Matteus 16 word die dissipels gewaarsku teen die invloed van die Farisieërs en die Sadduseërs. Nou is dit so dat ons ‘n negatiewe persepsie van hierdie groep het, maar voor ons hulle so maklik veroordeel, moet ons darem ook weet wie hulle was.Eerstens was hulle baie vroom en opregte mense gewees, hulle het ordentlik geleef en vir hulle was die hoof doel van die lewe om die Wet  en die res van die Ou-Testament te bestudeer en noukeurig daarvolgens te leef. Hulle het besondere aandag daaraan gegee om seker te maak dat hulle presies volgens die Woord van God leef en alle godsdienstige bepalings nakom. Hulle het nie net gereeld na die sinagoge en tempel toe gegaan nie, maar ook toegesien dat hulle die godsdienstige gebruike elke dag besonder noukeurig na kom. Hulle was baie godsdienstig en toegewyd, en oor al hulle kennis van die Ou-Testament kan boekdele geskryf word. Min van ons het naastenby ‘n kennis van die Bybel soos wat hulle gehad het, en hulle kon die grootste daarvan, indien nie alles nie uit hulle koppe opsê. Ons moet daarom versigtig wees om hulle sommer af te skryf of om met hulle die spot te dryf. As ons mooi kyk, sien ons dalk nie net baie van onsself in hulle nie, maar selfs baie van wat ons as idieaal sien in hulle.

Bykans dwarsdeur die openbare optrede van Jesus vind ons dan ook telkens dat van hulle naby Jesus is. Hulle luister na Sy prediking, hulle sien Sy wonders, en hulle tree dikwels in gesprek met Hom. Hoe baie keer lees ons nie dat ‘n Farisieër, of Sadusieër vir Hom vra gevra het nie. Trouens, ‘n groot deel van die Evangelie van Matteus word gewy aan die antwoorde wat Jesus  aan hulle gegee het.

Nogtans waarsku Jesus Sy dissipels teen die Farisieërs en die Sadusieërs. Ons weet dat die verskille tussen Jesus en die kerkleiers al groter geword het en dat hulle uiteindelik direk verantwoordelik was vir Sy gevangeneming, verhoor en teregstelling...hoe tragies. Dis nie die wêreld, leiers van ander godsdienste of ongelowiges wat dit aan Jesus doen nie, maar die leiers van die kerk. Die leiers van die kerk waarin Jesus groot geword het, waarin Hy gepreek het...Sy eie mense doen dit aan Hom.

Waar het hierdie skeuring dan gekom? Hoekom het hulle so verskriklik vyandig teen Hom geword? Wat het skeef geloop? Miskien kan ons ‘n paar dinge identifiseer... Een van die belangrikstes was seker die wyse waarop Jesus die Ou-Testament geïnterpreteer het. Hulle het die Ou-Testament letterlik verstaan...presies soos dit daar staan. Hulle het dan verder gegaan en hulle interpretasies en hulle toepassings daarvan op hulle tyd verabsoluteer. So het hulle oor die Sabbatsgebod allerlei bepalings gemaak oor wat met op die Sabbat mag en nie mag doen... en dit het hulle ook oor al die ander gebooie gedoen. Presies so en so moet jy optree, en hiervan mag jy nie afwyk nie. Alles is netjies in hokkies geplaas. SO word die godsdiens formeel... ‘n formele spel. As jy net doen wat vereis word, dan is alles regso. Hoe noukeuriger jy aan die kerklike voorskrifte voldoen, hoe vromer is jy. Jou posisie en status in die kerk en gemeenskap hang alles af van hoe toegewyd jy is in die sin van hoe noukeurig jy die kerklike bepalings en tradisies nakom. Sorg maar net dat jy op die regte tye bid; jou offers reg bring; gereeld in die kerk is; doen wat die kerkleiers vra en die kerklike gebruike en tradisies volg, en dan is jy reg!

Klink dit nie bekend nie? Al te dikwels beperk mense hulle godsdiens tot hulle uiterlike betrokkenheid. Nou sê ons nie dat mense nie by die kerklike aktiwiteite betrokke moet raak nie, glad nie, net maar dat ons godsdiensuitlewing nie beperk moet word tot Sondae of kerklike bedrywighede nie. Elke dag en op alle terreine moet ons ons geloof uitleef. Juis ook daar waar niemand anders dit sien nie...sonder ophef of vertoon.

Nou kom Jesus en Hy interpreter die Bybel baie anders...Hy gooi niks weg nie, Hy lees dit nie letterlik nie. Hy lê die klem op die betekenis  en boodskap van die Ou-Testament. Hy omskryf nie wie die naaste is wat ons moet liefhê nie, maar spel eerder uit wat die geweldige implikasies van die liefde is en wat die liefde alles in hou. Hy lees die Bybel nuut, hieroor sou die kerleiers Hom nie vergewe het nie....
Die vraag kom dan: hoe lees ons die Bybel? Lees on dit soos die kerkleiers in die tyd van Jesus? Daar is baie wat vandag nog die Bybel baie selektief en letterlik lees, dan word na bepaalde teksverse verwys sonder om ander tekste in ag te neem. Die woorde word letterlik en presies net so toegepas sonder om die kontek waarin dit geskryf staan, in ag te neem. Dan word allerlei bepalings daarby gevoeg, en te min word die Bybel in geheel gelees, van Genesis tot Openbaring. Te min word daar gevra na die sentrale tema en boodskap van ‘n Bybelboek, en hoe ons dit in ons tyd moet uitleef. Dit is noodsaaklik dat ons in die voetspore van Jesus sal volg en soos Hy die Bybel lees: vra na die betekenis en boodskap van die Bybel, Bybelboek en gedeelte. Wie in die voetspore van Jesus volg, moet erns maak met die lees, interpretasie, uitleg en uitleef van die boodskap van die Bybel....

Die Farisieërs en die Saduseërs het gedink hulle is wonderlik. Met hulle selfbeeld was daar niks verkeerd nie. Of liewers, so het hulle gedink. Maar hulle het gedink dat hulle beter is as anders mense. Hulle kom mos uit die gelsag van Abraham, hulle was mos die uitverkore geslag, die volk van God. Alle ander mense en volke was dan in hulle oë minderwaardig...hoe tragies. Maar dit is iets wat ons nou nog oral raaksien en waaraan ons ook skuldig maak. Al wil ons dit nie erken nie...dit is so...

Die vraag kom dan of ons nie presies leef soos die kerkleiers van daardie tyd nie? Is ons dan nie in botsing met Jesus nie? Ons moet baie krities na onsself kyk, lees ons nie die Bybel soos hulle nie? Is ons nie net so onbetrokke soos hulle nie? Is ons nie net so selfverheffend soos hulle nie?


Wie in die voetspore van Jesus volg, moet ook na Sy voorbeeld betrokke raak by mense in nood...ons moet persoonlik betrokke raak....self iets doen en nie indirek betrokke wil wees nie. Dit in nederigheid en sonder om dit aan die groot klok te wil hang en daarop te roem. Na die voorbeeld van Jesus moet ons diensbaar wees, al lei dit tot botsings met ander gelowiges. En as ons teenspoed kry van medegelowiges en selfs die Kerk, wees dan getgroos in die wete dat Jesus in botsing was met kerksmens...
0 Kommentaar: so far: