POSTED BY Steven Sass on 06:32 under
6 April 2014 Patensie
As God jou verlaat....
Psalm 22
Van God en mens verlate! Wat ‘n verskriklikke lot is dit nie! Ons voel ietwat verleë as ons die eerste woorde van die Psalm lees: “My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek roep? Dit klink mos na ‘n verwyt aan God. Kan ‘n mens so voel en so praat? Die digter het. Jesus het. So baie het al sedertdien, en vandag is daar ook soveel gelowiges wat nog so roep. Ons mag maar vir God sê hoe ons voel. Ons hoef nie te probeer om voor te gee dat dit goed gaan as dit nie die geval is nie. Juis die gelowige wat in ‘n lewende verhouding met die lewende Here leef, het die vrymoedigheid om vir God te sê wat diep in ons omgaan.

Die Psalmdigter het in nood verkeer. Hy sê dat die nood en krisis naby is, en dat ‘n wreedaardige klomp mense hom omsingel het. Soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op hom af. Soos honde omsingel hulle hom. ‘n Bende misdadigers het op hom toegesak, sy hande en voete vasgebind en hom beroof. Hulle het selfs sy klere uitgetrek en terwyl hy kaal gelê het, het hulle spottend en arrogant sy klere verdeel en lootjies getrek oor sy mantel. Hy was die prooi van ‘n geweldige rooftog. Terwyl dit met hom gebeur, steur niemand hulle aan hom nie. Niemand kom hom tot hulp nie. Niemand wil betrokke raak nie.

Is dit nie wat so baie nog beleef nie? In ons tyd word so baie beroof. Mense word wreed aangeval, vroue word verkrag, boere word vermoor, bejaardes word die prooi van ongekende wreedheid, roof en diefstal word algemeen, ons rig al hoe hoër veiligheidsheinings op en sluit onsself al hoe meer toe; mense wil nie meer uitgaan nie. Die tragiese is dat ons onbetrokke word.

Mense sien nie meer die nood van ander raak nie, ons kies om nie betrokke te wil raak nie. Ons loop gerieflikheidshalwe die ander kant verby of kyk weg as ons dit sien. Ons wil nie betrokke raak nie, en daar word dikwels baie redes hiervoor aangevoer wat met die eerste oogopslag nogal logies klink... maar die vraag is eintlik of ons iemand in nood alleen kan los? Vandag is daar baie van ons wat kan identifiseer met die klag van die psalmdigter omdat ons ook al deur die meul is. Die ergste is nie dat sy mede geloofsgenote en bure en familie nie betrokke wil raak nie. Hulle is tog inderdaad op negatiewe wyse aktief betrokke. Hulle reik nie ‘n helpende hand uit nie, maar bespot hom. Hulle verag hom, en almal wat hom sien spot met hom. Hulle steek vir hom tong uit. Hulle maak allerlei sarkastiese opmerkings. In plaas van om self betrokke te raak sê hulle : “Laat dit aan die Here oor. Laat Hom red, laat Hom bevry as Hy dan so baie van Hom hou.” Mens wonder wat die ergste is: die aanval van die wrede misdadigers of die verwerping deur die mense wat eintlik so na aan hom was. Voel jy ook dalk so? Hoe baie kan nie anders as om met die Psalmdigter saam te stem nie. Dit maak nog seerder as die aanval en rooftog en nood waardeur jy is. Lank na die tyd sien jy nog die gesigte wat jou verwerp en gespot het. Hoor jy nog die skinderstories weerklink. Ervaar jy nog die smart, my eie mense, my mede kerklidmate het in die uur van nood die rug op my gedraai en my lyding verdiep deur hulle woorde en dade.

Geen wonder dat die digter ‘n ernstige selfbeeld probleem gehad het nie. Hy sê hy is ‘n wurm. Iets wat mens met minagting behandel en so maklik doodmaak. Hy is ‘n potskerf. ‘n Nuttelose voorwerp wat net goed is om jouself mee te krap. Potskerwe wat ‘n irritasie is en weggegooi word. Mens kan dit begryp. As jy verneder en verwerp is, is dit bitter moeilik om nie aan jouself te twyfel nie. Dit raak so maklik om te dink dat jy niks werd is nie. Almal wat al die paadjie geloop het, sal dit beaam. Hoe baie voel nie vandag so nie? As gevolg van die krisis en verwerping en in die rug steek is daar vandag talle wat diep seergekry het en worstel met ‘n negatiewe selfbeeld, wat nog verder versleg namate die persone hulleself onttrek.

Die dieptepunt van die lyding vind ons egter in die openingswoorde: “my God, my God waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?” Die dieptepunt van lyding is die ervaring dat God afwesig is. Dat Hy nie hoor as ons roep en dat Hy ons verlaat. Dit is miskien juis so omdat dit indruis teen alles wat ons van God glo. Is Hy dan nie die Alomteenwoordige Here nie? Is Hy nie die Een wat beloof het dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie? Het Hy nie beloof dat Hy by ons sal wees as ons deur die diep waters moet gaan nie? Het Hy nie belowe om te hoor as ons in nood tot Hom roep nie? Is God dan nie ‘n God van liefde nie? Hoe kan Hy ons dan so in die steek laat?

 Die digter vra dit en sê dat hy  dag en na nag na die Here roep, maar die Here hoor niks nie! God is weg. Dit moet sekere die dieptepunt van lyding wees. Mens kan dit nog probeer verwerk dat ander jou ellende aandoen en laat ly. Mens kan dalk nog probeer verstaan hoekom mense wat eintlik na aan jou behoort te wees jou in die steek laat en teen jou draai. Maar kan mens dit verwerk as God jou verlaat?  Het die lewe dan nog hoegenaamd nog enige sin? Nee, dan word alles donker.

So het Jesus ook aan die kruis uitgeroep: “My God my God, waarom het U my verlaat?” Dit kan ons nie net verstaan nie. God van God verlate. Die Vader verlaat die Seun in sy sterwensuur. Ek kan dit nie begryp nie. Tog is dit so. Waar die Psalmdigter en ons dit so ervaar, was dit in Jesus se geval werklik so. Hoe diep was Sy lyding nie. Die vyand het Hom omsingel soos leeus, soos honde het hulle op Hom toegesak. Hulle het Hom mishandel...Hy is deur almal  verlaat, selfs Sy dissipels het gevlog. Hy is bespot, en deur God verlaat. Hy weet dus wat ons deurmaak, want dis ook die pad wat Hy geloop het, net veel dieper en erger as ons. Hy  het die pad uit eie keuse geloop terwille van ons. En dit is dan mos die boodkskap van Paasfees...en die hele Nuwe Testament!

Ten spyte van die lyding en die feit dat die digter meen dat God hom verlaat het, roep hy nogsteeds na God. Pleit hy steeds dat God moet hoor en help. Noem hy nogsteeds vir God: my God en Bron van my krag. Hy sê te midde van alles dat hy in die sorg van die Here is sedert sy geboorte. Hy is nog die gelowige wat aan God wil vashou en smeek dat God hom sal vashou. Hierin stel die digter vir ons die voorbeeld: ons moet ten spyte van alles, ja al lyk dit asof God ons verlaat het, aan Hom bly vashou en bly smeek: Here wees my genadig, bly by my; help my!


Die geloof van die Psamldigter was nie tevergeefs nie. In verse 22 en 23 lees ons mos: “U het my gebed verhoor!” God hoor en doen. Hy is immers die lewende Here. Op Sy tyd verander Hy die lot. Dan sing die Psalmdigter en roep hy ander op om tot eer van die Here te sing. Let op dat hy nie die ander verwyt vir die feit dat hulle hom in die steek gelaat het en bespot het nie. Hy kyk nie meer terug nie. Hy juig en vra dat almal in sy vreugde moet deel. Netso moet ons ook vanoggend juig en bly wees, prys die Here en aanbid Hom omdat Hy getrou bly, die God van liefde is en op Sy tyd vir ons elkeen uitkoms sal gee. Hieraan kan ons vashou. Al voel ons nog dat dit nag is en voel ons verlate, kan ons weet: Jesus was van God verlate sodat ons nooit deur Hom verlaat sal word nie. Deur Sy Heilige Gees is Hy hier. Hy reik Sy Redderhand uit en sal ons beskerm. Daarom kan ons selfs in die donkerste nag sing tot Sy eer. 
0 Kommentaar: so far: